DIE HEMEL IS WERKLIK (24)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

DIE ENGELE SE SWAARDE

Vanuit 'n kind se perspektief was die beste ding omtrent 2005 waarskynlik die vrystelling van The Lion, the Witch and the Wardrobe. Ons het die kinders tydens die Kersseisoen geneem om die fliek op die groot skerm te gaan kyk. Ek en Sonja was opgewonde om die eerste hoëgehalte-dramatisering te sien van C.S. Lewis se The Chronicles of Narnia-reeks, boeke wat ons as kinders geniet het. Colton was meer opgewonde oor 'n fliek waarin goeie ouens teen slegte ouens veg met swaarde.

Vroeg in 2006 het ons die DVD uitgeneem. Ons het almal op die mat gesit. Ek, Sonja en Cassie het met ons rue teen die sitkamerbank geleun. Colton en Colby het op hul knieë voor ons gesit en Aslan, die krygerleeu, en die Pevensie-kinders, Lucy, Edmund, Peter en Susan, aangemoedig. Die huis het selfs soos 'n fliekteater geruik met bakke springmielies, warm uit die mikrogolf, wat binne bereik op die mat gestaan het.

 

Ingeval jy nog nie The Lion, the Witch and the Wardrobe gesien het nie: Dit speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog toe die Pevensie-kinders uit Londen weggestuur word na die huis van 'n eksentrieke professor. Lucy, Ed­mund, Peter en Susan is baie verveeld totdat Lucy op 'n towerkas afkom wat na die towerkoninkryk Narnia lei. Nie net kan die diere in Narnia praat nie, maar daar woon ook ander kreature soos dwerge, kabouters en perdmense. Die land word regeer deur Aslan, 'n wyse, goeie koning, maar sy aartsvyand, die Witheks, het Nar­nia getoor sodat dit altyd winter is, maar nooit Kersfees nie. In die regte wêreld is die Pevensies net kinders, maar in Narnia is hulle prinse en prinsesse wat ook krygers word en saam met Aslan veg.

Terwyl ons daardie aand die finale fantasieoorlogstoneel gekyk het, het Colton, toe ses jaar oud, hom regtig in die storie ingeleef. Gevleuelde kreature het rotse uit die lug laat val en die Pevensie-kinders het in hul wapenrustings met swaarde geveg teen die bose weermag van die Witheks. Gedurende die geveg het Aslan homself geoffer om Edmund te red. Later het hy egter lewendig geword en die Witheks doodgemaak. Colton het opgespring en sy vuis in die lug gegooi. Hy hou daarvan wanneer die goeie ouens oorwin.

Terwyl die erkennings oor die TV-skerm gerol het en Colby die springmielie-oorblyfsels geëet het, het Sonja terloops aan Colton gesê: "Wel, ek skat dis een ding waarvan jy nie in die hemel gehou het nie - geen swaarde daarbo nie."

Colton se opgewondenheid het onmiddellik verdwyn, asof 'n onsigbare hand sy glimlag met 'n uitveer uitgevee het. Hy het kiertsregop gestaan en afgekyk na Sonja wat steeds op die mat gesit het.

"Daar is swaarde in die hemel!" het hy gesê.

Verbaas deur sy heftige reaksie, het Sonja vlugtig na my gekyk voor sy vir Colton geglimlag het. "O ... oukei. Hoekom het hulle swaarde in die hemel nodig?"

"Mamma, Satan is nog nie in die hel nie." Colton het amper geklink of hy raas. "Die engele het hulle swaarde nodig om Satan uit die hemel te hou!"

Weer het ek die Skrif onthou, dié keer 'n gedeelte in Lukas waar Jesus aan sy dissipels sê: "Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val" (Luk. 10:18).

Ek het ook 'n gedeelte in Daniël onthou waarin 'n engel Daniël besoek in antwoord op gebed, maar vir Da­niël sê dat hy vir 21 dae vertraag was omdat hy in geveg was met die "engel van die Persiese ryk" (Dan. 10:13). Teoloë beskou dit gewoonlik as 'n soort geestelike oorlog waarin Gabriël teen bose magte geveg het.

Maar hoe het 'n sesjarige dit geweet? Ja, teen daardie tyd het Colton nog twee jaar se Sondagskoolonderrig ontvang, maar ek het vir 'n feit geweet die kurrikulum het nie gehandel oor waar Satan bly nie.

Terwyl die gedagtes deur my kop geflits het, kon ek sien Sonja weet nie wat om aan Colton, steeds vies, te sê nie. Sy gesig het my herinner aan sy irritasie toe ek gesê het dit word donker in die hemel. Ek het besluit om die luim ligter te maak. "Colton, ek is seker jy het gevra of jy ook 'n swaard kan hê, of hoe?"

Colton se viesheid het oorgegaan in 'n mismoedige frons. "Ja, ek het, maar Jesus wou nie vir my een gee nie. Hy het gesê ek sou te gevaarlik wees."

Ek het saggies gelag en gewonder of Jesus bedoel het hy sou 'n gevaar vir ander of vir homself wees.

In al ons gesprekke oor die hemel het Colton nooit die Satan genoem nie en ons het ook nooit daaraan gedink om oor hom uit te vra nie. Wanneer jy aan die hemel dink, dink jy net aan kristalstrome en strate van goud, nie aan engele en demone wat swaarde kruis nie.

Maar nou dat hy dit genoem het, het ek besluit om nog 'n bietjie uit te vra.

"Sê my, Colton het jy Satan ooit gesien:"

“ Ja, ek het" het somber geantwoord”

“Hoe lyk hy?”

Colton se lyf het verstyf, sy gesig het vertrek en sy oë het vernou. Hy het ophou praat. Hy het letterlik afgeskakel - vir die res van die aand.

Ons het Colton nog 'n paar keer daarna oor Satan uitgevra, maar toe besluit om op te hou, want sy reaksie was elke keer effens ontstellend. Dis asof hy onmiddellik van 'n sonnige kindjie verander het in iemand wat na 'n veilige vertrek hol, die deur toegrendel, die vensters toemaak en die blindings aftrek. Dit was duidelik dat hy nie net reënboë, perde en goue strate gesien het nie, maar ook iets onaangenaams. En hy wou nie daaroor praat nie.

Vervolg...