KINDERS IN DIE BYBEL (16)

JESUS

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

DAAR in Nasaret het Hy opgegroei saam met sy broers en susters. Sy broers se name was Jakobus, Joses, Judas en Simon (Markus 6:3). Hy het ook susters gehad maar hulle name ken ons nie.

Toe Jesus ses jaar oud was, is   Hy volgens die gewoonte van daardie tyd seker ook na die skool gestuur. Hierdie skool was eintlik ’n soort van 'n "kerkskool” omdat dit baie nou verbonde was aan die sinagoge.

In die meeste van die Joodse skole van daardie tyd was die koster van die sinagoge die onderwyser. Hy het plat op die vloer gesit en die kinders het in ’n kring rondom hom gesit. Sodra ’n kind in die skool gekom het, moes hy eers die letters van die Hebreeuse alfabet leer om sodoende te kon leer lees. Wanneer hulle dit geken het, het hulle begin om die Ou Testa­ment te bestudeer.

So het hulle die boeke van die Ou Testament een vir een bestudeer en dan ook ’n deeglike kennis opgedoen van die Ou Testament. Daarom verbaas dit ons nie dat mense soos Mattheus, Johannes, Petrus en Paulus aanhalings uit die Ou Testament kon maak nie. Deur hulle skoolopleiding het hulle die Ou Testa­ment geken.

Die tyd het vir Jesus in Nasaret dan ook rustig verbygegaan. In die week was dit skool en die rustige lewe van die week is elke sewende dag deur die Sabbat onderbreek. Dan het Jesus saam met sy ouers na die sinagoge gegaan om daar te luister na die Woord van die Here. Jesus was dan ook gereeld elke sabbat in die sinagoge (Lukas 4:16).

Behalwe die weeklikse sabbatte was daar ook die jaarlikse feesdae waarvan die Paasfees die belangrikste was. Josef en Maria het soos getroue Israeliete elke jaar met die Paasfees na Jerusalem opgegaan.

Sodra ’n kind twaalf jaar oud was, is hy as oud genoeg beskou om saam te gaan na die tempel in Jerusalem.

Daarom is Christus ook op twaalfjarige leeftyd deur sy ouers saamgeneem na Jerusalem toe hulle weer gegaan het om die Paasfees te vier. Met die Paasfees het Jerusalem gewoonlik gekrioel van mense. Daar word beweer dat daar in Christus se tyd soms twee miljoen mense met die Paasfees in Jerusalem was. Gewoonlik het die fees sewe dae geduur waarvan die eerste drie dae die belangrikste was.

Hier in die tempel was daar blydskap in die hart van Jesus. Want hier het alles gespreek van sy Vader wat Horn gestuur het. Hier het Israel hulle diens aan sy Vader beoefen en hier het hulle hul offers gebring. Hier is hulle geseën en van hier het hulle gebede en lofsange opgestyg. Hier kon Hy dan ook alles vergeet en besig wees met die wil van sy Vader.

By die groot feeste was dit die gewoonte dat een van die beroemde rabbi’s by die poorte van die tempel gaan sit het en aan elkeen wat wou luister, onderrig gegee het in die geheime van God. So het Christus dan ook by een van die leermeesters gaan sit.

Vir Horn was dit nie te veel moeite nie. Hy het liewer hier gesit as om saam met sy maats te speel. Want by Hom was daar die allesoorheersende liefde om besig te wees met die dinge van sy Vader. Vir Hom was hierdie katkisasie nie te veel nie. Hy het dit geniet. Dit was nie vir Hom iets waarteen Hy opgesien het nie.

In die tussentyd was die fees besig om verby te gaan. Josef en Maria het begin oppak en huis toe gegaan soos al die ander mense. Aanvanklik het hulle hul nie gesteur aan die feit dat Jesus nie by hulle was nie en gedink hy is maar daar tussen die groot groep mense.

"Miskien is Hy maar tussen al die ander mense by sy maats,” het hulle gedink. "Hy sal wel vanaand, as ons stilhou om te slaap, na ons kom.”

Toe Hy die aand nie opdaag nie, het hulle begin bekommerd raak. Daardie nag het hulle byna nie ’n oog toegemaak nie as gevolg van bekommernis. Vroeg die volgende oggend is hulle terug na Jerusalem en daar kry hulle Horn tussen al die rabbi’s.

Maria is verlig maar sy is ook verontwaardig. "Hoekom maak jy so? Ek en jou pa was baie bekom­merd oor jou en ons het oral na jou gesoek.” ’n Ma maak mos so.

Maria het egter een ding vergeet. Sy het vergeet wat twaalf jaar gelede gebeur het toe die engel aan haar verskyn het. Sy het vergeet Wie hierdie Kind is. Hy was nie maar net hulle Kind nie. Hy het ’n Vader in die hemel aan Wie Hy ook gehoorsaam moet wees.

"U moet tog nie so bekommerd wees nie. U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees. U behoort te weet dat Ek anders as ander mense is.”

As dit ’n ander kind was, sou sy ouers hom of haar seker die leviete voorgelees het. Want by 'n ander kind sou hierdie hele houding deur nie saam terug te gaan huis toe nie as stoutigheid bestempel gewees het. Maar toe Christus aan Maria hierdie antwoord gee, het sy dadelik besef waarom dit gaan.

Jesus gaan ook nie verder as hierdie antwoord nie. Hy maak nie soos sommige kinders wat miskien direk aan hulle ouers sou gesê het dat hulle bekrompe is en dat hulle hom nie eens ’n bietjie plesier gun nie.

Hy het dadelik opgestaan en saam met sy ouers gegaan. Ons lees niks daarvan dat Hy dikmond en nukkerig was nie.

Die Bybel sê dat Hy aan hulle onderdanig was. Hy was gehoorsaam aan hulle ten spyte van die feit dat Hy as die sondelose seker ook hulle sondes en verkeerdhede ingesien het. Hy verwyt hulle nie. Hy noem hulle nie eng en agterlik nie.

Hy gaan terug en Hy help sy vader Josef daar in die agterlike dorpie Nasaret met sy timmermanswerk. Hy neig nie na die wêreld wat daarbuite lok en roep nie. Hy wil nie Homself handhaaf nie.

Want by Hom is daar die liefde, die ware, suiwere liefde.

Dit is wat die Here van elkeen van ons vra. Liefde wat brand.