Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alhoewel God genadig is, is Hy ook regverdig en daarom word alle sondes gestraf. Die enigste rede waarom ons sondes vergewe kan word, is omdat Jesus Christus die straf wat ons toekom, reeds aan die kruis in ons plek gedra het.
DIE KRAG VAN GOD
Hannes Ollewagen
2 Kor. 12:1-10
“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (:9).
Elkeen van ons het sekerlik al die hoogtepunt sowel as die laagtepunt van krag in ons eie lewe ervaar. Daardie kere wat dit gevoel het asof ons onstuitbaar is en geen ding op aarde vir ons ’n hindernis te groot of te klein kan inhou nie. En hoe maklik is ons nie deur klein hindernisse van hierdie hoogte afgewerp nie! Ons beland dan dikwels só laag in die afgrond van moedeloosheid dat dit voel asof niks in hierdie ganse heelal ons weer sal kan opbeur nie. En dan bewerk die HERE vir ons ’n gebeurtenis uit ’n totale onverwagse oord op só ’n tydige en volmaakte wyse dat ons in ’n oogwink weer moed skep.
Ons vind in die woorde van 2 Korinthiërs 12 ’n baie belangrike onderrigting in hierdie saak. Ons aandag word daarop gevestig dat ons eie krag moet plek maak vir God se krag in ons lewens. Ons fokus in ons lewens moenie wees om die mees indrukwekkende prestasies te bereik om ander mense en God te probeer beïndruk nie, maar eerder behoort ons fokus te wees om min genoeg in ons eie lewe te wees sodat God se krag op indrukwekkende wyse in ons lewens werksaam kan wees. Onthou dat daar absoluut niks is wat ons self kan doen wat selfs God se geringste werke kan oortref nie. Ja, daar is nie enige wese in die heelal wat eers met Hom vergelyk kan word nie. “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge, ’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?” (Ps. 89:7&8).
Hierdie saak word vir ons verder beklemtoon in die lewens van die geloofshelde waarvan ons in God se Woord lees. Hierdie mense het heldedade verrig – nie omdat God hierdie helde iewers op die aarde kon opspoor of raaksien waar niemand anders van hulle geweet het nie. Nee, groot was hierdie mense se dade omdat hulle swak genoeg was voor Hom dat Hy op kragtige wyse deur hulle wonders kon verrig. Dit was mense wat nie hul vertroue op hul eie krag en vermoëns gestel het en die wêreld rondom hulle probeer beïndruk het nie. Inteendeel, dit was mense wat hul vertroue ten volle in God gestel het en met tye bereid was om die vyandskap van hierdie wêreld te trotseer. Ek dink dadelik aan Dawid wat die reus Góliat die stryd aangesê het. Dawid was ’n skaapwagter van wie niemand geweet het nie. Onindrukwekkend, onbekend en met geen ervaring in oorlogvoering nie. “Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.” (1 Sam. 17:33). En Dawid gaan in die swakheid van sy vlees die Filistyn tegemoet en op indrukwekkende wyse word die krag van God deur die lewe van Dawid openbaar. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het.” (1 Sam. 17:45&46).
God het ook nie aan Moses verskyn omdat Hy geweet het van hierdie man wat water in bloed kan verander, muskiete, paddas, steekvlieë, pes en allerhande plae oor Egipte met sy besonderse kragte kon bring nie. God was nie verleë oor hierdie man wat met sy staf die Rooisee kon kloof sodat die volk op droë grond daardeur kon trek en hy derhalwe die enigste geskikte man was wat God kon gebruik om sy volk te verlos nie. Nee, al hierdie dinge het God deur die lewe en hand van Moses gedoen omdat hy ootmoedig en nederig voor God gewandel het en die raad van God hoër geag het as sy eie insig, krag en vermoë. Hierdie man was bereid om God deur die see en die dorre woestyn te volg, maar hy was nie bereid om ’n treë sonder God te gee nie. “En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.” (Ex. 33:14&15). Die menslikheid van Moses kom egter by die waters van Mériba na vore. Hier stel hy en Aäron hulself voor die volk as diegene wat vir die volk die uitkoms in hierdie moeilike situasie sal bring – “...moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”. (Núm. 20:10). Die fokus word van God die Redder na hulself verskuif – asof hulle uit eie krag hierdie redding kon bewerk. En God benadruk die onaanvaarbaarheid hiervan wanneer Hy hulle die voorreg ontsê om self die beloofde land in te trek. “Toe sê die Here vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.” (Núm. 20:12).
Ek wil as laaste voorbeeld vandag vir u die lewe van Elía voorhou. Benewens die wonderwerke om mense uit die dode terug te bring, die olie van die weduwee wat vermeerder is, die vermeerdering van die brode en so meer, is hy ook na die koning van Israel gestuur met ’n swaar opdrag. Elía moes God se straf van droogte oor Israel aan die koning bring – iets waarvoor hy sy lewe in gevaar gestel het. En met getrouheid het Elía ook hierin gehandel. “EN Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die Here, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Kon. 17:1). En die gevolg hiervan was ’n verterende droogte van drie jaar. En hierna daag hy die profete van Baäl voor die ganse volk uit sodat die krag van God openbaar kon word. En deur Elía se ootmoedige en gehoorsame optrede vertoon God sy grote krag aan sy volk. “Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die Here neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God!” (1 Kon. 18:34:39).
Die wonderdade wat God deur die hande van hierdie mense gedoen het laat ons verstom staan. Maar nie van een van hierdie manne was God afhanklik om sy wonders te verrig nie. Eweneens het nie een van hierdie mense níe met ’n ootmoedige gesindheid teenoor God gewandel sodat sy krag juis deur hulle kon werk nie.
Mag hierdie boodskap ons vandag opnuut daaraan herinner en aanspoor om ons eie wil en kragte waarop ons so maklik vertrou en wil roem, neer te lê en eerder met inspanning van alle ywer probeer om onsself swak en ootmoedig voor God te stel sodat Hy kragtig deur ons kan werk tot verheerliking van sy Naam.
“Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.” (1 Kron. 16:11).