DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (5)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Moedeloosheid sprei sy vlerke oop en daal neer oor die Stewart Saal.
Hy sak deur die gebou tot onder in die kelderverdieping waar die administratiewe afdeling van die Sielkunde-departement gehuisves word. Dis ’n mistroostige area, vol waterpype wat soos slange deur die hele vertrek kronkel. Alles — mure, pype, houtwerk en plafon is ’n vuilbruin kleur geverf en die lig is nie van die beste nie. Dis die ideale plek vir die geeste van die onderwêreld om hulle byeenkoms te hou. Moedeloosheid merk dadelik dat hulle meer as gewoonlik is. Hy dring die konferensiekamer binne en ’n atmosfeer van tasbare boosheid omvou hom. Die kamer is donker, maar dis ’n ander soort duisternis, ’n drukkende, benouende, vreesaanjaende donkerte. Uit die donker gluur talle geel oë. Geel wasem sweef deur die lug en die aaklige swawelgeur deurtrek alles. Oral is geeste besig om gorrelend met mekaar te gesels.

Moedeloosheid kan dadelik die ander se afkeer aanvoel, maar hy steur hom nie daaraan nie. In die onderwêreld trap die een op die ander en omdat hy die kleinste is, wil almal hom domineer en intimideer.

Hy nader twee afskuwelike figure met arms vol ysterpenne wat in druk gesprek verkeer. Hulle is die bose geeste wat in haat spesialiseer. Hulle taak is om met hulle lang arms alle liefde uit mense uit te wurg en dit met haat, naywer en aggressie te vervang.

“Waar is prins Lucius?” vra Moedeloosheid.

“Soek hom self, wurmpie,” grom een van hulle.

’n Ander demoon sluit by hulle aan. Hy is lank en slymerig, met skerp kloue. Sy naam is Wellus. Hy gryp Moedeloosheid in sy kloue vas.

“Waar het jy vandag gelê en slaap?” vra hy met minagting.

“Ek slaap nie,” kap Moedeloosheid terug. “Ek laat ander slaap.”

“Om mense tot wellus te beweeg, is baie beter.”

“Maar om mense moedeloos te maak en aan die slaap te sus, is ook nodig.”

Almal lag en Wellus laat Moedeloosheid los. Hy val hard op die grond neer. Toe hy opstaan, stap hy by Misleiding verby, maar hy groet hom nie eers nie, want almal weet dat Misleiding die hoogmoedigste van al die demone is. Hy lyk nie soos ’n demoon nie, maar meer soos ’n menslike wese, want hy moet mense kan bedrieg, verblind en mislei.

Die vertrek is vol bose geeste. Moord, met sy kloue wat nog vol
bloed is, staan eenkant en langs hom Wetteloosheid, Jaloesie en al die ander.

Eindelik vind Moedeloosheid vir Lucius, die prins van Ashton, waar hy met ’n groep ander leiers sit en beraadslaag. Hy is beslis die leier van die groep, imponerend, sterk arms, gebalde vuiste, altyd reg om te baklei. Baie ander geeste is jaloers op hom en begeer sy status, maar hy is nie van plan om daarvan afstand te doen nie. O nee, hy vertrou niemand nie en hy bejeën almal met agterdog. Sy swart knopperige gesig en skerp oë is altyd vol haat en wantroue. Hy wantrou selfs die wat die naaste aan hom is.

Moedeloosheid is desperaat en ontsteld genoeg om deur die groep te dring en reg voor Lucius stelling in te neem. Hy weet baie goed dat so iets ongehoord is, maar hy sien geen ander uitweg nie. Lucius kyk op, geïrriteerd oor die onverwagte onderbreking.

“Waarom is jy nie by Hogan nie?” grom hy kwaad.

“Ek moet met jou praat.”

“Hoe durf jy met my praat voordat ek met jou gepraat het,” snou Lucius.

“Dis . . . verskriklik belangrik. Jy . . . jy maak ’n groot fout. . . julle molesteer Hogan se dogter en . . .”

Lucius is meteens soos ’n vuurspuwende berg. Dis behoorlik asof hy ontplof. Vlamme skiet by sy neus en ore uit: “Hoe durf jy my beskuldig! Hoe durf jy my handelinge bevraagteken?”

Moedeloosheid krimp inmekaar en verwag om enige oomblik ’n verskriklike hou te kry. Maar hy gaan nogtans voort: “Hogan sal ons nie pla nie as ons hom met rus laat. Maar die oomblik wanneer ons die vuur in hom aansteek, sal hy ’n magtige opponent word. Dan kan ek nie by hom bly nie. Hy werp my sommer af.”

