OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (7)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

Johannes se moedskep-visioen

Openb.1:9-20

1.   ʼn Mismoedige Johannes

Openbaring het die gelowiges in Klein-Asië wat dikwels mismoedig was laat moed skep.  Wanneer dit gevoel het asof dinge net te veel word, het Openbaring hulle daaraan herinner dat Jesus self deur ʼn donker drif gegaan het waarin Hy selfs sy lewe verloor het!  Wanneer die verheerlikte Heiland sy hand op die mismoedige Johannes se skouer neersit, is dit asof Hy dit met die res van die gelowiges doen.   Dit het die gemeentes weer laat moed skep - hulle was veilig in God se hand.  Ons ontmoet hier vir Johannes soos hy waarlik is; nie net slaaf of dienaar nie, maar ook profeet.  God bemagtig profete met ʼn duidelike roeping soos vir Jesaja, Jeremia en Esegiël.

2.   Die indeling van die visioen

Die visioen van die verheerlikte Christus stel die lesers aan Johannes voor en bemoedig lesers in krisissituasies.   Hierdie visioen bevat drie dele (i)  Johannes se omstandighede en opdrag om te skryf (ii)  Die beskrywing van die verheerlikte Christus   (iii)  Die opdrag om te skryf en verklaring van die boodskap.

  1. Die omstandighede:

Johannes laat geen twyfel oor sy persoon en doel van sy skrywe nie en vereenselwig hom met sy lesers.  Hy noem hom ʼn broeder en deelgenoot.  Hy is geestelike familie van sy lesers.  Die visioen is nie Johannes se roepingsvisioen nie, maar ʼn bemoedigende visioen wat die werklike doel van Openbaring is.   Johannes is die lesers se  deelgenoot in die swaarkry van vervolging en onreg in die krisissituasies soos verbanning, tronkstraf, sosiale onttrekking uit die gemeenskapslewe, armoede, uitbuiting en geweld.  Die enigste antwoord hierop, is volharding en gehoorsaamheid aan God wat martelaarskap ingesluit het (Openb.2:2,3,19).  Gelowiges se leefstyl moes deur getrouheid aan God en geduldige volharding gekenmerk word.  Dis deel van die hooftema van die boek.

Wanneer Johannes van die koninkryk praat, beteken dit die heerskappy van God wat met die menswording van Jesus deurgebreek het en eers met sy wederkoms ten volle erken sal word.   Deur nou alreeds Christus se koningskap te erken, deel gelowiges reeds in sy heerskappy op aarde.  Dit staan teenoor die koninkryk van Satan  en die Antichris wat vernietig gaan word (16:10).

Johannes bevind hom op Patmos waarheen hy verban is omdat hy as ʼn gevaar vir die  staat beskou is. Die eiland is ongeveer 16 km lank en 60 km suidwes van Efese.   Hy was nie lank daar nie (95-96nC).   Toe keiser Domitianus in 96nC sterf, het hy amnestie van keiser Nerva gekry om terug te keer.

Die rede vir sy verbanning was dat hy ʼn getuie was van die woord van God en die getuienis wat Jesus gelewer het.  Lg. uitdrukking kom vyf maal in Openbaring voor.

  1. Die opdrag om te skryf:

Johannes het opdrag gekry om die boek te skryf en is deur die Gees meegevoer tydens ʼn ervaring met die Heilige Gees wat Johannes se sintuiglike waarneming oorgeneem het terwyl hy by sy volle bewussyn was.  Johannes moes God se finale ontvouing van die geskiedenis bekend maak.

Die dag van die Here waarna Johannes verwys, is Sondag; die dag wat die vroeë kerk die opstanding van Christus herdenk het.  Die trompet het iets belangrik aangekondig o.a. om oorlog of die aankoms van ʼn koning by ʼn feesgeleentheid aan te kondig.   Die harde stem was dié van Christus self.

Die skryf-opdrag kom 12 keer in verskillende vorms in Openbaring voor.  Johannes skryf nie sy eie verhaal nie maar slegs dit wat hy gehoor en gesien en van Christus ontvang het.  Dit verleen nie net gesag aan sy getuienis nie, maar is ook ʼn getuienis teen gelowiges wat nie daaraan gehoor gee nie.

