DIE HEMEL IS WERKLIK (2)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

PASTOOR JOB

In die volgende vertrek het ons rye akwariums en onderdak-"getypoele" aangetref. Ons het tussen die uitstallings rondgeloop en ons verkyk aan die seesterre, weekdiere en see-anemone wat soos onderwaterbloeisels gelyk het. Cassie en Colton het ge-oe en ge-aa terwyl hulle hul hande in mensgemaakte getypoele gesteek het en aan diertjies geraak het wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie.

Volgende het ons 'n massiewe atrium betree wat oorlopens toe vol was met oerwoudblare, rankplante en takke wat opgeklim het na die hemel. Ek het die palmbome en eksotiese blomme wat gelyk het of dit uit een van Colton se storieboeke kom, ingeneem. En reg rond­om ons het massas skoenlappers gedraai en gefladder.

Terwyl die kinders die plek verder ondersoek het, het ek teruggedink aan die vorige somer: Ek en Sonja het soos elke jaar deelgeneem aan 'n gemengde sagtebal-liga. Ons het gewoonlik in die topvyf geëindig, alhoewel ons in die "oumens-span" gespeel het - laat ek net verduidelik: mense in hul 30's wat dit uitspook teen spanne universiteitstudente. Dit het my nou as ironies getref dat ons gesin se sewe maande lange foltering begin het met 'n besering in die laaste wedstryd van ons laaste toernooi van die 2002-seisoen. Ek was binneveldspeler en Sonja was buiteveldspeler. Teen daardie tyd het Sonja haar meestersgraad in Biblioteekkunde verwerf en was sy vir my nog mooier as die eerste keer wat ek haar gesien het as eerstejaarstudent wat oor die plein van die Bartlesville Wesleyan College gestap het.

Die somer was amper verby maar die doodsnikke het gepaardgegaan met versengende hitte en 'n dors na reën. Ons het vanaf Imperial na die dorpie Wauneta gery vir 'n dubbele eliminasietoernooi. Om en by middernag het ons baklei om teen die ranglys op te klim terwyl ons onder die blouwit gloed van die spreiligte gespeel het.

Ek onthou nie wat die telling was nie, maar ek onthou ons was naby aan die einde van die wedstryd en die wentelling was binne bereik. Ek het geslaan en tot by die tweede bof gevorder. Ons volgende kolwer het op die veld gekom en die bal geslaan tot in die middelveld. Ek het my kans gesien. Terwyl 'n buiteveldwerker gehol het om die bal te kry, het ek genael na die derde bof.

Ek kon aanvoel dat die bal op pad was na die binne- veld.

Ons derdebof-afrigter het vervaard beduie: "Gly! Gly!"

Met adrenalien wat deur my are pomp, het ek neergeval en die rooi grond onder my linkerheup voel skuur. Die ander span se derdebofspeler het sy handskoen uitgesteek om die bal te vang en -

Kraak!

Die geluid van my been wat breek, was so hard dat ek my kon voorstel hoe die bal van die buiteveld ingevlieg het en my getref het. Die pyn het deur my maermerrie en enkel geskiet. Ek het op my rug geval en in die fetusposisie opgekrul. Toe het ek my knie tot teen my maag getrek. Die pyn was oorweldigend en ek onthou hoe die stof rondom my in 'n warboel bene, en toe bekommerde gesigte verander het. Twee van ons spelers, beide paramedici, het my te hulp gesnel.

Ek onthou vaagweg dat Sonja haar na my gehaas het om te kom kyk. Ek kon aan haar gesigsuitdrukking sien dat my been op 'n onnatuurlike manier gebuig was. Sy het teruggestaan sodat ons paramedici-vriende aan die werk kon spring. Na 'n 30 kilometer lange rit hospitaal toe het X-strale 'n paar slegte breuke onthul. Die tibia, of skeenbeen, het wat dokters 'n "spiraalbreuk" noem, opgedoen. Dit beteken dat elke eindpunte van die gebreekte been gelyk het asof dit letterlik "afgedraai" was. My enkel was ook gebreek. Dis waarskynlik wat ek gehoor het. Ek het later uitgevind dat die kraakgeluid so hard was dat die mense op die pawiljoen by die eerste bof dit kon hoor.

