MIKROSTATE: DIE ANTWOORD VIR DIE TOEKOMS?

Dr JJ Snyman

Ons begrip van 'n staat mag dalk in die afsienbare toekoms drasties anders daarna uitsien. Met die globalisering van die wêreld en die spoed wat vereis word vir besluitneming op hoogste vlak, is die vraag of daar nie 'n radikale verandering moet kom wat die aard en grootte van 'n staat moet wees nie. Is mikro- en kuberstate nie dalk die toekoms nie?

In hierdie artikel word gekyk na mikrostate. 

In Europa is daar ses state wat as mini of mikrostate bekend staan. Weens die klein grondgebied wat dit beslaan word hierdie term gebruik. Die ses is Andorra, Liechtenstein, Malta, Monaco, San Marino en die Vatikaanstad.

Vier van hierdie state is monargieë (die drie prinsipaliteite Andorra, Liechtenstein en Monaco en dan die pousdom ("Holy See") die Vatikaanstad).

Mikrostate is klein onafhanklike state wat deur groter state erken word terwyl mikro-nasies state is wat onafhanklikheid verklaar het, maar nie erken word nie.

Volgens die kwalitatiewe definisie kan 'n mikrostaat ook beskou word as 'n "moderne beskermde staat", dit wil sê 'n soewereine staat wat sekere funksies aan 'n groter staat toevertrou in ruil vir beskerming. So gesien is net Andorra, Liechtenstein, San Marino en Monaco mikrostate.

Die status van die Vatikaanstad aa 'n staat is betwisbaar aangesien dit nie aan die tradisionele vereistes van 'n staat voldoen nie, naamlik grondgebied, bevolking, effektiewe regering en vermoë om buitelandse betrekkinge aan te knoop. Naas hierdie vier is daar in latere jare 'n vyfde bygevoeg, naamlik erkenning.

San Marino noem homself 'n republiek en staan bekend as The Most Serene Republic of San Marino.

Dit is geleë aan die noordoostelike kant van die Appenine-berge in Italië en is maar 61 vierkante kilometer groot met 'n bevolking van 33 562. Die hoofstad is San Marino en is baie bekend vir die jaarlikse San Marino Formule 1 Grand Prix motorwedren wat daar plaasvind. Die taal is Italiaans en die godsdiens Rooms Katoliek.

Die staat bestaan reeds sedert 1600 en die BBP is $2.09 biljoen maar betekenisvol die sowat $60 651 per persoon, die vierde hoogste in die wêreld. Die grondwet van 1600 is steeds van krag, die oudste in die wêreld. Die staat het geen skuld nie en is daar meer voertuie as mense.

Die prinsipaliteit van Monaco is 'n soewereine stadstaat aan die Franse Riviera. Die grootste kwartier in Monaco is Monte Carlo - ook bekend vir sy jaarlikse Formule 1 wedren soos San Marino. Frans is hier die grootste taal, maar Monegasque word ook gepraat. Die godsdiens is ook Rooms Katoliek.

Prins Albert II is die monarg (getroud net die bekende Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer, nou prinses Charlene).

Monaco beslaan maar 2,2 vierkante kilometer (die 194e grootste in die wêreld) en het 'n bevolking van 38 400. Sy BBP is $6,6 biljoen per jaar en per persoon is dit $168 000 wat hom 1e in die wêreld plaas.

30% van sy inwoners is miljoenêrs. Die Huis van Grimaldi met bekendes soos prinses Beatrix het Monaco (met enkele onderbrekings) sedert 1297 regeer. Die staat hef geen inkomstebelasting nie en is daarom baie gewild onder die rykes.

Die prinsipaliteit van Andorra is 'n staat wat grens aan Spanje en Frankryk. Soos in Katalonië word Katalaans gepraat, 49% van die inwoners is Andorra's en die res is Spaanjaarde, Franse en Portugese.

Die staat bestaan sedert 1278 en is 467 vierkante kilometer groot met 'n bevolking van 77 281. Sy BBP is $3,249 biljoen met 'n per capita van $36 987 (no 26 in die wêreld).

Andorra is die 16e kleinste staat in die wêreld wat betref oppervlak en 11e kleinste wat betref bevolking.

Die hoofstad Andorra is 1023 meter bo seespieël die hoogste van al die stede in Europa. Dit het die hoogste lewensverwagting in die wêreld naamlik 81 jaar.

Die prinsipaliteit van Liechtenstein is 'n Duitssprekende monargie met 'n prins as staatshoof. Die leuse van die land is: Vir God, prins en vaderland! Die godsdiens is Rooms-Katoliek en prins Hans Adam II is die huidige staatshoof.

Daar woon 38 547 mense in Liechtenstein en die land beslaan 160 vierkante kilometer. Die land grens aan Switserland en Oostenryk. Die BBP is $5,3 biljoen met 'n per capita van $98 423 wat hom 2e in die wêreld plaas.

Anders as meeste ander Europese state is die Euro nie die geldeenheid nie, maar wel die Switserse Frank. Die hoofstad is Vaduz. Sowat 20 000 van sy inwoners gebruik openbare vervoer om na hulle werk te pendel.

Wat is dan die belang hiervan? Wel, die grootte van 'n land se oppervlak en bevolking is irrelevant. Dit gaan oor die kundigheid, gesamentlike visie en werksywer wat van state 'n sukses maak. Mikrostate presteer wat betref per capita inkomste. Daar is nie plek vir leegleêrs nie. Elkeen lewer sy bydrae.

Kleiner state is makliker om te regeer en te beheer. Solidariteit is waarskynlik meer bereikbaar as in lompe groot state.

In 'n vinnig veranderde wêreld waar die klem op effektiwiteit, spoed en resultate gelê word, gaan mikrostate een van die grootste rolspelers word.