Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die lewe is soos ‘n eenrigtingstraat. Dit maak nie saak hoeveel ompaaie jy neem nie, nie een van hulle lei terug nie. Ons beweeg altyd vorentoe. Van een ding kan ons baie seker wees en dit is dat ons lewe ‘n einde gaan kry.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (11)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die onbeskaamde vriend
Luk.11:5-13; Openb.3:14-22
Hierdie gelykenis draai om die as van gebed en is ʼn les waarmee Jesus nuwe inhoud en groter betekenis aan gebed wou gee. Die Heidelbergse Kategismus leer ons dat gebed die vernaamste deel van ons dankbaarheid teenoor God is. Daarom is dit belangrik dat ons hierdie gelykenis verstaan.
In die Bybelse tyd was gebed vir die godsdienstige Jode ʼn baie belangrike godsdienstige handeling . Uit die Psalms is dit duidelik dat Dawid geweet het hoe om reg te bid. Ongelukkig het die Joodse godsdiens mettertyd in ʼn vormgodsdiens verval wat uit die plegtige uitvoer van sekere godsdienstige handelinge bestaan het. Alles uiters oppervlakkig en sonder ware diepte.
Vir die Jode het godsdiens uit drie kern-elemente bestaan: Aalmoese gee, gebede en vastye. Gebed het vir hulle egter uit die uitspreek van vaste formules en frases gegaan sonder om oor die werklike betekenis van hierdie woorde na te dink soos vandag nog in die Roomse kerk die gebruik is. Daarmee het die Jode in die slagyster van die heidene getrap. Jesus waarsku: “En as julle bid, gebruik nie ʼn ydele herhaling van woorde soos die heidene nie., want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word” (Mt.6:7).
Die Joodse kerklui het dikwels om verkeerde redes gebid - om hul aansien onder die mense te verhoog. Daarom het hulle op die straathoeke gestaan en bid net om deur mense raakgesien en geëer te word. Vir gewone lidmate was gebed niks anders as godsdienstige pligspleging nie en derhalwe sonder betekenis. Daarbenewens het hulle ook nie verwag dat God hul gebede sou verhoor nie. Dit was alles deel van die kerklike toneelspel.
Johannes die Doper het ʼn groot probleem daarmee gehad en sy volgelinge geleer hoe om reg te bid. In Luk.11:1 lees ons: “En toe Hy op ʼn sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het”. Dis toe dat Jesus sy dissipels die Onse Vader geleer het.
Die gevaar was egter dat hierdie modelgebed ook soos ʼn sinnelose formule gebruik kon word. Daarom het Jesus met hierdie gelykenis sy dissipels iets baie belangrik oor gebed geleer naamlik dat opregte gebed die gewenste uitwerking het. Die Jode se gebede het geen uitwerking gehad nie en was gevolglik ʼn vermorsing van asem. Jesus leer hulle dat wie reg bid, spoedig verhoor word.
Om dit by hulle vas te lê, het Jesus ʼn gelykenis vertel van ʼn man wat op reis was en baie laat een aand by ʼn vriend van hom kom oornag het. Hy het vir hom ʼn bed maar nie kos gehad nie en na ʼn vriend gegaan om brood te gaan leen. Dit was toe alreeds middernag. Wie sou op so ʼn onvanpaste uur opstaan en sy vriend in nood help? Sou allerlei verskonings nie die maklikste wees nie?
Twee dinge maak dat daardie man opstaan en sy vriend help. Dit was eerstens sy vriend en vriende staan by mekaar. Hulle doen meer vir mekaar as vir vreemdelinge. Tweedens het hy ter wille van sy vriend se onbeskaamdheid opgestaan en hom van die nodige voedsel voorsien.
Die woord onbeskaamdheid is deurslaggewend al klink dit nie fatsoenlik nie. Die man het geensins skaamteloos aanhou klop nie. Sy onbeskaamdheid word in sy vrymoedigheid om sy vriend op ʼn ontydige uur te pla, duidelik. Geen ordentlike mens sou normaalweg so iets doen indien die nood nie baie hoog was nie. Dit het hul vriendskap beproef en beide mans het met lof geslaag!
