STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 27 & 28

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Matteus 27 Omdat die ondergenoemde drie Skrifgedeeltes alles oor Jesus se verhoordeur Pilatus handel, word dit in een bespreking hanteer.

Matteus 27:1-2 Jesus word aan Pilatus uitgelewer

Matteus 27:11-14 Jesus voor Pilatus

Matteus 27:15-26 Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

So gou as wat dit lig was, het die Sanhedrin bymekaar gekom om dit wat hulle gedurende die nag besluit het, te bevestig. Hulle kon nie self die doodstraf uitvoer nie. Dit was ’n uitspraak wat net deur die Romeinse Goewerneur gelewer kon word en deur die Romeinse owerhede uitgevoer kon word. Die Sanhedrin moes dus ’n klag formuleer wat hulle voor Pilatus kon gaan lê, om Jesus se doodstraf te vereis.

Matteus vertel nie vir ons wat die klag teen Jesus was nie, maar Lukas doen dit wel. In die Sanhedrin het hulle gesê dat Hy Godslastelike uitsprake gemaak het, maar die Joodse owerhede het egter goed geweet dat dit nie ’n klag was waaraan Pilatus hom sou steur nie. Hy sou hulle wegstuur om hulle eie godsdienstige redenasies op te los. In die Evangelie van Lukas sien ons dat daar ’n drievoudige klag teen Jesus gelê is. Hulle het gesê dat Hy die volk opsweep; dat Hy hulle belet om belasting aan die keiser te betaal en dat Hy beweer dat Hy die Christus, die koning is (Luk. 23:2). Hulle het geweet dat dit die enigste klagtes was waarop Pilatus sou reageer.

Pilatus was, volgens buite-Bybelse bronne, ’n baie harde regeerder met baie min simpatie vir die Jode en hulle fanatiese godsdiens siening. Hy was uiters ongewild omdat hy, toe hy vir Jerusalem ’n nuwe watervoorsieningsaanleg laat bou het, geld uit die tempel se skatkis geneem het om daarvoor te betaal. Korrupsie, wreedheid, moord en talle ter dood veroordelings sonder behoorlike verhoor, was alles deel van sy nalatenskap. Hy het later selfmoord gepleeg.

Die Christenlegende wat om Pilatus gebou is, was hom baie genadig. Daarvolgens was hy onskuldig en is die blaam vir Jesus se dood, alles voor die Jode se deur gelê. Hy het glo later tot bekering gekom en hy en sy vrou Claudia, is as heiliges verklaar in die Koptiese Kerk.

Pilatus het ongetwyfeld geweet dat Jesus onskuldig was, maar sy misdade van die verlede het die Jode iets gegee om hom mee af te pers, sodat hy aan hulle eise moes voldoen. Hy was bang dat die Jode hom by die keiser sou verkla vir sy wandade, en hy lewer ’n uitspraak wat teen sy wense en sy sin vir geregtigheid was:

  1. Pilatus was duidelik baie beïndruk met Jesus. Hy het hom nie gesteur aan die klag dat Jesus daarop aanspraak gemaak het om die Koning van die Jode te wees nie. Hy ken ’n opstandeling wanneer hy een sien, en Jesus was beslis nie een nie. Sy waardige stilswye het vir Piltus laat voel asof dit hyself is wat aangekla word. Hy het Jesus se Goddelikheid aangevoel, maar hy was te bang om homself daaraan te onderwerp. Deur al die eeue, tot vandag toe, weet baie mense presies wie Jesus is, maar hulle weier, of is te bang, om hulle knieë voor Hom te buig.
  2. Pilatus soek ’n ontsnappingsroete. Dit was die gebruik dat daar tydens die Pasga-fees, een gevangene vrygelaat word. Barabbas was in die tronk vir geen geringe misdaad nie. Hy was heel waarskynlik ’n struikrower of ’n politieke opstandeling. Iets wat baie interessant is, is dat hy, volgens die heel oudste Aramese weergawes van die Nuwe Testament, ook Jesus genoem is; Jesus Barabbas. Jesus was ’n baie algemene naam in daardie tyd. Dit is presies dieselfde naam as die Hebreeuse “Joshua”; en dit is dan waarskynlik waarom Pilatus spesifiek in verse 17 en 22 vir die skare gevra het wat hy moet doen met “Jesus wat Christus” genoem word. Hy het probeer om homself uit die situasie los te wikkel, maar die skare kies die geweldadige, moorddadige “Jesus”, bo die sagte, liefdevolle “Jesus”, wat net goed gedoen het aan sy mense.
  3. In vers 24 lees ons dat Pilatus sy hande gewas het. ’n Mens kan maklik in ’n situasie waaraan hy niks kan doen nie, sê dat hy sy hande in onskuld was, net soos Pilatus; en dan klink dit so edel. Pilatus se handewassery was egter pure lafhartigheid. Dit was ’n Joodse gebruik waarvan ons lees in Deuteronium 21:1-9, waarmee daar vir die Here gevra word om die volk vry te spreek van bloed wat onskuldig vergiet is (vers 8). Pilatus se sin vir gregtigheid het hom gewaarsku, sy gewete het hom gepla, sy vrou se droom was vir hom ’n waarskuwing, maar hy het hom nie daaraan gestuur nie. Hy kon nie sy man staan teen die skare nie. Daar is een ding waarvoor ons nooit ons hande in onskuld kan was nie, of onsself van kan verontskuldig nie, en dit is ons eie verantwoordelikheid.

