Totdat Hy kom
Op daardie gedenkwaardige dag toe Jesus na sy Vader
opgevaar het, het die engel vir ons groepie wat so na die hemel bly staar het, gesê dat Hy weer net so na ons toe gaan kom as wat ons Hom sien weggaan het. Ons het eers gedink dat dit sommer gou gaan gebeur na die uitstorting van die Heilige Gees, want Jesus het voor sy kruisiging vir ons gesê dat Hy vir ons plek gaan gereedmaak in die hemel en dan sal terugkom om ons saam met Hom te neem. Maar met sy hemelvaart het Hy ook vir ons gesê ons moet sy getuies wees tot aan die verste eindes van die aarde. Nadat ons begin het om die evangelie vanaf Jerusalem verder uit te dra, het ek besef dat ons Jesus se wederkoms nie gou kon verwag nie, want dit sou lank neem vir sy Woord om die uithoeke van die wêreld te bereik.
Los jou tentmakery en kom help my
Nadat die Jode vir Stefanus in Jerusalem vermoor het, het baie gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug en die Woord weer daarvandaan verder versprei. In Antiogië is dit nie net aan die Jode gebring nie, maar ook aan die Griekssprekendes wat daar gewoon het, sodat daar mettertyd ‘n bloeiende tweede gemeente van die Here ontstaan het.
Ons het in Jerusalem gehoor hoe gelukkig die gelowiges in Antiogië is en besluit toe om vir Barnabas daarheen te stuur om te gaan kyk hoe dit gaan en sommer daar te bly en te help om die gemeente verder te organiseer.
Barnabas was ‘n leviet en ‘n baie goeie, godvresende man. Hy was die eerste lidmaat van die gemeente van Jerusalem wat ‘n stuk grond verkoop het en die opbrengs daarvan vir die werk van die Here gebring het. Toe Paulus na sy bekering op die pad na Damaskus weer hier in Jerusalem aankom, was ons almal vir hom bang en wou niks met hom te doen hê nie, want ons het gedink hy is nog die ou Saulus wat die gemeente so vervolg het. Maar toe het Barnabas hom aan ons almal kom voorstel en ons oortuig dat sy bekering hartgrondig was en dat die Here hom gaan gebruik om saam met ons sy Woord te verkondig.
Toe Barnabas nou in Antiogië aankom en sien hoe die gemeente daar groei, het hy besef dat hy hulp nodig sal hê om daar te werk. Hy het toe vir Paulus gaan haal om hom te help. Paulus was toe nie meer by ons in Jerusalem nie, maar in Tarsis, die stad waar hy gebore is. Hy was hard besig om sy tentmakersberoep te beoefen toe Barnabas hom daar gaan haal het om saam met hom in Antiogië te werk. Die Here het hulle werk geseën en die gemeente het bly groei.
Jy is nie meer ‘n Jood nie !
In Jerusalem het ons gemeente ‘n redelik rustige tydperk beleef. Ek wou graag ‘n besoek aan Antiogië bring en het saam met ‘n paar gelowiges die lang pad al langs die ooskus van die Middellandse See aangepak. So ver as wat ons gegaan het, het ek die Woord van die Here aan die inwoners van die dorpe verkondig. Ons is weer deur Joppe en al met die kuspad noordwaarts na Sesarea en verder na Ptolomais. Toe is ons deur die buitelandse gebied, Tirus en Sidon en uiteindelik deur Laodisia tot in Antiogië. Ek het die Woord verkondig in al hierdie plekke.
In Antiogië was dit aangenaam om saam met Paulus en Barnabas aan die gemeentelike aktiwiteite deel te neem en tussen gelowiges te beweeg wat uit die heidendom bekeer is. Ons het begin om onsself en vir hulle Christene te noem, want hulle het net soos ons in die soenverdienste van ons Here Jesus Christus geglo en Hom as die enigste Verlosser uit ons sonde en ellende aanvaar en die Here het aan hulle die Heilige Gees geskenk, net soos aan ons.
