Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn is nie altyd God se straf op sonde nie. Dis dikwels sy manier om ons geloof te verdiep. Geloofsdiepte lei altyd tot Godsverheerliking.
PETRUS: Hoofstuk 4
Ons mobiliseer !
Ek was haastig dat ons weer in Galilea moes kom. Jesus het gesê dat daar nog baie werk gedoen moet word. Die duisende mense wat Hom elke dag in die omgewing van die Galilese See gevolg het, moet gereed wees vir die koms van die koninkryk van die Here en daar was nog net ‘n paar maande oor voor die Paasfees sou plaasvind en almal na Jerusalem sou stroom en getuie te wees van die groot gebeurtenis wat ons verwag.
Maar oënskynlik was Jesus nie haastig om weer in Kapernaum te kom nie. Ons het fluks gevorder tot by Sigar, ‘n dorp in die provinsie van Samaria. Ons het hier ‘n bietjie uitgespan om te rus.
Kom ons gaan saam met Hom sterf
‘n Boodskapper uit Betanië het ons hier ingehaal. Martha en Maria het vir Jesus laat weet: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek.”
Lasarus het siek gelê en die twee susters het gehoop dat wanneer Jesus hierdie boodskap ontvang, Hy sou terugdraai en hulle broer sou kom genees. Dit het egter gelyk of Jesus Hom nie daaraan steur nie. Hy het vir ons gesê dat Lasarus se siekte nie tot die dood sou lei nie, maar tot die openbaring van die mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.
Ek het dit nie verstaan nie, veral ook nie toe Hy na twee dae daar in Sigar vir ons sê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”
Ons wou nie daarvan hoor nie. Ek sê toe: “Maar Here, verlede week toe ons daar was, wou die Fariseërs U stenig. U kan mos nie nou weer soontoe gaan nie.” Weet jy wat antwoord Hy toe?: “Dit is nog dag en tyd om te werk. Die nag kom aan wanneer daar nie meer gewerk sal word nie. Lasarus slaap, maar Ek sal gaan om hom wakker te maak.”
Ons het almal saam sterk beswaar aangeteken en gesê as Lasarus slaap, is dit mos ‘n goeie teken dat hy gesond sal word.
Toe sê Jesus vir ons: “Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle in My kan glo. Kom ons maak nou gereed om na hom toe te gaan.”
My liewe ou mede-dissipel, Tomas, sê toe ‘n ding wat ons almal ook gevoel het: “Kom ons gaan tog maar almal saam met Jesus, sodat ons almal saam met Hom kan sterf!”
Wie in My glo, sal lewe
Toe ons in Betanië aankom, was Lasarus al vier dae in die graf. Ek was verbaas om soveel mense daar te sien. Die broer en twee susters was gesiene en geliefde mense in die omgewing en het selfs baie vriende in Jerusalem gehad, wat almal gekom het om saam met die twee susters hul broer se dood te beklaag en te beween.
Toe Martha en Maria verneem dat Jesus in aantog was, het hulle Hom om die beurt tegemoet gegaan met die woorde: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Ek het daar naby gestaan en gehoor Jesus sê vir elkeen van hulle: “Wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.” Ek weet nie of hulle dit daardie dag reg verstaan het nie. Ek het dit toe nog nie mooi begryp nie.
Hulle wou nie hê dat Jesus na die graf toe gaan nie, want die dooie se liggaam was al besig om te ontbind en het sleg geruik. Maar Jesus het die steen voor die graf laat wegneem en nadat Hy gebid het, uitgeroep, “Lasarus kom uit!” en die groot wonder het gebeur! Hy het met grafdoeke en al uit die graf gestap gekom en is deur sy jubelende twee susters omhels en op Jesus se versoek na hulle huis geneem om verder versorg te word.
Is U die Christus ?
Daarna het ons maar weer die lang pad na Galilea aangepak. Jesus het verkies dat ons weer die westelike roete volg wat deur die landstreek van die Filistyne, naby Samaria verbyloop. Uiteindelik het ons weer by Sigar aangekom, die dorpie waar ons die tyding van Lasarus se siekte ontvang het.
Voordat ‘n mens die dorpie binnegaan, loop die pad langs ‘n waterput verby, wat volgens oorlewering, ons voorvader Jakob daar laat grawe het. Jesus het daar by die put gaan sit om ‘n bietjie te rus, terwyl ons dissipels na die dorp toe was om kos te koop.
