Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het by geleentheid gesê dat dit geen kuns is om dood te gaan nie; selfs die slegste mense kry dit reg. Maar weet jy wat is ‘n kuns? Om sinvol te leef! Baie van die wêreld se vooraanstaandes kry dit nie eens reg nie!
VERGEWE MEKAAR!
Hannes Ollewagen
Matt. 18:15-35
“Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” (:32-35).
Ons leer alreeds uit die lewens van Adam en Eva se kinders dat die mens in sy vleeslike aard daartoe geneig is om ’n ander onreg aan te doen. “En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.” (Gén. 4:8). En ons dink ook aan Jakob wat vir Esau bedrieg het, Josef se broers wat hom verkoop het, Saul wat vir Dawid agtervolg en probeer doodmaak het en so kan ons met die lys aangaan. En omdat God nie met hierdie natuur van die mens onbekend is nie het Hy aan ons sy volmaakte wet en gebooie gegee om ons te leer om in die lewe reg te handel. Ten spyte van ons beste pogings om God te gehoorsaam, sal elke een van ons egter steeds in ons lewe God se gebooie oortree en teen ons naaste (en ook teen God in die proses) sondig. “...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,” (Rom. 3:23).
Wanneer iemand teen ons verkeerd handel en ons skade berokken of leed aandoen, is die aard van die oortreding vir ons baie duidelik en ons beskou dit in ’n baie ernstige lig. Ons kyk gewoonlik wel nie deur dieselfde bril wanneer ons die oortreder in die saak is nie. Hierdie gelykenis van Christus was derhalwe só gepas om hierdie saak aan te spreek. Dit is belangrik om te besef dat ‘n oortreding teenoor ons naaste ook ’n oortreding teen God is. “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40).
God leer ons dat Hy ’n barmhartige God is en dat Hy met getrouheid ons sondes vergewe. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh. 1:9). God is daarom ook in sy Woord daaroor duidelik dat Hy van ons verwag om ook ander wat teen ons sondig, te vergewe. “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.” (Mark. 11:25&26). Luister ook na God se vermaning hieroor deur die mond van Paulus se briewe aan die Efésiërs en die Kolossense. “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efés. 4:32). “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
Dit is opvallend dat telkens wanneer die Woord ons oor vergifnis vermaan, dit gedoen word met die wete dat God ook vergeef. En ek glo dat dit nie sonder rede is waarom hierdie opdragte van God om te vergeef ook op hierdie wyse aan ons gegee word nie. Dit behoort by ons die besef te bring hoe verskriklik belangrik dit is dat ons hieraan gehoor moet gee. Hierdie wyse waarop God ons die opdrag gee om te vergewe behoort by ons die besef te bring dat dit ’n baie verkeerde en verwaande ding teenoor God is om nie ’n ander te vergewe nie. Hy herinner ons dan aan die feit dat Hy vergewe. En as Hý vergewe, wie is enige van ons om te sê dat ons nie sal vergewe nie? Beskou ons onsself werklik hoër as God? Ons kan onsself nooit die reg aanmatig om namens God te besluit of ’n oortreding van so ernsitge aard was dat dit nie vergeef behoort te word nie. “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.” Beskou ons onsself werklik so groot of belangrik dat ons onsself nie aan ’n bevel van God hoef te onderwerp nie? Só ’n verwaande gesindheid kan mos hoegenaamd nie by ’n gelowige mens teenwoordig wees nie!
Hierdie is een van die min bevele van God wat vir ons telkens saam met ’n kwalifisering gegee word – as ons nie vergewe nie kan ons God se vergifnis ook nie verwag nie. En ek is ten volle oortuig dat daar nie een van ons is wat sonder God se vegifnis die toekoms met moed tegemoet kan gaan nie. Laat ons daarom hierdie baie belangrike vermaning van God ernstig ter harte neem. En laat ons hieraan gehoor gee. Vergeef hulle wat teen u oortree het en smeek die HERE om genade vir u eie oortredinge.
Die slegte verhoudinge tussen mense en binne families getuig daarvan dat hierdie onkruid van onvergewensgesindheid geil in ons volksakker groei. Laat ons elkeen ywerig arbei om dit rondom ons met wortel en tak uit te roei. En laat die ootmoed en liefde waarmee ons hulle wat teen ons gesondig het, volgens die Beeld van God uit ons lewens straal.
“Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.” (Ps. 86:5).