‘n Ruk nadat ek in Antiogië gekom het, het daar ‘n paar gelowiges van Jerusalem ons hier kom besoek. Hulle het nog geglo dat ‘n Christen besny moet word. Voor hulle koms het ons vrylik beweeg onder die nie-Joodse Christene en saam met hulle geëet. En nou moet ek erken dat die ou Simon ‘n rukkie lank vir Petrus verdring het, want ek was bang vir hulle kritiek en het begin om my eenkant te hou. Paulus het dit gesien en toe van ons Joodse gelowiges en selfs Barnabas begin om dit saam met my te doen, het Paulus my baie streng aangespreek en voor almal vir my gesê ons wyk af van die reguit pad van die evangeliese waarheid.
Hy het vir my gesê: “Jy is ‘n Jood en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ‘n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”
Dit het my reggeruk. Paulus was altyd net so vurig soos ek en Johannes en Jakobus.
‘n Paar dae later het ek saam met Paulus en Barnabas die gemeente se kerkraadsvergadering bygewoon. Dit was ‘n wonderlike geleentheid om saam te bid en te vas. Saam met ons was daar verskeie leraars wat ook in die gemeente werksaam was, onder andere Simeon Niger, Lucius van Sirene en Manaen. Daardie aand het die Heilige Gees duidelik met ons gepraat en gesê: “Sonder Paulus en Barnabas vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”
Ons het geweet dit beteken dat hulle na die heidene moet gaan om die Woord van die Here daar te gaan verkondig. Nadat ons verder gevas en gebid het, het ons hulle die hande seënend opgelê en hulle laat gaan. So het Paulus en Barnabas se eerste sendingreis begin.
Paulus werk sy gal
Ek moet nou eers die verhaal wat met my verder gebeur het, so ‘n bietjie terughou, want ek wil graag net vlugtig vir jou vertel hoe Paulus hulle op hierdie eerste sendingreis gevaar het met die verkondiging van die evangelie onder die heidene. Dit het twee jaar lank geduur, vanaf die jaar 46 tot 48 n.C. Hulle is per skip weg vanaf die hawe van Seleukië en het eerste by die eiland Siprus aangegaan. Nadat hulle te voet die evangelie vanaf Salamis tot by Pafos op die eiland verkondig het, het die goewerneur, Sergius Paulus, baie belang gestel in Paulus hulle se prediking en hom daarna uitgevra. Aan sy hof was daar ‘n towenaar, Elimas, wat altyd met sy toertjies die goewerneur moes vermaak. Onderwyl Paulus besig was om aan Sergius Paulus die Woord van die Here te verklaar, het hierdie Elimas daar bygesit en vir Paulus aanhoudend weerspreek, totdat die Heilige Gees vir Paulus sê om hom te bestraf. Hy sê toe vir hom: “Duiwelskind! Jy is ‘n deurtrapte skelm en bedrieër! Hou op om in die pad van die Here te staan. Hy gaan jou straf. Jy gaan blind word en die son ‘n tyd lank nie sien nie.” Dit het tot die goewerneur se verbasing gebeur.
Johannes Markus kry koue voete
Toe Paulus en Barnabas weer vanaf Pafos na Klein-Asië skeepgaan, het hulle op Siprus honderde nuwe gelowiges agtergelaat. Hulle het met geluk in die hart hulle reis voortgesit tot in die hawe van Perge. By hulle was die jongman, Johannes Markus, wat op aandrang van sy oom Barnabas saamgereis het. Maar hy het hier by Perge, aan die suidkus van Klein-Asië, nie kans gesien om verder saam te gaan en vir die twee apostels van enige verdere nut te wees nie. Hy het toe omgedraai en alleen op sy eentjie weer na Jerusalem teruggekeer.
Vyandige Jode in Pisidië
Die twee apostels is van Perge na Antiogië in Pisidië (nie Antiogië in Sirië nie). Dit is ‘n groot stad, 160 kilometer noord van Perge. Paulus en Barnabas se prediking hier het honderde heidene tot geloof in Christus laat kom, maar daar was baie fanatieke ortodokse Jode wat verskriklik vyandig teen die apostels opgetree het en onluste veroorsaak het. Die stadsowerheid het Paulus hulle beveel om die stad te verlaat. Daarop het die apostels die stof van hul voete geskud en in die pad geval na Ikonium, ongeveer 120 kilometer suidoos van Antiogië.