Daardie geluid het in my gedagtes herspeel terwyl ek en Sonja gekyk het hoe Cassie en Colton voor ons uittrippel in die atrium van die Butterfly Pavilion. Die kinders het op 'n bruggie gaan staan en gesels en beduie by 'n koi- dam. Massas skoenlappers het om ons gesweef en ek het na die brosjure gekyk wat ons by die voorhek gekoop het om te sien of ek die skoenlappers se name kon lees. Daar was bloumorfovlinders met donkerblougroen vlerke, swart-en-wit-ryspapiervlinders wat stadig en saggies gevlieg het soos koerantuitknipsels wat deur die lug dobber, en 'n tropiese skoenlapper met vlerke wat dieselfde kleur is as 'n ryp mango.

Op hierdie tydstip was ek maar net te bly om uiteindelik nie meer mank te loop nie. Benewens die ontsettende pyn van die spiraalbreuk, was die mees onmiddellike gevolg van my ongeluk die finansiële terugslag.

Dis nogal moeilik om met lere op en af te klim om motorhuisdeure te installeer met vyf kilogram gips en 'n knie wat nie kan buig nie. Ons bankbalans het vinnig en skielik agteruitgegaan. Op 'n leraar se salaris het die bietjie wat ons gespaar gehad het binne weke verdamp. Intussen het ons inkomste halveer.

Die pyn het egter verder gestrek as die geld. Ek het ook gedien as vrywilliger-brandweerman en hoërskool-stoeiafrigter, verpligtings wat in die slag gebly het weens my afbeen. Sondae was ook 'n uitdaging. Ek is een van daardie leraars wat heen en weer loop tydens 'n diens. Hoegenaamd nie 'n bulderende, vuur-en-swael-ou nie, maar ook nie 'n leraar wat op een plek staan en saggies liturgiese lesings gee nie. Ek is 'n storieverteller, en om stories te kan vertel, moet ek kan rondbeweeg. Maar nou moes ek sittende preek met my been op 'n tweede stoel geprop. Om van my te vra om sittende die Sondagpreek te lewer, is soos om van 'n Italianer te vra om te praat sonder om sy hande te gebruik. Maar so moeilik as wat die ongerief van my besering was, so min het ek geweet dat dit maar die eerste domino sou wees wat val.

Een oggend in Oktober - net toe ek gewoond geraak het aan die gehinkery op krukke - het ek wakker geword met 'n dowwe klopping in my lae-rug. Ek het onmiddellik geweet wat die probleem was: nierstene.

Die eerste keer toe ek 'n niersteen gehad het, was dit ses millimeter lank en moes ek geopereer word. Dié keer, na 'n klompie toetse, het die dokters besluit dat die stene klein genoeg was om uit te skei. Ek weet egter nie of dit noodwendig 'n goeie ding was nie: Ek het dit drie dae lank uitgeskei. Eenmaal het ek my middelvinger in 'n kardeur toegeslaan en die punt van my vinger verloor. In vergelyking hiermee was daardie vingerverloordery 'n vakansie. Selfs toe my been in vier stukke gebreek het, het ek nie dié hoeveelheid pyn ervaar nie.

Nogtans het ek oorleef. Teen November het ek al drie maande op krukke gewaggel en dit was tyd vir 'n opvolgbesoek.

"Die been is besig om reg aan te groei, maar ons moet dit nog in gips hou," het die ortopeed gesê. "Is daar nog iets wat pla?"

Om die waarheid te sê, was daar. Ek het 'n bietjie simpel gevoel om dit te noem, maar daar het 'n knop ontwikkel aan die linkerkant van my bors, net onder die oppervlak van die tepel. Ek is regshandig en het baie op my linkerkruk geleun terwyl ek geskryf het. Dus het ek gedink die kussinkie op die kruk het dalk oor die weke teen my bors geskuur en 'n soort irritasie onder die vel veroorsaak, iets soos 'n eelt.