Matteus 27:3-10 Die dood van Judas

Judas het ongetwyfeld besef watse veragtelike daad hy aangevang het. Matteus vertel vir ons dat hy die geld in die tempel ingegooi het waar die priesterhoofde dit opgetel het (vers 6). Hy moes verby al die verskillende voorhowe van die tempel geloop het tot by die verste deel waar die hof van die priesters was, waarin hy nie toegelaat is nie. Hy wou die geld vir hulle gee, maar hulle wou dit nie neem nie. Daarna het hy homself gaan ophang.

Die geld kon nie eers in die tempelfonds gestort word nie, want dit was bloedgeld, en die priesters het daarmee ’n stuk grond gaan koop waar nie-Jode wat in die stad gesterf het, begrawe kon word.

Twee groot waarhede van sonde is hier baie duidelik te sien:

  1. Die horlosie kan nooit teruggedraai word nie. Dit wat gedoen is, kan nooit weer ongedaan gemaak word nie, en daarom moet ons twee keer dink en ekstra versigtig wees hoe ons optree.
  2. Die vreemdheid van sonde is dat ’n persoon presies dieselfde ding wat hy tot sy eie voordeel wou doen, skielik begin haat. Dit word vir hom afstootlik en hy wil daarvan ontslae raak, maar hy kan nie.

Matteus 27:15-26 Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

Van Barabbas weet ons niks meer as wat ons in die Evangelies lees nie. Hy was nie net ’n dief nie, maar eerder ’n brutale struikrower en dalk een van die fanatieke, geweldadige nasionaliste wat met dolke onder hul mantels geloop het, waarmee hul sluipmoorde gepleeg het om hul politieke doelwitte te probeer bereik. Dit verklaar die feit dat hy so populêr was by die skare – hulle het hom waarskynlik as ’n held gesien.

Mense het nog altyd gewonder hoe dit moontlik is, dat skaars ’n week nadat die skare vir Jesus al skreeuende verwelkom het toe Hy op die donkie Jerusalem binnegery het, hulle nou kon skreeu dat Hy gekruisig moet word. Die verklaring daarvoor, is dat hierdie nou ’n ander skare was. Dink aan Jesus se arrestasie: dit is in die geheim gedoen. Die dissipels het gevlug en moes die nuus versprei het, maar hulle kon nie vooraf weet dat die Sanhedrin hul eie wette sou oortree en onreg aandoen deur ’n verhoor deur die nag te hou nie. Daar kon nie veel van Jesus se ondersteuners tussen die skare gewees het nie.

Nou wie wás hierdie skare dan? Die mense het geweet dat dit die gewoonte was dat daar ’n gevangene tydens die Pasga vrygelaat sou word. Die kans is baie goed dat hierdie klomp bymekaargekom het met die uitsluitlike doel om Barabbas se vrylating te eis. Hulle was dus Barabbas-ondersteuners, en toe hulle die moontlikheid sien dat dinge kon skeefloop en Jesus in plaas van Barabbas vrygelaat word, het hulle histeries en opgesweep geword. Vir die priesterhoofde was hierdie omstandighede ideaal – dit was presies wat hulle wou hê. Dit was vir hulle maklik om die skare op te stook om Barabbas se vrylating te eis, want dit is waarvoor hulle gekom het.

