AS DIE HERE WIL

Toe ons nog kinders was het die ‘oumense’ dikwels gepraat van "as die Here wil". Sommige van ons wat nie meer so jonk is nie, doen dit steeds omdat ons die begrip daarvoor by ons ouers geleer het. Ons ouers het dikwels gesê "as dit die Here se wil is sal ons dit of dat doen" – in Latyn Deo Volente (DV). Dus, niks is vanselfsprekend nie, maar elke dag is 'n geskenk, ‘n gawe van God. Hierdie goeie ou tradisie het uit die volksmondverdwyn. Vandag hoor mens dit skaars. Is dit omdat die Grondwet nou “oppermagtig” is?

Alles dui daarop dat ons ‘n ekonomiese ramp tegemoet gaan. En by sulke gebeure moet mens vra: Cui Bono? Wie trek voordeel hieruit? As jy dít kan bepaal, dan weet jy wie die vuur aangesteek het wat nou nie geblus kan word nie. Die media, as die Judasbokke, ingespan deur die magte van onheil, verkoop steeds die storie dat dit ‘n Sjinees was wat ‘n vlermuis geëet het. Dis glo pasiënt Zero, daar waar alles begin het. Nou ja, waar nasionaal-gesinde mense dikwels deur links-liberales van samesweringsteorieë beskuldig word, klink hierdie vlermuis-storie eerder na ‘n wolhaarstorie.

Die situasie ruk nou so handuit dat mens eenvoudig met baie groot moeite mense kan oortuig dat hierdie virus ‘n klug is. Die waarheid is dat die sterftesyfer van die Korona-virus baie laer is as wat voorgegee word. As elkeen wat moontlik simptome het getoets moet word, sal die sterftesyfer baie laag wees, maar nou word net ernstige gevalle getoets en daarom word ons met ‘n hoë sterftesyfer gedreig tot onderdanigheid.

Die probleem om die sterftesyfer van gewone griep met dié van die Korona-virus te vergelyk is dat by griep die totale beraamde syfers gebruik word om die sterftesyfer te bepaal, terwyl daar by die Korona-virus slegs die positiewe resultate gebruik word.

In Amerika, vanaf September 2019 tot 15 Maart 2020 was daar byvoorbeeld 222 552 positiewe toetssuitslae vir “influenza A & B”, met 22 000 sterftes. Dit is ‘n 10% sterftesyfer van mense wat gehospitaliseer is en positief vir griep getoets het. Sien byvoorbeeld:

https://www.cdc.gov/flu/weekly/index.htm

By die Korona-virus word positiewe toetse teenoor sterftesyfer geneem, waar daar eerder na geraamde infeksies gekyk moet word, welke resultaat ons nooit sal weet nie omdat nie almal getoets word nie, selfs nie eers diegene wat selfs ligte simptome toon nie.

In Suid-Korea is massa-toetse op die bevolking gedoen om die effek van die Korona-virus te bepaal. Hulle data dui op ‘n 1% sterftesyfer. Volgens Wikipedia was daar met 8 320 positiewe toetse net 81 sterftes. Dis veel minder as wat met griep die geval is. Maar mense weier om dit te glo, selfs in die aangesig van die naakte waarheid. Hulle verkies blykbaar om paniekerig te voel.

Klaarblyklik is baie produkte by Makro en die gewone supermarkte uitverkoop. Die media maak die paniek groter as hulle ter wille van sensasie en die verkoop van ‘n koerant, foto’s plaas van leë winkelrakke. Dit opsigself vertiendubbel paniek by mense. Toestande van paniek is die ideale teelaarde vir histerie, irrasionale besluite en ook geweld. In die VSA staan mense lang toue by wapenhandelaars om wapens en ammunisie te koop want hulle verwag grootskaalse onrus. Dus, noodwendig gaan dit tot gevolg hê dat die weermag gaan ingryp – krygswet gaan afgekondig word. In Spanje is private hospitale deur die regering genasionaliseer en is die stappe wat regerings in talle state neem (ook uit paniek), eenvoudig verstommend. So sien ons voor ons oë hoe George Orwell se 1984 en Animal Farm in ons lewens werklikheid word. 

Ons volk is geheel en al uitgelewer aan barbare wat hulle verbeel hulle weet presies wat om te doen met alles wat hier vir ons voorlê. Ons is in 'n absoluut haglike situasie. As geweld hier uitbreek is volksgenote uitgelewer aan die ‘genade’ van ‘n onbevoegde regering en ‘n patetiese, korrupte, swak opgeleide polisie- en weermag wat hoegenaamd nie sal huiwer om vir hulle rasgenote ‘in testaan’, eerder as om wet en orde te probeer handhaaf nie.

In hierdie onsekere tye wat op ons wag waar duistere magte ons state in chaos dompel en mense se lewens in die naam van ‘n virus verwoes, moet ons besef: Alles gaan nie op ‘n gegewe dag net weer na normaal terugkeer nie. Alles gaan nie net weer ‘normaal’ wees nie. Die ‘nuwe normaal’ gaan gans anders lyk. Die magte van onheil het ‘n vuur aangesteek wat hulle self nie eers kan blus nie al sou hulle ook wou. Dis tog duidelik dat ‘n ekonomiese ramp die wêreld in die gesig staar. Dit het ‘n sneeubal-effek wat elke dag groter word. Ons word alreeds vertel die einde van die “virus” lê selfs so ver as twee jaar in die toekoms.

Wat staan ons dan te doen? Eerstens, om alles te doen wat menslik moontlik is om onsself fisies te beveilig en toe te rus. Oor hierdie saak sal nou ernstig besin moet word. Maar daarby sal ons weer in nederige afhanklikheid teenoor die Almagtige God, soos ons ou Grondwet dit so pragtig gestel het, moet verklaar dat ons, omdat ons nie weet wat more inhou nie, die dag van more alleen met God se hulp sal aanpak. Ja, ons hulp is van die Here! Hy is die Beskikker van die lotgevalle van nasies. Alleen só sal ons DV (ja, as die Here wil), more met geloofsvertroue aanpak, in skerpe teenstelling met die arrogante “we, the people”, soos dit in die nuwe Grondwet uitgebasuin word – daardie “people” wat se selfvertroue toe al die tyd so dun en min is dat hulle deur ‘n virus die hasepad (of is dit die vlermuispad?) gekies het!