DIE HEMEL IS WERKLIK (20)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

DIE EERSTE PERSOON WAT JY SAL SIEN

Die grootste gedeelte van die somer het verbygegaan sonder enige verdere onthullings deur Colton, hoewel ek seker is ons het die "Hoe lyk Jesus?"-speletjie tydens ons vakansie gespeel en Colton het elke prentjie afgekeur. Uiteindelik het ons, in plaas daarvan om te vra: "Lyk die een reg?" naderhand net gevra: "So, wat is fout met die een?"

Augustus het aangebreek en daarmee saam die bekende kermis van die Chase-distrik wat in Imperial gehou word. Naas die staatskermis, was ons kermis die grootste in westelike Nebraska. In Imperial en die omliggende dorpe is dit die gebeurtenis van die jaar. Vir 'n hele week laat in Augustus vermeerder Imperial se populasie van 2 000 na omtrent 15 000.

Besighede pas hul ure aan (of maak heeltemal toe), en selfs die banke maak twaalfuur die middag toe sodat die hele gemeenskap kan gaan kyk na die konserte (rock op Vrydagaand, country op Sater- dagaand), stalletjies en die tuimeltreine en ligte van die groot karnaval.

Ons sien elke jaar uit na die besienswaardighede, klanke en geure van die kermis: springmielies, braaivleis en "Indiaanse taco's". Countrymusiek hang in die lug en die kermiswiel troon bo alles uit en kan van oral in die dorp gesien word.

Die kermis is beslis 100% Midde-Westelik met kompetisies om die beste bul, beste perd, beste vark, ensovoorts, te bepaal. Dan is daar ook die kinders se gunsteling: skaapry. Tydens dié speletjie word 'n kind op 'n skaap gesit en moet die kind so lank moontlik vasklou sonder om af te val. Elke ouderdomsgroep vanaf vyf tot sewe kry 'n yslike trofee. Trouens, die trofee vir eerste plek is gewoonlik groter as die deelnemertjie self.

Ons kermis het beslis 'n kleindorpse geur, soos een lemonade-entrepreneur op die harde manier geleer het. Hy het een jaar besluit hy sou meer van die heerlike drankie kon verkoop deur 'n aantal skraps geklede verkoopsdames by sy stalletjie te laat werk. Na 'n aand of wat het die mense begin kla oor die gewaagde uitrustings van die dames en moes 'n paar besorgde inwoners vir die man gaan sê dat die lemonademeisies meer klere moes aantrek. Maar nou ja, die man het nogal 'n lang tou kopers voor sy stalletjie gehad daardie eerste paar aande.

In Augustus van 2004 het ek en Sonja 'n stalletjie gehad om ons garagedeurbesigheid aan besoekers van omliggende dorpe bekend te stel. Soos altyd moes ek goed beplan om 'n balans te kon handhaaf tussen ons besigheid en om na ons gemeente om te sien. Een warm kermismiddag het al vier van ons - ek, Sonja en die kinders - die stalletjie beman. Ons het brosjures uitgedeel en met potensiële kliente gesels. Ek moes egter 'n paar blokke daarvandaan by 'n man genaamd Harold Greer gaan kuier. Hy was in die Imperial Manor-verpleeginrigting.

Op daardie stadium het Harold se dogter, Gloria Marshall, die klawerbord gespeel in ons kerk se aanbiddingspan en haar man, Daniël, het die aanbidding gelei en was ook assistentleraar. Harold was self vir die grootste gedeelte van sy lewe 'n leraar. Hy was in sy 80's en besig om te sterf. Ek het geweet sy laaste ure sou binnekort aanbreek en dat ek hom moes gaan besoek ter ondersteuning van Daniël en Gloria en dat ek minstens nog een maal saam met Harold moes gaan bid.

