Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
DIE TROONKAMER VAN GOD
Een aand toe dit amper Kersfees was, het ek Colton teen slaaptyd in sy kamer ingevolg. Hy het volgens ons gewone roetine 'n Bybelstorie gekies wat ek vir hom sou lees, en daardie aand was dit "Die wyse koning en die baba". Die storie is gebaseer op die verhaal in 1 Konings waarin twee vroue onder een dak woon en albei 'n babaseun het. Gedurende die nag sterf een van die babas. Die ma van die dooie seun is so oorweldig deur smart dat sy probeer om die lewendige seun as haar eie op te eis. Die regte ma van die lewendige seun probeer die vrou in smart van die waarheid oortuig, maar kry dit nie reg om haar te oorreed om die oorlewende kind terug te gee nie. Die ma van die oorlewende seun is desperaat om haar kind terug te kry en stel voor dat koning Salomo - alombekend vir sy wysheid - die saak beslis en vasstel wie die ware ma is. In die Bybelse verhaal maak koning Salomo 'n plan om uit te vind wat in albei vroue se harte aangaan.
"Sny die kind middeldeur!" beveel die koning. "Gee aan elke vrou 'n helfte."
Die hartseer ma stem saam met die voorstel, maar die regte ma wys haar liefde deur te skree: "Nee! Sy kan maar die kind kry!" En so het die wyse koning agtergekom wie die waarheid gepraat het.
Ek het aan die einde van die storie gekom en ek en Colton het ons gewone stryery gehad oor of ons die storie weer (en weer en weer en weer) sou lees, of nie. Die keer het ek gewen. Toe ons op die vloer kniel om te bid, het ek die boek op die mat neergesit. Dit het oopgeval by 'n illustrasie van koning Salomo op 'n troon. Dit het my bygeval dat die Bybel op baie plekke van God se troon praat. Die outeur van die boek Hebreërs maan gelowiges: "Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon" (Heb. 4:16), en sê noudat Jesus se werk op aarde voltooi was, sit Hy "aan die regterkant van die troon van God" (Heb. 12:2). Dan is daar ook daardie glorieryke hoofstuk in Openbaring wat God se troon beskryf:
En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan." Toe sê Hy wat op die troon sit: "Kyk, Ek maak alles nuut."
'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp (Op. 21:2-5,22-23).
"Sê my, Colton, toe jy in die hemel was, het jy ooit God se troon gesien?"
Colton het my vraend aangekyk. "Wat is 'n troon, Pappa?"
Ek het die Bybelstorieboekie opgetel en vir hom Salomo in sy troonkamer gewys. "'n Troon is soos 'n koning se stoel. Net die koning mag op daardie stoel sit."
"O, ja, ek het dit baie keer gesien!" het hy geantwoord.
My hart het effens vinniger geklop. Sou ek regtig 'n blik op die hemelse troonkamer kry? "Wel, hoe het God se troon gelyk?"
"Dit was groot, Pappa ... baie, baie groot, want God is die grootste een wat daar is. En Hy is baie, baie lief vir ons, Pappa. Pappa sal nie glo-o-o-o-o hoe baie Hy ons liefhet nie!"
Terwyl hy dit vertel het, het die kontras my getref: Colton, 'n klein kindjie, het van 'n wese so groot vertel - maar sy volgende sin het gehandel oor liefde. God se grootte het Colton duidelik nie afgeskrik nie. Wat ook interessant was, was dat Colton ewe gretig vertel het hoe God teenoor ons gevoel het as hoe God gelyk het.
"En weet Pappa dat Jesus reg langs God sit? Jesus se stoel is langs sy Pa s'n!"
Daar is geen manier dat 'n vierjarige dit kon weet nie. In hierdie oomblik het ek weer gedink: Hy het dit beslis gesien.
Ek was nogal seker dat hy nog nooit van die boek Hebreërs gehoor het nie, maar daar was net een manier om uit te vind.
"Colton, aan watter kant van God se troon het Jesus gesit?"
Colton het op die bed geklim en op sy kniee na my gekyk. "As ons speel Pappa sit op God se troon, het Jesus daar gesit," het hy gesê en na my regterkant beduie.
Die gedeelte in Hebreërs het by opgekom: "Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hard loop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God" (Heb. 12:1-2).
Sjoe. Dit was 'n seldsame geleentheid waarin ek Colton se geheue kon toets teen dit wat in die Bybel staan en hy het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Ek het egter nog 'n vraag vir hom gehad, 'n vraag waarvan ek nie die antwoord geken het nie omdat die antwoord nie in die Bybel staan nie.
"En wie sit aan die ander kant van God se troon?" "Ag, dis maklik. Dis waar die engel Gabriël sit. Hy is baie vriendelik."