Die dokter het onmiddellik dié moontlikheid uitgesluit. "Krukke maak nie so nie," het hy gesê. "Ek gaan 'n chirurg bel."

Die chirurg, dr. Timothy O'Holleran, het 'n naaldbiopsie gedoen. Die uitslae wat ek 'n paar dae later ontvang het, het my geskok: hiperplasia. Verduideliking: die voorloper van borskanker.

Borskanker! 'n Man met 'n gebreekte been, nierstene en - kom nou, regtig? - borskanker?

Later, toe ander leraars in die omgewing daarvan te hore kom, het hulle my pastoor Job begin noem, na die man in die Bybelboek Job wat getref is deur 'n string toenemend bisarre simptome. Vir nou het die chirurg egter dieselfde ding aanbeveel wat hy vir 'n vrou met dieselfde biopsie-uitslae sou aanbeveel het: 'n mastektomie.

Sterk, Midde-westelike vrou wat Sonja is, het sy 'n praktiese benadering tot die nuus gevolg. As die dokter chirurgie aanbeveel het, is dit die pad wat ons sou stap. Ons sou daardeur kom as gesin.

Ek het ook so gevoel. Maar ek het ook min of meer toe begin jammer voel vir myself. In die eerste plek was ek moeg daarvoor om te hinkepink op my krukke. Ook is 'n mastektomie nou nie die manlikste chirurgie ter wêreld nie. Om alles te kroon, het ek al 'n geruime tyd die kerkraad gevra om geld weg te sit vir 'n assistent vir my. Eers na die tweede rondte nierstene het die raad ingestem om iemand in die posisie aan te stel.

In plaas daarvan om dankbaar te wees soos ek moes, het ek wrokkig gevoel: So ek moet kreupel wees en op die randjie van 'n kankerdiagnose voor ek 'n bietjie hulp hier rond kry?

Een middag het my bejammeringspartytjie regtig mo­mentum gekry. Ek was onder op die eerste vloer van die kerkgebou, eintlik 'n tipe kelder, waar ons 'n kombuis, klaskamer en groot bymekaarkom-area gehad het. Ek was net klaar met my papierwerk en het begin om die trappe op te sukkel met my krukke. Onder, op die eerste trap, het ek begin kwaad word vir God.

"Dis nie regverdig nie," het ek hardop gekla terwyl ek treetjie vir treetjie, een kruk op 'n slag, die trappe aangedurf het. "Ek moet swaarkry en in hierdie miserabele toestand verkeer voor hulle vir my die hulp gee wat ek al lankal nodig het."

Ek het redelik selfvoldaan in my martelaarskap ge­voel, en net toe ek die boonste trap bereik, het 'n klein, stil stem in my hart gepraat: En wat het my Seun vir jou gedoen?

Vol berou en beskaamd oor my selfsug het ek onthou wat Jesus aan sy dissipels gesê het naamlik dat 'n leerling nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar is nie-" (Matt. 10:24). Toegegee, ek het 'n rowwe paar maande agter die rug gehad, maar dit was niks in vergelyking met wat baie ander mense deurgemaak het nie - selfs op daardie oomblik. God het my geseën met 'n groepie gelowiges en my die opdrag gegee om hulle te dien en hul herder te wees, en hier was ek besig om by God te kerm omdat daardie gelowiges my nie wou dien nie.

"Here, vergewe my," het ek gesê en voortbeweeg met hernude krag, asof my krukke arendsvlerke was.

Die waarheid was dat my kerk my wel bedien het. Hulle het my liefgehad deur spesiaal 'n tyd van gebed aan my af te staan. Een oggend aan die begin van Desember het dr. O'Holleran my gebel met vreemde nuus: nie net was die weefsel goedaardig nie; dit was ook totaal normaal. Normale borsweefsel. "Ek weet nie hoe dit moontlik is nie. Die biopsie het beslis hiperplasia getoon, so ons het verwag om dieselfde te vind in die borsweefsel wat tydens die mastektomie verwyder is. Maar die weefsel was doodnormaal. Ek weet nie wat om te sê nie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie."

Ek het geweet: God het my liefgehad deur 'n wonderwerkie.