Dieselfde ding wat in Antiogië plaasgevind het, het weer hier in Ikonium gebeur. Onderwyl die apostels besig is om vir die Griekse heidendom te preek, is die Jode besig om hulle teen Paulus hulle op te steek. Die stadsowerheid raak naderhand saam met die massa oproerig en probeer die apostels aanrand en onder die klippe steek. Hulle kom gelukkig ongedeerd weg en vlug na ‘n ander stad, Listre.
Paulus is Hermes en Barnabas is Zeus !
In Listre het die Here die verkondiging van sy Woord wonderlik geseën. Die apostels het daelank ongehinderd vir die klomp heidene gepreek, sonder inmenging van die Jode. Nadat die Heilige Gees deur Paulus ‘n ou kreupel mannetjie gesond gemaak het en die mense hulle daaroor verstom het, het hulle probeer om die apostels as die gode, Hermes en Zeus te vereer.
‘n Dag daarna het van die haatlike Jode van Antiogië en Ikonium in Listre aangekom en die mense so heftig teen die apostels opgemaak, dat hulle vir Paulus gegryp het en hom buitekant die stad gaan stenig het. Maar die Here het hom daar tussen die klippe weer laat opstaan.
Die volgende dag het die apostels na Derbe vertrek. Dit was die verste wat hulle met hierdie eerste reis gegaan het. Daarna het hulle weer al op hulle spoor teruggewerk en gemeentes gestig waar hulle gepreek het en uiteindelik weer in Antiogië in Sirië aangekom.
Al weer die besnydenisstorie
Enkele hooggeagte Christene van ons Jerusalem-gemeente het, onderwyl Paulus en Barnabas met hulle eerste sendingreis weg was, gaan besoek aflê in Antiogië en onder die lidmate van daardie gemeente die storie versprei dat hulle nie deur die geloof in Jesus Christus gered kan word as hulle hul nie laat besny nie. Dit het die gemeente verontrus, want ons apostels het hulle nie so geleer nie.
Paulus en Barnabas het na Jerusalem toe gekom, sodat ons vir eens en vir altyd duidelikheid en ‘n oplossing vir hierdie strydpunt in ons gemeentes kon verkry. Die besnydenisstorie is by ‘n vergadering wat ons byeengeroep het, deur ouderlinge wat vroeër priesters of Fariseërs was, gehandhaaf.
Maar Paulus het vir hulle gesê, as die besnydenis ‘n voorwaarde is vir die geloof in ons Here Jesus Christus, dan het hy en Barnabas die afgelope twee jaar die evangelie tevergeefs onder die heidennasies van Klein-Asië verkondig.
Ek het weer vir die vergadering vertel hoe die Here my na Kornelius gestuur het en hoe God aan daardie heidense Romeine die Heilige Gees gegee het, sonder om te verwag dat hulle besny moes word of al die wette van Moses moes onderhou. Daarna was die vergadering tevrede, maar Jakobus het gevra ons moet tog vir die nuwe Christene vra om nie vleis te eet wat aan afgode geoffer is nie, dat hulle onsedelikheid moet vermy en geen dier wat verwurg is, moet eet nie.
Swaar tye
In die vroeë veertigerjare het daar in ons land en omringende gebiede ‘n swaar hongersnood aangebreek, wat veroorsaak is deur ‘n aanhoudende droogte, sodat feitlik geen voedsel geproduseer kon word nie. Daar was vanaf die stigting van ons gemeente in Jerusalem maar baie arm mense, wat deur die ander wat meer gehad het, gedra is deur hul mededeelsaamheid aan veral voedsel en ander noodsaaklike lewensmiddele.
Die nuwe gemeentes in Klein-Asië wat deur Paulus en Barnabas gestig is en ook dié in Griekeland op hulle latere reise, het mildelik bygedra tot kollektes wat die apostels georganiseer het om die nood in ons eerste Christelike gemeente te help verlig. Die gemeente het swaar tye beleef.
Kry die vervolging dan nooit einde nie ?
Ek het my in Jerusalem altyd medeverantwoordelik gevoel vir die bestuur en versorging van die gemeente, alhoewel ek dikwels uitgewyk het om die evangelie buite ons landsgrense te gaan verkondig, want ons liewe gemeente se welsyn was dan altyd in die goeie hande van die twee broers Jakobus en Johannes en van Jakobus, Jesus se broer.