Toe kom die hou, ’n skuins klap met die agterkant van Lucius se hand. Moedeloosheid trek oor die vloer. Toe hy in die hoek tot stilstand kom en opkyk, sien hy dat almal hom spottend dophou.

“O so,” sê Lucius. “Hogan skud jou sommer af. Is jy seker dis nie jy wat hom losgelaat het nie?”

“Moet my nie slaan nie! Luister net na wat ek te sê het.”
Lucius se groot hande gryp Moedeloosheid vas en lig hom op sodat hulle mekaar in die oë kan kyk: “Hogan kan in ons pad staan en ek sal dit nie toelaat nie. Jy ken jou plig. Doen dit!”

“Maar dis juis die punt. Ek het hom volkome onder beheer gehad. Hy was so leweloos soos ’n stuk klei. Ek kon hom vir altyd vasgehou het.”

“Nou gaan hou hom dan vas.”

“Prins Lucius, luister net na my. As hy nie ’n vyand het nie, sal hy nie baklei nie. Hy wil nie meer veg nie. Maar as ons hom ’n vyand gee, sal hy ’n gedugte teestander wees.”

Lucius laat Moedeloosheid los en hy val op die grond neer. Hy kyk in die vertrek rond.

“Moedeloosheid beskuldig my dat ek Hogan ’n vyand gegee het. Het ek dit gedoen? Misleiding, jy weet mos wat aangaan? Het ek Sandy Hogan gemolesteer?”

“Nee, prins Lucius, u het niemand bevel gegee om haar lastig te val nie.”

“Maar jy en jou trawante het haar agtervolg,” gil Moedeloosheid skril en wys met sy gekromde klou na Misleiding. “Julle het haar verwar.”

Misleiding skud sy kop en antwoord kalm: “Nee, ons het nie. Ons het haar maar net vertel wat sy graag wil weet. Dit kan tog nie as ’n aanval beskou word nie.”

“Nou ja, Moedeloosheid, wil jy hê ek moet iemand anders aanstel om Hogan dop te hou.” Lucius praat met minagting. “Sandy Hogan is nie vir ons ’n gevaar nie, maar Marshall is. As jy nie kans sien nie, moet jy net sê.”

Nou wysig Moedeloosheid sy strategie. Hy kom met ’n ander aanslag.

“Lucius, ek het vandag boodskappers van die lewende God gesien.”

Almal begin lag en Lucius sê smalend: “Onnosele swaap, ons sien almal elke dag boodskappers van God.”

“Maar hulle was baie naby. Gereed om aan te val. Hulle het my dopgehou!”

“Jy lyk heel goed,” spot Lucius. “En as ek een van hulle was, sou ek beslis op jou toegeslaan het. So ’n lamsakkige ou demoontjie. Enige engel kan jou vernietig.” Almal lag en spot en Moedeloosheid krimp ineen onder die aanslag.

“Is ons bang vir die hemelse leerskare?” vra Lucius uitdagend.

“As u nie bang is nie, is ons ook nie,” antwoord die groep.

Die demone is so besig in hulle ondergrondse skuiling dat hulle nie agterkom wat buite aangaan nie. ’n Eienaardige koue met misweer en reën vou oor Ashton toe. Alhoewel die middag mooi was, het die weer nou skielik verander en die koue miswolk word steeds digter en donkerder.

Op die heuwel by die wit kerkie, staan Signa en sy twee makkers steeds gereed. Hulle sien die duisternis en hulle voel die koue wat elke oomblik skerper word. Baie honde begin blaf en tjank en in verskeie huise begin die inwoners rusie maak. Oral breek stryery uit.

“Hy het gekom,” se Signa.

Lucius is so besig om sy eie lof te besing en om klein Moedeloosheid te treiter dat hy nie agterkom hoe die ander demone reageer nie. Hulle luister nie meer na hom nie. Almal is rusteloos, kriewelrig en verskrik. Hulle kan voel dat iets afgrysliks besig is om naderte kom — iets onbeskryflik vreesliks. Benoud begin hulle rondkyk, gluur en vroetel.

Lucius gee Moedeloosheid ’n laaste skop. Hy sê met oordrewe selfversekerdheid: “Hierdie dorp is ons s’n. Hier doen ons net wat ons wil. Ons sal voortgaan totdat die hele dorp aan ons behoort. Ons vrees niemand nie. Hoor jy, jou moedelose klein skepseltjie!”