Die sedelose skare het wetteloosheid bo die wet gekies. Een van die Griekse woorde vir “sonde”, is anomia, wat wetteloosheid beteken. In die mens se hart is daar ’n natuurlike neiging om wette teë te staan, dissipline te weier, en te doen net wat hy wil – die maklike, verkeerde pad te volg. Daar is iets van daardie rebelsheid in elkeen van ons. Daar kom tye in die meeste van ons se lewens, dat ons wens dat daar nie iets soos die Tien Gebooie was nie.

Die skare het oorlog bo vrede gekies. Hulle het die man van bloedvergieting bo die Prins van Vrede gekies. Hierdie skare het gedoen wat deur al die eeue so dikwels gedoen is en steeds gedoen word: om dinge deur oorlog te probeer bereik; om haat en geweld bo liefde te kies.

Barabbas en Jesus het twee verskillende denkwyses verteenwoordig. Barabbas het haat, geweld en bitterheid voorgestaan; Jesus het die pad van liefde gelei. Soos so dikwels in mense se harte gebeur, laat hulle toe dat haat in hul harte regeer en liefde verwerp word.

Ons lees in vers 26 dat Pilatus vir Jesus laat gésel het. Romeinse géseling was ’n ontsettende marteling. Die slagoffer se klere is uitgetrek en hy is met sy hande agter sy rug, gebukkend vasgebind. Die gésel self was ’n lang strook leer waaraan daar stukke skerp been en lood vasgemaak is. Sulke géseling het altyd kruisiging vooraf gegaan en dit het stukke vleis en vel uit die persoon se liggaam geruk. Sommige mans het bewusteloos geword van die pyn en tot aan die einde van die kruisigingsproses bewusteloos gebly. Ander het selfs gesterf tydens die géseling.

Matteus 27:27-31 Die soldate bespot Jesus

Na hierdie verskrikking, is Jesus aan die soldate oorhandig terwyl die laaste reëlings vir die kruisiging getref is en die kruise vervaardig is. ’n Mens kan maar net sidder om te dink wat die soldate alles aan Jesus gedoen het, maar hulle het in onkunde gehandel. Hulle was nie Jode gewees nie en het geen idee gehad wie Jesus was nie. Vir hulle was hy net ’n misleide Galileër wat gekruisig moes word.

Een van die Joodse skrywers het gesê dat kruisiging die verskriklikste en wreedste dood is wat die mens ooit kon bedink om wraak op sy medemens te neem. Die krimineel is aan die kruis vasgespyker en hy het daar gehang, met sy reeds bloeiende liggaam as gevolg van die géseling, tot hy van honger, dors, blootstelling en pyn gesterf het.

Dit was geensins ’n mooi gesig nie, maar dit is wat Jesus deurgegaan het – vrywillig – vir jou en vir my.

Matteus 27:32-44 Jesus word gekruisig

Die storie van Jesus se kruisiging het nie kommentaar nodig nie, want dit spreek vanself. Nadat ek ’n leeftyd agter die rug het waarin ek dit al so dikwels gehoor het, kan ek nog steeds maar net elke keer my kop in eerbied laat sak en dié God aanbid wat ’n verloregaande mensdom só ontsettend liefgehad het.

Dit is egter nodig om die agtergrond in te kleur, sodat die prentjie so helder as moontlik kan wees. ’n Terdoodveroordeelde is begelei na die plek waar die kruisiging plaasgevind het. Hy moes tussen vier Romeinse soldate loop en self sy kruis dra. Die klag teen hom is op ’n bord geskryf en dit is òf om sy nek gehang, òf deur die offisier gedra wat voor in die prosessie geloop het. Dit is dan later teen die kruis vasgespyker. Die prosessie met die persoon wat gekruisig moes word, het so ’n lang roete as moontlik gevolg, sodat almal langs die pad kon sien en gewaarsku kon wees deur die afgryse van wat hulle aanskou het.

