DIE ROOMSE GEVAAR (2)

Lees reeks by DIE ROOMSE GEVAAR

Ds. A.E van den Berg

PROTESTANTE SWIG VOOR ROME  

Onheilige samesyn

1.   Regverdigmaking

God se Woord leer dat regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus alleen geskied. Die RK leer in stryd daarmee dat boetedoening en goeie werke genoeg vir regverdigmaking is. Dit het Luther in 1517 met die RK laat breek en ʼn onversoenbare skeidsmuur tussen Protestantisme en Roomse Katolisisme veroorsaak.

Die RK dwaal as sy leer dat regverdigmaking geleidelik plaasvind. Die verhaal van die Fariseër en die Tollenaar getuig anders:

En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Luk.18:14).

 

Die tollenaar se regverdiging is nie deur goeie werke voorafgegaan nie. Dit was onmiddellik na sy bekering ʼn werklikheid. Gelowiges gaan onmiddellik van die ewige dood na die ewige lewe oor:

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh.5:24).

Die ewige lewe is die geestelike besitting van alle gelowiges en kan nooit verloor word nie:

Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus... Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Rom.5:1,9).

Beide van die laasgenoemde verse plaas regverdigmaking in die verlede en nie in die hede of toekoms nie. Dit vind soos met die bekering van die misdadiger aan die kruis oombliklik plaas.

Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom.8:1).

Regverdigmaking beteken dat sondaars regverdig verklaar en nie regverdig gemaak is nie. Dis nie ʼn proses wat uitgevoer moet word nie en vind in God se domein en nie in ʼn sondaar se lewe plaas nie. Dis ʼn objektiewe heilsfeit en nie ʼn subjektiewe verskynsel nie. Dit word toegeskryf en nie toegedien nie.

2.   Op die agtervoet

Ongelukkig word hierdie kernwaarheid ter wille van ekumene verwater. In 1999 het die Lutherse Wêreld-federasie en die RK ʼngesamentlike verklaring oor die regverdigmaking deur geloof uitgereik. Dis in 2006 ook deur die Wêreld Metodisteraad en later deur die Presbiteriaanse Kerken Charismatiese Evangeliese Leierskap-Konferensie onderskryf. Hierdie gaping in Protestante se Hervormingsmondering was water op die RK se meule!

Hierdie gaping het met die ondertekening van die Verklaring van Versoeningop 31 Oktober 2017 verder vergroot. Daarin word gesê dat alhoewel daar nie aan die verlede verander kan word nie, die invloed van die kerk-breuk wel verander en die eeu-oue verdelings uit die weg geruim kan word. Maar, kan dit? Is die protes werklik verby? Regverdigmaking deur geloof alleen was die hart van die Hervorming soos wat Skrifgetroue kerke steeds bely. So ook ander kern-beginsels soos sola scriptura - die Bybel alleen.

God se Woord leer dat dit wat daarin staan, genoegsaam is vir sondaars om die pad na die ewige saligheid te vind. Die RK verskil hiervan. Sy het ʼn horde van mensgemaakte tradisies wat sy met die selfde gesag as die Skrif beklee. Dit het juis aanleiding tot talle wanpraktyke gegee wat geensins met die Bybel ooreenstem nie. Boetedoening, gebede tot heiliges, die vagevuur en die aflaathandel is maar enkeles daarvan.

Die RK het in die verlede kerke wat die ware evangelie huldig vervloek.   So is Protestante al met meer as 100 anatemas (vervloekings) veroordeel. Die RK het nog nooit van een van haar dwalings afstand gedoen nie. Protestante is al wat die wortels van hul herkoms minag!

3. Skeidsmuur of deurgangspoort?

Ekumene is op ʼn kunsmatige eenstemmigheid met die RK gebou en laat die klem op ander Skrifwaarhede val net om te wys dat leerverskille tussen Protestante en die RK geen goeie rede vir veroordeling is nie. Dis ʼn leuen! Verskillende kerke kan nie ʼn eenderse leer verkondig nie. So ʼn evangelie moet in stryd met die waarheid wees.

Die skyneenheid waarvoor afvallige Protestante hul beywer, kan nooit die ware evangelie wees nie. Dit moet vals wees en kan nie van God kom nie. Die vroeë kerk het feitlik uit die staanspoor met sulke valse evangelies te doen gekry wat mense afvallig gemaak het:

Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Gal.1:6-9).

Afvalligheid is die gevolg van kerke wat nie by die ware evangelie hou nie:

“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas:3).

Mense weet skynbaar nie meer wat die oorspronklike, ware Christendom was nie. Sommige reken dat die RK die eerste was en dat daar na haar teruggekeer moet word. Dis ʼn gruwelike misgissing! Judas vra juis vir getrouheid aan die oorspronklike geloof: “ ... om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” Kompromieë is geestelike doodsake!

4.   Wees heilig

Gelowiges is en verkeer onderling altyd heilig:

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag” (Ps.1:1,2).

Jesus sê:

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees” (Joh.17:17-19).

God sit gelowiges ter wille van die suiwere verkondiging van die waarheid opsy. Wie kompromieë met dwaalleer aangaan, kan nooit ware volgelinge van Jesus wees nie.

In 2009 het ʼn Roomse kardinaal na Wittenberg (waar Luther sy 95 stellings aangebring het) gereis om die eerste van 500 boompies in die Luther Gedenktuin te plant en gesê dat dit wat bymekaar hoort, bymekaar groei.

Jesus waarsku ernstig teen onheilige samesyn. Hy het nie aarde toe gekom om mense onder ʼn valse vrede te verenig nie:

“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (Mt.10:34-39).

Paulus skryf:

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. (2 Kor.6:14-17)

Jesaja vermaan die kerklui van sy tyd:

“Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE” (Jes.52:11). Vertrek beteken hier om af te skei.  Paulus eis van die Korintiërs: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here...” (2 Kor.6:17).

Johannes skryf:

“En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels ... omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:2-4)

Die Bybel onderskryf geen ekumeniese eenheid nie. Kerklui wat hul met ekumeniese agendas ophou, luister nie na God se Woord nie!

Vervolg...