DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (21)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

’n Klein paneelwa ry deur die agterstrate van ’n woonbuurt en  hou voor een van die eenvoudige duplekswonings stil. Al die huisies is eenvormig behalwe vir die kleurskemas. Dit wissel van huis tot huis. Baie kinders speel in die omgewing rond. Die paneelwa behoort aan ’n droogskoonmakery en toe dit stilhou, klim ’n jong dame uit. Sy dra ’n blou oorpak en haar hare is met ’n rooi serp vasgebind.

Haastig stap sy na die sydeur en skuif dit oop. Sy haal ’n groot bondel wasgoed uit asook ’n paar rokke wat oor hangers hang. Weer kyk sy na die adres om seker te maak dat sy by die regte plek is. Dan stap sy na die voordeur van die betrokke huisie en lui die klokkie.

’n Gordyn voor een van die vensters word effens oopgeskuif. Voetstappe klink binne en dan word die voordeur oopgemaak.

“Ek het u droogskoonmaakgoed gebring,” begin sy.

“O ja, baie dankie,” se die man en tree terug. “Bring dit in, asseblief.” Hy maak die deur oop en sy stap na binne. Die kinders kyk haar nuuskierig aan.

Die vroutjie kom uit die kombuis tevoorskyn. Sy lyk gespanne en onseker en beveel die kinders om buite te gaan speel. Hulle maak eers beswaar, maar sy druk hulle by die deur uit en maak dit agter hulle toe. Ook die venster word toegemaak.

“Waar kom al hierdie wasgoed vandaan?” vra die man verslae.

“Dit was in die paneelwa. Ek weet nie aan wie dit behoort nie.”

“Ek is Joe Carlucci,” stel die man homself bekend. Hy is ’n grootgeboude Italianer met gryswordende krulhare.

“Ek is Bernice Kreuger van die Basuin,” antwoord die jong meisie en plaas die wasgoed op die tafel neer.

“Hulle het my beveel om nooit met jou of Hogan te praat nie,” fluister die man.

“Ter wille van ons kinders,” voeg die vroutjie by.

“Dis Angelina,” sê Joe en beduie na sy vrou. “Dis ter wille van haar en die kinders dat ek Ashton verlaat het.”

“Kan julle ons help?” vra Angelina dringend.

“As dit enigsins moontlik is,” sê Bernice en neem haar notaboekie. “Toe, begin heel voor. Ek wil alles weet.”

***

Marshall bring sy motor in die klein dorpie, Taylor, tot stilstand. Die dorpie is geleë waar twee hoofweë mekaar kruis en Al Lemley sê altyd dis net mooi halfpad tussen New York en Ashton. Marshall stap die versekeringskantoor binne en die vrou by die toonbank herken hom dadelik.

“Ja, goeiemore.”

“Meneer Lemley verwag u. Stap maar binne.” Sy beduie na ’n kantoor en vervolg dan: “Indien u koffie wil hê kan u net sê. Die badkamer is daar langsaan.”

“Baie dankie.” Marshall stap die kantoor binne en maak die deur agter hom toe. Al Lemley kom op die been en reik hom die hand.

“Hallo Marshall,” groet hy. “Dis goed om jou te sien.” Hy is klein met ’n skerp, puntige gesig, ’n effense krom neus en deurdringende blou oë. Sy hele persoonlikheid getuig van lewenslus en entoesiasme. Marshall weet dat Al ’n ware staatmaker is.

Die twee mans gaan langs mekaar sit en begin die inligting wat Al gebring het, sistematies deurgaan. Terwyl hulle werk, gesels hulle sporadies oor die ou dae en die werk by die New York Times.

“Ek moet sê ek wil nie vandag met jou plekke ruil nie, Marshall,” se eindelik. “Ek het gedink jy is Ashton toe om die lewe ’n bietjie rustiger te neem.”

“Ek het ook so gedink. Wat het jy gekry?”

Al trek ’n foto uit ’n lêer en plaas dit voor Marshall neer. “Is dit jou vriend?”

Marshall bekyk die foto aandagtig. Alhoewel hy Kaseph nog nooit gesien het nie, weet hy sommer dat dit ’n foto van hom is. “Ja, dit moet hy wees.”

“Jy’t reg. Dit is hy. En vra die gewone man, dan weet niemand iets van hom af nie. Maar as ’n mens beleggers in Wallstraat of mense in die regering of buitelandse diplomate nader, dan sal jy beslis ’n reaksie uitlok. Jou vriend is president van Omni Korporasie.”