Jesus het onmenslike marteling deurgegaan. Hy is feitlik die hele vorige nag deur die Sanhedrin en deur Pilatus ondervra, daarna is Hy gegésel en toe deur die soldate bespot. Sy liggaamlike krag het ingegee en Hy het gesteier onder die gewig van die kruis. Omdat Palestina ’n beleërde land van die Romeinse Regering was, kon ’n Romeinse soldaat enige Jood ’n opdrag gee deur hom op sy skouer met die plat kant van sy spies te tik. Die Jood moes dan die opdrag wat aan hom gegee is, uitvoer. Dit het nie saak gemaak hoe onaangenaam die taak was nie. In Markus se Evangelie lees ons dat hierdie taak aan Simon van Sirene opgedra is, die vader van Aleksander en Rufus (Mark. 15:21). Die feit dat hy vir Simon so geïdentifiseer het, het beteken dat Aleksander en Rufus twee bekende figure in die vroeë kerk geword het. Die afleiding wat ’n mens kan maak, is dat Jesus op daardie verskriklike dag, ook Simon van Sirene se hart en lewe aangeraak het en dat ’n dag van afgryse, ook vir hom ’n dag van glorie en heerlikheid geword het.

Jesus is op ’n heuwel met die naam “Golgota” gekruisig. Dit het die vorm van ’n skedel gehad, en is daarom Golgota genoem, wat “kopbeen” beteken. Wanneer die plek bereik is, moes die terdoodveroordeelde op die kruis gaan lê en hy is dan daarop vasgespyker, gewoonlik deur sy polse. Die voete is gewoonlik aan die kruis vasgebind. Op daardie tydpstip is daar aan hom wyn met ’n verdowingsmiddel gegee deur ryk vroue wat dit as ’n daad van meegevoel en genade gedoen het. Daarna is die kruis regop ingeplant.

Dit was ook die gewoonte om ’n persoon wat gekruisig word, se klere uit te trek, en die soldate het dit vir hulle gevat. Elke Jood het vyf kledingstukke gedra. Dit was ’n tulband, ’n gordel, ’n onderkleed en ’n bokleed. Daar was dus vyf kledingstukke en vier soldate, maar die bokleed was meer werd as die ander. Dit is dus heel waarskynlik vir Jesus se bokleed waarvoor die soldate lootjies getrek het (Joh. 19:23-24). Nadat hulle die klere verdeel het, het hulle gaan sit en wag vir die einde van die gekruisigdes om aan te breek.

Daar was dus op daardie dag op Golgota drie kruise. In die middel het die Seun van God gehang, en weerskante van Hom twee struikrowers en moordenaars. Hy was waarlik ook saam met sondaars in sy sterwensoomblikke!

On sien in verse 39 tot 40 hoedat Hy bespot en gelaster is. Al die opmerkings het op een ding gekonsentreer – die aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het as die Seun van God, en die feit dat Hy nou so hulpeloos daar hang. Die Jode het sy glorie as die Christus gebruik, om van Hom ’n bespotting te maak. Die skrifgeleerdes en die familiehoofde het gesê: “Laat Hy nou van die kruis afkom, en ons sal in hom glo” (vers 42). Dit is juis omdát Hy nie daar afgekom het nie, dat ons in Hom glo, want daardeur het ons die ontsettende groot, opofferende liefde van God vir ons gesien en beleef.

Matteus 27:45-55 Jesus sterwe

Wanneer ons hierdie storie van die kruisiging lees, dan klink dit asof alles baie vinnig gebeur het. In werklikheid was dit ure wat verby gesleep het. Markus het in sy Evangelie die presiese tyd aangeteken. Hy skryf dat Jesus nege-uur die môre gekruisig is (Mark. 15:25), en dat Hy om drie-uur die middag gesterf het (Mark. 15:34). Dit beteken dat Jesus vir ses ure aan die kruis gehang het. Vir Hom was die marteling genadiglik nie so lank nie. Geskiedskrywers vertel dat sommige kriminele dae lank aan die kruis gehang het voordat hulle gesterf het.

