Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Kruistekens
Die maak van die kruisteken oor die bors is een van die opvallendste kenmerke van Roomse lidmate. Geen aanbidding vind daarsonder plaas nie. Dis ook Babilonies van oorsprong en is as ʼn bewaringsteken teen bose magte gebruik. Daarom moet gelowiges kruissimbole liefs vermy.
Dit wat onnadenkend as die Christen-kruis aanvaar word, is eintlik Babilonies van oorsprong en oorspronklik as ʼn simbool ter ere van Tammuz, die hoere-seun van Semiramis, ontwerp en die tau genoem. Vandaar die T-voorkoms.
Dr. Austen Layard wat jare gelede in ou Mesopotamië opgrawings gedoen het, kon bevestig dat die Babiloniese tau ʼn kruisvormige amulet was wat deur die tempelmaagde as ʼn hangertjie op die hart gedra is. Roomse nonne doen dit ook!
Die kruissimbool is minstens 15 eeue ouer as die kerk self en deur talle heidennasies gebruik. Die Kelte het byvoorbeeld die kruis lank voor die geboorte van Christus geken. Die Spanjaarde was verbaas toe hulle die tempels van Anahuak in Mexiko met kruissimbole daarin gevind het, asook in omliggende lande.
Die vroeë gelowiges het hul daarvan weerhou om Jesus in sy staat van vernedering aan ʼn kruis voor te stel. Sy staat van verhoging en verheerliking as Een wat opgestaansen die dood oorwin het, was wensliker. Daarom het die eertydse Christen-kunstenaars niks van die kruisiging uitgebeeld nie. Die eerste uitbeelding daarvan was in die vyfde eeu met ʼn kruissimbool op ʼn houtdeur van die Santa Sabina-katedraal in Rome.
Die Roomse kruis spot in werklikheid met Jesus. Dit vertoon ʼn dooie Jesus wat aan ʼn kruis hang terwyl die Bybel sê dat Hy van die kruis afgehaal en drie dae later uit die dood opgestaan het. Daarom is die Protestantse kruis leeg. Om die kruis as ʼn voorwerp van beskerming te gebruik, skreeu teen God se beskerming van gelowiges (Ps.91).
Die laaste oliesel is nog ʼn heidense gebruik wat die RK tot sakrament verhef het. Dit bestaan uit die salwing van sterwendes deur priesters. Babiloniese priesters het ook ingewydes met magiese olie gesalf ten einde hulle tot die dieper geheime van die verborgenhede toe te laat. Die Bybelse salwing verskil egter ingrypend van dié van die RK.
Die RK se gebruik van lampe en kerse tydens godsdiensoefeningeis net so Babilonies van oorsprong. Oral waar die moderne Semiramis in ʼn nis plaas word, moet daar altyd kerse of lampe brand, al is dit helder oordag. Dit was so eie aan die Babiloniese beeldevereringseremonies. Die Boek van Barug vertel van hoe heidene opgeroep is om lampe en kerse vir hulle afgode te brand.
Die vroeë Christelike kerk het nie kerse vir godsdiensoefeninge gebruik nie. Dis as heidens beskou. Kerse is eers teen die einde van die derde eeu in die kerk begin gebruik. Die Christen-skrywer Lucius Lactantius lewer in die vierde eeu skerp kritiek op hierdie gebruik en sê dat dit dwaas is om kerse vir God te brand asof Hy in die duisternis leef!
Die RK is egter in ʼn verstikkende geloofsnag vasgevang. Daarom word daar by feitlik elke plegtigheid kerse aangesteek. Desondanks bly dit nag in haar siel. Miljoene gaan verlore omdat hulle deur die Roomse kerkstroom ver verby die reddende genade van Jesus Christus gevoer word. Hulle is soos grotdiertjies aan die geestesduisternis gewoond!