Klaagliedere 5:1
In die jaar 2011 nC is daar weer ‘n volk wat in vertwyfeling uitroep: Dink tog, Here, aan wat oor ons gekom het en sien ons smaad aan, want ons Afrikanervolk se erfdeel het ook na vreemdes oorgegaan en ons huise na uitlanders.
Die profeet Jeremia beskryf in hierdie hoofstuk van sy Klaagliedere die verskriklike toestand wat in sy land geheers het nadat die Galdeërs in die jaar 586 vC Jerusalem ingeneem en verwoes het en die bevolking na Babel weggevoer het. ‘n Deel van die volk wat agtergebly het, het na Egipte gevlug en die profeet teen sy sin met hulle saamgesleep om daar verder saam met hulle smaad te ly.
Die profeet bekla die lot van die armes wat in Jerusalem en die ander verwoeste stede van Juda agtergebly het en vereenselwig hom met hulle leed. Hy sê hulle erfdeel het na vreemdes oorgegaan en hulle huise na uitlanders. Knegte heers oor hulle. Hulle word deur hulle oorheersers gedryf en geen rus gegun nie. Hulle ly honger en alle lewensvreugde het verdwyn in die ellende wat oor hulle gekom het. Hulle word gestraf vir die sondes van hulle voorvaders, maar ook vir hul eie ongehoorsaamheid en hardnekkige aanbidding van lewelose afgode.
Maar die profeet tree in by die Here vir sy afgedwaalde, verowerde en verrinneweerde volk. Hy vra: “Waarom sal U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat? Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees en gee ons tog weer die bestaan van vroeër.”
In die jaar 2011 nC is daar weer ‘n volk wat in vertwyfeling uitroep: “Dink tog, Here, aan wat oor ons gekom het en sien ons smaad aan, want ons Afrikanervolk se erfdeel het ook na vreemdes oorgegaan en ons huise na uitlanders. Soos U verbondsvolk agt eeue gelede geweier het om af te sien van hulle afgodsaltare, so het ons ook die valse lokstem van leuenprofete geglo en die godgegewe roeping waarmee U ons in hierdie suidland geplant het, versaak en agter die wêreld se dwaalligte aangestrompel.
“Ons het gesondig en verdien die strafgerig waarmee U ons tugtig deur toe te laat dat ‘n heidense terroristiese owerheid ons verkneg. Maar Here, U het in u Woord belowe dat indien u volk hulle verootmoedig en bid en u aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal U dit in die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. (II Kronieke 7:14)
“Daarom roep ons in ons nood saam met die profeet Jeremia tot U: Bekeer ons volk tog weer tot U, o Here, sodat ons U weer kan dien soos vroeër in ons vrye land Suid-Afrika.”