In vers 46 lees ons die mees verstommende woorde in die hele evangelieverhaal, toe Jesus uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Ons kan ook maar net in eerbied by die aanhoor van hierdie woorde buig, maar dit is goed om dit te probeer verstaan:

  1. Dit is vreemd en baie interessant dat Psalm 22 deur die hele kruisigingverhaal soos ’n goue draad geweef is. In vers twee kry ons hierdie selfde woorde van Jesus: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” In vers 7 tot 9 skryf die Psalmskrywer hoedat hy deur die mense bespot en verag is. Vers 19 is net so toepaslik: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.”

Vanaf vers 24 tot 32 sien ons absolute triomf en oorwinning. “Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer” (Ps. 22:28). “ ... want die koningskap behoort aan die Here” (Ps. 22:29).

  1. Die oomblik toe die hele wêreld se sonde op die hele wese van wie Jesus as mens was, geval het, het Hy wat geen sonde gehad het nie, sonde vir ons geword (2 Kor. 5:21). Die straf wat Hy vir ons gedra het, en die onvermydelike skeiding van God wat sonde veroorsaak, het ook die skeiding tussen Hom en God sy Vader, in daardie oomblikke gebring. Hierdie is en bly egter ’n geheimenis waaroor ons slegs kan wonder.
  2. Dit mag ook wees dat Jesus in daardie oomblikke, omdat Hy ook volkome mens was, tot in die diepste diepte van menslike ellende gesak het. Dit is dan wanneer ’n mens voel dat jy van God verlaat is. Ons het in die tuin van Getsemane gesien dat Jesus net geweet het dat Hy moes voortgaan, want dit was God se wil. Hy moes dit aanvaar, al het Hy dit nie ten volle verstaan nie. Daar was geen plek, selfs in die diepste ellende van die menslike situasie, waar Jesus nie reeds was nie. Die omstanders het Hom gehoor en party het gedink dat Hy vir Elia roep (vers 46), maar sy laaste groot uitroep moes ’n diep indruk gemaak het op die mense se gemoed. Johannes vertel vir ons dat Hy gesê het: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Die Grieks daarvoor is tetelestai. Dit is die uitroep van iemand wat oorwin het; wat sy taak voltooi het; wat vanuit die duisternis na die lig en glorie gestry het. Jesus het met ’n triomfantelike uitroep op sy lippe gesterf.

Ware oorwinning is wanneer ons, ten spyte daarvan dat ons voel God het ons verlaat, weier om ons geloof te laat gaan. Ons oorwin waarlik wanneer ons, al het die lewe ons tot in die diepste dieptes laat wegsink, steeds aan God soos ’n drenkeling vasklou. Dit is wat Jesus gedoen het.

Vanaf vers 51 tot vers 56, sien ons drie verskillende tonele:

  1. Daar het verstommende dinge gebeur die oomblik toe Jesus gesterf het – die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur en die grafte het oopgegaan. Die voorhangsel was die skeiding tussen die Allerheiligste en die Heilige deel van die tempel (Eks. 26:33). Dit was die skeiding waardeur niemand mag gegaan het nie en waar die Gees van God gewoon het. Net die hoëpriester mag een maal per jaar, op die Groot Versoendag, daar ingegaan het. Hierin is kosbare simboliek opgesluit. Tot en met daardie oomblik, was God vir die mense ver en misterieus. Hulle het nie geweet hoe Hy is nie. In Jesus se dood, kan ons die liefde van God vir ons sien. Die pad na God toe, wat altyd vir die mens versper was, was nou oop vir almal. Die skeiding is van toe af, vir altyd verwyder. Die simboliek agter die oopgaan van die grafte, is dat Jesus die dood oorwin het. Die dood en die graf het sy verskrikking en sy krag verloor. Omdat Jesus lewe, kan ons weet dat ons ook sal lewe.
  2. Die offisier en die soldate het skielik besef wie Hy was. Ons lees in Johannes 12:32, dat Jesus gesê het: “En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” Hy het die geweldige aantrekkingskrag van die kruisgebeure voorspel, en die offisier en die soldate was die eerste vrugte.
  3. Daar is ook die eenvoudige vertelling van die vroue wat tot die einde by Hom was. Al sy dissipels het Hom verlaat en gevlug, maar die vroue het gebly. Daar is al deur Bybelnavorsers gesê dat die vroue niks gehad het om te vrees nie, omdat hulle as só laag in die samelewing beskou is. Niemand het enige notisie van hulle geneem nie. Dit is egter nie waar nie. Hulle was daar omdat hulle Jesus liefgehad het, en vir hulle, soos vir baie ander, het ware liefde die vrees verdryf.

