GOEIE VERHOUDINGS IS BELANGRIK
Die Boodskapper
Menseverhoudinge speel ‘n baie belangrike rol in ons lewe. Dit vul die meeste van ons tyd elke dag. Dit beïnvloed ons houdings en gesindhede. Dit kan jou selfs dodelik siek maak as dit daar sleg gaan – so het navorsing al oor en oor bewys. Maar dit kan jou ook stralend gelukkig maak en motiveer as dit goed gaan.
Maar daar is ‘n basis in dié verhoudinge wat nóg belangriker is.
MY SELF VOOR GOD
Jare gelede het ‘n boekie van Lloyd H Ahlem verskyn, Do I have to be Me? wat ‘n mens laat besef het hoe belangrik jou selfbelewenis in al jou ander verhoudinge is.
Dit gee die deurslag daarin. Dikwels lê die grootste probleem wat ons met ons medemens ondervind juis by ons self. Maar jou selfbelewenis is weer deurslaggewend afhanklik van jou verhouding met jou Oorsprong. Ahlem het dit baie duidelik beskryf.Gewoonlik word aanvaar dat ‘n mens jou selfbesef vorm aan die hand van hoe ander mense teenoor jou optree: die spieëlbeeld-self. Jy sien jouself in ander se aksies en reaksies teenoor jou en sê vir jouself: Dit is dan ek. Dié invloed kom gewoonlik nie soseer van alle ander mense (die “algemene ander”) nie, maar van die “beduidende ander” – die mense in jou lewe aan wie se opinie jy ‘n hoë waarde heg.
Ons besef dadelik: dit is jou ouers in die huis, onderwysers by die skool en, in jou volwasse lewe, mense op wie jy vanweë jou beroep ‘n indruk probeer maak. Jy meet jou selfwaarde aan hulle goed- of afkeuring. Dikwels vorm ‘n mens jou selfopinie ook aan die hand van bepaalde gebeurtenisse in jou lewe: omdat dit en dat my oorkom, is ek met ander woorde so en so.
Die probleem met die spieëlbeeld-self isdat dit gewoonlik nie aan die hand van ‘n eenduidige boodskap gevorm kan word nie – jy kry nie van almal presies dieselfde boodskap oor en oor nie. Buitendien is almal van die “ander” se selfbesef ook maar geknou. Maar, tussen al die boodskappe deur probeer mense om te bepaal “wie is ek?”, en gaan tree aan die hand daarvan op.
Ons werp as ‘t ware dié self in ‘n verhouding vooruit en hanteer dan ander daarvolgens. Ons leef in baie kringe met ons medemens saam, maar dié selfbesef kan in alle verhoudinge ‘n beslissende invloed hê – ten kwade of ten goede.
Eintlik dra alle kinders van Adam vanweë die sondeval ‘n skuldige en geskonde selfbesef in hulle binneste om, dikwels met ‘n wrok. Of ons dit wil erken of nie, diep binne weet ons: Alles is beslis nie reg nie; êrens het iets verskrikliks verkeerd gegaan – ook in my lewe. Ons weet ons staan skuldig voor die grootste “Beduidende Ander”. Ons kan die uitwerking van die oortreding nie self verdra nie; daarom vlug ons eerder weg soos Adam (Gén. 3:8,10).
Daarom beskuldig ons ander soos Adam (Gén. 3:12). Wegvlug, selfverontskuldiging en skuldpak het ‘n wesenstrek van ons aard geword. Maar die wortel van die moeilikheid lê in die skuld en verwonding van ons self voor ons Oorsprong. Dié geskonde self probeer nou op alle maniere daar uit kom deur onder te duik in ontvlugting, deur blaam te verplaas, deur fanaties te probeer bewys dat my self tóg waarde het en behoort te geld. Die gestoei om die behoud van selfwaarde kan so erg wees dat mense bereid raak om eerder die omringende werklikheid te verwring as om op die self in te gee.
MY WARE SELF IN CHRISTUS
Ons is tog geskep om selfwaarde te hê. Anders sou die Here ons mos nie gemaak het nie. Ons besef ons moet dit hê vir ‘n “reg” op die lewe. Elkeen van ons ís uniek bedoel, met ‘n eie identiteit en ‘n eie, onvervangbare bydrae in sy Koninkryk.
Om dít te besef, en om te besef hoe dit weer reggemaak word, is die wortelgeheim in alle goeie verhoudinge. En dié besef kry ons nie uit onsself of uit ‘n spieëlbeeld-self vanaf ons medemens of ons omstandighede nie. Ons kry dit uit ‘n Openbaring wat ons geroep word om te glo of te aanvaar. God sê of verklaar Hy aanvaar ons opnuut en Hy hét in Christus alles gedoen wat daartoe nodig was. Hy het ons in Christus lief, en as ons die liefdestroom van Bo werklik aanvaar, maak dit ons oop om onsself te aanvaar. Wanneer ek my “in Christus wees” werklik beleef, het ek ‘n nuwe, duursame eie identieit. Ek hoef nie meer te ontvlug of te beskuldig en myself ten alle koste te regverdig ten einde my selfbelewenis te red nie. Uitgelewer aan Hóm en veranker in Hóm, kan ek dan net opreg myself wees.
“Do I have to be me?” word dan “Yes, I have to be me” – in dankbare aanvaarding. En dit werk genesend deur ook in my verhoudinge.
Paulus het onder hierdie besef geleef, leer ons onder meer uit 1 Kor. 15. Sy omstandighede het gesê hy is die ontydig geborene. In vergelyking met die ander apostels, was hy die geringste. Skuldig was hy beslis omdat hy die gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is … (vs. 10). Onder hierdie besef is hy vrygestel om oorvloedig in die Koninkryk te dien, baie moeilikhede ten spyt. Onder die oog van die groot “Beduidende Ander” het hy homself in Christus gevind.