Die boekrol moes aan die sewe gemeentes gegee word, stede wat destyds waarskynlik die sentra van kommunikasie was vanwaar die boodskap die res van Klein-Asië bereik het.   Hierdie sewe stede het sedert Paulus se sendingreise deel van ʼn sendingprogram na die res van Klein-Asië uitgemaak.  Gevolglik was hierdie sewe verteenwoordigend van die hele Christelike kerk.   So ook die omstandighede in elke gemeente.

(iii)  Die verheerlikte Christus

Die inhoud van Johannes se visioen is ʼn gesig van die verheerlikte Christus.  Johannes se  omdraai is die figuurlike keerpunt vir die kerk omdat die finale fase van God se  wêreldgeskiedenis nou aanbreek.  Die verheerlikte Christus is nou in die midde van sy kerk (tussen die staanlampe).  Die getal sewe druk die perfekte orde uit.  Christus is baie nou by sy kerk betrokke – eers staan Hy tussen die staanders (1:13),  dan hou Hy die sewe sterre in sy regterhand (1:16; 2:1; 3:1).  Laastens beweeg Hy tussen die sewe staanlampe rond (2:1).  Indien die kerk nie getrou bly nie, kan Hy die lamp verwyder (2:5).

Christus word as die Seun van die Mens geteken (1:13), ʼn sinspeling op Dan.10:5,6.  Dit is die Messiaanse bevryder wat uit die hemel neerdaal.  Jesus het hierdie titel op Homself toegepas met verwysing na sy aardse optrede.

Johannes meld dat Christus se voorkoms indrukwekkend is en beskryf dit in beeldryke taal wat nie letterlik opgeneem moet word nie.  Dis nie ʼn foto van Hom nie, maar beklemtoon sy heerlikheid.

Die lang kleed met die goue band om die bors herinner aan die kleed van die hoëpriester en is nie om sy heupe soos die van ʼn arbeider nie.   Jesus se werk op aarde is voltooi.  Sy hoof en hare is wit soos wol/sneeu. Witheid dui op kennis en heerlikheid.  Die oë soos vlammende vuur simboliseer Christus se alwetendheid.  Die voete van blink koper simboliseer Christus se krag waarin sy volmaaktheid soos ʼn oond gloei.  Sy stem wat soos ʼn watermassa druis dui op sy krag en sterkte.  In sy hand het Hy sewe sterre vasgehou.  Hulle is die sewe leraars/boodskappers van die sewe gemeentes.    Uit sy mond het ʼn tweesnydende swaard gegaan wat op Christus se oordeel oor die aarde dui. Sy hele voorkoms was soos die son wat baie skerp skyn en herinner ʼn mens aan Moses toe hy van Horeb afgekom het.

3.   Die boodskap van die verheerlikte Christus

Dit wat Johannes beleef het, laat hom soos ʼn dooie aan Christus se voete neerval.  Dis tipies van mense wanneer hulle deur God of sy boodskappers met vrees en aanbidding aangegryp word.  Johannes doen dit weer in 19:10 en 22:8 voor engele.  Verbystering laat Johannes soos ʼn dooie lê.  Daarna raak Christus hom aan – ʼn oordrag van gesag aan hom. Hy kom dus met gesaghebbendheid sy skryftaak aanpak.

Die Godsverskyning het met vrees gepaard gegaan waarop Christus hom beveel om nie te vrees nie want dit is Hy.  Die gedagte om sleutels te hou, is ʼn tipies Joodse gedagte wat op algehele mag dui.  Christus het deur sy dood en opstanding die mag van die bose oorwin.  Juis dit wat by die mens die grootste vrees inboesem, die dood, is oorwin. Daarna het Johannes alles gaan opskryf wat in die hede en toekoms sou gebeur.

Die klem val ook op die sewe gemeentes.  Die sewe goue lampe en sterre is die leraars of kerkleiers van destyds.  Dit was lewens persone wat ʼn gesagsposisie in die gemeentes beklee het en die boodskap moes oordra.   Christus beskerm hulle en hul gemeentes. Tydens vervolging en neerdrukkende tye plaas die verheerlikte Christus sy regterhand op elke gelowige wat swaarkry met die bemoediging om getrou te bly tot die einde  toe.

Vervolg...