NUWE DIREKTE BYBELVERTALING (3)

Lees reeks by NUWE DIREKTE BYBELVERTALING

Afwykend

Johan Dorfling

In die sogenaamde direkte vertaling van die Bybel wat tans gedoen word, word onnodige Griekse woorde opgeneem wat bots met ons bekende Afrikaanse Bybeltaal soos prokurator (goewerneur),  hekatontarg (hoofman oor honderd),  satrape (landvoogde), tetrag (viervors), Parakleet (Voorspraak), diaspora (verstrooiing), tartarus (hel), Hades (doderyk), Hodanja (Juda), pretorium (keiserlike wag), proseliet (Jodegenoot) en nog talle ander. Die netjiese goeie Afrikaans is tog heeltemal verstaanbaar in die 1933/53 vertaling opgeneem en word deur Afrikaanse Bybellesers aanvaar en verwelkom. Waarom gevestigde en korrekte bewoording nou verander en verwarring veroorsaak?

As nie ‘n kenner van die brontekste nie, kan ek uit die aard van die saak nie gesaghebbend daaroor praat nie, maar as ‘n Afrikaans en Engelse taalpraktisyn verwys ek na enkele woorde in Lukas soos tans vertaal word. Strydig met Totius se opvatting wat met groot gejuig aanvaar was, word woorde soos prokurator (goewerneur) (Luk 2:2), tetrag (viervors) (Luk 3:1) en proloog (voorrede) opeens as goeie vertaling beskou. Waarom word na die Griekse oorsprong teruggekeer? Hoeveel mense ken Grieks? Is dit steeds ‘n Afrikaanse Bybel?

‘n Goeie Bybelvertaling voldoen aan die behoeftes van die gewone Bybellesers. Ek het onder meer vir verskeie Protestante (Christene) gevra wat ‘n tetrarg is. Sommige het onseker geantwoord dat dit een of ander soort heerser moet wees, terwyl ander prontuit verklaar het dit hulle nie weet nie, en ander dat dit seker ‘n regter was. ‘n Prokurator het meeste aan ‘n prokureur laat dink. My mening is dat Bybelvertalers wat hierdie woorde in ‘n Afrikaanse Bybel plaas, hulle met die doel van goeie evangelieverkondiging misreken. ‘n Bybel word tog vir almal se gebruik beskikbaar gestel en nie net vir predikante nie.

1 Kor 14:9  –  Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal 'n mens weet wat gespreek word?  Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Vers 11  –  As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker 'n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my 'n vreemdeling wees.

Hand 2:6 en verder  –  En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; (met ander woorde, die evangelie in verstaanbare taal).

In die 1983-vertaling wat grootliks verwerp is, is ‘n plat onaanvaarbare Afrikaans gebruik soos pa in plaas van vader. Met die vertaling waarmee nou gepeuter word, word esels en eselinne met donkies en donkiemerries vervang. Jesus het op ‘n donkiemerrie se vul gery!  Dit is verlaging van die gehalte van die Bybel en nie Bybeltaal nie. Hoekom aan ons uiters betroubare Bybel en goeie taalgebruik peuter?

Ek het nie al die minderbekende woorde in die huidige vertaling opgenoem nie omdat dit gans te veel is. Diaspora (verstrooiing), efod, paleispersoneel, eunug, tartarus, ekstaties en meer, is ook aftakelend. Sommige Bybellesers mag sommige nuwe woorde aanvaarbaar vind, maar hou in gedagte dat uitsonderings die reël sal word as dit toegelaat word. ‘n Sneeubal word al hoe groter as dit gerol word en so word vreemde woorde al hoe meer totdat dit ons taal oorheers.

Om met behulp van ‘n leraar wyer navraag oor die nuwe vertaling te doen, al sou hy werklik onpartydig en toegeneent optree, is nie prakties nie. ‘n Predikant of ander Bybelkenner redeneer anders as gewone lidmate omdat hulle meer op Bybeltaal/Bybelterme ingestel is en sake vanuit ‘n ander agtergrond bedink. Soms is daar ‘n groot kloof tussen ‘n lidmaat en ‘n predikant of ander Bybelkenner. Bowendien wil lidmate nie graag betrokke raak nie omdat hulle bang is vir gesprekbotsings. Die mensdom is dikwels vir my ‘n raaisel. Hou sterk in gedagte dat die mens ‘n natuurlike weerstand teen verandering het waaraan hy tereg vasberade vasklou as daar geen voordeel vir verandering is nie. Dit is geldig vir beide Bybelkenner en lidmaat.

As dit by mate en gewigte kom, geld soortgelyke argumente as vir ander Griekse woorde. Ek kan nie instaan vir die korrektheid van omrekening van span, el, meetroede, linnetou, log, bat, homer, kab, resoen, talent, mina, gera, en so meer nie, maar die vreemde woorde skep geen betekenisbeeld nie. Daarom is verafrikaansing (gebruiklike mate en gewigte) meer verstaanbaar omdat dit geen afbreuk doen aan die grootte, omvang of metafore nie.

Wat geldeenhede en geldwaardes betref, is dit ‘n ander saak. Die “wisselkoers” van Bybelse geldeenhede teenoor die rand verander selfs van dag tot dag, dog veral van jaar tot jaar. ‘n Hoeveelheid goud wat tien jaar gelede R1 000 werd was, is vandag moontlik R10 000 werd, en oor nog tien jaar? Daarom moet die oorspronklike name van die munte in die brontekste behoue bly. Predikante en ander Bybelkenners kan tydens preke of Bybelstudie vergelykings tref indien moontlik.

Wat verbasend is, is dat die 1933 Bybelvertaling deur vyf vertalers in agt jaar gedoen is. Hulle het geen Afrikaanse vertaling byderhand gehad waarmee hulle die brontekste kon vergelyk nie en moes alles met die hand doen. Rekenaars en elektronika was onbekend. Die huidige vertaalspan bestaan uit 140 personeel en met behulp van ‘n baie goeie Afrikaanse Bybel en met rekenaars is hulle byna 20 jaar aan die werk met tot dusver swakker resultate.

Bygesê, die Bybel is oorspronklik vir eenvoudige mense met min geleerdheid geskryf. Word daar nou gepoog om die Bybel vir teoloë te herskryf, sodat die gemiddelde mens woordeboeke moet gebruik om dit te lees? Die talle verklarende voetnotas in die Bybel wat nou herskryf word, getuig daarvan dat die vertalers hulle hand oorspeel.

Wat moet gebeur:  Behoud van die betroubare 1933/53 Bybelvertaling met weinig verbeterings waar dit werklik verbeterings sal wees.

=  EINDE