STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 1

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Inleiding

Die Evangelie van Matteus het een groot karaktereienskap, en dit is dat Jesus as Koning die oorheersende gedagte is. Matteus het geskryf om Jesus met majesteit en heerlikheid uit te beeld.

Reg aan die begin, met die geslagsregister, was die bedoeling om te bewys dat Jesus die Seun van Dawid is (1:1-17). Die titel, “die Seun van Dawid”, word meer gebruik as in enige ander Evangelie (15:22; 21: 9; 21:15). Die wyse manne het gekom om na die “koning van die Jode te soek” (2:2). Die beskrywing van Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem, is ’n dramatiese aanspraak daarop dat Hy Koning is (21:1-11). Jesus het voor Pilatus doelbewus erken dat Hy die Koning van die Jode is (21:11). Selfs aan die kruis, al was dit ’n spottery, is sy titel as Koning van die Jode aangebring. In die Bergpredikasie vertel Matteus vir ons dat Jesus die wet aangehaal het en dit vyf maal herroep het met vorstelike waardigheid deur te sê: “Maar Ek sê vir julle ...” (5:22; 28; 34; 39; 44). Jesus se finale aanspraak as Heerser van alles en almal, vind ons in Matteus 28:18: “ Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

Matteus beeld vir ons ’n Jesus uit wat deur die bladsye van sy Evangelie stap met die purper en goud van ’n Koninklike wat sê dat Hy by ons is tot aan die voleinding van die wêreld! (28:20).

Matteus 1

Matteus 1:1-17 Vir ons as moderne lesers, is dit ‘n baie vreemde manier om ’n verhaal met ’n geslagsregister te begin, maar vir ’n Jood was dit die mees natuurlike en ook die interessantste, belangrikste en mees essensiële manier om die storie van ’n man se lewe mee te begin. Die Jode was buitengewoon geïnteresseerd in geslagsregisters. Matteus noem hierdie Evangelie “die boek van die voorgeslagte (biblos geneseõs) van Jesus Chrisus”.

Ons kry verskeie lyste van geslagte van bekende persone in die Ou Testament (Gen 5:1; 10:1; 11:10; 11:27). Toe Josefus, die bekende Joodse historikus, sy eie outobiografie neergeskryf het, het hy dit ook met sy geslagsregister begin. Die rede waarom die Jode geslagsregisters so belangrik geag het, was omdat hulle baie waarde geheg het aan suiwerheid van ras. Indien enige persoon die minste element van vreemde bloed getoon het, dan het hy sy reg verloor om ’n Jood, en ’n lid van die volk van God genoem te word.’n Priester was byvoorbeeld verplig om te kon bewys dat hy ’n ononderbroke geslagslyn het tot by Aäron. Wanneer hy getrou het, moes die vrou met wie hy wou trou, ten minste vyf geslagte terug haar geslagsregister kon toon. Ons lees in die boek Esra dat, toe die volk teruggekeer uit ballingskap, Esra die aanbidding van die volk en die priesterdiens weer herorganiseer het. Die kinders van Gabaja, Kos en Barsillai is uit die priesteramp onthef, omdat hulle name nie in die registers gevind kon word nie (Esra 2:62).

Hierdie geslagsregisters is deur die Sanhedrin bewaar. Herodes die Grote is altyd verag deur die suiwer Jode omdat hy van half Edomitiese afkoms was. Ons kan die belangrikheid wat selfs Herodus aan die geslagsregisters geheg het, sien vanuit die feit dat hy die amptelike registers uit pure afguns vernietig het.

Hierdie geslagsregister mag dalk vir ons oninteressant wees, maar vir die Jode was dit baie indrukwekkend dat die stamboom van Jesus terug gevolg kon word tot by Abraham. Ons moet ook daarop let dat hierdie name met groot sorg gerangskik is. Dit is in drie groepe van veertien mense elk gerangskik.

Inderwaarheid is dit wat genoem word ’n mnemoniek of ‘n geheuebrug. Dit is iets wat so gerangskik is dat mense dit maklik kan memoriseer.

Die Evangelies is geskryf in ’n tyd toe bitter min mense kopieë daarvan kon besit en hulle was verplig om dit te memoriseer. Die bedoeling daarvan was om te bewys dat Jesus die Seun van Dawid is en dit is so gerangskik dat dit maklik vir die mense was om dit in hulle harte en geheues te bewaar.

Daar is ook iets simbolies in die manier waarop hierdie geslagsregister gerangskik is. Die drie dele is gebaseer op die drie groot stadiums van die Joodse geskiedenis.

Die eerste deel handel oor die geskiedenis tot by Dawid. Hy was die man wat van Israel ’n nasie gemaak het en ook van die Jode ’n mag in die destydse wêreld, as hulle grootste koning.