Matteus 27:57-61 Jesus word begrawe

Ooreenkomstig die Joodse wet, mag ’n liggaam nie oornag aan die kruis bly hang het nie. Dit moes dieselfde dag begrawe word (Deut. 21:23). In Jesus se geval was dit nog meer dringend, want die volgende dag was ’n Sabbat. Die Romeinse wet het weer bepaal dat ’n naasbestaande die liggaam kon opeis. Indien dit nie gebeur het nie, is dit net daar laat hang om te ontbind, en later vir rondloperhonde te voer.

Nie een van Jesus se naasbestaandes kon sy liggaam gaan vra nie, want hulle was nie vermoënd nie en het nie een ’n graf besit nie. Josef van Arimatea was ’n ryk man, en hy het vir Pilatus gaan vra of hy die liggaam kon kry. Hy het dit versorg en in ’n nuwe graf neergelê. Daar bestaan ’n legende dat Josef van Arimatea, ’n oom van Maria, Jesus se moeder was. As dit die waarheid is, dan kan dit wees dat hy sy reg as naasbestaande onder die Romeinse wet uitgevoer het, deur die liggaam te gaan vra.

Daar word dikwels gesê dat Josef vir Jesus ’n graf gegee het na sy dood, maar Hom nie ondersteun het terwyl Hy nog gelewe het nie. Josef was egter ’n lid van die Sanhedrin (Luk. 23:50), en Lukas vertel vir ons dat Josef van Arimatea, nie met die besluit en optrede van die Joodse Raad saamgestem het nie (Luk. 23:51). Dit is baie moontlik dat Kajafas net die mense wat hy daar wou hê, die nag na die byeenkoms van die Sanhedrin in sy huis, opgeroep het en dat Josef dalk nooit die geleentheid gehad het om ’n inset te lewer nie.

Josef het baie moed geopenbaar deur die liggaam van ’n terdoodveroordeelde te vra. Hy kon homself daardeur, Pilatus se afkeur en die haat van die Joodse owerhede, op die hals gehaal het.

Matteus 27: 62-66 Die graf word bewaak

Vers 62, in die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling, sê dat die priesterhoofde en die Fariseërs, die dag na die Vrydag na Pilatus gegaan het. Dit is egter ’n baie groot flater wat deur die vertalers begaan is. Die 1953-Vertaling, en ook al die goeie Engelse vertalings, sê dat dit die dag ná die voorbereiding was.

Jesus het gesê: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees” (Matt. 12:40). Hy het dit aan die Fariseërs gesê toe hulle daarop aangedring het dat Hy vir hulle ’n teken gee as bewys dat Hy die verwagte Messias is.

Ekself het dikwels op ’n Goeie Vrydag in die kerk gesit en gewonder hoe pas mens drie dae en drie nagte in tussen Vrydagaand en vroeg Sondagoggend, terwyl dit nog donker was (Joh. 29:1). God se manier om dae en nagte te tel, sien ons in Genesis 1:5. Hy het die “lig” dag genoem en die “donker” het Hy nag genoem. Ek kon dus by net twee nagte en een dag uitkom. Ek het gewonder waarom sou Jesus dit dan as teken aan die Fariseërs gee, en dan maak dit glad nie sin nie?

Wanneer dit donker geword het, het ’n nuwe dagtelling begin. Daarom is die weeklikse Sabbat gevier vanaf skemer op ’n Vrydagaand tot skemer, die Saterdagaand.

