DIE BEELD VAN GOD

Hannes Ollewagen

Rom. 8:18-30

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;” (:29).

Wanneer ons die eerste boek van Génesis lees, word ons aan soveel belangrike dinge in die lewe herinner. Ons word herinner aan die ontstaan van alle dinge, nl. dat die ganse Skepping deur God se wil ontstaan het. En ons word herinner aan ons plek in God se Skepping, nl. om oor die werke van sy Hande te heers. Maar nie alleen het die mens die verantwoordelikheid ontvang om oor God se skepping te heers nie, maar ook is dit die mens opgelê om die beeld van God te dra.

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Gén. 1:26&27). Die mens moet in die nakoming van hierdie verantwoordelikheid God verheerlik.

Satan beywer homself gedurig om hierdie beeld van Hom in ons te vernietig. En natuurlik is een van sy mees effektiewe wapens om ons te laat vergeet van ons verantwoordelikheid teenoor God in dit wat Hy ons geskape het om te wees en ons te oortuig dat ons iets “beter” kan wees. Hy het dit met welslae in die Paradys aangewend en daardie taktiek slaag tot vandag toe met dieselfde effektiwiteit. “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Gén. 3:4&5). Dit was immers die oorsaak waarom God die Satan uit die hemel gewerp het, omdat hy homself wou verhef bo dit wat God hom geskape het en homself met God wou gelykstel eerder as om God deur sy bestaan te verheerlik. En tot by die wederkoms van Christus sal hierdie taktiek met welslae deur hom aangewend word om die mens te mislei. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” (2 Thes. 2:3&4).

Dit is baie nodig dat ons herinner word aan die verwerplikheid daarvan wanneer ’n mens God probeer onttroon omdat hyself daardie ereplek wil beklee. Hierdie raak ’n algemene verskynsel in ons samelewing en dit is niks anders as opstand teen God nie. Die gebeure uit die lewe van koning Nebukadnésar is vir ons ’n duidelike voorbeeld hiervan. “Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê – die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar – hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls. En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref – my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg. Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Dan. 4:29-37). En het die verheffing van sy hart nie in die lewe van Nebukadnésar se seun ook tot sy dood gelei omdat hy geen berou hieroor gehad het nie ten spyte daarvan dat hy hierdie waarskuwing uit die lewe van sy vader gehad het? Ons lees ook in Handelinge 12 van koning Herodes se dood nadat sy hart hom verhef het. “En op ’n bepaalde dag het Herodes ’n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: ’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie! En onmiddellik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Hand. 12:21-23).

Wanneer koning Asaf in Psalm 73 worstel met die goddelose mense wat God se gesag ontken, stel God se Woord dit ook vir ons duidelik hoe verwerplik dit in God se oë is wanneer die mens God se Beeld deur se eie beeld probeer vervang. “Soos ’n droom nadat ’n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!” (Ps. 73:19). Die mens wat God se Beeld in sy lewe met sy eie probeer vervang, wil die eer en heerlikheid vir homself toeëien eerder as om God te verheerlik. Daarenteen maan God se Woord ons ook in 1 Kor. 6:19&20 dat ons God moet verheerlik. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”

Ons is natuurlik in ons vlees daartoe gewend om volgens die voorbeeld van Adam, Eva, Nebukadnésar, Herodes en soveel ander ook onsself bo God te verhef eerder as om sy Beeld in ons tot sy verheerliking te dra. En dit is juis daarom so belangrik dat ons saam met Christus sal sterf sodat ons in Hom nie meer vir onsself of ons eie heerlikheid sal lewe nie, maar dat ons in Hom tot heerlikheid van God sal leef. “...en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (2 Kor. 5:15). In Hom en deur Hom word die Beeld van God wat deur die sonde in ons verduister word, herstel. “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Kor. 3:17&18).