DIE BRUIDEGOM IS OP PAD (5)

5.   Geen ontsnaproete nie

Mt.25:1-13; 1 Thess.4:13-18

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met die geklank van die basuin van God;  en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug;  en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess.4:16,17).

In Mt.22 waarsku Jesus die Skrifgeleerdes dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie.  Dit was juis mense wat voorgegee het om die Skrifte te ken.   Dieselfde ding gebeur vandag nog – mense wat voorgee om die Bybel te ken, maar in werklikheid dwaal!  Miljoene mense in charismatiese kerke glo dat daar net voor die groot verdrukking ʼn ontvlugting vir sekere gelowiges gaan wees en noem dit die wegraping.

 

Hierdie dwaalleer verkondig twee wederkomste.  Dis geheel en al strydig met die leer van die Bybel oor die eindtyd.   Die dwaalgeeste glo dat Christus met die eerste wederkoms geen voet op die aarde sal sit nie, maar iewers in die lug bo die aarde sal vertoef ten einde sekere gelowiges op te pluk om hulle die groot verdrukking te spaar.  Hierna bly hulle vir ʼn rukkie saam met Hom in die hemel waarna Hy vir ʼn tweede keer weer aarde toe kom, dié keer vir die groot oordeel.

Hoe gebeur dit dat mense sulke onwaarhede glo?  Omdat mense oor die algemeen met tweedehandse kennis van godsdienstige sake tevrede is.  Hulle lees nie meer die Bybel nie, maar aanvaar goedsmoeds wat ander mense daaroor sê.  Hulle laat vaar hul persoonlike verantwoordelikheid om die Bybel te bestudeer en van die waarheid daarvan te vergewis.  Gevolglik glo mense dinge wat hoegenaamd nie in die Bybel staan nie.  Die wegraping is een daarvan.

Boeke oor die wegraping verkoop wêreldwyd soos soet koek.   Dis een van die gewildste onderwerpe by Amerikaanse dwaalleraars soos Hal Lindsay, skrywer van The Late Great Planet Earth en Tim La Haye met sy blitsverkoper Left Behind.   Die skade wat hierdie dwaallering aan die waarheid van God se Woord veroorsaak, is onberekenbaar!

Die wegraping het sy oorsprong by John Nelson Derby.  Hy was ʼn 19de eeuse prediker wat geglo het dat dit die kerk se plig is om die koninkryk van God te laat verwerklik.   Dis nie God wat dit laat kom nie, maar die kerk.  Hy het vas geglo dat dit ʼn nuwe waarheid was wat God aan hom openbaar het om aan die mense van die laaste dae te verkondig.

Die Bybel sowel as die Christelike kerkgeskiedenis weet absoluut niks van ʼn wegraping nie.  Dit as sulks behoort alreeds die gevaarligte te laat brand: “...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:20).   Die wegraping is ʼn sprekende voorbeeld van eie skrifuitleg.  As dit werklik Skriftuurlik was, sou dit duidelik en sonder ʼn omhaal van woorde in die Bybel gestaan het;  veral uit die mond van Christus self in Mt. 24 asook die vroeë Belydenisskrifte van die kerk.

Derby maak ʼn fatale onderskeid tussen die dag van Christus en die dag van die Here. Eersgenoemde verwys glo na die wegraping en laasgenoemde na die wederkoms.   Nee, beide uitdrukkings verwys na die wederkoms van Christus:  “Kyk, daar kom ʼn dag vir die HERE ... En die HERE sal uittrek en stryd voer teen die nasies ... En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg ...” (Sag. 14:1-4).

Al vyf tekste wat die dwaalgeeste ter verdediging van hul leer van die wegraping aanvoer, het baie duidelik slegs met ʼn eenmalige wederkoms van Christus te doen.  1 Thes.4:16,17 is hul gunsteling teks:  “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met die geklank van die basuin van God;  en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug;  en so sal ons altyd by die Here wees”.

Die Engels vir wegraping is rapture en kom van die Latyn rapere. Dit beteken om op te pluk of weg te voer.  Dis glad nie wat 1Thes.4:16,17 beteken nie.   Die Griekse taal het sterk en swak werkwoorde.  Wegvoer is ʼn sterk werkwoord harpagesometha en beteken nie om op te pluk nie, maar om iets skielik en kragtig te doen.  Christus het al die mag om gelowiges in ʼn oogwink saam met Hom hemel toe te neem sonder dat iemand Hom kan keer.

Paulus gebruik hierdie sterk werkwoord met rede.  Die gelowiges in Thessalonika het ʼn probleem gehad toe sommige van die gemeentelede wat pas tot bekering gekom het, skielik oorlede is.   Die vraag het ontstaan of hierdie mense, aangesien hulle nog maar jonk in die geloof was, enigsins ʼn agterstand in die hiernamaals teenoor diegene wat langer gelowig was sou hê?

Paulus skryf ʼn bemoedigende woord aan hulle en sé:  “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess. 4:13).   Hulle het geen agterstand nie!  “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (1 Thess. 4:14).

Om hierdie Skrifgedeelte as ʼn bewys vir die wegraping aan te voer, is ʼn gruwelike mistasting.   Dit bots ook met verse 15 en 18:  “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”.  Hierdie verse vra gelowiges om mekaar te bemoedig want hulle sal hul ontslape geliefdes met die wederkoms van Jesus weer sien.

