Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Die bieg en selibaat
Die Roomse bieg is onteenseglik Babilonies van oorsprong en verskil van die Bybelse voorskrif: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar” (Jak.5:16). Min dinge het die Babiloniese priesters soveel mag oor mense besorg as die ‘bieg’. Met hierdie gedwonge onthullings het priesters feitlik alles van almal geweet. Inligting is mag; iets wat die RK goed verstaan en gebruik!
Lidmate word in ʼn bieghokkie tot bekendmaking aangemoedig. Tydens die bieg sê die lidmaat:
”Ek bely teenoor die almagtige God, die geseënde Maagd Maria, die geseënde aartsengel Michail, die geseënde Johannes die Doper, die heilige apostels Petrus en Paulus, al die heiliges, en aan u vader, dat ek gruwelik gesondig het”.
Maria, Johannes die Doper, Petrus, Paulus, Roomse heiliges asook die betrokke biegvader word op dieselfde vlak as God gestel asof daar teen almal gesondig is. Dis geheel onbybels!
“Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?” (Mark.2:7).
Net Christus vergewe sondes:
“Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe …” (Mt.9:6).
Die NT leer dat gelowiges hul sonde slegs op grond van Jesus se soenverdienste sonder enige tussenganger aan God bekend moet maak. Daarom maak die Bybel geen melding van die bieg nie. Dis ook nie in die vroeë kerk beoefen nie, maar uit die Babiloniese afgodery oorgeneem.
Die Roomse selibaat is nog ʼn Babiloniese praktyk. Alhoewel die RK die huwelik as ʼn sakrament huldig, verbied sy haar kerklui om te trou. Dis teenstydig. Enersyds ag die RK die huwelik as heilig en andersyds ontoeganklik vir haar kerklui. Die selibaat het geen Skrifgrond nie, maar ʼn leerstelling van die Satan:
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou” (1Tim.4:1-3).
Die Bybel maak wel van die vrywillige weerhouding van die huwelik melding. Dis wel ʼn seën, maar om die selibaat op kerklui af te dwing, is heidens en gee dikwels aanleiding tot seksuele vergrype waarvoor die RK berug is!
Johannes skryf:
“ … Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openb.17:5).
Toe pous Paulus V by geleentheid oorweeg het om al die wettige bordele in Rome te laat sluit, het die Senaat by hom gepleit om dit nie te doen nie en aangevoer dat dit ʼn positiewe rol in die gemeenskap vervul het. Dit het priesters verhoed om lidmate seksueel te teister!
Nêrens verbied Christus leraars om te trou nie. Toe Christus sy kerk opgerig het, het Hy apostels gekies waarvan sommige getroud was. Hy het bv.Petrus se skoonmoeder van koors genees. Volgens oorlewering het Petrus se vrou hom dikwels op sy sendingreise vergesel.
Indien die selibaat vir ʼn gemeente voordelig sou wees, sou Jesus net ongetroudes as apostelsgekies het. Hy het nie.
“’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou …” (1Tim.3:2).
Die huwelik is ʼn vrou se Godgegewe voorreg. Haar doel is nie om ʼn kluisenaarslewe te voer nie, maar om ʼn vrou vir haar man en moeder vir haar kinders te wees. Gevolglik voer nonne ʼn onmenslike stryd om hulle natuurlike, moederlike instinkte te onderdruk. Die RK laat alle hoop verdwyn. Die geestelike, psigiese en fisiese slawerny waarin Rome haar vroue ampsdraers gevange hou, is onmenslik wreed!
Kloosters was lank voor die Christen-era ʼn baie bekende instelling. Die Boeddhistiese kloostersisteem is minstens 500 jaar ouer as die Roomse sisteem. Boeddhiste het hulle monnike en heilige tempelmaagde in kloosters afgesonder. Hulle is verbied om te trou en het Boeddha met die aandra van heilige water, die lui van klokke en die vertoon van heilige skilderye gedien. Die RK aap ʼn soortgelyke heidensisteem na. Dis ʼn teenvoeter vir Jesus se opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees en dus nie agter hoë kloostermure moontlik nie.