Toe ons terugkom, was ek verbaas om Hom in ernstige gesprek met ‘n Samaritaanse vrou te sien. Ons Jode het mos nie met die Samaritane gepraat nie en ‘n man het ook nie sommer ‘n vrou in die openbaar aangespreek nie.
Na ‘n rukkie het die vrou al jubelende na die dorp gehardloop en ‘n uur later weer teruggekeer met ‘n aantal mense by haar. Hulle het ons dissipels skoon verdring en vir Jesus feitlik toegepak onderwyl Hy met hulle gepraat het. Een van hulle het vir my gesê Jesus het vir die vrou lewende water gegee om te drink. Hulle het almal saam met haar gekom om te hoor of Hy nie die Messias is wat verwag word nie. Toe het ek gewonder of Jesus dan ook gekom het om ander volke te red en vry te maak.
Wie het aan My geraak ?
Ek het naderhand vir Jakobus en Johannes en vir die ander dissipels gesê dit help nou ten enemale nie om haastig en ongeduldig te raak omdat die mense ons so toepak om by Jesus uit te kom nie. Ons wil graag weer by Kapernaum kom om dinge daar af te handel, voordat ons vir die belangrikste Paasfees van alle tye weer na Jerusalem vertrek. Maar die Galilese See was skaars in sig, toe stroom die mense ons al weer tegemoet. Naderhand het ek dit moeilik gevind om vir Jesus pad te maak, toe ons in die buitewyke van die stad kom.
Meteens druk ‘n man by my verby en sak op sy knieë voor Jesus neer. Hy begin onmiddellik pleit dat Jesus tog asseblief na sy huis toe moet kom, waar sy ou dogtertjie baie ernstig siek lê. Sy naam was Jaïrus. Hy het ‘n belangrike amp beklee in die sinagoge hier in Kapernaum.
Toe ek my omdraai, knik Jesus vir my en ek sê vir Jaïrus hy moet my help om die pad tussen die verdringende mense oop te maak na sy huis toe. Jakobus en Johannes het ook vorentoe beweeg om ons te help.
Nadat ons so’n endjie gevorder het, hoor ek Jesus vra: “Wie het nou net hier aan My gevat?”
Ek draai om en kyk rond en sê vir Hom: “Here, kyk hoe versmoor die klomp mense ons; ons kry nie eers geloop nie. Hoe sal ons nou weet wie van hulle aan U gevat het?”
Ek sien ‘n klein, verkrimpte ou vroutjie tussen die mense uitbeur en bewende voor Jesus neerval. Sy het jarelank aan ‘n uitmergelende bloedkwaal gely en toe sy nou daarin slaag om net aan Hom te raak en daar krag uit Hom vloei, is sy oombliklik genees.
Dogtertjie, staan op !
Daar het ‘n boodskapper uit Jaïrus se huis ons bereik en vir hom gesê hy moenie vir Jesus langer lastigval nie, want sy dogtertjie het intussen gesterf. Arme Jaïrus was platgeslaan, maar Jesus sê vir hom: “Hou moed, Jaïrus; glo net en alles sal regkom.”
Uiteindelik kom ons met ‘n gesukkel by sy huis aan. Jesus sê vir my en Jakobus en Johannes ons moet saam met Hom en Jaïrus ingaan. In die vertrek waar die ou dogtertjie gelê het, was daar ‘n vreeslike gedoente aan die gang. ‘n Paar rouklaers en familielede het luidkeels gehuil en verskriklik te kere gegaan. Jesus het vir hulle gesê: “Waarom raas julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.”
Ek het my sommer vervies toe hulle ophou kerm en vir Jesus begin uitlag. Wie dink hulle is hulle om die Here te bespot? Maar Jesus het Hom nie verder aan hulle gesteur nie en na die ou lykie geloop en net gesê: “Dogtertjie, staan op!”
Jy moet hulle verbaasde gesigte gesien het toe die kind lewendig word en regop gaan sit. Haar pa en ma se oorstelpende blydskap om hulle kind uit die dood terug te kry, het ons, wat dit gesien het, se harte geroer.
Die vis se bek is vol geld !