Die dwaalleer van die wegraping bots natuurlik lynreg met die boodskap van Openbaring.  Daar is in hierdie laaste boek van die Bybel hoegenaamd geen aanduiding dat God sommige gelowiges die groot verdrukking gaan spaar nie, maar eerder dat Hy hulle in besonder sal bystaan.   Daar is nie ʼn ontsnaproete soos wat die charismate verkondig en mense valse hoop gee nie.  Die leer van die wegraping trek in werklikheid ʼn streep deur Openbaring!

Gelowiges wat in die pylvak van die wederkoms verkeer, moet ʼn verbete aanslag van die Satan teen die suiwere Bybelse leer verwag.   Daar is net een kenbron vir die waarheid en dis die Bybel en dit leer geen wegraping nie, maar wel ʼn wederkoms.

Gelowiges wat reeds ontslaap het, staan wel eerste op om Jesus in die lug tegemoet te gaan.   Dis ʼn beeld so eie aan die Bybelse tyd.  As ʼn koning ʼn stad binnegekom het, het al die lojale onderdane hom eerste tegemoet gegaan en verwelkom.  So sal dit ook aan einde van die tyd wees wanneer die Koning van alle konings en die Heer van alle here na die aarde terugkeer en deur gelowiges in die lug verwelkom word.

By geleentheid het die dissipels Jesus gevra wat hulle aan die einde van die tyd moes verwag  (Mt. 24:3).   Jesus het sonder ʼn omhaal van woorde gesê dat die laaste gelowiges en die Antichris gelykertyd op die aarde gaan wees.   Dit as sulks trek ʼn streep deur die leer van die wegraping.  Dwaalleraars verkondig dat God sy uitverkorenes vóór die verskyning van die Antichris in die hemel sal op pluk.  Dis nie wat Jesus sê nie!

God sal wel by geleentheid al sy uitverkorenes op die aarde bymekaarmaak: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mt. 24:31).  Dis juis hulle wat deur die groot verdrukking gegaan en die geloof behou het.   Die feit bly staan dat hulle terselfdertyd op die aarde as die Antichris sal wees en nie voor die tyd opgeraap word nie.

Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op charismate wat hul hoop op die hersenskim van ʼn wegraping plaas nie!  Hulle glo wel dat daar groot verdrukking gaan plaasvind, maar dat hulle dit nie sal beleef nie omdat God hulle vroegtydig in die hemel sal op pluk.   So ʼn dwaling skep valse hoop en sus charismate aan die slaap, en dit terwyl die donker onweerswolke van die laaste dae opsteek en die Woord van God gelowiges juis tot waaksaamheid oproep.

Charismate steur hulle nie veel aan die groot verdrukking nie.   Hulle glo mos dat hulle as begunstigdes dit nie gaan beleef nie.   Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op hulle nie!   Jesus sê in Johannes 16:33:  ” … In die wêreld sal julle verdrukking hê ...”  en in Mt.24 dat die laaste gelowiges die ryk van die Antichris gaan beleef.

Gevolglik is dit hartseer as soveel goedgelowige mense in leeu se bek staar, maar nogtans glo dat hulle op ʼn verebed die hemel ingedra gaan word.   As hulle maar net na die Skrif wou luister, maar nou dwaal hulle soos die Skrifgeleerdes!

Charismate se ontkenning van die Bybelse waarheid laat ʼn mens aan Satan se modus operandi in die tuin van Eden dink: “ ... Is dit ook so dat God gesê het ...?” (Gen. 3:1).  Daarna laat hy Eva net die teenoorgestelde glo!  Jesus sê in Mt. 24 dat gelowiges deur die groot verdrukking sal gaan.  Charismate sê as’t ware :  “Julle sal nie.  Julle gaan voor die tyd in die hemel opgepluk word”. En hulle verkoop wêreldwyd miljoene boeke oor hierdie leuen!

Daarmee word miljoene mense mislei om te glo dat hulle voor die groot verdrukking van die aarde af weggeneem sal word.  Wat gaan hulle doen as dit nie gebeur nie?  Die verwarring, teleurstelling en ontnugtering gaan so groot wees, dat hulle die merk van die dier as die enigste uitweg gaan aanvaar.   Die leer van die wegraping maak mense soos klei in die hande van Satan!

Jesus waarsku gelowiges teen die valse profete wat mense gaan mislei: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mt. 24:11). “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat” (:10).  Dit gaan gebeur wanneer mense tot hul skok gaan besef dat daar nie n verebed hemel toe is nie!

Jesus gee in Mt. 24 die volledige volgorde van die eindgebeure wat met oorloë en gerugte van oorloë begin.   Daarna volg hongersnode, pessiektes en ʼn toename in aardbewings.   Terselfdertyd sal Christene vervolg word waarna ontstellende natuurverskynsels plaasvind - die son sal donker en die maan rooi word, terwyl hemelliggame op die aarde val.   Daarna sal die laaste basuin blaas en Jesus sigbaar op die wolke kom.   Johannes herhaal presies dieselfde orde in Openb. 6.  Daar is geen wegraping nie, maar slegs ʼn bymekaarmaak van gelowiges reg aan die einde van die tyd oor die hele wêreld om vir ewig saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem te woon.