Gabriël. Dit maak sin. Ek het die storie van Johannes die Doper onthou en die oomblik toe Gabriël met die nuus van Johannes se komende geboorte opgedaag het.
Maar die engel sê vir hom: "Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here."
Toe sê Sagaria vir die engel: "Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd."
Die engel antwoord hom: "Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring" (Luk.1:13-15,18-19).
"Ek staan in diens van God," het Gabriël aan Sagaria gesê. En nou, meer as 2 000 jaar later, het my seuntjie dieselfde ding aan my gesê.
Ek het dus my blik op die hemelse troonkamer gekry, maar Colton se beskrywing het my laat wonder: As God die Vader op sy troon gesit het, en Jesus regs van Hom en Gabriël links van Hom, waar was Colton?
Colton het alreeds onder sy kombers ingekruip met sy blonde koppie teen sy Spider-Man-kussingsloop. "Waar het jy gesit, Colton?"
"Hulle het vir my 'n klein stoeltjie ingedra," het hy met 'n glimlag gesê. "Ek het by God die Heilige Gees gesit. Het Pappa geweet God is drie Persone, Pappa?"
"Ja, ek dink darem ek het dit geweet," het ek geglimlag.
"Ek het by die Heilige Gees gesit omdat ek vir Pappa gebid het. Pappa het die Heilige Gees nodig gehad, so ek het vir Pappa gebid."
Dit het my asem weggeslaan. Colton wat gesê het hy het in die hemel vir my gebid, het my aan die brief aan die Hebreërs herinner. Die skrywer sê: "Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het ... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop" (Heb. 12:1).
"Hoe lyk die Heilige Gees?"
Colton het gefrons. "Hmm, dis nogal moeilik ... Hy is soort van blou."
Terwyl ek nog besig was om my dit te probeer voorstel, het Colton al weer van koers verander. "Dis ook waar ek vir Pop ontmoet het."
"Het jy Pop ontmoet terwyl jy by die Heilige Gees gesit het?"
Colton het sy koppie hewig geknik en dit het gelyk of die herinnering aangenaam was. "Jip. Pop het na my toe gekom en gevra: Is Todd jou pa?' en ek het ja gesê. Toe sê Pop: “Hy's my kleinseun."
Hoeveel keer wanneer ek 'n begrafnis gelei het, het die treurendes nie die goedbedoelde cliches gesê nie: "Wel, sy is in 'n beter plek," of: "Ons weet hy kyk af na ons en glimlag," of: "Jy sal hom weer eendag sien." Ek het natuurlik hierdie stellings teoreties geglo, maar om eerlik te wees, kon ek my dit nie voorstel nie. Nou, na wat Colton van Pop en van sy sussie gesê het, het ek anders oor die hemel begin dink. Nie net 'n plek van juweelversierde hekke, blink riviere en strate van goud nie, maar 'n koninkryk van blydskap en deelgenootskap, vir hulle wat saam met ons in die ewigheid is, maar ook vir hulle wat nog op die aarde is - hulle na wie se aankoms daar met gretigheid uitgesien word, 'n Plek waar ek eendag sal kan gesels met my oupa wat so baie vir my beteken het, en met die dogter wat ek nooit ontmoet het nie.
Ek wou met my hele hart glo. Die besonderhede van al ons gesprekke het soos 'n klomp foto's in my gedagtes opgekom. Foto's van die hemel wat baie akkuraat gelyk het wanneer ons kyk na al die beskrywings in die Bybel, wat aan ons almal beskikbaar is - of minstens, aan almal wat kan lees. Tog was hierdie besonderhede vir die meeste volwassenes maar obskuur, wat nog te sê 'n kind van Colton se ouderdom. Die aard van die Drie-eenheid, die rol van die Heilige Gees, Jesus wat aan God se regterhand sit.
Ek het geglo. Maar hoe kon ek seker wees?
Ek het Colton se kombers platgestryk oor sy bors en hom snoesig toegemaak, soos hy daarvan hou. Toe het ek hom vir die eerste keer vandat hy oor die hemel begin praat het, aspris probeer uitvang. "Ek onthou jy het gesê jy't by Pop gebly. Wat het julle twee gedoen wanneer dit donker geword het en jy saam met hom huis toe gegaan het?"
Skielik ernstig, het Colton kwaai gesê: "Dit word nie donker in die hemel nie, Pappa! Wie het Pappa dit vertel?"
"Wat bedoel jy dit word nie donker nie?"
"God en Jesus maak die hemel lig. Dit word nooit donker nie. Dis altyd helder."
Die grap was ten koste van my. Nie net het Colton nie vir my "wanneer dit donker geword het"-lokval geval nie, hy kon my ook vertel waarom dit nooit donker was nie: "Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp" (Op. 21:23).
Vervolg...