Die tweede deel neem die storie verder tot by die Babiloniese ballingskap. Dit vertel van die volk se skande, tragedie en rampspoed.

Die derde deel neem die storie tot by Jesus Christus. Dit was Hy wat die mensdom van hul slawerny en rampspoed bevry het en wat die rampspoed in triomf verander het.

Hierdie drie gedeeltes is ook simbolies van die geestelike geskiedenis van die wêreld.

  1. Menslike wesens is bedoel om verhewe te wees. God het ons na sy beeld geskape (Gen 1:27), en sy droom vir ons was ‘n droom van heerlikheid. Ons is geskape om tyd in God se teenwoordigheid deur te bring en na aan Hom te wees.
  2. Maar menslike wesens het hulle verhewenheid verloor. In plaas daarvan om diensknegte van God te wees, het ons slawe van die sonde geword. Mense het hulle vrye wil gebruik om ongehoorsaam aan God te word, eerder as om in ’n vriendskap en gemeenskap met Hom in te gaan. Hulle het op hierdie manier die bedoeling en plan van God vir sy skepping omvergegooi.
  3. Menslike wesens kan weer hulle verhewenheid terug kry. Na alles het God nie die mens aan homself oorgelaat nie. Hy het nie toegelaat dat hulle hulself deur hul eie dwaasheid vernietig nie. Die einde van die storie was nie ’n tragedie nie. God het sy Seun, Jesus Christus na hierdie wêreld gestuur sodat Hy die mensdom uit die moeras van sonde kon kom red en hulle van die kettings van sonde kon bevry. Sodoende kon hulle weer die gemeenskap met God terugkry wat hulle verloor het.

In hierdie geslagsregister het Matteus vir ons die koninklikheid wat ons gehad het, gewys, die tragedie daarvan toe ons ons vryheid verloor het, en die heerlikheid daarvan om dit weer te herwin. En dit, deur die genade van God, is die storie van die mensdom en ook van elke individu. Hierdie verse beklemtoon twee spesiale dinge oor Jesus.

  1. Die eerste is die feit dat Hy die Seun van Dawid is. Die Nuwe Testament beklemtoon dit oor en oor en die doel van hierdie geslagsregister was om dit te bewys. Petrus noem dit in die eerste opgetekende preek van die Christelike Kerk (Hand 2:29-36). Paulus sê ook dat Hy as mens uit die nageslag van Dawid gebore is (Rom 1:3). Aan Timoteus skryf Paulus ook dat hy moet onthou dat Jesus Christus, as nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is (2 Tim 2:8). Johannes, skrywer van Openbaring, hoor ook dat die opgestane Here Jesus sê: “Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid” (Op 22:16). Herhaaldelik word Jesus op hierdie manier in die Evangeliestorie aangespreek. Na die genesing van die doofstom man, het die mense gevra: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” (12:23). Die Kanaänitiese vrou wat vir Jesus gevra het om haar dogter te help, het Hom “Seun van Dawid” genoem. Die twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het Hom “Here, Seun van Dawid,” genoem (20:30). Die skare wat agter Hom aangeloop het toe Hy Jerusalem vir die laaste keer binne gegaan het, het uitgeroep: “Prys die Seun van Dawid!” (21:9). Jesus was dus die antwoord op die mense se drome, maar nie presies soos hulle dit gesien het nie. So dikwels lê die antwoord vir mense in rykdom, mag, aardse oorvloed en die verwesenliking van ambisies wat hulle koester. Wanneer ons egter drome van vrede, heerlikheid en innerlike geluk koester, dan kan net Jesus Christus vir ons die antwoord wees.
  2. Hierdie verse beklemtoon dit ook dat Jesus die vervulling van profesieë was. In Hom het die boodskappe van die profete waar geword. Profesieë bevat een groot en ewige waarheid: In hierdie heelal is daar ’n doel en ’n plan en dat dit God se bedoeling en sy wil is dat sekere dinge gebeur. Profesieë is vir ons die bewys dat geskiedenis nie ’n pad is wat nêrens heen gaan nie. Dit is ’n ewigheidsfeit dat die lewe en die wêreld nie op pad is na nêrens nie. Dit is op die pad wat God bedoel het dit moet wees.

Die mees verstommende ding van hierdie geslagsregister, is die name van die vroue wat daarin verskyn. Dit is glad nie normaal om die name van vroue in ’n Joodse geslagsregister te kry nie. Vroue het geen regte gehad nie, en is nie as mense beskou nie, maar as voorwerpe. Sy was uitsluitlik die besitting van haar vader of haar man, waarmee hulle kon doen wat hulle wou. Die Joodse mans het in hulle oggendgebede vir God gedank dat hulle nie heidene, slawe of vrouens was nie. Die bestaan van hierdie name in enige geslagsregister, is ’n baie vreemde en verrassende verskynsel.

