KINDERS IN DIE BYBEL (11)

MOSES

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

MISKIEN het julle ook al gewonder hoe dit gekom het dat Moses, wat as ’n Egiptenaar groot geword het, tog ’n Israeliet gebly het. Hoe het dit dan gebeur dat hy sy geloof in die Here nie prys gegee het vir die lekker lewe aan die Egiptiese paleis nie en hoe het hy dit behou? Hoekom het hy nie ten volle Egiptenaar geword en die Egiptiese taal en tradisies aangehang nie?

Baie mense sal sê dat so ’n jong kind wat losgeruk is van die tradisie van sy kerk en sy volk, eintlik vir kerk en volk verlore is.

As ’n jong kind uit ’n Gereformeerde ouerhuis na ’n Rooms-Katolieke skool sou gaan, sou hy tog met alles wat Gereformeerd is breek en ’n aanhanger van die Rooms-Katolieke geloof word. Want hy sal sy Gereformeerde opvoeding vergeet omdat hy gewoond geword het aan die Roomse opvattings en tradisies.

Die antwoord waarom dit nie met Moses gebeur het nie, is omdat die Here Moses nie vergeet het nie. Ons mag ons miskien blind staar teen die feit en ons mag maar net vaskyk op wat op die oomblik gebeur. Maar wat God beloof het, dit vervul Hy.

Die Here het vir Moses ’n plek beskik. Hy sou die beeld van Jesus Christus word. Daarom is alles wat met Moses gebeur het, nie maar toevallig nie.

Dit gebeur ten spyte van die feit dat die naam Moses nie eens ’n Joodse naam is nie, maar suiwer Egipties. Die naam beteken heelwaarskynlik: Kind van die Nyl of Kind van die water. Maar in die naam sien ons ook duidelik die hand van die Here wat red. God het Moses gered ten spyte van die feit dat daar baie Joodse seuntjies was wat doodgemaak is.

Hierdie naam wys dan ook na Christus wat eeue later sou kom as die ware Redder maar wat eers moes ondergaan en doodgemaak word om ons te kon red.

Ná sy redding uit die Nyl is Moses ook nie sommer dadelik in Farao se paleis opgeneem nie. Hy het nog eers ’n hele paar jaar by sy moeder Jogebed gebly.

Jogebed was ’n knap vrou wat nie gaan stilsit het nie. Sy sou haar seker nie gaan sit en doodhuil het oor haar ou seuntjie wat sy na ’n paar jaar miskien nooit weer nie of baie selde sou sien. ’n Vrou soos sy wat ’n plan kon maak om haar kind te red deur hom in ’n mandjie te plaas, sou sekerlik werk gemaak het van die feit dat sy Moses nog ’n paar jaar by haar sou hê. Want toe sy hom in die mandjie gesit het, het sy seker geweet dat Farao se dogter hom sou kry. Dit was seker ook die doel waarom sy hom gesit het waar Farao se dogter hom kon sien.

Daarom sou sy sekerlik gesorg het dat die fondament van Moses se opvoeding baie goed gelê word. Sy het hom vertel van Abraham, Isak, Jakob en Josef. Sy sou hom ook vertel het van die Here en al sy wonderlike beloftes aan die Jode.

Moses moes so ses of sewe jaar oud gewees het toe hy na die paleis van Farao gegaan het. Toe het hy geweet van die swaarkry van die Joodse volk en soos later uit sy lewe sou blyk, was hy trots op sy volk.

Aan die paleis van Farao het hy die beste opvoeding gekry wat ’n kind van sy tyd kon geniet. Daar het hy die opvoeding van ’n Egiptiese prins gekry. Watter soort opvoeding hy geniet het, vertel die Bybel nie aan ons nie. Volgens Handelinge 7:22 is hy onderrig in al die wysheid van die Egiptenare. Watter soort dinge was dit wat hy geleer het?

In die eerste plek sou hy seker die sterrekunde bestudeer het. Want die Egiptenare was ’n volk wat ’n groot kennis van die sterrekunde gehad het.

Verder het Moses seker ook die wiskunde bestudeer. Die Egiptenare was die bouers van die groot piramides wat in Moses se tyd alreeds daar was. Hulle het ’n goeie kennis van die wiskunde gehad. Behalwe hierdie twee vakke was daar ook ander vakke soos medisyne, aardrykskunde en die regte.

Dat Moses ’n ywerige leerling was, kom na vore wanneer hy die Jode deur die woestyn na Kanaän moet lei. Baie van sy kennis wat hy aan die Egiptiese hof opgedoen het, kon hy hier in die praktyk toepas. Ons lees byvoorbeeld in Exodus 18 :13 dat Moses reg gespreek het vir die volk. Dit was die toepassing van wat hy aan die Egiptiese hof bestudeer het.

Waar Moses se volk swaar gekry het onder die hand van Farao en die Egiptenare, het Moses dit lekker gehad aan die paleis van Farao.

As Moses in sy latere lewe verkies het om Egiptenaar te bly, sou niemand seker daaroor verwonderd gewees het nie. Hy kon kies of hy die swaarkry met sy volk sou deel en of hy die aangename lewe van ’n Egiptenaar sou lei.

Miskien het die Jode van daardie tyd wat geweet het dat Moses aan die hof van Farao opgevoed word, koppe geskud en gesê dat hierdie klein Jood verlore was vir kerk en volk. Maar hierdie opvoeding van Moses was maar net die voorbereiding wat die Here aan hom gegee het om later sy volk te kon lei.

Moses het dan ook getrou gebly aan sy beginsels en sy geloof soos ons later sien wanneer hy die Egiptenaar doodslaan wat die Jood aanval.

Hierin is Moses beslis ’n voorbeeld vir menige jong seun en dogter.

Hoeveel kinders wat die ouerhuis verlaat, ruk nie sommer los van alles nie? Die ankertoue aan die kerk en die geloof word losgemaak en hierdie kinders word weggewaai deur die winde van liberalisme en ongeloof. Sodra belydenis van geloof gedoen is, word die belofte aan die Here, naamlik om ywerig en getrou die bediening van Woord en sakramente op te soek, vergeet.

Tog bly die Here getrou aan sy beloftes. God het altyd die laaste woord. Hierdie jongmens wat dit so aangenaam en interessant vind tussen sondaars en goddeloses, hierdie jongmens wat die wêreld sy god gemaak het en dit met ywer aanbid, sal soos ’n brandhout uit die vuur geruk word. Sy lewe mag verwoes wees en hy mag rook en stink soos ’n stuk hout wat half verbrand is. God maak daardie lewe weer reg in Christus. Baie jong mense het al die pad byster geraak, maar God bring hulle terug.

Ons moet steeds vashou aan Christus. Ons geloof in Hom moet nooit verflou nie. In alles wat ons doen, moet ons ywerig en getrou wees soos Moses.

Om weg te breek van jou geloof en jou kerk beteken om Christus vaarwel toe te roep en teen Hom te draai en teen sy kerk en koninkryk.

Dit beteken om ’n aanhanger en aanbidder van die antichris te word.