Hierdie man het volle vertroue in sy vriend se hulp gehad. Daarom kon die helper sy vriend se vertroue in hom nie teleurstel nie. Sy vrymoedigheid was die getuienis van hul hegte vriendskap en het hy aan hom die brode gegee.
Watter lesse leer Jesus die dissipels? Eerstens dat egte gebed verhoor word. En tweedens dat gebed nooit willekeurig moet wees nie. Waar dit gaan om dinge wat werklik nodig is, is God die genadige Verhoorder van gebede. Die derde les wat Hy hulle leer, is dat daar ʼn vriendskapverhouding tussen die een wat bid en die Here moet bestaan. As daar nie ʼn persoonlike verhouding tussen die bidder en Jesus Christus is nie, bid hy tevergeefs!
Hierdie gelykenis gee aan gelowiges die volste reg om vrymoedig teenoor hul hemelse Vader te wees en deur gebed enige tyd aan sy hemelpoort te klop. Die feit dat ons dit doen, getuig van ons vertroue in ons hemelse Vader. Hy sal ons nie teleurstel nie, maar oopmaak en gee.
Jesus se onderrig in die gebed hou nie daar op nie maar gaan verder as Hy op die gelowige se daaglikse ondervinding met die hemelse Vader wys: “... Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (:9,10). Gebed moet volhardend wees: Bid-soek-klop.
Gebed is nie mooi resitasies wat opgesê word nie, maar ʼn versoek/versugting wat uitgespreek word. En om dit te doen, moet ons presies weet wat ons van God wil vra en dit dienooreenkomstig so bewoord. Gebed moet oor bepaalde sake gaan soos die gasheer wat vir sy besoeker brood gaan soek het.
Een aspek wat nie uit die oog moet verloor nie, is dat gebede soos ʼn klop aan ʼn deur moet wees. Gelowiges moet selfs herhaaldelik klop. Die werkwoordvorm waarin al Jesus se aanwysings in hierdie gelykenis gestel word, roep gelowiges tot volhardende gebed op. Hulle moet aanhou bid!
Vanaf vers 11-13 kry gelowiges die versekering dat die Here, soos ʼn goeie vader, nooit sy kinders sal bedrieg nie. Die mens is sleg en van nature tot die sonde geneig. Jesus beloof dat die Vader goed is en goeie dinge aan almal wat Hom vra, wil gee. Hy is dus op gebedsverhoring ingestel. Vra net!
Daar is wel onverhoorde gebede maar nooit tevergeefse gebede nie. As God ons gebede nie verhoor nie, moet ons miskien die gebedsversoek nagaan of ons nie dalk verkeerd gebid het nie en sekere dinge nie werklik nodig het nie. Miskien is ons bloot net ondankbaar vir dit wat ons wel uit God se hand ontvang het. Ons het geen rede om vir God kwaad te wees nie!
ʼn Jong vrou wat ʼn groot probleem ondervind het, was by geleentheid kwaad vir die Here omdat sy gemeen het dat Hy haar iets beter in die lewe verskuldig was. Sy het gereeld kerk toe gegaan en mense gehelp waar sy kon. Hoe kon die Here toelaat dat so ʼn iets met haar gebeur, wou sy by haar predikant weet?
“Het jy ook goeie dae geken?” vra hy haar. “Ja, ek het” antwoord sy. “Het jy God daarvoor gedank?” wou hy weet. “Nee, ek het nie” erken sy eerlik. “Dan het jy geen reg om vir Hom kwaad te wees as dit met jou sleg gaan nie”, wys hy haar tereg. Gebed is ook om vir God dankie te sê vir dit wat jy is en het.
Let ter afsluiting op Jesus se woorde in vers 9:“ ... klop, en vir julle sal oopgemaak word...”. Die woord klop kom baie selde in die NT voor. Benewens die Evangelies kom dit slegs in Openb.3:20 voor: “Kyk, Ek staan by die deur en klop...” Dis asof die rolle van die gelykenis hier net mooi omgeruil is.
In hierdie Skrifgedeelte klop ʼn Vriend aan die deur wat nie brood wil leen nie, maar inkom en saam eet. Gelukkig is elkeen wie se vriendskapsverhouding met hierdie hemelse Vriend so groot is, dat Hy kan ingaan en fees vier!