AS 'N ENGEL VERVEER (10)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by As 'n engel verveer

GILBOA

"Die hemel behoede ons!" skreeu Dalot toe hy die vyandelike leër aan die voet van Gilboa gewaar.

"Salog, Mahaliël, Tanag, kom kyk hier!" roep Dalot sy makkers.

"Dis verby met ons!  Die Filistyne is net te veel!” sê Mahaliël ontsteld.

Bo van die berg af lyk die Filistynse leër soos 'n reuse miernes wat oopgekrap is.  Daar is 'n paar honderdduisend van hulle. Saul kan sy oë nie glo nie.  Hy het nog nooit soveel van die vyand bymekaar gesien nie.  Die Filistyne is minstens drie of viermaal meer as Israel!

"Dit lyk nie goed nie, my heer" sê Tewan, die hoofoorlograadgewer.

"Nee, beslis nie!” sê Saul bekommerd.

"Staan ons enige kans teen so 'n oormag?" vra Tewan.

Daar is twyfel in sy stem.

"Nee, ons het geen kans nie!  Net God kan ons nou red!" antwoord Saul mismoedig.

"Dan moet u met God praat, my heer. Die Here luister altyd na ‘n koning!” por Tewan sy koning aan.

“Ek sal gaan praat; sommer vanaand nog” beloof Saul.

"Here, die dood lê en loer vir my.  Dit maak my tot in my siel toe benoud!" bid Saul.  "U volk het nog nooit teen 'n gedugter vyand as tans te staan gekom nie.  Ek pleit dat U Israel uit die hand van die heidene sal red sodat hulle sal weet dat U hulle mag gebreek het dat U groter as Astarte of enige ander afgod is.  Gee aan U volk die oorwinning. Maak die uitslag van die geveg vooraf aan my bekend sodat ek Israel kan laat moed skep" smeek Saul.

Daardie nag lê Saul lank wakker.  Sal die Here sy gebed verhoor en hom antwoord?  Onwillekeurig dink hy aan al die verkeerde dinge wat hy die afgelope klompie jare gedoen het – die baie lewens wat hy verwoes het - die teregstelling van Ahiméleg en die priesters van Nob.  Sou hy God kon verkwalik as Hy hom nie sou antwoord nie?

o0o

"Soek vir my 'n vrou wat geeste kan oproep!" gebied Saul die volgende oggend vir Magmas.

"U het hulle dan self op aandrang van die ou profeet laat uitroei, my heer", antwoord die lyfbediende.

"Hulle is nie almal dood nie!  Daar moet nog van hulle iewers skuil.   Ek het dringend een se hulp nodig!" smeek Saul.

"Ek weet van 'n vrou wat u moontlik sal kan help" antwoord Magmas oortuig dat Saul geen kwade bedoelinge het nie.

"Laat haar haal dat sy vir my die toekoms kan voorspel" gebied Saul.

"Sy sal nie hierheen kom nie.  Sy vrees soos alle waarsegsters vir haar lewe", antwoord die lyfbediende.

"Wat doen ons dan?" vra Saul.

"Ons sal na haar toe moet gaan sodra dit donker is.  Vermom uself en neem geld saam”, doen Magmas aan die hand.

"Dis goed so", sê Saul en sug.

o0o

"Ons sal jou baie geld betaal as jy vir ons die gees van 'n dooie oproep", doen Magmas die praatwerk.

"Wie wil julle hê moet ek vir julle oproep?" vra Bagida en kyk hulle wantrouig aan.

"Samuel, die profeet van Rama!" sê Saul.

Bagida herken sy stem en val bewend voor hom neer.  Haar liggaam ruk van angs soos een wat so pas ‘n doodsvonnis ontvang het.

"Spaar my lewe!  Moet my asseblief nie doodmaak nie, my heer!" pleit sy in trane.

"Ek sal jou geen leed aandoen nie.  Israel het jou hulp nodig”, verseker Saul haar.

"Volg my" sê Bagida en neem hulle na 'n klein donker kamer.

Die vertrek is karig gemeubileer. Die kers op die tafel gooi spookagtige beelde teen die muur.  Saul voel baie ongemaklik. Hy hou nie van die bonatuurlike nie.  Dit kan ongelukkig nie anders nie.  God wou hom nie antwoord nie.  Nou volg hy maar die enigste uitweg.

Bagida laat hulle eenkant op 'n lendelam bankie sit en lees uit 'n verslete boek wat sy uit 'n versteekte laai haal.  Haar stemtoon is vreemd. Saul verstaan geen woord daarvan nie.  Dis seker maar ‘n towerspreuk. Bagida wieg heen en weer in 'n beswyming.

"Daar is hy nou!" gil die vrou en wys met haar vinger na die oorkantste hoek waar 'n gedaante verskyn.  Saul rittel en beef soos 'n riet in die woestynwind.  Magmas wil die hasepad kies, maar versteen van vrees.

"Saul, seun van Kis, waarom veronrus jy my?" vra die spookagtige gedaante.

"Is dit waarlik u, my vader?" vra Saul ontsteld.

"Ja, dis ek, Samuel" sê die gedaante.

"My vader, vergeef my vir hierdie onheilige daad.  Daar was vir my egter geen ander uitweg nie", smeek Saul.

"Waarom veronrus jy my?" vra Samuel.

