Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
INTEGRITEIT IN DIE VUURPROEF
In die vorige aflewering het ons op Daniël se voorbeeld van 'n kompromislose lewe gefokus en kortliks na sy drie vriende en mede-gevangenes in Babilon verwys - Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle is ook uitstekende voorbeelde van ware integriteit omdat hulle Daniël se leiding gevolg het en aan hulle oortuigings getrou gebly het. Die boek Daniël bevat nog 'n bekende verhaal waarin hulle standvastige integriteit verder duidelik word - hulle ervaring in die vuuroond. Hulle het voor 'n baie ernstiger dilemma as die vorige een te staan gekom. Wat hulle diëet betref, was die afgodery 'n sekondêre kwessie; hierdie keer was dit die hoofsaak. Hierdie drie jong mans (teen hierdie tyd is hulle nie meer tieners nie) het uit die Here se wet geweet dat afgodery sonde was (Eks. 20:2-6; Deut. 4:15:19).
Integriteit in die spervuur
Sadrag, Mesag en Abednego se probleme het begin toe koning Nebukadnesar 'n droom gehad het (Dan. 2:31-35). Hy het beelde gesien van 'n reusagtige, indrukwekkende standbeeld wat 'n kop van soliede goud en 'n liggaam en voete bestaande uit 'n kombinasie van silwer, brons, yster en klei gehad het. Die goue kop het Nebukadnesar se eie kop verteenwoordig (v. 38) en het hom so betower dat hy 'n lewensgrootte goue standbeeld van homself gebou het (3:1).
Die reusagtige standbeeld was 'n uitspattige, selfsugtige projek ter ere van Nebukadnesar. Hy het eintlik net gedoen wat alle ongelowiges doen: homself aanbid en hom as't ware bo God verhef. Die koning het opdrag gegee dat al sy onderdane voor die standbeeld buig en hom aanbid - en hulle het. Almal behalwe Daniël se drie vriende. Hulle het hulle integriteit behou en hulle lewens gewaag deur aan die ware God en sy Woord getrou te bly: "Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in 'n brandende oond gegooi word" (Dan. 3:6).
Integriteit bring vervolging.
Deur vas te staan vir dit wat reg is en nie toegewings te maak nie, het Sadrag, Mesag en Abednego hulleself aan wrede teenstand en vervolging van die Babiloniërs blootgestel. Baie van die ondergeskikte hofdienaars was reeds bitter teenoor Daniël en sy vriende omdat hulle sommige van die hoogste regeringsposte gevul het (Dan. 2:48-49). Nou was daar nog meer rede om teen hulle uit te vaar: "Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie" (Dan. 3:12).
Die koning was woedend toe hy dit hoor en hy het beveel dat die drie mans voor hom moes verskyn (v. 13). Asof daar nie reeds genoeg druk was om die beeld saam met die skare te aanbid nie, was die drie nou aan die desperate, trotse poging van jaloerse amptenare onderwerp wat hulle wou dwing om Nebukadnesar se wet te gehoorsaam (v. 14-15).
Daniël se vriende het ongeag die koning se hatigheid en intimidasie aanvanklik niks gesê nie. Hulle stille karaktervastheid dien as 'n groter voorbeeld van integriteit as wat die mees belese, logiese redenasie sou doen. Hulle swye was hulle nederige erkenning van die feit dat hulle nie voor die afgodsbeeld gebuig het nie. Dit wat hulle wel nodig geag het om te sê, is een van die dapperste geloofsbelydenisse in die hele Bybel: "Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie" (v. 17-18).
Integriteit bring geregtigheid
Die beginsel van 'n buitengewoon hoë standaard in Daniël se lewe word ook in die van Sadrag, Mesag en Abednego gesien. Hulle lojaliteit en liefde teenoor die Here was so groot dat hulle te midde van 'n reuse skare in die Duradal wat almal voor die goue beeld gebuig het, bly staan het. Hulle geloofsintegriteit was sterk genoeg om die soort groepsdruk te weerstaan wat gelowiges so dikwels sover kry om aan die groep se wense toe te gee.
Hulle vermoë om staande te bly, is 'n getuienis van hulle standaard van geregtigheid. Dit is gebaseer op dit wat God se Woord van 'n rein lewe sê (Ps. 119:11). Hulle het geweet dat dit wat met hulle liggame gebeur, nie belangrik was nie, net solank hulle harte aan die Here getrou bly. Soos Job gesê het: "Al wil Hy my ombring ek hoop op Hom" (Job 13:15,1953-vertaling).
Nebukadnesar se woedende, hardkoppige reaksie op hulle onwrikbare lojaliteit aan die waarheid sou sorg dat Sadrag, Mesag en Abednego se wilskrag kort daarna in die vuuroond tot die uiterste beproef sou word: "Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik" (Dan. 3:19). Die enigste manier waarop hulle lewe nou gespaar sou kon word, was as God sou ingryp en hulle uit die oond bevry. Dalk het hulle God se woorde aan die profeet Jesaja onthou: "As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie" (43:2).
In Daniël 3:20-23 lees ons wat volgende gebeur het:
Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne in die brandende oond geval.
Integriteit word beloon
Die Here het die onwrikbare geloof en toewyding van hierdie drie mans op 'n soewereine wyse beloon deur op 'n wonderbaarlike manier tot hulle redding te kom. Nadat hulle wreed in die brandende oond gegooi is, is die koning geskok deur wat volgende gebeur het: "Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: 'Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?' En hulle sê vir hom: 'Dit is so, U Majesteit!' Hy sê toe: 'Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos 'n hemelwese!"' (v. 24-25). Wie dit ook al was, God het hom gestuur om Sadrag, Mesag en Abednego te midde van die verterende vlamme te spaar.
Die uitsonderlike optrede van Daniel se drie vriende in die heel moeilikste omstandighede is weereens 'n ongelooflike getuienis van die waarde van persoonlike integriteit wat op God se beginsels gebaseer is. Hierdie soort karaktervastheid kan ons deur al die teëspoed van die lewe dra, veral wanneer ons weet dat ons reaksie die Here sal behaag: "Ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë" (Ps. 18:23-25).
Die getuienis van die drie mans het ook daartoe gelei dat die magtige Nebukadnesar die eer aan die Here gegee het en uiteindelik sy seën oor hulle uitgespreek het:
"Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam. en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe hulle God te dien of te aanbid. Daarom vaardig ek 'n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis 'n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie." Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel. Daniel 3:28-30
Die uitdrukking "hulle liggame oorgegee het" (1953-vertaling) veral uit die mond van 'n heidense koning - is 'n merkwaardige \ vooruitskouing van dit wat die apostel Paulus in Romeine 12:1-2 (1953-vertaling) skryf: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."
Daniel se vriende was inderdaad die voorlopers van alle gelowiges wat hulle daarop toespits om ware integriteit te hê. Die sleutel tot sulke integriteit is nie soseer misterieus of esoteries nie maar kom daarop neer dat ons voortdurend radikale, gehoorsame en opofferende dissipels volgens die model van Romeine 12 moet wees.
Vervolg...