“Hmm, ek het dit verwag. Kon jy iets in verband met Omni Korporasie uitvind?”

Al stoot ’n hele pak dokument tot reg voor Marshall. “Dank die Vader vir rekenaars, anders sou ek nooit al die inligting kon koördineer nie. Jong, Omni het geen sentrale hoofkwartier nie; maar hulle is dwarsdeur die wêreld in lokale kantore teenwoordig. Kaseph beheer die hele besigheid, maar hy probeer soveel moontlik op die agtergrond bly. Hy het mense wat al sy bevele uitvoer. Hulle verskyn nie op die Amerikaanse aandelemark nie, altans nie onder die naam Omni nie, maar hulle is oral. Omni besit en beheerketting winkels, banke, maatskappye wat verbande toestaan, winkelgroepe wat wegneemetes verkoop en sommer nog baie ander instansies.” Hy swyg en blaai ’n bietjie verder.

“Ek het sommige van my staflede aangesê om op hierdie dinge in te gaan,” vervolg hy eindelik. “Omni sal nooit iets oor hulleself bekend maak nie. Alles word op ’n baie omslagtige manier gedoen. ’n Maatskappy mag op die oog af heel onafhanklik lyk, maar na goeie navorsing word dit duidelik dat dit ook maar met Omni geaffilieer is. Kyk, hier is ’n verslag van die Idaho Mynmaatskappy. Eers hier aan die einde van die verslag word gemeld dat dit ’n dogter- maatskappy van Omni Korporasie is.”

“Internasionaal?”

“Baie internasionaal. En hulle oefen ’n groot invloed in die Arabiese wêreld uit. Ook die Gemeenskapsmark, die Wêreldbank en internasionale terrorisme . . .”

“Wat?”

’n Mens sal nie maklik die verband tussen ’n motorbom en ’n massamoord en Omni kan bewys nie, maar glo my, in baie gevalle is dit daar.

“Dis ’n toestand! Dis jou vriend Kaseph, Marshall! Hy weet hoe om bloed te vergiet as dit nodig is, en selfs wanneer dit nie nodig is nie. Ek sê jou, hy is ’n kruis tussen ’n goeroe en Adolf Hitler en in vergelyking met hom lyk Al Capone soos ’n stout seuntjie. Selfs die Mafia is skrikkerig vir hom.”

* * *

Angelina Carlucci is in ’n hoogs emosionele toestand en daarom is haar vertelling nie baie samehangend nie. Bernice moet telkens weer vrae stel om sake op te helder.

“Jou seun Carl . . . wat van hom?”

“Hulle het sy . . . sy hande gebreek,” snik sy.

“Wie het dit gedoen? Wie?”

“Dit was net nadat ons geweier het om die Supermark te verkoop,” val Joe in. “Hulle het ’n paar keer met ons daaroor gepraat en gesê ons moet verkoop . . . maar ons wou nie ...”

“En toe het hulle julle begin dreig?”

“Hulle sê hulle dreig nooit nie,” huil Angelina.

“Wel, eintlik dreig hulle jou sonder om dit ooit in woorde te doen,” verduidelik Joe. “Hulle praat mooi, sê hoe wys dit sal wees om hulle raad te volg en al sulke dinge, maar ’n mens besef net as jy nie gehoor gee nie, sal daar probleme kom.”

“Wie het met julle kom praat?”

“Twee mans. Hulle het gesê hulle is vriende van die man aan wie die besigheid nou behoort. Ek het eers gedink hulle is eiendomsagente ...”

“Hmm, ek sien.” Bernice kyk na haar notas. “En nadat julle die derde keer geweier het om te verkoop, is Carl se hande gebreek.”

“Ja. By die skool.”

“Wie het dit gedoen?”

Die ouerpaar antwoord nie dadelik nie. Bernice kom agter dat hulle mekaar onseker aankyk. Eindelik se Angelina: “Dit het gedurende speeltyd gebeur. Maar Carl was alleen. Niemand het gesien wie dit gedoen het nie.”

“Maar Carl moes tog gesien het.”

Joe Carlucci skud sy kop en beduie met sy hand: “Nee, jy mag nie met Carl daaroor praat nie. Hy kry nog nagmerries oor wat daar gebeur het.”