Ons was pas in Kapernaum toe ek in die straat een van die tempelbeamptes raakloop wat smalend vir my vra: “Betaal julle en julle Rabbi dan nie soos al die ander mense ook tempelbelasting nie? Ek het maar gesê, ja natuurlik, maar ek het nie geweet of ons dit al ooit vantevore betaal het nie. Ek het na Jesus toe gegaan om te hoor wat Hy daarvan sê, maar voordat ek nog daarvan kon praat, vra Hy vir my om met ‘n hoek by die see ‘n vis te gaan vang, net een, want in sy bek sal die geld wees waarmee ons die belasting moet betaal.
Ek was nou al, jy kan maar sê, redelik gewoond aan die verbasende wonderwerke wat Jesus doen. Ek het lammes en kreupeles weer sien loop, dowes hoor weer, blindes sien weer en dooies word weer lewendig op sy woord, maar daardie vis met die geld in sy bek wat ek gevang het, was vir my ‘n ongelooflike wonder. Dit was net genoeg om die regte bedrag belasting te betaal.
Hulle sal hulle wat verbeel !
Ons het begin klaarmaak om weer die lang pad na Jerusalem aan te pak. Dit was asof ons almal ‘n stille verwagting gekoester het dat daar groot dinge aan die kom was. ‘n Paar dae voor ons vertrek, kom Jakobus en Johannes saam met hulle ma by my huis aan, waar Jesus was. Sy vra toe vir Hom of hierdie twee boanerges-seuns van haar maar in die koninkryk wat Hy gaan oprig, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant mag sit.
Begryp jou dit aan! Die een moet dan seker eerste minister wees en die ander een sy adjunk! Hulle sal hulle wat verbeel as Jesus dit toelaat. Daardie bevoorregte pos het Hy tog vir my belowe toe Hy gesê het ek is die rots waarop Hy sy gemeente gaan bou.
Maar Jesus het vir hulle gesê hulle weet nie wat hulle vra nie. Hy besluit nie daaroor nie, maar sy Vader in die hemel bepaal wie aan sy regter- en linkerkant sal sit.
Ek gaan toe na Jesus toe en vra vir Hom of dit genoeg is om iemand sewe maal te vergewe as hy my ‘n ding aangedoen het, want ek het gedink ek sal maar vir Jakobus en Johannes vergewe omdat hulle my uit Jesus se koninkryk wou uitskuif. Toe slaan Jesus my weer ‘n slaggie plat. Hy sê vir my, nie net sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer!
Sy geld is sy god
Kort voor ons vertrek klop daar een aand ‘n jong man aan my deur en sê hy wil baie graag ‘n bietjie met Jesus kom gesels. Ek het geweet van hom, want die mense van Kapernaum het baie van hom gepraat omdat hy so skatryk was. Hy het vir Jesus kom vertel dat hy die Here se wet nougeset nakom, maar is daar tog nie darem nog iets wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe nie? Toe Jesus vir hom sê hy moet al sy goed verkoop, die geld vir die armes gee en Hom volg, het hy ‘n lang gesig getrek en maar geloop.
“Ja Petrus, ‘n ryk man wat ‘n afgod van sy besittings maak, sal maar moeilik in die koninkryk van die hemel ingaan,” sê Jesus toe vir my.
“Maar Here, wat van ons twaalf dissipels wat alles verlaat het en U getrou volg? Wat sal ons daarvoor in u koninkryk ontvang?”
Toe sê Jesus iets wat my amper laat opspring het van vreugde. Hy sê, as alles nuut gemaak word en Hy op sy heerlike troon sit, sal ons wat Hom gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer!
Dit het my haastig gemaak om in Jerusalem te kom. Ek het die ander dissipels aangedryf om tog klaar te kry met die noodsaaklike voorbereidingswerk vir ons tog na die suide. Jakobus het gevra: “Petrus, wat gaan met jou aan? Wat byt jou?” Ek het gesê: “Wag tot ons in Jerusalem kom, dan sal jy sien!”
Hulle gaan My doodmaak
Maar ons lang reis na die suide deur al die bekende en mooi ou plekkies waar ons vorige kere langs gegaan het, was nie end-uit vir my en die ander dissipels so ‘n heerlike opwindende ervaring as vorige kere nie. Toe ons twee dae lank op pad was, het Jesus ons in ‘n kring om Hom laat plaasneem in die skadu van ‘n groot ou seder en weer vir ons gesê dat Hy baie gaan ly onder die heidene, wat Hom gaan bespot, Hom beledig en op Hom spoeg, Hom gésel en Hom doodmaak, maar dat Hy na drie dae uit die dood sal opstaan.
