DIE ANTICHRIS IS OPPAD!

Lees reeks by Die Antichris is oppad

Deel 1

Die eerste nabootser

1.   Teenstanders

Gelowiges verskil dikwels oor geloofsake van mekaar. Een ding waaroor almal egter saamstem, is dat Jesus weer aarde toe kom. Dis ʼn belofte uit sy eie mond: “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:3). Die twee engele by sy hemelvaart herhaal dieselfde belofte: “.... Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand.1:11).

Voordat Jesus weer kom, gaan sekere onaangename dinge op die aarde gebeur. Een daarvan is die koms en optrede van die Antichris. Die woord Antichris kom as sulks nie in Openbaring of enige ander Skrifgedeelte wat oor die eindtyd handel, voor nie; slegs in 1 en 2 Johannes. Die Skrif het egter talle ander benamings vir hom. Hy gaan net voor die wederkoms van Christus die sigbare gestalte van die Satan op die aarde wees en Jesus naboots.

 

God openbaar Hom as ʼn Drie-eenheid aan die mens - Vader, Seun en Heilige Gees. Satan boots dit met ʼn bose trio na - Satan, die Antichris en die valse profeet. Al drie is teenstanders. Satan staan God teen, die Antichris staan Christus teen en die valse profeet staan die Heilige Gees teen.

Satan is van meet af aan in ʼn stryd met God gewikkel en die uitslag eeue gelede alreeds bekend. Aan die begin van die Bybel lees ons: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt” (Gen.3:15).

Die belofte dat Iemand die slang sou vernietig, bepaal die gang van die ganse mensegeskiedenis. God het van die begin af vyandskap tussen die twee saad-lyne gestel. Dit het gemaak dat die slang die Verlosser aan die hakskeen gebyt, maar nie vernietig het nie - Jesus se dood en opstanding.

Die vyandskap tussen God en die Satan loop soos ʼn draad deur die geskiedenis en eindig by die wederkoms van Christus. Net voordat dit gebeur, sal die Antichris op die wêreldtoneel verskyn en die lewe vir gelowiges ondraaglik maak.  Dit sal egter nie vir lank wees nie waarna Jesus hom vernietig “ .... hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Tess.2:8).

2. Twee rolspelers

In Openb.13 stel Johannes sy lesers aan twee rolspelers voor wat tot en met hoofstuk 20 as handlangers van die Satan optree.  Hulle word diere genoem omdat hulle nie na die beeld van God geskape is en derhalwe oor geen heerlikheid beskik nie.   Hulle is dierlik en sleg.

Die see waaruit die eerste dier (die Antichris) opkom, is die simbool van die woonplek van die Satan. Hy beskik oor staatkundige oppergesag en boots Christus se dood en opstanding na waarna feitlik al die mense hom vol bewondering volg. Hy verskyn stuksgewys; eers die 10 horings (simbool van sy mag) en daarna sewe koppe (simbool van die gesag wat Satan hom gee). Die 10 heerserskrone op sy kop is die simbool van sy gewaande wêreldheerskappy.

Die Antichris is strydlustig. Daarom word daar spesifiek na sy horings verwys. Hy heers met geweld en word as die skadu-generaal van Satan se bose leër deur ʼn propaganda-meester, die valse profeet, bygestaan. Laasgenoemde sorg dat Satan wêreldwyd deur die Antichris aanbid word; ʼn nabootsing van God wat deur Christus aanbid word.

Die Antichris tooi homself met allerlei godslasterlike name. Keiser Domitianus in wie sy regeer-tyd Openbaring geskryf is, het bv. die titel Dominus et deus noster (ons heer en god) vir homself toegeëien.  

In Openb.13:3 skryf Johannes dat dit lyk asof een van sy koppe dodelik verwond is. Die Griekse woord vir verwond is dieselfde woord wat in Openb.5:6 vir die Lam wat geslag is gebruik word. Dis ʼn spottende nabootsing van Christus se lyding en sterwe. Daarna sê Johannes dat die dodelike wond genees het. Dis dieselfde uitdrukking wat in Openb.2:8 vir Jesus wat dood was en weer lewend geword het gebruik word en derhalwe nog ʼn nabootsing van Jesus se dood en opstanding.  Soos wat mense hulle oor Jesus se opstanding verwonder het, sal mense hul aan die Antichris se genesing verwonder.

Soos wat die Satan hom as ʼn slang in die tuin van Eden vermom het, vermom hy hom aan die einde van die tyd as ʼn mens op die aarde. Hy boots Christus as God se sigbare gestalte in die Antichris op aarde na. Soos wat Christus met die gesag wat Hy van God ontvang het, kragtig opgetree het, ontvang die Antichris sy gesag van Satan om sterk op te tree: “En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openb.13:4).

3. Sewe kenmerke van die Antichris

Paulus skryf aan die Tessalonisense van twee dinge wat voor die wederkoms van Jesus gaan gebeur: “ want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is” (2 Thess.2:3).