Skielik leun Angelina vooroor en fluister hees, haar oë groot: “Dit was bose geeste! Carl dink dit was bose geeste!”

Bernice is stomgeslaan. Sy hoop op ’n verdere verduideliking, maar die ouers sê niks nie. Sy weet nie hoe om haar volgende vraag te bewoord nie. “Maar . . . wat dink julle? Wat sê die onderwysers?”

“Daar was geen onderwysers naby nie.” Joe staar voor hom uit. “Hulle het bofbal gespeel en die bal is in die bosse ingeslaan. Carl het gehardloop om dit te gaan haal. Toe . . . toe hy ’n rukkie later terugkeer, was hy heeltemal buite homself  en sy hande was gebreek."

“Het hy nooit gesê wie dit gedoen het nie?”

Joe Carlucci se oe is wydgerek en dis duidelik dat hy vreesbevange is: “Groot swart gedaantes . . .”

“Mense?”

“Nee. Gedaantes. Carl se dit was geeste, of monsters.”

Bernice sê niks verder nie. Sy besef dat die arme mense dit werklik glo. Hulle is toegewyde Katolieke, maar baie bygelowig. Daarvan getuig die talle kruise, beeldjies van die maagd Maria en selfs beeldjies van Christus wat in die huis is — ja, op elke vensterbank, elke reling en teen elke muur.

* * *

Marshall worstel nog met die Omni Korporasie.

“Het hulle enige godsdienstige affiliasie?” vra hy aan Al.

“Ja,” erken Al en maak nog ’n lêer oop. “Hulle onderskryf die leerstellings van die Universele Bewussyn Vereniging en ek dink hierdie Vereniging is die dryfkrag agter Omni. En Omni beheer weer honderde ander maatskappye en besighede, banke en kolleges ...”

“Kolleges?”

“]a, en ook regspraktyke, veral in Washington. Hulle werk om hulle wetgewing deur te kry. Dis gewoonlik anti-Semities en anti- Christelik.”

“Wat van dorpe? Koop Omni hele dorpe?”

“Ja, Chuck Anderson, een van ons oorsese korrespondente, het vasgestel dat die mense van die Universele Bewussyn Vereniging ’n wêreldwye netwerk het. Ons het vertakkings in drie en negentig verskillende lande opgespoor. In sekere dele van die wêreld beheer hulle dorpe, stede, hospitale, groot skepe en korporasies. Soms koop hulle aandele, maar meer dikwels dring hulle sommer binne, maak nie saak hoe nie.”

“Dit klink na ’n inval sonder die gebruik van gewere.”

“Ja, en gewoonlik wettiglik. En Marshall, jy staan op die oomblik in hulle pad. En hulle stuit vir niks nie.”

“Ag, dis nie so erg nie.”

“Jong, ek waarsku jou. Hierdie ding is te groot vir iemand soos jy. Jy kan weer ’n betrekking by die Times kry. Ou vriend, tree terug terwyl jy nog kan.”

Marshall sug net. Waarom moes dit juis ek wees, wonder hy.

* * *

Bernice is eweneens in ’n emosionele woordestryd gewikkel. Die Carlucci’s is albei angsbevange en ontsteld.

“Ons moes nooit met jou gepraat het nie,” sê Joe kopskuddend. “As hulle moet uitvind ...”

“Joe, asseblief, sê my net wie. Jy hou aan praat van hulle . . . maar wie is hulle?”

“Ek . . . ek kan jou nie sê nie,” fluister hy hees.

“Sê my net of hulle mense is, ek bedoel mense van vlees en bloed?”

“Ja,” sê hy na ’n paar oomblikke stilte. “Hulle is mense.”

“Was dit regte mense wat julle belastings geouditeer het?”

Joe knik instemmend.

“En was dit ’n man wat die kennisgewing dat julle uitverkoop gaan word, op die deur geplak het?”

“Ons het hom nie gesien nie,” sê Angelina.

“Maar dit was ’n offisiële kennisgewing?”

“Ja, maar niemand het ons ooit gewaarsku nie,” protesteer Joe. “Ons het gereeld ons belastings betaal. Ek het die bewyse — my tjekvorms. Maar die mense by die Stadsraad wou nie na my luister nie.” Hy swyg ’n oomblik. “Toe het ons besigheid begin afneem. Meer as die helfte van ons kliente het nie meer gekom nie. Snaakse dinge het in die winkel gebeur. Vensters het gebreek en kruideniersware het sommer deur die lug getrek! Nee, dit was die duiwel self,” eindig hy opgewonde.

