DIE HEMEL IS WERKLIK (21)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

NlEMAND IN DIE HEMEL IS OUD NIE

Toe Pop in 1975 oorlede is, het ek 'n paar dinge geêrf. Ek was bly om die .22-geweer waarmee ek en hy saam preriehonde en hase gejag het, te ontvang. Ek het ook Pop se keëlbal geêrf en later 'n ou lessenaar wat my oupa so lank as wat my ma kon onthou, gehad het. Die hout is donker getint, en dit was 'n interessante stuk, eerstens omdat dit nogal klein was vir so 'n groot man, en tweedens omdat die deel waaronder jy jou stoel instoot, 'n kurwe om jou lyf gemaak het en nie reguit was soos 'n gewone lessenaar nie. Toe ek 'n tiener was en houtwerk by die skool my gunsteling vak was, het ek ure in my ouers se garage deurgebring, besig om Pop se lessenaar te restoureer. Toe het ek dit na my kamer geskuif ter herinnering aan 'n sout-van-die-aarde-man.

 

Vandat ek die lessenaar begin gebruik het, het ek 'n foto van Pop in die boonste linkerlaai gebêre en elke dan en wan met heimwee daarna gekyk. Dit was die laaste foto wat van my oupa geneem was; hy was 61 met wit hare en 'n bril. Toe ek en Sonja getrou het, het die lesse­naar en foto deel van die huishouding geword.

Nadat Colton begin praat het daarvan dat hy Pop in die hemel ontmoet het, het ek agtergekom hy gee spesifieke besonderhede van hoe Jesus lyk, en hy het sy ongebore suster beskryf as "net 'n bietjie kleiner as Cassie en haar hare is donker". Wanneer ek hom egter oor Pop uitgevra het, het hy hoofsaaklik van Pop se klere en die grootte van sy vlerke gepraat. As ek oor Pop se gelaatstrekke uitgevra het, was Colton vaag. Ek moet erken, dit het my nogal gepla.

Eendag, nie lank na ons rit Benkelman toe nie, het ek Colton kelder toe geroep en die kosbare foto van Pop uit die laai gehaal.

"Dis hoe ek Pop onthou," het ek gesê.

Colton het die fotoraam in albei hande geneem en vir 'n minuut of wat daarna gekyk. Ek het gewag dat hy Pop moes herken, maar hy het nie. Trouens, hy het gefrons en sy kop geskud. "Pappa, niemand in die hemel is oud nie. En niemand dra 'n bril nie."

Toe draai hy om en marsjeer die trappe op.

Niemand in die hemel is oud nie ...

Die stelling het my laat dink. 'n Ruk later het ek my ma in Ulysses gebel. "Het Ma foto's van Pop as jong man?"

"Ek is seker ek het. Ek sal egter eers bietjie moet soek. Kan ek dit vir jou pos?"

"Nee, ek wil nie hê dit moet wegraak nie. Pos sommer 'n fotostaat daarvan, asseblief."

'n Paar weke het verbygegaan. Op 'n dag het die koevert van Ma af opgedaag met 'n fotostaat van 'n ou swart-en-wit-foto. Later het ek uitgevind Ma het dit uit 'n boks uitgegrawe wat in 'n slaapkamerkas gebêre was vandat Cassie 'n babatjie was. Die boks was twee jaar voor Colton se geboorte laas oopgemaak.

Daar was vier mense in die foto en Ma het 'n nota geskryf om te verduidelik wie hulle was: my ouma Ellen in haar 20's. Sy was nou in haar 80's en het in Ulysses gewoon. Ons gesin het haar 'n paar maande vantevore gesien. Die foto het ook my ma as babadogtertjie van omtrent 18 maande oud gewys; my oom Bill, wat omtrent ses was; en Pop, 'n aantreklike man van 29, toe die foto in 1943 geneem is.

Natuurlik het ek nooit vir Colton gesê dit pla my dat hy nie Pop op my foto herken het nie. Daardie aand het ek en Sonja in die voorkamer gesit toe ek Colton boontoe geroep het. Dit het 'n rukkie geneem voor hy sy verskyning gemaak het. Ek het die fotostaat wat Ma gestuur het, uitgehaal.

"Kom kyk gou hier, Colton," het ek gesê. "Wat dink jy hiervan?"

Hy het die foto geneem en daarna gekyk. Toe het hy verras opgekyk na my. "Haai, waar het Pappa hierdie foto van Pop gekry?" het hy bly gevra.

Ek en Sonja het verstom na mekaar gekyk.

"Colton, herken jy enigiemand anders op die foto?" het ek gevra.

Hy het sy kop stadig geskud. "Nee ... "

Ek het na my ouma gewys. "Wie dink jy is dit?"

"Ek weet nie."

"Dis ouma Ellen."

Colton het skepties gelyk. "Dit lyk nie soos ouma El­len nie."

Ek het na Sonja gekyk en saggies gelag. "Wel, dis hoe sy lank terug gelyk het."

"Kan ek nou gaan speel?" het Colton gevra en die papier teruggegee.

Toe hy uit die vertrek is, het ek en Sonja vir mekaar gesê hoe interessant dit was dat Colton Pop herken het op 'n foto wat meer as 'n halfeeu voor sy geboorte geneem is - 'n foto wat hy nog nooit vantevore gesien het nie - en tog het hy nie sy oumagrootjie herken wat hy net 'n paar maande vantevore gesien het nie.

Na ons daaroor nagedink het, het ons besluit die feit dat die Pop saam met wie Colton tyd deurgebring het, nie meer 61 was nie, maar in sy fleur, goeie en slegte nuus ingehou het: Die slegte nuus is dat ons steeds soos onsself in die hemel sal lyk. Die goeie nuus is dit sal ons jonger weergawes wees.

Vervolg...