Eerstens vind daar 'n groot godsdiensverval plaas waartydens mense gevestigde kerke sal verlaat, leuens aanhang en die waarheid verwerp. Tweedens sal die Antichris met groot mag verskyn. Paulus spel in 2 Tess.2 sewe kenmerke van die Antichris uit:

  1. Hy sal ʼn werklike mens wees en die opstand teen God verpersoonlik. Hy is die Satan se nabootsing van Christus.
  2. Hy is vir die hel bestem en word tydens God se finale oordeel daarin gewerp waarna die opstand teen God eindig (Openb.20:15).
  3. Die Antichris sal alle ware aanbidding teenstaan, in ʼn nuwe tempel sit en voorgee om God te wees.
  4. Hy word deur die valse profeet gehelp om die Evangelie van redding met 'n vals alternatief te vervang en mense te mislei.
  5. Alhoewel sy gees al eeue lank aan die werk is (1 Joh.4:3), hou God hom in toom. Alhoewel hy nie onbeperkte mag gaan hê nie, sal hy nogtans buitengewoon sterk optree.  
  6. Die wederkoms van Christus vind nie lank na die Antichris se verskyning plaas nie. Daarna word sy mag finaal gebreek.
  7. Die optrede van die Antichris stem met die wil van die Satan ooreen.  Hy sal die mensdom met ʼn magsvertoon van allerlei tekens en wonders mislei. Net die uitverkorenes van God word gespaar (:10).

Die regering van die Antichris gaan wreed, ongenaakbaar en sonder sedelike standaarde wees. Hy sal vir ʼn simboliese 42 maande lank regeer en teen die uitverkorenes van God stryd voer omdat hulle iets het wat hy nooit sal kan hê nie - heiligheid. Daarbenewens weet dat hy dat hy nie die ewige dood gaan vryspring nie: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy hulle mislei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Openb.19:20).

4. Misleiding

Johannes sien in Openb.13 dat die Antichris uit die see opkom. Benewens die simboliese woonplek van die Satan is die see ook die simbool van volke: “En Hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het .... is volke en menigtes en nasies en tale” (Openb.17:15). Die Bybel gebruik dikwels die beeld van bruisende waters as ʼn simbool vir onstuimige volke.

Die optrede van die Antichris word deur misleiding gekenmerk (Openb.13:14). Mense word maklik deur tekens en wonders betower. Die Satan gaan dit tot sy voordeel uitbuit. Dit gaan egter geleidelik wees omdat mense makliker aan veranderings gewoond raak indien dit geleidelik ingewerk word.

Uit Lukas se waarskuwing in Hand.20:29,30 is dit duidelik dat daar alreeds afvallige godsdienssisteme in die vroeë kerk werksaam was.   Paulus was ook daarvan bewus: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is....” (2 Tess.2:7). Die Tessalonisense se verwarring was juis aan misleiding te wyte. Dwaalgeeste het hulle met allerlei leuens anderste oor die dinge van God laat dink.

Johannes skryf in sy eerste Sendbrief: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh.2:18,22).

Afvalligheid bereik onder die Antichris se heerskappy ʼn hoogtepunt. Die Babelse verwarring wat tans op die kerklike terrein heers, is ʼn begin van die einde. Die Bybel waarsku dat feitlik alle mense die rug op die waarheid gaan draai en dat God hulle sal laat begaan: “omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Tess.2:11).

Soos wat die apostels in die vroeë kerk kragtige dade in die Naam van Jesus gedoen het, sal dwaalleraars met die mag van die Satan wondertekens aan die einde doen. Soos wat Elia vuur uit die hemel laat kom het, sal Satan se agente dit ook regkry en baie mense mislei. “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mt.24:24).

Die enigste verweer teen hierdie misleiding is ʼn bewustelike begeerte en soeke na die waarheid. Wie die waarheid liefhet, sal nie deur die ellende van die wetteloosheid van die laaste tyd oorval en toegeploeg word nie. Ook sal hulle liefde nie verkoel nie maar bly staan totdat Jesus weer kom!

5. Afvalligheid

Met die godsdiensafvalligheid sal mense wat die waarheid gehad het, dit vir die leuen verruil: “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. (Mt.24:10-13).

Paulus sê: “ want eers moet die afval kom .....” (2 Tess.2:3). Die Griekse woord vir afval is skandalisthesontai waar die Afrikaanse woord skandalig vandaan kom.   Paulus sê dat dit ʼn skande is dat iemand wat die waarheid gehad het dit vir die leuen verruil.   Hy sê ook waarom mense wat Jesus eens bely het, aan die einde gaan wegval: “ .... omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2 Thess.2:10). In die Grieks staan daar letterlik dat hulle die liefde vir die waarheid nie verwelkom het nie en die deur gewys het!  

Wie die waarheid verwerp, verlustig hom in die bose. Ware geloof is nie bloot ʼn verstandelike aanvaarding van die waarheid nie, maar ook ʼn hartstogtelike liefde daarvoor. Kyk weer. Wie gaan volgens vers 10 verlore? Hulle wat die liefde vir die waarheid nie aangeneem het nie.  

Paulus noem die Antichris die “mens van die sonde omdat sy koms deur ʼn ongekende toename in sonde gekenmerk sal word.  Miljoene mense gaan die gevestigde kerke verlaat, die Antichris aanhang en Satan aanbidders word. Slegs enkelinge gaan oorbly. Die Grieks praat van laasgenoemdes in die enkelvoud. Hulle gaan so min wees dat hulle soos ʼn enkeling gaan lyk.  

In 2 Thess.2 skets Paulus die afvallige godsdienssisteem in kleur. Die hoof daarvan gaan daarop aanspraak maak dat hy God is. Sy vermetelheid duur tot en met die wederkoms waarna Christus die Antichris vernietig: “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (:8).

Daniel se profesie laat ook iets hiervan hoor: “Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal ʼn koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan. En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word” (Dan.8:23,25).