STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 2

’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament

Anita Joubert

        Die brief van Jakobus             

Jakobus 2

Jakobus 2:1-13 Moenie volgens die uiterlike oordeel nie

Die Nuwe Lewende Vertaling stel vers 1 so mooi en sê dat ons nie kan bely dat ons in die Here Jesus glo, en dan ander mense sommer so op die uiterlike beoordeel nie. Jesus het vir ons die regte voorbeeld gestel en selfs die Fariseërs het dit erken. (Luk. 20:21; Mark. 12:14; Matt. 22:16). Petrus het ook hierdie les geleer toe hy die gesig gesien het van die doek met die rein en die onrein diere in Handelinge 10. In Handelinge 10:34 erken hy dat hy tóé eers begryp het dat God geen onderskeid maak nie, maar uit alle volke mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. Hierdie waarheid het Paulus ook voortdurend op die harte van sy lesers gedruk (Rom. 2:11; Efes. 6:9; Kol. 3:25).

 

Volgens Barclay is die Griekse uitdrukking, prosõpon labanein, ’n direkte vertaling van ’n Hebreeuse uitdrukking wat beteken om ’n persoon se gesig op te lig. Met ander woorde, om aan hom guns te verleen. Dit is dieselfde uitdrukking wat gebruik word in Maleagi 1:8-9 wanneer die profeet vra of die mense dan die gunsvan die goewerneur sal geniet as sy mense vir hom minderwaardige geskenke bring, soos wat die volk swak en blinde diere aan die Here offer. In Maleagi 2:9-10 veroordeel Maleagi ook hierdie selfde sonde; die mense was nie onpartydig in hulle uitsprake nie. Hierdie uitdrukking het aanvanklik nie ’n negatiewe betekenis gehad nie, maar dit het vinnig die betekenis gekry dat ’n persoon toelaat dat iemand se sosiale status of bekendheid of sy mag, hom so beïnvloed dat hy daardie persoon hoër ag as ’n ander. Een van God se groot karaktereienskappe, is sy absolute onpartydigheid. Lees gerus Levitikus 19:15.

   Die Ou Testament en die Nuwe Testament stem ooreen oor hierdie saak – dat ons nie moet toelaat dat ’n persoon se sosiale stand, sy rykdom of wêreldse invloed, ons onregverdig laat optree nie. En tog, volgens Barclay, is ons almal in ’n sekere mate daaraan skuldig. Die skrywer van Spreuke sê: “Vir ryk en arm is dit almal dieselfde: die Here het hulle almal gemaak” (Spr. 22:2).

In verse 2 tot 4 sien ons weer een van Jakobus se beeldryke verduidelikings. In die antieke wêreld het die pronkerige en grootdoenerige mense letterlik aan elke vinger ’n ring gedra, en selfs meer as een aan ’n vinger. Seneca was ’nRomeinse filosoof wat geskryf het: “Ons versier ons vingers met ringe en edelstene.”

Nou skilder Jakobus ’n prentjie van so ’n persoon met deftige klere aan en “versierde” vingers, wat in die samekoms van die gemeente inkom, terwyl daar terselfdertyd ook ’n man met ou klere en “onversierde” vingers, inkom. Hulle word heel verskillend deur die gasheer behandel. Volgens Barclay, kan ons uit baie antieke geskrifte aflei, dat hierdie prentjie van Jakobus glad nie oordrewe is nie. Daar was ongetwyfeld ’n baie ernstige sosiale probleem in die vroeë kerk. Om die waarheid te sê, was die hele samelewing vol van hierdie klasseverskille. Dit moes ’n groot versoeking vir ’n kerkleier gewees het om nie ’n ophef van so ’n ryk persoon wat tot bekering gekom het, in die gemeente te maak nie. Sien ons hierdie verskynsel nie vandag maar nog net so nie? Dit gebeur veral wanneer ’n gemeente geld en aansien nodig het. In die teenwoordigheid van die Koning van alle heiligheid en heerlikheid, is alle aardse onderskeid minder as stof en vuilheid. Voor Hom is almal een en dieselfde.

   As ons hierdie dinge doen, sê Jakobus, dan maak ons van onsself regters met bose redenasies. Dan verbreek ons die opdrag van Hom wat gesê het: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matt. 7:1).