Die gelowiges in die gemeente het maar altyd in die skaduwee van bedreiging en vervolging van ons geleerde en wettiese volksleiers geleef, wat oombliklik vuur spoeg as hulle net die Naam Jesus Christus hoor. Die nuwe regeerder van Judia en Samaria, Herodus Agrippa I, wat deur die Romeine in die jaar 37 in hierdie pos aangestel is, het geweet hoe die Joodse Raad ons Christene haat. Hy wou vreeslik graag in die goeie boekies van die Jode bly, want as hy nie die ondersteuning van die Joodse Sanhedrin geniet nie, mag hy dalk vir een of ander mindere mistrap deur hulle by die Romeinse owerheid verkla word.
Hierdie Herodus het toe besluit om die Jode te plesier. Hy het vir Jakobus, Johannes se broer, laat vang en sonder enige verhoor hom vermoor, deur hom te laat onthoof. Dit was vir ons ‘n harde slag en het ons laat besef dat die ou satan nog steeds strydvaardig is teen die Here se gemeente.
Ek was toe Agrippa se volgende mikpunt. Hy het my ook laat vang en in die tronk gestop, met die plan om my tydens die Paasfees daar uit te haal en in die openbaar ‘n skynverhoor te gee en my dan ook om die lewe te bring.
Hy het seker gemaak dat ek in die tronk baie deeglik bewaak word; daar mag geen moontlikheid van enige ontsnapping wees nie. Hy het sestien soldate gebruik om by die geslote tronkdeure wag te staan. Binne in die sel was ek met kettings aan twee soldate vasgeboei en moes ek daardie nag so vasgeketting tussen hierdie twee slaap.
Wat toe gebeur het, is só wonderlik dat ek dit vir jou in besonderhede wil vertel. Ek is in die middel van die nag deur ‘n engel wakker gemaak. Daar het ‘n lig in die sel geskyn, sodat ek hom en die twee slapende wagte goed kon sien. Die engel sê vir my: “Staan gou op.” Die boeie en kettings het van my hande afgeval. Die geklingel daarvan het gladnie die twee slapende wagte wakker gemaak nie.
Toe sê die engel: “Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan.” Ek doen dit. Daarna sê hy: “Trek jou bokleed aan en kom saam met my.”
Ek het al agter die engel aangestap deur oop deure en in gange langs by wagte verby, wat ons nie raakgesien het nie. Ek het geweet ek is wakker, maar tog was ek nie seker of ek ‘n gesig sien nie. Ons het by die swaar ysterdeur gekom wat na buite lei. Dit het vanself voor ons oopgegaan. Ons het uitgestap en met die straat af in die rigting van die stad begin loop. Die goeie hemelse wese het ‘n slag omgekyk en toe hy sien ek is nou veilig op pad na my vryheid, het hy verdwyn.
Daarna was ek eers seker dat dit geen visioen was nie, maar die werklikheid. Ek het haastig geraak om gou so ver as moontlik van die tronk af weg te kom en op ‘n draffie afgesit stad toe, na Johannes Markus se moeder Maria se huis, waar ons apostels en ander gelowiges tuisgaan wanneer ons in Jerusalem kom. Ek het uitasem by die voordeur van die groot huis aangekom en begin klop. Naderhand kom Rodé, ‘n bediende, tot by die deur en vra wie dit is wat so klop. Ek sê dis ek, Petrus; sy moet oopmaak dat ek kan inkom. Sy het my stem herken en sy was só bly dat sy skoon vergeet om oop te sluit. Sy spring om en gaan vertel vir die ander dat ek voor die deur staan, wat hulle natuurlik nie wou glo nie. Reken net, eers sê hulle vir haar sy is mal, maar toe ek aanhou klop sê hulle, dan is dit seker maar my gees, want ou Herodus het my seker teen hierdie tyd al klaar laat doodmaak. Maar toe hamer ek met mening teen daardie deur, sodat hulle maar uiteindelik vir my gees kom oopmaak. Hulle was verstom! Ons het die Here geloof en gedank vir my redding en dat hy vir ou satan nie toegelaat het om sy vuil planne uit te voer nie.