Ek moet eerlik sê ek het niks daarvan geglo nie en dit het vir my gelyk die ander dissipels verstaan nie eers wat Hy sê nie. Maar dit het tog ons opgewondenheid oor die groot dinge wat voorlê, gedemp.
Die ondankbare nege
Ons het met ons reis al op die grens tussen Galilea en Samaria langs gegaan. By een van die dorpies het tien melaatse manne langs die pad gestaan en hard geroep dat Jesus Hom tog oor hulle moet ontferm. Hulle het op pad na die priester waarheen Hy hulle gestuur het, gesond geword. Net een van hulle, ‘n Samaritaan, was dankbaar genoeg om terug te draai en dit vir Jesus te kom sê.
Ons wil so graag sien
Uiteindelik was Jerigo se mure in sig. Met ons aankoms aldaar, het die mense ons gewaar en net soos by vorige kere, by ons aangesluit. Langs die pad het twee blinde mans gesit wat aanhoudend begin uitroep het: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Niemand kon hulle stilkry nie. Jesus hét Hom oor hulle ontferm. Hy het hul oë aangeraak en hulle kon weer sien.
Jou Koning kom !
Die volgende dag het ons Betfage aan die Olyfberg bereik. Daar het toe al ‘n groot aantal mense saam met ons gestap. Dinge het vir my baie rooskleurig begin lyk. Ek was seker daarvan dat hul getal tot duisende sou aangroei sodra ons Jerusalem binnegaan. Die groot plegtigheid waar ons Jesus tot koning gaan uitroep, sal natuurlik die groot plein voor die tempel wees.
Later het ons langs die Olyfberg so ‘n bietjie halt geroep om ‘n wyle te rus, onderwyl die mense wat ons vergesel het, oral in die omgewing rondluier. Na ‘n rukkie kom Tomas en Filippus uit die rigting van die stad by ons aangestap met ‘n donkie wat hulle aan die halterriem lei. Hulle bring hom tot by Jesus en help Hom om op te klim. Toe kom ons weer in beweging.
Die mense het weer begin saamstap. Hoe nader ons aan die stad gekom het, hoe uitbundiger het hulle geword. Dit was duidelik dat hulle Jesus as koning wou hê. Hulle het die pad versier met palmtakke en blomme en het selfs hulle klere voor Jesus en sy rydier oopgesprei. Almal het spontaan begin sing: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die naam van die Here kom! Eer aan God in die hoogste hemel!”
Ek het my so vererg vir ‘n paar Fariseërs wat met hulle vroom gesigte langs die pad gestaan het. Toe Jesus by hulle verbygaan, skree hulle vir Hom: “Maak stil jou volgelinge wat so raas!” Jesus het net vir hulle gesê: “As hulle stilbly, sal die klippe begin praat,”en Hom nie verder aan hulle gesteur nie.
So is ons die stad in, in die rigting van die tempel. Ek het baie teleurgestel gevoel toe die groot massa mense begin uitrafel en wegdwaal. Maar ‘n aantal het ons tog bly volg en het gesien hoe Jesus die spul geldwolwe uit die tempel se binnehof verdryf.
‘n Aantal kinders het saam met ons en hierdie mense die tempel binnegegaan en tot groot ergernis van die Fariseërs, aanhoudend vir Jesus gesing: “Prys die Seun van Dawid!”
Na ‘n rukkie het Jesus met dosyne blindes, dowes, kreupeles en lammes besig geraak. Dit het tot laatmiddag geduur voordat ek en Jakobus en Johannes Hom na Betanië geneem het, waar die ander dissipels toe al ‘n geruime tyd besig was om in die rustige atmosfeer van Lasarus hulle se ruim tuin te ontspan.
Ek het so teleurgestel gevoel. Ek het gedink dat ons vir Jesus met die intrapslag in Jerusalem sou koning maak, maar daar het niks van gekom nie. Maar ek het nog gehoop dat dit op een van die volgende dae voor die fees gaan gebeur, want Jesus is tog by magte om dit enige tyd deur ‘n groot wonderwerk te laat plaasvind. Die ander dissipels het met my saamgestem. Toe het ons maar met die nodige hoop geduldig gewag.