“Ek glo julle,” paai Bernice. “Julle weet wat julle gesien het.”

“Daarom kon ons nie langer aanbly nie,” gaan hy voort en daar is trane in sy oë. “Ons huis is onder ons uitverkoop en ons kinders is geterroriseer deur bose geeste! Ons kon nie meer veg nie. Ons het die winkel verkoop. Hulle het ons ’n goeie prys gegee . . .”

“Julle het nie eers die helfte gekry van wat die besigheid werd was nie,” sê Bernice sag.

Joe begin skielik snik en sy skouers ruk. “Maar ons is vry . . . en dis al wat tel. Ons is vry!”

Bernice wonder onwillekeurig of dit waar is.

* * *

Die volgende twee weke gaan dit dol! Alhoewel die koerant nog Dinsdae en Vrydae verskyn, is die redakteur en die hoof verslaggewer amper nooit beskikbaar nie. Nagte aaneen keer Marshall nie terug huis toe nie, boodskappe vir hom stapel op, daar is telefoonoproepe wat beantwoord moet word, maar hy en Bernice is net nooit daar nie. Want hulle doen navorsing, besoek mense, stel vrae, wag vir oproepe, voer onderhoude en slaap sommer waar hulle ’n plekkie kry.

Hulle stel vas dat die mense wat Ashton verlaat het en die persone wat hulle plekke kom inneem het, beslis twee verskillende groepe is, met absolute uiteenlopende denkrigtinge.

Per geleentheid toe Bernice vir Adam Jarred skakel, die man wie se dogter glo deur Harmel gemolesteer is, sê hy dat hy nog nooit van die Universele Bewussyn Vereniging gehoor het nie. En Eugene Baylor verseker Marshall dat hy niemand met die naam van Kaseph ken nie. Hy ontken ook absoluut dat die Kollege finansiële probleme ondervind en dat Kaseph die inrigting wil koop. Toe Marshall met sy vrae volhou, neem hy naderhand ’n dreigende houding in.

Raadslede wat Ashton intussen verlaat het, beantwoord die vrae op ’n heel ander wyse. Morris James, ’n besigheidskonsultant in Chicago, kan nie uitgepraat raak oor die korrupte toestande by Whitmore nie. Hy erken eerlik dat die druk teen hom so kwaai geword het, dat hy verplig was om pad te gee.

Rita Jacobson, wat nou in Nieu Orleans woonagtig is, is baie uitgesproke en deel Marshall onomwonde mee dat Langstrat ’n heks is en Kaseph ’n skurk. Sy sit die telefoon in Marshall se oor neer.

Dit blyk dus dat feitlik alle raadslede wat die laaste jare uit Ashton weg is, daartoe gedwing was. In baie gevalle is hulle van belastingongerymdhede beskuldig; valse aanklagte is teen mense gele, sommiges se besighede is geterroriseer of geboikot, ander het huislike probleme gekry en nog ander het siek geword. En al hierdie mense is vervang deur persone wat die denkrigtinge van die Universele Bewussyn Vereniging onderskrywe.

Gedurende die ondersoeke het Marshall en Bernice baie waarskuwings ontvang en geleidelik het hierdie vermanings hulle begin beïnvloed. Hulle begin aanvoel dat daar iets is wat hulle bedreig — ’n vae, onnoembare iets! Bernice probeer die gevoel van bedreiging deur onverskilligheid en bravade afskud, terwyl Marshall al meer en meer sy toevlug tot ’n gemompelde gebed neem. Maar die gevoel bly en dis asof albei van hulle weet dat die gevaar steeds naderkom.

En behalwe al hierdie probleme, weet Marshall dat sy huwelik in gevaar is. Hy besef dat Kate diep ongelukkig is en dat sy haarself al byna as ’n weduwee beskou. Sy het ook al by tye opmerkings oor hom en Bernice gemaak, as sou daar ’n verhouding tussen hulle wees! En die kwessie met Sandy is ook ontstellend. Hy besef dat sake vinnig na ’n punt beweeg en as hy nie binnekort sy aandag aan sy huislike omstandighede skenk nie, kan hy dalk later nie ’n huis of ’n gesin hê na wie hy kan terugkeer nie!

As hierdie dinge net verby is, dan sal hy alles regstel.

Vervolg...