Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense vra respekbetoning van ander, maar ons kan dit nie eis nie want respek word verdien deur jou voorbeeld aan ander. Daar is net een rede waarom jy die regte voorbeeld kan stel en respek afdwing: deur gehoorsaam te wees aan die Heilige Gees.
ONS BRON VAN KRAG
Hannes Ollewagen
Fil. 4:10-23
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13).
In hierdie brief aan die Fillipense lewer Paulus getuienis daarvan dat hy al menige uitdagende omstandighede in sy lewe moes trotseer. Hy maak ook spesifiek melding van die feit dat hy hierdie omstandighede nie uit eie krag trotseer het nie, maar deur die krag van Christus.
Hierdie getuienis van Paulus raak ’n saak aan waarvan ons op verskeie plekke in die Woord lees. En dit is die besef en verstaan dat ons maar een Bron van krag het waarop ons kan vertrou. Ons word nie alleen geleer en herinner dat ons krag van die HERE kom nie, maar ook dat dit verkeerd is om op onsself eerder as op die HERE te steun. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5). En so is dit ook verkeerd, baie verkeerd, om eerder op mense as op die HERE se krag te vertrou. “So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.” (Jer. 17:5). “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.” (Jer. 17:7).
Die HERE leer vir ons verder deur die mond van sy kneg Dawid dat dit ook verkeerd is om op rykdom ons vertroue te stel of te dink dat ons krag daarin sou lê. “So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela. En die regverdiges sal dit sien en vrees; en hulle sal oor hom lag en sê: Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom,...” (Ps. 52:7-9). En saam met Dawid het sy seun Salomo ook hiervan getuig. “Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.” (Spr. 11:28). En nie alleen onderrig God ons deur sy kneg Dawid oor die verkeerdheid daarvan om op ons rykdom te vertrou nie, maar Dawid lê ook dieselfde getuienis as Paulus af en verklaar hiermee dat hy, Dawid, weet Wie die Bron van sy krag is. “God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.” (Ps. 18:33).
Ek dink dat hierdie vermaning en getuienis in ons tyd besonder nodig is. Die mens van ons tyd het baie behep met homself geraak. En wanneer so ’n mens wat met homself behep is op gereelde basis aan allerhande motiveringspraatjies (of video’s) blootgestel word, sal dit baie maklik ’n skeefgetrekte selfvertroue by hom wek. Hy sal later maklik glo dat hy inderdaad so wonderlik en goed is dat hy enigiets in eie krag kan vermag. En so sal die gedagte van sy afhanklikheid van God vervaag. Ek dink dat die samelewing lanklaas so arm was aan mense wat deur hul lewens ’n positiewe en sinvolle bydrae en verbetering tot die samelewing gelewer het. Ironies genoeg kan ons in dieselfde asem noem dat die samelewing ook seker lanklaas so vol van mense was wat sulke buitengewone goeie indrukke van hulself koester as wat vandag die geval is.
Ek hoor dan ook die nuwe gonswoord of slagspreuk op die politieke terrein deesdae is: “Ons sal self.” Lekker man. Wie het nou vir God nodig? Ons kan mos eintlik self regkom. Dit het ons veral in die afgelope 40 jaar bewys. Kyk hoe pragtig lyk ons land vandag – skoon, veilig en ’n ekonomiese reus. ‘n “Trotse” monument van bouwerk (brouwerk?) wat aangepak is sonder om God die hoeksteen daarvan te maak. En op hierdie trant wil ons graag voortgaan. Ons is mos heeltemal anders as die volk Israel wat vir God oor hul toekoms geraadpleeg het net om eindelik maar agter hul eie gedagtes aan te loop. “TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot,en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die Here u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel — want ons het as 'n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien —dat die Here u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen. Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die Here 'n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die Here u God u na ons sal stuur nie.” (Jer. 42:1-3,5). “EN toe Jeremia geëindig het om die hele volk toe te spreek met al die woorde van die Here hulle God, waarmee die Here hulle God hom na hulle gestuur het, naamlik al hierdie woorde, het Asárja, die seun van Hosája, en Jóhanan, die seun van Karéag, en al die vermetele manne gespreek en aan Jeremia gesê: U spreek onwaarheid; die Here onse God het u nie gestuur om te sê: Julle mag nie na Egipte trek om daar as vreemdelinge te vertoef nie. Maar Barug, die seun van Nería, hits u teen ons op om ons oor te gee in die hand van die Chaldeërs, dat hulle ons kan doodmaak en ons in ballingskap na Babel kan wegvoer. So het Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs en die hele volk dan nie geluister na die stem van die Here om in die land Juda te bly nie.” (Jer. 43:1-4). Ek sê nie dat ons nie self verantwoordelikheid vir ons volk se toekoms moet neem nie – dit is tog vanselfsprekend. Ek sê wel dat dit onverantwoodelik is om op ons eie krag en insig vir ons volk se toekoms te steun en net so onverantwoordelik om op enigiets anders as God se krag vir ons volk se toekoms te steun. En dieselfde reël geld vir elke individu. “Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” (Spr. 28:26).
Ek hoop dat hierdie getuienisse van Paulus en Dawid tesame met die vermaninge uit God se Woord ons elkeen oor ons vertrouensverhouding met die HEREsal laat besin. Is Hy werklik die Een op wie ons volkome vertrou? Die antwoord hierop is krities aangesien geloof en vertroue hand-aan-hand loop. Ons kan nie in ’n gesonde geloofsverhouding met God staan sonder om Hom te vertrou nie. Dit wek sy toorn wanneer ons Hom nie vertrou nie. “Daarom het die Here gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel;omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.” (Ps. 78:21&22).
Mag ons, ons rug keer op ’n lewe en optrede van roem in onsself en van roem in ons eie deugde en krag! En mag ons daarvan wegstap na ’n lewe van nederigheid, ’n lewe van ootmoed, ’n lewe waar ek só leeg is van myself en my eie krag dat die volheid van die krag van God in my kan werk! “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Kor. 12:9).