Die werklike verklaring vir hierdie probleem, kry ons in Levitikus 23, waar daar ’n lys gegee is van al die feeste en gewyde byeenkomste wat die Here vir Moses gegee het, en sy opdrag was dat dit tot sy eer gevier moes word. Op die veertiende van die eerste maand, teen skemer, moes hulle die offerdier sonder gebrek slag en die Pasga-maaltyd eet (Eks. 12:6). In Lukas 22:14-20 lees ons hoedat Jesus die Pasga-maaltyd saam met sy dissipels geëet het, dus op die veertiende, wat met skemer begin het. Hy is die volgende dag gekruisig. Dit was nog steeds dieselfde dag waarop die offerlam geslag moes word (Luk. 22:7). Met ander woorde, Jesus is op die veertiende van die eerste maand gekruisig. Die volmaakte Offerlam wat vir ons geslag is! Ons moet onthou dat ons hier van die Joodse kalender praat. Op die vyftiende van dieselfde maand, wat daardie aand met skemer sou begin, moes hulle die Fees van ongesuurde brood begin vier, wat met ’n gewyde byeenkoms moes begin. Die Fees van ongesuurde brood het sewe dae lank geduur. Die eerste dag en die laaste dag van die sewe dae van die Fees, is as belangrike Sabbatte beskou. Die Grieks-Afrikaanse Interliniêre Bybel stel dit presies net so: “…want daardie Sabbat was belangrik.” (Joh. 19:31). Die oorspronklike Grieks sê: “Die Sabbat was besig om aan te breek.” Dit was dus nie ’n gewone weeklikse Sabbat, soos wat op die sewende dag gevier is nie.

Teoloë het deur al die eeue bereken dat Jesus ongeveer tussen 30 n.C. en 33 n.C. gekruisig is. Volgens die Hope for Israel Ministries, is daar baie buite-Bybelse bronne wat oor die jaar 31 n.C. geskryf het as ’n jaar waarin daar besondere eienaardige dinge gebeur het, soos byvoorbeeld dat ’n geweldige aardbewing die klipbalk waaraan die voorhangsel in die tempel gehang het, middeldeur laat kraak het. Die klipbank was ’n klip wat nege meter lank was en amper dertig ton geweeg het. Daar is ook melding gemaak van ’n dag waarin daar ’n onverklaarbare duisternis oor die aarde gekom het (Matt. 27:45-52). ’n Paar dae later was daar, volgens hulle, weer ’n aardbewing (Matt. 28:2).

As ons dan kan aanneem dat Jesus in 31 n.C. gekruisig is, is dit baie maklik om met vandag se rekenaarprogramme te bereken op watter dag van die week die 14e van die eerste maand in die jaar 31 n.C. was. Dit was vanaf skemer Dinsdagaand tot skemer Woensdagaand. Markus sê in Markus 16:1 dat die vroue, nadat die Sabbat verby was, speserye gaan koop het om Jesus mee te salf. Lukas sê weer in Lukas 23:55-56 dat die vroue, nadat hulle die reukolies voorberei het, eers op die Sabbat moes rus. Dit lyk na ’n teenstelling, behalwe wanneer ons hier van twee Sabbatte, kort na mekaar, praat. Volgens verskeie Grieks-Engels Liniêre Bybels, gebruik Matteus in Matteus 28:1, ’n meervoudsvorm wanneer hy sê dat die vroue ná die “Sabbatte”, vroeg die Sondagoggend, na die graf gegaan het.

Waar kom die tradisie van Goeie Vrydag dan vandaan?In 324 n.C., toe Konstantyn, die Keiser van die Romeinse Ryk was, is die Christelike geloof wettig verklaar en het dit die geloof van die Staat geword. Die gebruike van afgode-aanbidding, veral sonaanbidding en die Christelike gebruike, het in hierdie tyd vermeng geraak en Konstantyn het dit aangemoedig, omdat hy eenheid en stabiliteit in sy Ryk wou bevorder. Hy het ook die kerkleiers aangemoedig om sover moontlik van Joodse gebruike afstand te doen omdat, volgens hom, die Jode vir Jesus vermoor het. Dit sou makliker wees as die verskillende gelowe ook hul Pasga-fees op dieselfde tyd kon vier. Dit is ook in hierdie tyd dat die naam van die Pasga-fees, waarmee die Israeliete se uittog uit hulle slawerny uit Egipte herdenk is, na Paasfees, met paashase en paaseiers, verander het.

Hierdie kennis laat ’n mens opnuut besef, dat ons die Bybel en Jesus se woorde nie ligtelik moet opneem nie. Wat Hy gesê het, het Hy bedoel.

Die vroeë Christene het mekaar altyd tydens die Pasga-fees gegroet met die woorde: “Ons Here Jesus Christus het waarlik opgestaan!” Glo dit en leef daaruit.