Wanneer jy 'n leraar/vrywilliger-brandweerman/ stoeiafrigter/besigheidseienaar is, wat al die balle in die lug probeer hou sonder om een te laat val, leer jy gou dat kinders maar saam met jou geneem moet word. Sonja het ook haar hande vol gehad as leraarsvrou ('n voltydse beroep), ma, biblioteekvrywilliger en sekretaresse van die gesinsbesigheid. Ons het oor die jare die gewoonte aangekweek dat ons 'n kind sou saamneem indien ons nie formeel moes gaan werk nie. Daardie middag het ek dus vir Sonja, toe sewe maande swanger, en Cassie by ons kermisstalletjie gelos en Colton saam met my na die verpleeginrigting geneem.

Colton het by die venster uitgetuur toe ons verby die kermiswiel ry op pad uit die kermisgronde uit. "Ons gaan by Gloria se pa, Harold, by die verpleeginrigting kuier," het ek gesê. "Dit gaan nie baie goed met hom nie en hy het waarskynlik nie meer baie tyd oor nie. Harold het lank gelede al sy lewe aan Jesus gegee en hy maak gereed om hemel toe te gaan."

Colton het nie weggekyk van die venster af nie. "Oukei, Pappa."

Die verpleeginrigting is 'n groot eenverdiepinggebou met 'n yslike eetsaal wat uit die voorportaal loop. Daar is ook 'n massiewe binnenshuise voelkou vol tjilpende vinke wat die natuur na binne bring.

Toe ek by Harold se kamer inloer, het ek Daniël en Gloria gesien, asook drie of vier familielede, onder meer Harold se twee ander dogters.

Daniël het opgestaan. "Hallo, pastoor Todd," het hy gesê terwyl ek sy handdruk verander het in 'n stewige druk. Gloria het opgestaan en ek het haar ook 'n stywe drukkie gegee. Die familie het Colton gegroet, wat aan my hand gehang het terwyl hy almal skaam teruggegroet het.

Ek het na Harold se bed gedraai en gesien hy lê tjoepstil, terwyl hy vir lang rukke nie asemhaal nie en dan diep inasem. Ek het al baie male vantevore mans en vroue in hierdie fase van die einde van hul lewe gesien. Wanneer die laaste oomblikke aanbreek, verloor hul van tyd tot tyd hul bewussyn en selfs wanneer hulle wakker is, is hulle verstand net vir kort tydjies helder.

Ek het na Gloria gedraai. "Hoe gaan dit met jou pa?"

"Ek dink nie hy het veel tyd meer oor nie." Sy het probeer dapper lyk, maar haar onderlip het gebewe. Net toe het Harold saggies begin kreun en onder die dun laken gedraai. Een van Gloria se susters het na hom toe geloop en gerusstellende woorde aan hom gefluister. Toe het sy weer by die venster gaan sit.

Ek het by Harold se kop gaan staan en Colton het my soos 'n skaduweetjie gevolg. Harold het op sy rug gelê. Hy was maer en besig om bles te word, sy oë skaars oop, lippe effens uitmekaar. Hy het ingeasem deur sy mond en dan asem opgehou, asof hy elke laaste suurstofmolekule wou benut voor hy uitasem. Ek het na Colton gekyk wat opgekyk het na Harold. Colton se gesiggie was heeltemal kalm en gerusstellend. Ek het my hand op die ou leraar se skouer geplaas, my oë gesluit en hardop gebid. Ek het God herinner aan Harold se lang en getroue diens en gevra het dat die engele sy reis 'n vinnige en maklike een sou maak, en dat God sy dienaar met groot vreugde sou ontvang. Toe ek klaar gebid het, het ek weer by die familie aangesluit. Colton het saam met my begin stap, maar toe draai hy skielik om en gaan staan weer langs Harold.

Terwyl ons toekyk, het Colton Harold se hand geneem. Almal het aandagtig gekyk en geluister. Colton het ernstig na Harold gekyk en gesê: "Dit sal oukei wees. Die eerste persoon wat jy gaan sien, gaan Jesus wees."

Sy stem was saaklik, asof hy iets so bekend soos die brandweerstasie beskryf. Daniël en Gloria het na mekaar gekyk en dit het vir my onwerklik gevoel. Ek was teen daardie tyd al gewoond daaraan dat Colton oor die hemel gepraat het, maar nou het hy 'n boodskapper geword - 'n klein toergidsie vir 'n reisiger wat op pad was na die hemel.

Vervolg...