ROOMSE MISLEIDING ONTMASKER (SLOT)

Ds A E vd Berg

Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker

Terugkruipery

Dis uiters verontrustend om te sien hoeveel hoofstroomkerke hul Protestantse erfenis versmaai en stadig maar seker na die RK terugkruip. Dis alles aan die vangstrik van die ekumene te wyte; ʼn internasionale strewe na een algemene geloof in een strukturele kerkeenheid.

Jesus se Hoëpriesterlike gebed word as Skriftuurlike bewysplaas gebruik: “...dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh.17:21). Die teksuitleg is egter foutief.

In 1994 het ʼn dokument Evangelicals and Catholics Together die aap uit die mou gelaat.   Ekumene is ʼn wurgketting wat in Rome gesmee is waarmee Protestante na die Roomse hok teruggebring word.

Ekumene is as sulks nie sleg nie mits dit een doel nastreef – om verlorenes tot bekering te lei en gelowiges te versterk:

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het...” (Efes.2:1-3).

Ongelukkig gebeur dit nie. Ekumene streef eerder politieke en maatskaplike doelwitte na. Godsdiens is slegs ʼn handige werktuig soos wat die Babiloniërs en Romeine eeue gelede al ervaar het.

Die RK gee voor om oor kardinale sake eenstemmig met Protestante te wees. Dis ʼn leuen! Om gemeenskaplike dinge saam te gooi en Skrifverskille eenkant te laat, baan die weg vir sinkretisme; ʼn vermenging van die waarheid en die leuen. Dit het altyd ongewenste gevolge vir die kerk van Christus.

Alhoewel sy voorgee om op die agtergrond te wees, slaag die RK meesterlik daarin om met behulp van ekumene Protestantse kerke in die hok van gesamentlikheid in te jaag. Sy het immers ná die Hervorming gesweer dat alle Protestantse Kerke eendag na haar sal terugkruip. Dis besig om te gebeur!

Ekumene is egter geen nuwe gier nie. Dis al lankal daar.   Calvyn het ook ekumeniese gesprekvoering voorgestaan, maar slegs indien dit duidelik omskrywe was.   Ekumene sonder grense is niks anders as ʼn herlewing van die ou Romeinse heersersmodel nie – heers deur ʼn kunsmatige eenheid.  

Indien Protestantse kerke aan ekumeniese gesprekvoering wil deelneem, moet die doelstelling en grondslag baie duidelik wees. Indien dit nie aan die algemene belydenisskrifte gebonde is nie, lei dit tot ʼn onverskilligheid teenoor die eie kerkleer en verdraagsaamheid jeens dwaalleer. Aanvaarding lei tot gelykskakeling en gelykskakeling tot ʼn vernietiging van kern-Skrifwaarhede.

Kort voor pous Johannes Paulus II se dood het hy die vordering wat daar op ekumeniese gebied gemaak is aangemoedig en gesê dat God besig is om sy kinders wat uitmekaar gedryf is, weer te verenig. Pous Puis XI het al so vroeg as 1928 gesê dat ekumene nie as die terugkeer na een enkele kerk beskou moet word nie, maar eerder as ʼn nuwe manier van kerkwees.

Die moderne ekumene het sy oorsprong in 1925 gehad toe ʼn ekumeniese sinode in Stockholm gehou is.   Daar was geen belydenisgrondslag ter sprake nie, slegs ʼn onderlinge samesyn. Die organiseerders van hierdie sinode het geglo dat kerklike verskille mense van mekaar vervreem en gesamentlikheid hul sou verenig.   Daarna is talle ekumeniese byeenkomste gehou wat uiteindelik in 1948 tot die stigting van die Wêreldraad van Kerke (WRK) gelei het; een van die opvallendste wegbereiders vir die koms van die Antichris.

Ekumenisme het in Okt. 1962 opgevlam toe samewerking tussen Protestantse en die RK op die sakelys van die Vaticanum2 (Sinode) verskyn het. By hierdie geleentheid is ʼn interkerklike werkplan aanvaar wat Die Groot Toenadering tot ander Godsdienste genoem is.   Dit was kwansuis ontwerp om die breuk tussen Protestante en Roomsgesindes te herstel, maar in werklikheid net ʼn rookskerm om Protestantse kerke na Rome terug te lok.

Daarna is Protestantse kerke aangemoedig om ʼn gemeenskaplike Bybelvertaling aan die hand van Roomse manuskripte uit te gee.   In 1968 is eenstemmigheid met ʼn ekumeniese dokument Guiding Principles for Interconfessions Co-operation in Translating the Biblebereik. Dit het onder andere tot die druk van die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) gelei. Protestantse kerke het gemene sake met die RK gehad!

Kort hierna het ekumeniese druk op die NG Kerk daartoe bygedra dat sy haar opspraakwekkende openbare belydenisse oor sg. volksondes gemaak het.   Sy was immers die gewete van die Boerevolk.   Die gevolg was dat Suid-Afrika net hierna sonder slag of stoot aan magshonger booswigteoorhandig is en chaos en geweld gekom het om te bly.

Die ekumeniese druk om ʼn heiden-regering aan die suidpunt van Afrika gevestig te kry, is bedenklik.   Die slenter van ʼn universele liefdesevangelie van versoening en vergifnis het talle Protestantse kerke in ʼn horisontale versoeningsgier laat tol en met droewige gevolge kop laat verloor.  

Verwarde teoloë het kerke laat glo dat ekumeniese gesprekvoering Protestantse kerke die geleentheid sou bied om ʼn getuienis teenoor die RK se dwaalleer te lewer. Dit het nooit gebeur nie.   Die RK het die laaste gelag. Gesprekvoerings het almal in kompromievorming geëindig.

Die bedenklike invloed van die RK op Protestantse kerke kan duidelik in die NG Kerk se inkleding van haar eredienste gesien word. Sy het ʼn Rooms georkestreerde Bybelvertaling, vier die kindernagmaal en gebruik kerse by spesiale geleenthede.   Dis alles suiwer Rooms!