Dit is ironies dat die priesterhoofde en Fariseërs nie die graf wou laat bewaak omdat hulle geglo het dat Jesus regtig na drie dae sou opstaan nie. Hulle het gedink dat die dissipels sy liggaam sou kom steel en dit dan na ’n opstanding laat lyk. Pilatus se antwoord aan hulle is: “ ... gaan beveilig die graf so goed as julle kan” (vers 65).

Daar is een uiters belangrike feit wat hulle nog nie besef het nie: Geen graf, of geen slim planne deur mense gemaak, kan die opgestane Here Jesus bind nie. Enigeen wat dit probeer, is besig met ’n futiele taak.

 

Matteus 28

Matteus 28:1-10 Jesus het opgestaan

Wanneer Matteus hier vertel van ’n leë graf, dan is dit vreemd, maar tog baie gepas, dat dit die twee vroue is wat eerste die nuus ontvang dat hulle Here opgestaan het, en Hom heel eerste weer ontmoet. Dit was hulle wat by die kruis was tot die einde toe; dit was hulle wat by was toe Hy in die graf neergelê is. Hulle ontvang die beloning vir hulle liefde, en is die heel eerste om te weet van die vreugde van sy opstanding. Ons kan by hierdie vroue drie baie belangrike dinge leer:

  1. Hulle het geglo. Dit wat gebeur het, was byna te goed om waar te wees. Die engel herinner hulle aan Jesus se belofte; hulle word gekonfronteer met ’n leë graf; alles wat Hy gesê het, was ’n oproep tot geloof. Daar is deur al die eeue tot vandag toe, nog soveel mense wat voel dat Jesus se beloftes te goed is om waar te wees.
  2. Hulle het dit onmiddellik gaan deel. Nadat hulle die wonderlike ontdekking gemaak het, was dit hulle eerste plig om dit vir ander te gaan vertel. So ’n kosbare skat kan ’n mens nooit vir jouself hou nie (vers 8).
  3. Hulle het gejuig en Hom aanbid in hulle vreugde (vers 9). As ons die opgestane Here Jesus ontmoet het, dan kan ons vir ewig leef in die vreugde van sy teenwoordigheid, waarvan ons nooit weer geskei kan word nie.

Matteus 28:11-15 Die berigte van die wagte

Die Joodse owerhede was baie ontsteld en bekommerd toe hulle dit wat gebeur het, by die wagte gehoor het. Kan dit dan wees dat al hulle moeite en beplanning verniet was? Hulle beraam toe nog ’n bedrogspul en koop die wagte om om te sê dat Jesus se dissipels sy liggaam in die nag kom steel het. Dit is interessant om op te let hoe laag en tot watter uiterstes toe die Joodse owerhede gegaan het om van Jesus ontslae te raak: vals aanklagte, onwettige optredes, leuens en kwaadpratery om by Pilatus ’n klag voor te lê. Nou gebruik hulle ook nog omkopery om die waarheid stil te hou. Tog het hulle klaaglik misluk. Die evangelie van Jesus se goedheid en liefde, is baie sterker as hulle komplotte van boosheid.

Matteus 28:16-20 Jesus se opdrag aan die dissipels

Ons luister hier na die laaste woorde van Jesus aan sy dissipels, en Hy doen drie dinge:

  1. Hy verseker hulle van sy mag. Absoluut niks is onmoontlik nie vir Hom wat gesterf het en die dood oorwin het. Die dissipels was nou dienaars van ’n Meester wie se outoriteit in die hemel en op aarde, bo alle twyfel gevestig is.
  2. Hy gee aan hulle ’n opdrag. Hy stuur hulle uit na die hele wêreld om van die mense sy dissipels te maak, en hulle te doop.
  3. Hy belowe aan hulle dat Hy by hulle sal wees tot die voleinding van die wêreld. Dit moes ’n skokkende opdrag gewees het vir elf nederige Galilese mans, om uitgestuur te word om die hele wêreld te oorwin. Tog het die belofte saam met die opdrag gekom.

Die dissipels is uitgestuur met die grootste opdrag in die wêreld se geskiedenis, maar saam met hulle was ook die grootste teenwoordigheid in die hele wêreld: die Heilige Gees van die lewende, drie-enige God.