Ek kon nie langer daar saam met die ander bly nie, want Agrippa het blykbaar goed geweet waar ek tuis was. Daarom het ek sommer nog voor dagbreek die volgende môre my daar skaars gemaak. Niemand het geweet waarheen ek gaan nie.
Later het ek gehoor dat Agrippa feitlik buite homself van woede was toe hy ontdek dat sy prooi ontsnap het. Nadat hy oral rond tevergeefs na my laat soek het, het hy sy wagte van nalatigheid beskuldig en hulle almal laat doodmaak.
‘n Paar maande na hierdie gebeurtenis het ek verneem dat koning Herodus Agrippa I skielik dood is. Hy was glo besig om baie deftig voor die mense van Tirus en Sidon te swier, sodat hulle hom vir ‘n god aangesien het. ‘n Engel het hom daar en dan neergevel. Hy het gesterf en ‘n klomp wurms het sy liggaam verteer.
Dit is volstry
Daarna het ek natuurlik weer na ons geliefde gemeente in Jerusalem teruggekeer en saam met Johannes en Jakobus, Jesus se broer, ‘n tyd lank daar gewerk. Later het ek die gemeentes in Klein-Asië, wat deur Paulus en Barnabas gestig is, gaan besoek. Toe hulle met hul tweede en derde sendingreise in Griekeland ook gemeentes gestig het, het ek ook daar besoek afgelê en ‘n geruime tyd in Korinte gebly.
Ek wou egter graag, nes Paulus, in Rome uitkom, want ek het besef dat ‘n mens vanaf die hoofstad van die groot Romeinse keiserryk die evangelie van ons Here Jesus na al die bekombare uithoeke van die wêreld kan versprei. Ek was verras om in die groot wêreldstad baie gelowiges aan te tref, veral in die buurt waar die meeste Jode saamgetrek was.
Op ‘n goeie dag was ek aangenaam verras toe die jongman, Johannes Markus daar by my aankom, met die plan om ‘n geruime tyd by my te bly. Hy het reeds ‘n begin gemaak om alles oor Jesus se lewe op aarde op te skryf. Daarom het hy my kom opsoek om my urelank te ondervra oor ons apostels se lewe saam met Jesus voor sy hemelvaart.
Ek het besef dat ek uiteindelik nie meer die vermoeienis en ontberings van lang reise te voet kan staan na die verskillende gemeentes wat in Judea, Samaria, Sirië, Klein-Asië en Griekeland geleë is nie. Daarom het ek ook hier in Rome twee briewe geskryf wat in die verskillende gemeentes gelees is. Ek het hulle gewaarsku teen persone wat orals rondgaan en ‘n dwaalleer verkondig en mense aanmoedig om onsedelik te lewe. Die gemeentes in die noorde van Klein-Asië is ter wille van hul geloof vervolg en onderdruk. Ek het hulle bemoedig en gevra hulle moet aanhou glo, hoop en volhard. As hulle getrou bly aan hulle Verlosser wat hulle so duur gekoop het, sal hulle by sy wederkoms beloning daarvoor ontvang.
Ek het geweet ek het aan die einde gekom van my bediening van my liewe Here Jesus se evangelie van liefde, genade en redding uit die ewige dood, want die Romeinse keiser Nero was reeds besig om ons Christene op ‘n gruwelike wyse te vervolg en ek sal maar seker ook een van sy slagoffers wees.
Saans as ek hier in die laat namiddag die hitte van die warm dag onder skaduryke bome ‘n bietjie kom sit en ontvlug en die son met ‘n kleurespel oor die Middellandse See ondergaan, dan tower die heimwee dieselfde panorama oor die Galilese See voor my op. Ek hoor weer sy stem: “Gooi die net aan die anderkant uit en julle sal vang… Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?… Volg My en Ek sal julle vissers van mense maak…”
Maar Hy het gesê, Hy kom weer na ons toe, maar omdat Hy so talm om te kom, sal ek een van die dae maar na Hom toe gaan. Ek het probeer om sy Naam te verkondig aan die wagtende wêreld. Sy kinders wat na my kom, sal dit verder moet doen, totdat Hy kom.
Dankie Here, dat U my destyds daar by die Galilese See geroep het om ‘n visser van mense te word!
Amen