En toe gebeur dit, so skielik dat niemand mooi besef wat aangaan nie. ’n Kokende, vurige wolk stort meteens in die kamer in, dit donder en maal soos ’n rotsstorting en ’n sikloon en word gevolg deur ’n golf wat al die demone van hulle voete af slaan. Angswekkende gille en krete weerklink. Dan kom ’n groot swart hand te voorskyn en gryp Lucius vas. Hy word van sy voete af gelig en soos ’n stukkende speelding heen en weer gepluk. Die hand skud en druk en pynig totdat die angsbevange demoon om genade pleit.
En dan kom die hele figuur van die nuwe aankomeling geleidelik te voorskyn. Hy is groter as wat een van hulle nog ooit gesien het, ’n demoon met ’n gesig soos ’n leeu, vurige oë en ’n leeragtige, gespierde liggaam. Die stem kom van uit sy binneste soos ’n geroggel: “Jy vrees mos niemand nie, Lucius. Is jy nou bang?”

Woedend smyt die gees vir Lucius tussen die ander demone in. Hy hou ’n groot S-vormige swaard in sy hand. Sy slagtande glinster net soos die kettings wat om sy nek hang. Almal besef dat hy die prins van al die prinse moet wees. Sy swart hare hang soos ’n perd se maanhare tot op sy skouers en aan elke gewrig dra hy ’n armband wat met goud beslaan is. Aan sy vingers skitter verskillende ringe.  Sy vlerke is groot en swart en hang oor hom soos die kleed van ’n koning.

Dit voel soos ’n ewigheid terwyl hierdie groot demoon die ander aanskou. Hulle is vreesbevange en staar bewend na die afskuwelike wese voor hulle. Eindelik praat hy: “Lucius, dit lyk my julle het my nie verwag nie. Toe, op jou bene. Stel my voor aan die ander.”

Met sy groot swaard tik hy Lucius agter sy nek en die bewende demoon kom op sy voete. Hy besef dat hy voor sy ondergeskiktes  verneder en verkleineer word, maar hy probeer sy bes om nie sy bitterheid en woede te wys nie. Dat hy vreesbevange is, is egter vir almal duidelik.

“Medewerkers,” begin hy in ’n bewende stem. “. . . ontmoet Ba-al Rafar, die prins van Babilon.”

Almal spring orent, terwyl Rafar se groot swaard alle sukkelaars so ’n bietjie aanhelp. Hy kyk hulle eenmaal minagtend deur. Dan sê hy: “Lucius, gaan staan langs die ander. Ek is nou hier en net een prins is nodig om sake te beheer.”

Onmiddellik is daar spanning en almal kan dit aanvoel. Lucius weier om te beweeg. Sy lyf is styf en seer en sy vuiste gebal. Alhoewel hy bewe, kyk hy Rafar uitdagend aan.

“Jy wil my tog nie vra om van my posisie afstand te doen nie!”

Die ander tree almal terug. Hulle weet dat Rafar se swaard ’n baie wye area kan dek. Die volgende oomblik swaai die swaard deur die lug en ’n verskrikte kreet ontsnap oor Lucius se lippe. Hy lê plat op sy rug en sy swaard is netjies van sy lyf afgesny. Rafar se swaard druk horn teen die grond vas.

“Ek sien jy betwyfel my leierskap,” praat Rafar en rooi wasem slaan by sy mond uit. “ANTWOORD MY!”

“Nee . . . ek gee oor.”

“Op jou voete dan!”

Lucius sukkel orent. Hy is totaal ontsenu en verneder. Rafar skep sy swaard op en gooi dit met minagting in Lucius se hande. Dan begin hy praat: “Luister almal na my. Lucius het gesê hy vrees nie die hemelse magte nie, en kyk nou na hom. ’n Verskrikte wurm, dis wat hy is! En ek sê vandag vir julle — julle moet die Hemelse Leërskare vrees. Hulle is magtig en hulle is julle vyande. As julle hulle ignoreer, sal hulle julle oorwin.” Hy stap langs die ry demone af tot by Moedeloosheid. Dan tel hy hom op. Die klein demoon bewe van angs.

“Toe wurmpie, wat het jy vandag gesien?” Maar Moedeloosheid is so verskrik dat hy nie kan praat nie. Rafar vervolg: “Jy het gesê jy het boodskappers van die lewende God gesien. Is dit so?"
Moedeloosheid knik bevestigend.

“Waar?”

“Net buitekant hierdie gebou.”

“Het hulle jou aangeval?”

“Nee.”

