Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
Ons lojaliteit teenoor die waarheid
Daar is vandag talle evangeliese predikers en leraars wat sê dat die eenvoudige Bybelse boodskap nie vir die moderne mens relevant is nie. Hulle beweer dat dit met verskeie kulturele vertalings opgeknap en getooi moet word om dit aantrekliker en aanvaarbaar te maak; 'n splinternuwe vertaling het pas weer die lig gesien asof die oues verval – die inhoud nie meer van toepassing is nie. Hoe vermetel is dit nie om te dink dat God se eie versoeningsboodskap deur onvolmaakte, sondige menslike byvoegings verbeter kan word!
Leierskap in die kerk berus nie op 'n individu se natuurlike vermoëns, opleiding, gesonde verstand of menslike wysheid nie. Dit is gebaseer op sy kennis en insig in die Woord, sy trou daaraan, sy onderworpenheid aan die Heilige Gees se vaslegging van God se Woord in sy hart en lewe. Iemand wat nie aan God se Woord vashou en hom daartoe verbind om dit uit te lewe nie, is nie geskik om dit te verkondig nie. Die waarheid van die Woord moet onlosmaaklik deel wees van alles wat hy dink en doen. Dan eers maak die leier se integriteit 'n impak op dié wat hy bedien.
Persone wat dislojaal is aan die Woord, is grootliks vir die oppervlakkige, selfverheffende prediking en lering in baie evangeliese kerke verantwoordelik. Dis hierdie dislojaliteit wat daartoe Iei dat soveel mense hulle tot sogenaamde "relevansie" bekeer en daarom 'n paaiende sielkunde of 'n afgewaterde evangelie verkondig.
Die apostel Paulus het geweet dat die boodskap wat hy verkondig, nooit deur sy eie wysheid, slimmigheid of oorredingsvermoë verbeter kon word nie. Aan die wêreldse kerk in Korinte skryf hy:
Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir die wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense. Broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimenisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. -1 Korintiers 1:23-25; 2:1-2
Die eenvoudige, maar oneindig kragtige evangeliewaarheid van "Jesus as die Christus en as die gekruisigde" sal God se uitverkorenes altyd op die regte tyd tot reddende geloof lei. Die Woord van God is 'n onmeetlike, onuitputlike skatkamer van meesterlike waarhede. Watter een van die waarhede moet primêr deur die kerk bekragtig en verkondig word? Paulus gee die antwoord in 1 Timoteus 3:16: "As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem." Die boodskap wat ons verkondig, is Jesus Christus; Hy is die kern van dit wat geleer en gepreek word.
Die enigste bron van hierdie onmeetlike waarheid, die een ware boodskap van God, word in sy Woord gevind (Tit. 1:3). Hoe kan enige prediker of leraar wat Christus sy Here en Verlosser noem, enigiets anders as God se Woord verkondig? Al die waarhede wat benodig word om evangelisasie te doen, word in sy Woord gevind - dit is die enigste saad wat die ewige lewe gee (1 Pet. 1:23). A1 die waarhede wat benodig word om gelowiges op te bou, word in sy Woord gevind (1 Pet. 2:1-2). Alle waarhede rondom die geestelike lewe word in die Bybel gevind.
Paulus skryf dat Titus moet "vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is" (Tit. 1:9). "Vashou" beteken "om iets of iemand aan te kleef of aan te hang". Ons moet dus met vurige toewyding en onvermoeide ywer aan die betroubare Woord vashou. Kortom, ons moet dit liefhê. Dit is ons geestelike voedsel. Jy moet jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer" (I Tim. 4:6). Dit behels 'n verbintenis tot die gesag en toereikendheid van God se Woord as die enigste bron van morele en geestelike waarhede.
Die getroue leraar volg Esra se voorbeeld. Hy "het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer" (Esra 7:10). Hy weet dat die Bybel nie bloot 'n bron van die waarheid is nie, maar die goddelike geopenbaarde bron van die waarheid. Dit is nie 'n aanvullende teks nie, maar die enigste teks. Die waarhede daarin is nie opsioneel nie, maar verpligtend. Dit is nie die leraar se doel om die Woord vir sy mense relevant te maak nie, maar om hulle in staat te stel om die leerstellings te verstaan wat die basis van hulle geestelike lewe word.
Mag God gee dat daar sommer binnekort in hierdie mooi land van ons weer 'n inkeer en terugkeer tot die waarheid van sy Woord plaasvind! Dan alleen sal ons weer vrede en voorspoed beleef met 'n waardige erfenis aan ons nakomelinge.