LEER WEER OM TE BID

Die wêreld het mondig geword. Mense glo dat hulle God nie meer nodig het nie. As ons water wil hê, draai ons die kraan oop. As ek siek is, gaan spreek ek die dokter. Wanneer my kind ‘n probleem het, help die sielkundige. Dié keer wanneer ek nie meer self raad het nie, is dan ‘n vreemde ervaring. Ek weet nie presies hoe om dit te hanteer nie.

Jakobus sê: “Julle kry nie omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2).

Mense het afgeleer om te bid. Die selfversorgende mondigheid het gebed laat opdroog. Maar dit het mense armer gemaak.

Daardie wonderlike gevoel van afhanklikheid teenoor Hom wat die Almagtige is, het verdwyn. Ek moet tevrede wees met my eie mag. Die voorreg om in die middel van die nag bekommernisse op Hom te laai, het ons nie meer nie. As mense nie ons bekommernisse kan besweer nie, het ons daarmee geen raad nie. Daardie seker wete dat my en my kinders se lewe en sterwe in sy Hande is, gaan by ons verby. Ek voel ek moet dit self hanteer. Ons aandag het op die verkeerde plek gefikseer geraak. Nie meer God en sy Almag nie, maar ek en my gewaande mag het sentraal geword. Daarom pas dit ons om te hóór hoe arm ons is - om te hóór dat ons nie het nie. Om weer in sy volheid te deel, is net ‘n gebed ver. Hy wag dat ons ons behoeftes voor Hom lê. Hy het nog steeds alle mag in hemel en op aarde en Hy wil dit uitdeel. Hoekom vra jy Hom nie?

Gedagte om te onthou: Dié mens wat sy afhanklikheid van God besef, se geloof het lewenspraktyk geword.