Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis nie die storms van die lewe wat ons karakter vorm nie, maar hoe ons daarop reageer.
SO SPREEK DIE HERE
Hannes Ollewagen
Jer. 23:9-40
“Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die HERE.” (:31&32).
Hierdie woorde uit Jeremia laat my dadelik aan ’n verskynsel in ons dae onder ons volk dink waaroor ons dalk rede tot groot kommer behoort te hê. Die verskynsel van mense wat sommer links-en-regs die stelling sal maak – “Die HERE het vir my gesê . . .”. En wat onrusbarend is, is dat dit wat op voorafgaande frase volg selde met gesonde lering uit die Woord van God ooreenstem. Ek dink byvoorbeeld aan so ’n geleentheid in 2017 waar ene Buchan die besluit geneem het dat dit nóú tyd is vir God om in hierdie land se lot in te gryp en dit te verander. God het aldus hierdie man vir hom ’n opdrag gegee om ’n miljoen mense byeen te bring vir ’n byeenkoms waar hulle God skynbaar deur getalle sou oorhaal om hierdie land met sy grondwet – wat God verloën – se lot te verander. In retrospek lyk hierdie eerder na ’n grootpratery as ’n profesie aangesien ons 7 jaar later nog nie sien dat God gehoor aan hierdie opdrag van Buchan gegee het nie. En ek twyfel dat Hy sal – aangesien geen mens vir God voorskryf nie. Lewer hierdie uitkoms nie ’n duidelike getuienis teenoor Buchan nie? “Die profeet wat profeteer van vrede – as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die HERE waarlik gestuur het.” (Jer. 28:9).
Hierdie gebeure in 2017 was egter nie ’n geïsoleerde geval nie. Dit is ongelukkig ’n algemene verskynsel in menige kerke van ons tyd. Die mense word beïndruk deur die indrukwekkende kerkgeboue en die groot aantal “lidmate” wat die eredienste bywoon. En wat hierdie “eredienste” dan boonop so aangenaam maak, is die feit dat die voorganger verwagtinge van voorspoed en rykdom skep ongeag of hierdie verwagtinge waar is of nie. “So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie.” (:16). En boonop word sonde ook nie in hierdie “kerke” aangespreek nie wat die boodskappe net nog soveel meer aanneemlik vir die vervalle mens maak. “Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie.” (:17). En hoe getuig die ellende in ons volkslewe oor die afgelope dekades nie teen hierdie valse leraars nie, want ons volk word die afgelope paar dekades al deur onheile gepla. Daar is weinig families wat nie deur moorde, egskeiding, werkloosheid en dergelike dinge getref is nie. Daarbe“...Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie, en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie. Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na ’n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag,...” (Jer. 16:11-13).
Dit is onwaarskynlik dat daar vir ons volk beterskap sal kom terwyl mense aanhou om hierdie ydele verwagtinge van valse leraars aan te hang. Die Woord van God stel dit so mooi dat hierdie dwaalleer vir die volk hoegenaamd geen voordeel bring nie. ’n Leraar van God is nie veronderstel om vir mense motiveringspraatjies te lewer of hul aandag van hul sonde af te lei nie, maar om die volk van hul sondes bewus te maak en hul in die wil en weë van God te onderrig. “Want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ’n boodskapper van die HERE van die leërskare.” (Mal. 2:7). Hierdie dwaalleer in ons samelewing berokken mense en derhalwe ook ons volk in sy geheel groot skade aangesien dit mense se verhouding met God skaad. In plaas daarvan dat mense oor hul ongeregtigheid aangespreek word en deur die prediking aangeroer word om hul verhouding met God aan te spreek, word hul met leuens gesus om te glo dat daar geen werk te doen is in hul verhouding met God nie. “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie.” (Jer. 8:11). En op hierdie wyse sal beterskap nie aangebring word nie. Ons beterskap lê nie langs ’n weg waar ons ons sondes ontken en net op ons verganglike voorspoed en vreugde fokus nie. Ons beterskap sal aangebring word wanneer ons ongeregtighede reguit en eerlik aangespreek word sodat ons opreg van ons sondes bewus kan word en daaroor berou kan hê. Ja, wanneer ons hierdie sondes van ons met opregte berou voor God sal bely en ons daarvan wegkeer, sal God volgens sy besluit en op sy bepaalde tyd ons lot verander. “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word, want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes. 1:16-20)