"Ek het God om 'n antwoord gesmeek, maar Hy het my nie geantwoord nie.  Daarom het ek u laat opkom om met u praat",  maak Saul verskoning.

"Wat veronrus jou so dat jy selfs die doderyk bestorm?" vra Samuel.

"Ek is bang vir die Filistyne, my vader.  Maak vir my asseblief die uitslag van die geveg vooraf bekend sodat ek Israel kan laat moed skep", pleit Saul.

"Waarom vra jy my?  Is ek miskien die Alwetende?  Daar is vir jou geen genade nie!  Jy het te veel bloed aan jou hande.  Het ek jou nie gesê dat die Here jou as koning van Israel verwerp het nie?  Daarom antwoord Hy jou nie", berispe Samuel hom.

"My vader, bewys aan my 'n laaste guns al verdien ek dit nie.  Maak die uitslag van die geveg aan my bekend.  Ek sal u nooit weer lastig val nie", smeek Saul.

"Jy is reg, jy sal my nooit weer lastig val nie!  Israel sal die knie voor die vyand buig!", sê Samuel en verdwyn net so skielik as wat hy verskyn het.

o0o

"Ek is die draer van baie slegte nuus, my heer", sê Lamet en hyg na asem.

"Praat, kêrel, wat is dit?" beveel Saul die jong soldaat.

"U seuns het so pas op Gilboa gesneuwel en dit gaan nie goed met Israel in die geveg nie", sê Lamet bewoë.

"Al d..drie my s…seuns?" stotter Saul verbysterd.

"Ja, my heer, al drie.  En die Filistyne is oppad hierheen", sê Lamet en maak vinnig verskoning.

"Die verdomde heidene soek natuurlik my bloed!" sis Saul deur sy tande.

"Wat gaan u doen, my heer?" vra Tubal-Meseg bekommerd.

"Ek gaan die vuilgoed nie die genot gee om my dood te maak nie.  Neem my swaard en steek dit in my hart.  Ek moet dood wees voordat hulle by my kom!" beveel Saul sy jong wapendraer.

"Ek sal dit nooit doen nie, my heer!" weier Tubal-Meseg verskrik.

"Dan doen ek dit self!" skreeu Saul en loop by sy tent uit.

Saul val in sy eie swaard en sterf onmiddellik. Die jong wapendraer volg sy voorbeeld.

o0o

"En wat het ons hier?"  vra Maglot toe die soldate vier lyke voor hom neergooi.

"Kom kyk gerus", nooi Sargon sy leërowerste.

Die Filistyn loop nader en bekyk die gesigte.

"Moenie vir my sê dis Saul en sy seuns dié nie" sê-vra Maglot uit die veld geslaan.

"Dis net hulle!" sê Sargon en glimlag van oor tot oor.

"Dis die beste geskenk wat iemand ooit kon gee!" sê die Filistyn en klop sy adjunk op die skouer.

"Nou het ons die koning van Israel net waar ons hom wil hê - laag aan ons voete!" spot Sargon en spuug minagtend op Saul.

"Astarte was goed vir ons.  Ons sal vir haar 'n groot offer moet bring" sê Maglot baie in sy skik.

"Wat sal ons met die lyke maak?" vra Sargon.

"Ons moet dit iewers sit waar die hele Bet-San dit kan sien" sê Maglot opgewonde.

"Kom ons spyker dit by die ingang teen die buitemuur vas.  Dan kan vriend en vyand, volksgenoot en vreemdeling sien hoe groot Astarte is", stel Sargon voor.

"Dit klink goed.  Ek laat dit aan jou oor", sê Maglot met genoegdoening.

o0o

Die gesig wat die inwoners van Bet-San die volgende oggend by die stadspoort ontmoet het, is met gemengde gevoelens begroet.  Terwyl vrouens en kinders verskik weggevlug het, het sommige van die inwoners met die lyke gespot en selfs daarop gespuug.

Toe die nuus van die weersinswekkende tentoonstelling Gibea bereik, is daar besluit om die saak nie daar te laat nie.  'n Paar dapper manne het Gibea haastig verlaat en die lyke van Saul en sy seuns die nag ongemerk van die muur verwyder en na Jabes geneem.  Omdat die liggame in 'n gevorderde stadium van ontbinding was, kon dit nie na Gibea teruggeneem word nie.  Dis verbrand en die beendere onder 'n tamariskboom begrawe.

o0o

Toe Dawid die tyding van die treurspel op Gilboa en Jonatan se dood ontvang, het hy  'n ent buitekant die stad op ‘n rots gaan sit en ween.

"Jonatan, my vriend, Jonathan my broer, waarom moes jy sterf?  Jou vriendskap was vir my kosbaarder as goud en jou liefde groter as dié van 'n vrou.  Waarom moes jy, wat van eerlikheid jou bokleed en van vriendelikheid jou onderkleed gemaak het, nou sterf?   Waarom moes dit in jou lewe nag word terwyl jy nog soveel daglig oorgehad het?  Jou dood deurboor my siel soos ‘n swaard en verpletter my gees soos ‘n rots.  Hoe kan die lewe weer dieselfde wees?  Dis sinloos en leeg sonder jou!  Hoe mis ek jou nie, my vriend!" snik Dawid onbedaarlik.

Vervolg...