Wanneer ons kyk na wie hierdie vroue was en wat hulle gedoen het, dan word dit nog meer verstommend. Ragab was ’n prostituut van Jerigo (Jos 2:1-7). Rut was nie eers ’n Jood nie, maar ’n Moabiet (Rut 1:4). Die wet het bepaal dat geen Ammoniet of Moabiet lid van die gemeente mag word nie (Deut 23:3). Tamar het owerspel gepleeg (Gen 38). Batseba, die moeder van Salomo, was die vrou met wie Dawid owerspel gepleeg het (2 Sam 11 en 12). As Matteus die bladsye van die Ou Testament deurgesnuffel het vir moontlike kandidate, dan kon hy nie vier meer ongelooflike kandidate ontdek het as voorsate vir Jesus Christus nie. Tog sien ons iets baie besonders in hierdie begin van Matteus se Evangelie. Dit is asof hy op ’n simboliese manier wou wys dat die grense afgebreek is.

  1. Die grense tussen Jood en heiden is afgebreek. Ragab en Rut het ’n plek in die voorgeslag van Jesus gekry. Die groot waarheid, dat in Christus daar nie Jood of Griek is nie, is hier aan die begin te sien.
  2. Die grense tussen manlik en vroulik is ook afgebreek. In geen gewone Joodse geslagsregister sou ’n naam van ’n vrou gevind word nie, maar ons kry dit in Jesus se register. Mans en vrouens staan gelyk voor God, en ook ewe belangrik in sy oë om sy wil uit te voer.
  3. Die grense tussen heiliges en sondaars is ook afgebreek. God kan ook hulle wat ernstig gesondig het, gebruik om sy doelwit te bereik. In Matteus 9:13 het Jesus gesê dat Hy nie gekom het om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.

Hier heel aan die begin van die Evangelie van Matteus, kry ons so ’n kykie na die omvattende wydte van die liefde van God. Hy kan sy dienaars vind tussen hulle van wie die respektabele vromes in afgryse sou wegdeins.

Matteus 1:18-25 Wanneer ons hierdie gedeelte uit die 1953-Vertaling lees, dan is die verhoudings wat daarin genoem word, vir ons met ons westerse manier van dink, effens verwarrend. Eers lees ons dat Josef aan Maria verloof was, dan beplan hy om van haar te skei, en dan word hy haar man genoem. Die vertalers van die 1983-Vertaling het dit meer verstaanbaar probeer vertaal, maar in die proses het die feit dat dit beskrywend was van normale Joodse huweliksprosedure, verlore gegaan.

  1. Eerstens is die paartjie aan mekaar toegesê. Dit is ’n ooreenkoms wat dikwels aangegaan is toe die paartjie nog kinders was, en mekaar selfs nog nie eers gesien het nie. Dit is gewoonlik deur die ouers gedoen of selfs ook deur ’n professionele persoon. Vir die ouers was die huwelik so ernstig dat hulle nie die keuse aan iets so onbetroubaar soos die mens se hart kon oorlaat nie.
  2. Tweedens het daar dan ’n verlowing plaasgevind. Dit was ’n bevestiging van die ooreenkoms wat vroeër aangegaan is. In hierdie stadium kon die ooreenkoms nog verbreek word as die meisie nie bereid was om daarmee voort te gaan nie. Wanneer die verlowing egter aangegaan is, was dit absoluut bindend. Dit het vir ’n jaar geduur, en in daardie tyd is hulle as eggenoot en eggenote beskou, alhoewel hulle nie die voorregte van ‘n huwelikspaar geniet het nie. Dit kon egter op geen ander manier verbreek word as deur ‘n egskeiding nie. Onder hierdie Joodse wet kon dit gebeur dat ’n mens lees van ’n maagd wat ’n weduwee was. Dit het gebeur wanneer ’n meisie se man gesterf het terwyl hulle nog in hierdie fase was. As Josef dus die verlowing tussen hom en Maria wou verbreek, was die enigste manier om dit te doen, deur ’n egskeiding, want Maria was wetlik bekend as sy vrou.
  3. Die derde stadium was die amptelike huwelik, wat aan die einde van daardie jaar plaasgevind het. Dit was in hierdie stadium van hulle huweliksverbintenis dat die engel aan Josef verskyn het en vir hom vertel het dat Maria ’n Kind verwag wat deur die Heilige Gees in haar verwek is en dat hy die Kind Jesus moet noem. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua, wat beteken “God is ons Redder”.