“Was daar ’n gloeiende wit lig?”

Moedeloosheid knik weer. Ja, dit kan hy onthou.

“Wanneer ’n boodskapper van God aanval, is daar altyd ’n wit lig,” sê Rafar kwaad. “En julle het dit nie eers agtergekom nie. Julle het gelag en gespot. ’n Aanval van die vyand en julle ignoreer dit!”
Rafar draai weer na Lucius toe.

“Sê my, onttroonde prins van Ashton, hoe gaan dit in hierdie dorp?”

“Baie goed, Ba-al Rafar.”

“Het julle afgereken met die biddende Busche en die slapende Hogan?”

Lucius antwoord nie en Rafar gaan voort: “Nee, natuurlik nie. Julle het toegelaat dat hulle aangestel is op plekke wat vir ons eie volgelinge gereserveer was.”

“Dit was ’n fout, Ba-al Rafar,” verduidelik Lucius gespanne. “Ons het die vorige redakteur van die Basuin hier weggewerk, maar niemand weet waar Hogan vandaan kom nie. Hy het die koerant gekoop voordat ons iets kon doen om dit te verhinder.”

“En Busche? Ek het gedink hy het op die vlug geslaan?”
“Nee, dit was die ander een — die een voor hom. En toe ons sien, het Busche sy plek ingeneem.”

“Dis omdat julle so nalatig is,” sis Rafar. “Terwyl julle geslaap het, het die Hemelse Leërskare manne van God hier ingebring. Almal weet dat Busche ’n biddende man is. Is jy bang vir gebed?”
“Ja . . . natuurlik. Almal is bang vir gebed. Ons doen alles in ons vermoë om hom hier weg te kry.”

“En wat doen hy wanneer julle hom aanval?”

“Hy . . . hy bid.”

“Dit het ek verwag. Hy is ’n man van God. Maar wat van Hogan? Wat doen julle om hom te neutraliseer?”

“Ons . . . ons het sy dogter aangeval.”

Moedeloosheid ruk orent. Het hy reg gehoor? Hy kan homself nie keer nie: “Sy dogter? Ek het julle gesê dit sal nie werk nie. Dit sal Hogan net kwaad maak en hom uit sy moedeloosheid losruk.”

Lucius probeer Rafar se aandag kry. Hy praat dringend: “Ek kan verduidelik. Gee my net ’n kans ."

“Verduidelik dan,” beveel Rafar en hou Moedeloosheid nadenkend dop.

“E . . . wel, ons het besluit ’n direkte aanval is nie altyd die beste nie. Ons het agtergekom dat daar ’n swakheid in sy dogter is. Miskien moet ons probeer om sy huislike geluk en sy familie te vernietig. Dit het met die vorige redakteur gewerk. Dis ten minste ’n begin.”

“Dit sal misluk,” se Moedeloosheid beslis. “Hy was heeltemal skadeloos totdat hulle aan sy dogter begin werk het. Nou is die aggressie in hom wakker gemaak. Ek glo nie ek sal hom langer kan beheer nie ...”

Rafar steek sy hand na Moedeloosheid toe uit. Sy stem is skerp:
“Moet hom nie langer terughou nie. Ek wil hom vernietig. Ja, neem sy dogter, neem alles wat nodig is. Ons kan nie ’n kans waag nie. Ons moet hom elimineer.”

“Maar . . . maar . . .” begin Moedeloosheid. Rafar neem hom voor die bors en sê sissend: “Ontmoedig hom, dit kan jy wel doen,” en met daardie woorde slinger hy Moedeloosheid die vertrek uit. “Gaan doen jou werk.”

Rafar kyk oor die skare voor hom. Dan gaan hy voort: “Ons sal veg met alles wat ons tot ons beskikking het. En hierdie nuwe man van God! Ons sal vir hom ’n strik stel. Maar sê my, hoe sterk is ons vyande hier in die dorp?”

“Glad nie sterk nie,” antwoord Lucius.

“Maar slim . . . slim genoeg om jou te bedrieg en gerus te stel. Dis ’n ernstige fout om te begaan.” Hy kyk almal dominerend aan.
“Julle mag die vyand nie onderskat nie. Hou hom dop, vind alles oor hom uit en wees op julle hoede. Die Hemelse Leërskare sal beslis nie die oorname van hierdie dorp sonder meer toelaat nie. Hulle sal veg en ons moet gereed wees. En wat hierdie twee menslike teënstanders aanbetref: Vanaand sal ons sien van watter staal hulle gemaak is."

 

Vervolg...