AFRIKA-SOSIALISME

Meinhard Peters

Lees meer by OORSIG EN REPLIEK

Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Die afwaartse spiraal van Afrika-sosialisme

Eens op ’n tyd is mens kwalik geneem as jy van oortuiging was dat Afrika-leiers nie die vermoë het om ’n ingewikkelde taak soos landsbestuur op hul skouers te neem nie. Jy is dan ’n Afrika-pessimis genoem. Ten spyte daarvan dat Afrika vol wrakke lê van suksesvolle koloniale lande wat geleidelik afgerem, geplunder en in die dongas in bestuur is, was daar mense wat gehoop (en geglo) het dat dit nie in Suid-Afrika sou gebeur nie. Die lotgevalle van Rhodesië op ons voorstoep moes hulle van mening laat verander het. Selfs vandag is die ewige liberale optimiste oortuig dat ’n klein verstelling in die leierskap van die ANC ons land weer op koers sal kry — welke koers in elk geval nooit baie duidelik is nie.

Die prent wat die afgelope jare en maande voor ons oë afspeel toon egter die meedoënlose destruktiewe pad van Afrika-sosialisme en die wandade wat daarmee gepaard gaan; soms in die vorm van dade wat verrig word, maar meer dikwels in die vorm van ’n gebrek aan regtydige, voorkomende handelinge deur die staatsadministrasie.

Aan die begin van die 1990’s was daar in Suid-Afrika ’n nasionale plan vir sowat 20 nuwe kragstasies, wat nuwe kernkrag-installasies ingesluit het. Navorsing by Pelindaba was daarop gerig, al was dit destyds geklee in ambisieuse toekomsvisies. Maar daardie programme is sum-mier na 1994 afgeskaal, net om uit te loop op die beurtkrag-fiasko vanaf 2007 tot 2012 en die krisisbestuur wat daarop gevolg het. Die belowende projek vir ’n korrelbed-reaktor is geleidelik afgeskaal en kernnavorsing is prakties opgeskort. Daarop het die geskarrel gevolg om iets saam met Rusland uit te rig op die gebied van kernkrag, ’n poging wat reeds korrup blyk te wees, nog voordat dit van die grond af gekom het.

Te midde van hierdie afwaartse spiraal het die ANC-regering verval in ’n uitgerekte gesukkel om ’n doeltreffende en betroubare topbestuur by ESKOM gevestig te kry. Trouens, in die proses het die regering self daartoe bygedra dat so ’n “regruk-aksie” nie kan slaag nie. Intussen het die koste van elektrisiteit skerp gestyg, en sodoende is een van Suid-Afrika se groot voordele vir nuwe beleggers in nywerhede byna uitgewis; terwyl die landbou daardeur erg geknou is.

Hieronder berig ons verder oor die ontstaan van die huidige kommer oor die “waterkrisis”. Dit is ’n verdere voorbeeld van die swakheid van Afrika-sosialisme. Op die gebied van die onder-wys en die bewaring van fauna en flora speel dieselfde treurige verhale af. Die wanbestuur by die openbare uitsaaidienste, die spoorweë (Prasa) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens is verdere voorbeelde. Ons leef daagliks met hierdie negatiewe nuusgebeure saam.

Wat ons moet besef is dat die sistemiese wanbestuur onder Afrika-sosialisme besig is om ons lewensvooruitsigte ernstig te benadeel. Waar ons reeds kwaai gestrem word, sal die volgende geslagte in ernstige ekonomiese krisisse beland. Die probleem is die volgende: wanneer die Afrika-regering se bronne uitgeput raak word daar gegryp na allerlei middele om die situasie te red: grondbesetting, die opeis van plase, die verhoging van belastings, die druk van papiergeld sonder sekuriteit, buitelandse lenings, die opstook van gevoelens teen die suksesvolle onder-nemings van die blankes en soortgelyke skadelike praktyke.

Die ANC-bewind se sogenaamde “war against poverty” duur nou al 24 jaar, maar dit maak geen duik in die nasionale krisis van werkloosheid nie. Die arbeidsituasie het so versleg dat die ANC sy eie opposisie voed in die vorm van die EFF wat hulself beskou as radikale “ekonomiese vryheidsvegters”. Hulle trek stemme weg van die regime omdat hulle meer uitspattige beloftes kan maak. Intussen word die blankes in die ekonomiese lewe as roofteikens beskou deur beide die ANC-bewind en die EFF. Dit beteken vir die blankes in die land net groter moeilikhede in die toekoms.