ROOMSE MISLEIDING ONTMASKER (2)

Ds A E vd Berg

Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker

Beheer deur misleiding

Die Romeine het aanvanklik nie eie gode gehad nie. Almal is van Griekeland af ingevoer. Hulle was uiters bygelowig en het in tye van oorlog baie van die gode verwag. Oorwinnings is met offergawes aan die gode gevier. Die grootste teleurstelling was egter in 218v.C. toe Rome deur Hannibal beleër en die gode ten spyte van duisende offers die vyand nie kon verdryf nie. Dit het die burgers byna onregeerbaar gemaak.  

Daarom het die keiser van strategie verander en sy onderdane met godsdiens begin mislei om die gepeupel te bedwing. Net ʼn vrees vir die onbekende het hulle in bedwang gehou. Rome het hierdie “geloof” gereeld met allerlei verhale, leuens en legendes versterk ten einde beheer te bly behou. Die RK het later dieselfde strategie gevolg – beheer deur misleiding.

 

Die Romeine het gode en godinne in alles raakgesien wat selfs by wyse van vormverwisselings geëet kon word.   Die RK sou met dieselfde onsinnigheid voor die dag kom en mense laat glo dat hulle tydens die misoffer die werklike liggaam en bloed van Christus eet en drink!      

Rome se godsdiens was ʼn stuk valse vroomheid wat slegs deur haar priesters aan die gang gehou is. Mense was te bygelowig om te besef dat hulle ʼn rat voor die oë gedraai word. Die keisers het hierdie misleiding verwelkom omdat dit die gepeupel in bedwang gehou het. Priesters was hul handlangers en spreekbuise. Die RK het niks daaraan verander nie.

Die tradisionele Romeinse heidendom het mettertyd begin taan.  Nadat Octaviusin 31v.C. ʼn bloedige burgeroorlog beëindig het, is hy met die titel Augustus (die verhewene) vereer en openlik aanbid. Keiseraanbidding het onmiddellik byval gevind. Dit was iets nuuts op die godsdienstoneel.

Op daardie tydstip was die bevolking van Rome nie baie Romeins nie. Behalwe vir ʼn welvarende heersersklas het dit grotendeels uit buitelandse soldate, handelaars, slawe en ambagslui bestaan.   Die Romeinse Ryk was ʼn uitgestrekte gebied wat deur wreedheid, bose ambisie, verraad, kruiperige onderdanigheid en korrupsie gekenmerk is.

Daarom moes die keisers van spioene gebruik gemaak om hulle op hoogte van sake te hou. Die vergoeding wat hulle ontvang het, was net so verfoeilik soos hul dade - priesterskappe, diplomatieke poste en goewerneurskappe. Dit het Rome tot ʼn raserny van verraad, onderdrukking, haat en opstand gedryf. Slawe is omgekoop om hul eienaars te verraai en hooggeplaastes is in die rug gesteek want onder skurke word niemand geëer nie!

Met geen vooruitsig om uit die groef van wantroue en haat te ontsnap of om die boeie van gedwonge onderdanigheid af te skud nie, was ʼn godsdiens wat ʼn beter hiernamaals voorgehou het vir baie mense die enigste ligpunt van hoop in ʼn sinnelose bestaan.

Vervolg...