Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Goeie volksleier hou van eerbare uitdagings omdat dit aan hom geesteskrag verleen en tot groot hoogtes aanspoor. Hy is soos ‘n hoenderhaan wat die dagbreek nooit kop onderstebo aankondig nie omdat hy weet Wie die son laat opkom.
VERGIFNIS
Hannes Ollewagen
Ps. 32:1-11
“…Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.” (:1).
Dit is ’n salige toestand om in vrede met God, ons Skepper, te leef. En ons moet na hierdie vredesverhouding met God streef terwyl ons gedurig waak teen Satan wat voortdurend sal probeer om hierdie vredesverhouding te vernietig en vyandskap tussen ons en God te bewerk. Dink maar aan die listige wyse waarop Satan alreeds by die eerste mense, Adam en Eva, vyandskap tussen hulself en God bewerk het. Maar hieruit leer ons ook van God se barmhartigheid – Hy vernietig nie doodeenvoudig die mense wat teen Hom opgestaan het en aan Hom ongehoorsaam was nie. Hy soek die mens op ten einde weer hul verhouding met Hom te herstel en met Hom versoen te word. Die belangrikheid van hierdie saak van versoening en ’n vredesverhouding tussen ons en God word vir ons so duidelik gestel daarin dat Hy aan ons sy geliefde Seun gestuur het om hierdie versoening tussen ons en Hom te bewerk. “...maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.” (Rom. 5:8-10).
Daar is egter ’n paar voorwaardes waaraan voldoen moet word wanneer die mens in vrede met God wil leef. Ons moet verstaan dat daar nie tussen ons en God vrede kan wees wanneer ons begeer om die sonde aan te kleef en in die smet van sonde te leef nie. “Geen vrede, sê die Here, vir die goddelose nie!” (Jes. 48:22). ‘n Lewe van vrede met God is ’n lewe van vyandskap met die sonde. En ’n lewe van vrede met die sonde is ’n lewe van vyandskap met God. Die sonde bring ’n muur van skeiding tussen ons en God. “KYK, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes. 59:1&2). En ten einde hierdie muur van skeiding af te breek, moet ons ons sonde voor Hom bely en van ons verwyder. “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,”
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jes. 1:16,18).
Benewens ons verantwoordelikheid om ons sonde voor God te bely en af te lê om in vrede met Hom te leef, verwag Hy dat ons ook in vrede met ons medemens sal leef. God is baie duidelik daaroor dat Hy van ons verwag om ons naaste te vergewe. En die belangrikheid van hierdie saak word vir ons op verskeie maniere deur God se Woord openbaar. Luister na die duidelike boodskap uit Matt. 6:14:15. “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Hoe kan ons tot God se troon van genade gaan en vergifnis vir ons eie sonde en swakhede vra, maar ons weier om hulle wat teen ons oortree te vergewe? Is ’n oortreding of ’n misdaad teenoor ons, dan in ons eie oë erger as ’n oortreding of misdaad teen die Heilige God van die heelal? Ons kan beslis nie met so ’n verwaandheid verwag dat ons smekinge voor God met welgevalle aangeneem sal word nie. Luister ook na God se Woord in Matt. 5:23&24. “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” Dit is nie alleen ons gebede nie, maar ook ons gawes wat vir Hom nie aaneemlik is solank as wat ons in verkeerde verhouding en met onvergewingsgesindheid teenoor ons naaste leef nie. Hierdie vermaning uit Matt. 5:23&24 laat my wonder of hierdie gesindheid van onvergifnis dalk nie die rede was waarom Kain se offer God nie behaag het nie? En ’n verhouding van vrede met God is nie juis te bespeur in die lewe van Kain na die moord op sy broer nie. “En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ’n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.” (Gén. 4:10-12).
Ons lees in Luk. 17:3&4 ook van God se baie duidelike opdrag in hierdie verband. “Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou – moet jy hom vergewe.” Luister mooi na die opdrag waarmee vers 4 afgesluit word: “...moet jy hom vergewe.” Ons het nie die prerogatief om te besluit of ons die sonde wil of gaan vergewe nie – ons móét vergewe volgens God se Woord. En as ons dit nie doen nie is ons aan God ongehoorsaam en dan sondig ons. En sodoende bou ons die skeidsmuur tussen ons en God – die skeidsmuur van ons sonde wat ons gebede tot Hom, ons welgevallige offers tot Hom en ’n lewe van vrede met Hom verhinder.
Laat ons in waarheid vandag op hierdie vermaning uit God se Woord ag gee en ons daarop toespits om in waarheid ons naaste te vergewe volgens die bevel en gebod van God. As ons verhouding met ons naaste hiervoor nie belangrik genoeg is nie behoort ons gesonde verhouding met God ten minste vir ons belangrik genoeg te wees om in hierdie saak met erns op te tree.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” (Kol. 3:13)