DIE HEMEL IS WERKLIK (18)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

JESUS HET REGTIG DIE KINDERS LIEF

Aan die einde van 2003 en vroeg in 2004 was daar 'n sekere klompie goed waarop Colton oënskynlik gefikseer het. Hy het op 'n vreemde - baie vreemde - manier oor die dood en doodgaan gepraat vir 'n vierjarige. Hy het ook verder vertel hoe die hemel lyk. Hierdie besonderhede het in brokkies uitgekom tydens aandete, terwyl hy saam met Sonja dagtakies verrig het en gedurende die algemene vloei van die lewe.

Hy het gesê hy het die hemelse hekke gesien: "Dit was van goud gemaak met pêrels op." Die hemelse stad self was van iets blink gemaak, "soos goud of silwer". Die blomme en bome in die hemel was "pragtig" en daar was diere van elke soort.

Maak nie saak met watter nuwe brokkies inligting hy vorendag gekom het nie, Colton het een deurlopende tema gehad: Hy het aanhoudend gepraat oor hoeveel Jesus die kinders liefhet. Ek oordryf nie: aanhoudend.

Hy sou in die oggend opstaan en aan my sê: "Weet Pappa wat? Jesus het vir my gesê om vir Pappa te sê Hy is regtig lief vir kinders."

Tydens aandete: "Onthou, Jesus is regtig lief vir die kinders."

Voor slapenstyd, terwyl ek hom help tande borsel het: "Haai, Pappa, moenie vergeet nie," sou hy met 'n mond vol tandepasta sê, "Jesus het gesê Hy is regtig, regtig lief vir die kinders!"

Sonja het dieselfde behandeling ontvang. Sy het teen daardie tyd weer deeltyds begin werk, en die dae wat sy tuis by Colton was, sou hy die hele dag lank vrolik vertel hoe lief Jesus die kinders gehad het. Dit het naderhand nie meer saak gemaak watter Bybelstorie ons vir ons klein evangelies gelees het nie - of dit nou uit die Ou of Nuwe Testament gekom het, oor Moses of Noag of koning Salomo gehandel het - Colton sou altyd die aand afsluit met dieselfde boodskap: "Jesus is lief vir die kinders!"

Uiteindelik moes ek aan hom sê: "Colton, ons verstaan. Jy kan maar ophou. Wanneer ek in die hemel kom, is jy vrygespreek. Ek sal vir Jesus sê jy het jou taak goed gedoen."

Ons het dalk moeg geraak van Colton se nimmereindigende boodskap oor Jesus se liefde vir kinders, maar dit het die manier waarop ons ons kerk se kinderbediening benader het, totaal verander. Sonja was altyd verdeeld tussen of sy in die aanbiddingspan moes sing op Sondagoggende en of sy Sondagskool vir die kinders moes gaan aanbied. En hoewel sy geweet het die meeste mense wat geloof in Jesus bely, het dit op 'n jong ouderdom gedoen, was dit Colton se passievolle aandrang op Christus se liefde vir kinders wat Sonja nuwe energie vir ons kinderbediening gegee het.

Ek het ook meer vrymoedig geraak om kerklidmate te vra om in ons kinderbediening te kom dien. Oor die jare was dit altyd 'n gesukkel om mense te kry wat inwillig om Sondagskool te onderrig. Hulle sou doodeenvoudig antwoord: "Ek het laas jaar my beurt gehad," of: "Ek is te oud daarvoor."

Wanneer ek nou sulke verskonings moes aanhoor, het ek mense in liefde herinner dat Jesus tog duidelik kinders as kosbaar beskou het - en as Hy kinders lief genoeg het om te sê dat volwassenes meer soos hulle moet wees, ons ook meer tyd daaraan moes bestee om hulle lief te hê.

Gedurende hierdie tyd het Colton ook behep geraak met reënboë. Al sy gepraat van die manjifieke kleure in die hemel het my en Sonja aan Openbaring laat dink. Die apostel Johannes skryf spesifiek van die reënboog wat God se troon omring (Op. 4:3) en hy beskryf die stad as 'n skitterende stad van goud:

Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieel lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis (Op. 21:18-20).

Sommige van daardie edelstene se kleure is aan ons bekend: die ryke violet van 'n ametis, die heldergroen van 'n smarag, die deursigtige goud van 'n topaas, die bodemlose swart van 'n oniks. Ander is minder bekend: chrisoliet, wat lig na olyfgroen is; hiasint, 'n deurskynende rooi. Berilstene kom in baie kleure voor, van ligpienk tot diep groen tot blougroen.

Johannes se beskrywing van die onbekende edelstene is so eksoties dat ons eers die minerale moet naslaan om uit te vind van watter kleure hy praat; volwasse teoloë wil presies wees. As 'n kind egter al daardie kleure sou sien, sou hy dit dalk in 'n enkele woord opsom: reënboog.

Toe die pragtigste reënboog wat ons tot nog toe gesien het dus in die lente van 2004 oor Imperial verskyn het, het ons hom buitentoe geroep om te kom kyk.

Sonja het dit eerste raakgesien. Sy was toe net 'n paar weke swanger met die baba wat ons nou definitief as ons vierde kind beskou. Dit was 'n warm sonskyndag en sy het die voordeur oopgemaak sodat die varsheid die huis kon instroom. "Haai, julle, kom kyk gou!" het sy geroep.

Ek het deur die eetkamer tot by die voordeur geloop, en ek was verstom om 'n reënboog te sien wat so helder was dat dit soos 'n skildery van die perfekte reënboog gelyk het. Of soos 'n kind wat met sy splinternuwe vetkryte sy wetenskaples oor die kleure van 'n reënboog geïllustreer het. Elke kleur skerp van die volgende geskei, en die hele boog vlammend teen 'n perfekte blou hemel.

"Het dit gereën en ek het nie agtergekom nie?" het ek Sonja gevra.

Sy het gelag. "Ek dink nie so nie."

Colton was in die gang af in die speelkamer. "Colton, kom kyk gou hier buite," het ek geroep.

Hy het hom by ons kom aansluit op die voorstoep.

"Kyk na die reënboog, Colton," het Sonja gesê. "Daar behoort beslis 'n groot pot goud aan die einde daarvan te wees."

Colton het sy oë op skrefies getrek en na die kleure gekyk wat oor die lug geverf was.

"Cool," het hy ongeêrg geglimlag. "Ek het gister daarvoor gebid."

Toe het hy omgedraai en verder gaan speel.

Ek en Sonja het na mekaar gekyk: Wat het nou net gebeur?

Later het ons weer oor die gebede van 'n kind wat suiwer glo, gepraat. "Vra, en vir julle sal gegee word," het Jesus gesê. Hy het daardie opdrag geplaas in die konteks van 'n kind wat sy pa om sy seën vra. "Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra?" het Jesus aan die skare gevra wat saamgedrom het in Galilea om Hom te hoor onderrig. "As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?" (Matt. 7:7, 9-11).

Colton Burpo het vir 'n lang tyd nie 'n reënboog gesien nie, toe vra hy sy hemelse Vader om een te stuur. Geloof soos 'n kind. Miskien, het ek en Sonja gedink, kan ons nog baie by ons seun leer.

Vervolg...