Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons rebelse ou volkie verskil mos oor alles met mekaar – die komiese uitdrukking van waar vier Afrikaners bymekaar is, is daar 5 kerke, is meer waarheid as 'n grappie. Ons aanbid ook God Drie-enig op verskillende wyses. Gebruik egter die maatstaf oor "wat" reg is, nie "wie" reg is nie, dan sal jy die ware inhoud en betekenis van aanbidding ontdek. Jesus sê in Johannes 4 dat "... ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid." Laat ons dan in Gees en Waarheid aanbid!
DIE LEIDING EN RAAD VAN GOD
Hannes Ollewagen
Ps. 32:1-11
“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” (:8).
Hoe kosbaar is hierdie versekering uit God se Woord nie. Dit laat my ook dink aan God se woorde uit Deut. 8:5. “Erken dan in jou hart dat die Here jou God jou onderrig soos 'n man sy seun onderrig”. En uit hierdie gedeeltes openbaar God vir ons iets van sy Vaderhart – ’n hart van omgee en liefde teenoor ons. Hy wil ons leer, Hy wil ons onderrig omdat Hy ons goeie heil in die lewe begeer. Dit is ook uit Eségiël 18:23&32 duidelik. “Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.”
Die ontferming en barmhartigheid van God teenoor die mens word ook natuurlik vir ons baie duidelik deur die lewe van Christus op aarde uitgebeeld. Luister maar na enkele van talle voorbeelde uit Matt. 14:14. “En toe Jesus uitgaan, het Hy ’n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak.” Dit is wel hartseer dat hierdie barmhartigheid van God in ons tyd verdraai word asof God gehoorsaamheid aan die mens verskuldig sou wees. Dit word voorgehou asof die mens die reg het om opdragte aan God uit te deel en asof God dit aan die mens verskuldig is om ons te seën en op ons bevel ons lewens met voorspoed te vul en ons probleme eensklaps moet laat verdwyn. Die Woord van God word as ‘n “towerstaf” voorgehou waardeur ons probleme weg “getoor” moet word of waarmee ons lewens vol voorspoed “getoor” moet word.
Ons mag as God se kinders nooit so onverskillig en met so min respek met God se Woord omgaan nie. Ons het nou reeds na verskillende gedeeltes uit God se Woord verwys wat ons van sy liefde, barmhartigheid en ontferming teenoor die mens verseker. Maar dit beteken nie dat Hy al ons probleme (wat menigmaal deur ons eie sondes veroorsaak word) net gewoon oornag sal laat verdwyn wanneer ons die opdrag gee nie. Dink maar aan die voorbeeld uit die lewe van Dawid. God het nie gehoor gegee aan Dawid se innige versoek om die lewe van die kind te spaar wat Dawid deur ’n daad van owerspel by Bátseba verwek het nie. “... En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ’n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê. En op die sewende dag het die kind gesterwe;...” (2 Sam. 12:15,16,18). En dink ook aan die handelswyse van God met sy volk Israel. Hy lei hulle nie oornag uit Egipte die beloofde land in nie. Nee, hierdie werk van God waar Hy die volk uit hul slawerny na die beloofde land lei strek oor dekades en dit gebeur op die tyd soos God bepaal, op die wyse waarop Hy besluit deur die hande van mense soos deur Hom besluit. Alhoewel dit duidelik was dat Hy Hom in barmhartigheid oor Israel ontferm het en hul die kosbare en vaste belofte van die beloofde land geskenk het, het Hy hulle nooit die reg gegee om aan Hom enige voorskrif in hierdie verband te gee nie. Inteendeel, as voorwaarde om die beloofde land te kon ingaan sou Israel met geloof God se leiding getrou moes volg.
God bied vandag steeds vir ons die barmhartige en liefdevolle leiding vir ons lewens soos vir Israel van ouds. En steeds lei Hy op die manier waarop Hy besluit. Hy openbaar dan ook vir ons die wyse waarop Hy aan ons in ons tyd leiding gee. “NADAT God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” (Heb. 1:1&2). “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” (Joh. 1:1-3). Hy bie ons sy barmhartige, liefdevolle en getroue leiding deur sy Woord. Die volmaakte Woord wat vir ons ’n lig vir ons lewenspad is. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” (Ps. 119:105). En deur hierdie liefdevolle leiding leer God ons om die paaie van ongeregtigheid en smart te vermy, omdat Hy vir ons omgee. Hy leer ons hierdeur om met geloof en vertroue op sy kosbare beloftes te hoop wat Hy op die regte tyd vir ons in vervulling laat gaan eerder as dat ons in eie krag ons eie heil in die lewe moet probeer uitwerk. Dit is daarom dat ons met getrouheid in God se Woord moet leef. Ons kan as gelowige kinders van Hom nooit by die punt kom waar ons van mening is dat ons die Bybel deeglik deurgewerk het en met die inhoud daarvan vertroud is nie. God se Woord is nie net ’n boek nie – dit is sy Lewende Woord waardeur Hy deurlopend aan ons liefdevolle raad en leiding vir die lewe gee. Dit is die lig vir ons pad wat ons voet rig langs die weg wat eindelik tot ewige saligheid lei.
Hy gee aan ons in sy liefdevolle barmhartigheid, goeie raad en leiding in die lewe. Laat ons daarop ag gee, laat ons sy Woord met getrouheid hiervoor ondersoek en dit elke dag getrou navolg om sodoende die paaie van duisternis te vermy en in sy Lig te leef.
“Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (Ps. 36:10)