Die Psalmskrywer het lank gelede gehoor dat God sê: “Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes” (Ps 130:8). Die engel het ook vir Josef gesê dat die Kind wat gebore sou word, sy volk van hulle sondes sou verlos (1:21).

In hierdie gedeelte lees ons ook dat die engel vir Josef gesê het, dat die Kind wat in Maria verwek is, van die Heilige Gees kom (1:20). Dit is een van die leerstellinge van die Bybel waaroor daar onder teoloë deur die eeue baie verskillende menings was. Die maklikste en veiligste is om net doodeenvoudig te glo wat Matteus vir ons hier sê: “...die Heilige Gees was betrokke by die geboorte van Jesus Christus.” Aangesien Josef ’n Jood was, kan ons ook nie hierdie gedeelte lees met die Christelike begrip van die Heilige Gees in al sy volheid nie, want Josef sou niks daarvan geweet het nie. Ons moet dit interpreteer in die lig van die Joodse idee van die Heilige Gees, want dit is wat Josef geken het.

  1. Volgens die Jode was die Heilige Gees die Persoon wat God se waarheid aan mense gebring het. Dit was Hy wat die profete geleer het wat om te sê; dit was Hy wat God se mense geleer het wat om te doen, deur eeue en geslagte heen. Jesus is dus die één Persoon wat vir ons God se waarheid kan bring. Hy is ook die een Persoon wat vir ons kan vertel hoe God is en hoe ons behoort te wees. Voor Jesus se koms het mense net vae idees, en dikwels ook verkeerde idees gehad van God. Hulle kon net raai en wonder oor Hom, maar Jesus het vir Filippus gesê: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). In Jesus kan ons die ontferming, genade, die soekende hart en die reinheid van God sien soos nêrens anders in die wêreld nie. Met die koms van Jesus, was die tyd van raai verby en ’n tyd van sekerheid het aangebreek. In Jesus alleen sien ons ware menslikheid, goedheid en ware gehoorsaamheid aan die wil van God. Jesus het gekom om vir ons die waarheid oor God en die waarheid oor onsself te vertel.
  2. Die Jode het ook geglo dat die Heilige Gees nie alleen die waarheid oor God na mense gebring het nie, maar dat Hy hulle ook in staat stel om dit te herken wanneer hulle dit sien. Jesus maak mense se oë oop vir die waarheid. Ons is dikwels verblind deur ons eie onkunde en vooroordele. Ons gedagtes en oë is verdonker deur ons eie sonde en passies. Jesus kan ons oë oopmaak om die waarheid te sien. Dinge is net anders wanneer Jesus ons leer om daarna te kyk.
  3. Die Jode het spesifiek die Gees van God aan die werk van die skepping verbind. Dit was deur die Gees van God dat alles tot stand gekom het. “... maar die Gees van God het oor die waters gesweef” (Gen 1:2). In beide Hebreeus, ruach, en in Grieks, pneuma, is daar net een woord vir asem en gees. Job het gesê : “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee” (Job 33:4). Die Gees van God is dus die Skepper van die wêreld en die Gewer van lewe. In en deur Jesus het God se lewegewende en skeppende krag in die wêreld gekom. Hierdie krag het dus kom lewe blaas in ons swakhede en ons frustrasies. Hy het orde in ons deurmekaar lewens kom bring.
  4. Die Jode het ook nie die Gees spesifiek net aan die skepping verbind nie, maar ook aan herskepping. Esegiël skilder sy somber prentjie van die vallei van droë bene. Hy hoor hoedat God sê: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe ...” (Eseg 37:14). In Jesus het die krag om lewe te herskep, gekom. Hy bring lewe aan siele wat dood is deur sonde. Hy kan ideale wat gesterf het, weer laat herlewe en Hy kan ons wil om goed te doen, weer laat herleef wanneer dit gesterf het.

Daar is dus baie meer in hierdie hoofstuk as net die feit dat Jesus Christus uit ’n maagd gebore is. Die essensie van Matteus se storie is dat in die geboorte van Jesus Christus, die Gees van God werksaam geword het in die wêreld, soos nog nooit vantevore nie.

Bron: The New Daily Study Bible deur prof William Barclay, Glasgow University, Skotland

Prof William Barclay (1907-1978) was ’n wêreldbekende Nuwe Testamentiese kenner en professor aan die Universiteit van Glasgow in Skotland. The New Daily Study Bible is ’n kosbare reeks studie-Bybels wat hy aan die nageslag agtergelaat het en dit word reeds vir meer as vyftig jaar lank deur miljoene mense gebruik wat ernstig is met Bybelstudie.