Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde is 'n onsigbare toestand wat ons met een woord probeer beskryf – daarom dat dit so moeilik te beskrywe is! Want dit is iets wat ons alles insluit: ons liggaam en gees, ons ganse wese; ons voel dit soos bloed, ons asem dit soos lug in, ons dra dit in ons soos ons gedagtes. Soek dit dan nie in woorde nie maar by die Kruis.
ONSELFSUGTIGE DIENSBAARHEID
Hannes Ollewagen
1 Kon. 3:1-28
“Toe verskyn die HERE in Gíbeon in ’n nagtelike droom aan Salomo; en God het gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. En Salomo sê: U het aan u kneg, my vader Dawid, ’n groot guns bewys, net soos hy voor u aangesig gewandel het in trou en in geregtigheid en in opregtheid van hart met U; en U het vir hom hierdie groot guns bewaar, dat U hom ’n seun gegee het wat op sy troon sit, soos dit vandag is. Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie. En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer? En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.” (:5-10).
Ons kan maklik Salomo se posisie beny. Hoe bevoorreg is hy nie om in só ’n posisie gestel te word waar hy voor die Almagtige God enige wens mag uitspreek nie. En dan kan ons ook nie anders as om Salomo te bewonder vir die wens, terwyl hy enigiets kan wens, wat hy eindelik voor God uitspreek nie. Die wens wat Salomo uitspreek getuig dan ook waarvan sy hart op daardie stadium vol is – dankbaarheid, nederigheid, verantwoordelikheid, respek, liefde en diensbaarheid. Al hierdie dinge is deugdes wat God behaag. Salomo spreek nie ’n selfsugtige wens voor God uit bv. die lewe van sy vyande sodat hy van ’n rustige lewe verseker is nie. En ook wens hy nie vir rykdom sodat hy in gemaklikheid en weelde kan leef nie. Salomo vra van God om vir hom ’n opmerksame hart te gee sodat hy met verantwoordelikheid en liefde goed oor God se volk sal regeer. Hy vra God om hom behoorlik toe te rus vir die taak wat God hom in sy lewe opgelê het sodat hy God en sy naaste na behore hierin kan dien. En ons sien dat dit goed was in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.
Wanneer God dit aan Salomo stel om die begeerte van sy hart aan Hom te openbaar, is Salomo se vertrekpunt ’n terugblik oor God se goedheid tot op daardie stadium. Salomo het nie ’n gesindheid dat dit niks minder as reg is dat God hom hierdie wens toestaan nie, maar hy spreek teenoor God oor die goedheid wat Hy reeds aan hom en sy vader Dawid in hul lewens bewys het. En hierdie nederige ootmoed en dankbare gesindheid teenoor God vorm die basis waaruit die goeie begeertes uit sy hart gebore word. En ons weet dat God ’n behae in dankbaarheid het. “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Thes. 5:18). En so het God ook ’n behae in Salomo se onselfsugtige wens – ’n wens om aan God en sy medemens diensbaar te kan wees eerder as ’n wens wat net tot sy eie persoonlike voordeel moes strek. Ja, God leer vir ons in Sy Woord dat ons met so ’n gesindheid moet leef. “Moenie iets doen uit selfsug of ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” (Fil. 2:3&4). En in Haggai 1:9 stel God dit duidelik aan sy volk dat Hy die seën van hulle weerhou omdat elkeen in selfsug en eiebelang leef. “Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.”
Ons het ook nie rede om Salomo se bevoorregte posisie te beny nie, geliefdes. Elke opregte kind van God is net so bevoorreg as Salomo! “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Joh. 15:7). Ek wonder wat die eerste wens is wat by my en u opkom wanneer ons daaraan dink dat ons enigiets van God kan vra – is dit ook ’n wens wat van ons liefde teenoor God en ons medemens getuig en ons nederigheid onderstreep of is dit ’n wens wat vir ons die eiebelang en selfsugtigheid in ons harte onderstreep? En ’n verkeerde gesindheid in ons harte sal tot gevolg hê dat God ons bede nie aansien nie. “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jak. 4:2&3).
Wanneer ons na die beeld van ’n leier soos koning Salomo kyk en ons vergelyk dit met diegene wat vandag die posisies van mag en leiding beklee, is die teenstelling soos lig teenoor duisternis. ’n Man wat besorg is oor die welsyn van sy volk en om te doen wat reg is in God se oë teenoor mense vandag wat nie minder kan omgee oor die welsyn van diegene waaroor hulle heerskappy uitoefen nie. Inteendeel, hulle kan nie minder omgee oor die welsyn van hierdie mense nie aangesien hulle heeltemal te behep is met hul eie belang – hulle kan nie oor iets anders as hulself dink en omgee nie. Daarbenewens lyk dit asof hulle moeite doen om God se insettinge omver te werp eerder as om te probeer om hulself hieraan te onderwerp. En in die proses dink hulle gedurig nuwe terme, “pandemies” en “krisisse” uit om mense op bedrieglike wyse te laat glo dat hierdie dinge die rede vir hul swaarkry is eerder as hul eie laakbare, bedrieglike, selfsugtige optrede. As die mens God op politieke terrein verwerp moet hy nie kla as hy deur mense met ’n goddelose hart op hierdie terrein verneder en verniel word nie, want dit is die logiese gevolg.
Ek en u is vandag bevoorreg om uit God se Woord herinner te word aan die kosbaarheid van ’n onbaatsugtige, dankbare en nederige lewe waarin ons God en ons medemens kan dien. Laat ons dit ter harte neem en nie gelykvormig word aan die selfsugtige, mensgerigte samelewing rondom ons nie, maar eerder in die voetspore van ons Meester volg. “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Joh. 13:13-15).