Christenskap het met ’n baie spesiale boodskap aan die “armes” van hierdie wêreld begin. Jesus se eerste boodskap in die sinagoge in Nasaret was: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig” (Luk. 4:18). In Matteus 11:5 het Jesus as deel van sy boodskap aan Johannes die Doper gesê: “….en armes hoor die goeie nuus.” In Lukas 6:20 sien ons dat Jesus in sy bergpredikasie gesê het: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God is julle deel.” Nadat Jesus uit die sinagoges uitgegooi is, was dit die gewone mense, mans en vrouens, wat in skares agter Hom aangeloop het, en wat na sy boodskap geluister het. Die boodskap was dat hulle, wat vir niemand belangrik was nie, vir God intens belangrik is. Kom ons kyk wat sê Paulus in 1 Korintiërs 1:26-28: “Dink maar net broers, aan wat julle was voor julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes, of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.”

Dit is nie dat God die rykes en geleerdes nie ook liefhet nie, maar ons moet waak teen snobisme en gierigheid. Aan die armes het die evangelie nog altyd baie gebied, maar van die rykes het dit nog altyd baie gevra. Dink maar aan die ryk jong man in Matteus 19:21 wat hartseer weggegaan het, omdat hy baie besittings gehad het.

In Jakobus se tyd, het die rykes die armes onderdruk, of hulle sommer hof toe gesleep vir skuld en hulle genadeloos laat toesluit. Daar was baie geldskieters en hulle kon iemand wat hulle geld geskuld het, sommer aan die nek gryp en onmiddellik laat arresteer.

Volgens Barclay het die woord “Christen”, as ’n spotbenaming ontstaan, toe die rykes in Antiogië hulle so begin noem het. Die woord wat Jakobus gebruik, epikaleisthai, is dieselfde woord wat gebruik word wanneer ’n vrou deur ’n huwelik haar man se naam aanneem of wanneer ’n kind in ’n gesin gebore word en dan deel is van ’n familie en daardie familie se naam dra. Dit beteken dus om ’n nuwe naam aan te neem.

Die rykes en die slawe-eienaars het niks daarvan gehou dat hulle slawe nie meer ineengekrimp het voor hulle mag, straf en mishandeling nie. Die slawe het ’n nuwe eerlikheid en trots ontwikkel en wou nie meer deel in hulle eienaars se oneerlike optredes nie. Slawe wou ook die byeenkomste van die gelowiges bywoon en wou nie meer so ontsettend hard, en sulke lang ure, werk nie. Dit alles was genoeg redes vir die eienaars en rykes om die volgelinge van Christus te bespot.

As ons iemand verwelkom en hom laat tuis voel omdat ons werklik lief is vir hom, dan is dit reg. Maar as ons hom op ’n spesiale manier verwelkom omdat hy ryk is, dan verbreek ons die koninklike wet dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. (Matt. 22:39). Die arm man word dan verwaarloos en voel sleg en minderwaardig. Waarom ’n “koninklike” wet? Omdat dit gegee is deur die Koning van die konings en geskik is vir koninklikes. Deur hierdie wet na te kom, help ons ons naaste om ook soos koninklikes te voel. Jakobus se redenasie is, dat die hele wet die wil van God is. Dit maak nie saak hoe goed al die ander wette onderhou word nie, as iemand ander mense sleg behandel, dan tree hy teen die wil van God op en dan doen hy sonde.

     In verse 12 en 13 herinner Jakobus sy luisteraars en sy lesers aan twee groot feite van die Christenlewe:

  1. Christene lewe onder die wet van vryheid en dit is onder hierdie wet dat hulle geoordeel sal word. Hulle word nie deur wette en reëls van buite beheer nie, maar word deur ’n innerlike passie van liefde gedring. Hulle doen niks omdat hulle straf vrees nie, maar omdat die liefde van Christus hulle harte gevul het.
  2. Christene moet altyd onthou dat hulle wat genade betoon, sal genade ontvang. Lees gerus die gelykenis wat Jesus vertel het van die koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan (Matt. 18:21-35). Jesus het self gesê: “Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor hulle ontferm” (Matt. 5:7 Nuwe Lewende Vertaling). Die Bybel is duidelik dat hulle wat genade wil ontvang, self ook genade moet betoon. Jakobus gaan selfs verder deur te sê dat barmhartigheid en genade oor die oordeel sal triomfeer. Met ander woorde, hulle wat barmhartigheid betoon het, sal vind dat selfs hulle eie sonde daardeur uitgewis is.