Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Volk moet sy leiers versigtig kies. Wie dit nie doen nie se lugkastele verander altyd in puinhope en hul dagdrome in nagmerries.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (11)
083 444 7672)
“Middag. My naam is Chris Visagie. Welkom by ons.”
Basjan se hande is vol bagasie. Hy het die lang geweer in ‘n duvet toegedraai en die ander twee wapens is in sy rugsak. Hy knyp die geweer onder sy armholte vas, sukkel om sy hand tussen die ander bagasie uit te steek en skud Chris Visagie se hand.
“Basjan Jones. Hierdie is my kinders, Jona en Bella en ons brak, Oubaas.”
Bella kyk vraend op na Basjan wanneer hy praat van “my kinders”.
“Gaan julle net iets eet en dan terug skip toe, of wil julle ‘n chalet hê?”
“‘n Chalet, asseblief.”
“Een of twee kamers?”
“Twee, as jy het.”
Hulle stap saam met Chris tussen die bosse op die duine deur en feitlik dadelik net anderkant is daar ‘n houtdek wat al die pad strek na die klompie chalets. Dis ‘n baie aangename oord en die meeste van die chalets staan leeg.
Dis buite die gewone vakansie seisoen, maar die grootste rede vir die afwesigheid van gaste is uiteraard die onrus in Suid-Afrika. Miskien as gevolg van die uiterlike luuksheid van die vaartuig waarmee hulle aangekom het, miskien omdat hulle mede-Suid-Afrikaners is, kry hulle die uitsoek chalet, met ‘n effense uitkyk oor die see, tussen die duine deur.
Aandete bestaan uit vars vis, aartappels in olie gebak, groente en as nagereg roomys en sjokoladesous. Daar is sowat dertig mense in die restourant. Na ete sit Basjan met Chris en gesels. Basjan vertel vir hom van die orkaan en die seerowers, sonder om in te veel detail in te gaan.
“Julle het omtrent ‘n besige vaart gehad! Ek hoop julle gaan darem ‘n rukkie bly om asem te skep.”
“Ons het eintlik beplan om net vir ‘n dag of op die uiterste, twee dae te bly. Ons moet weer terug Suid-Afrika toe.”
“Waarom? Jy weet wat daar aan die gang is. Hoekom bly julle nie maar ‘n ruk hier oor nie?”
“Ek weet daar is nog maar onrustigheid in die States, maar ek moet die kleintjies terug kry dat hulle versorg kan word.”
“Hoe bedoel jy? Ek is onder die indruk dat jy hulle pa is.”
Basjan is nie van nature iemand wat maklik vertrou nie. Die afgelope tyd het dit vir hom nòg moeiliker geword, maar daar is iets aan Chris se oop gesig en die amper onskuldige manier waarop hy hulle aanvaar het. Hy wil ook nie hê dat daar ongure agterdog oor die kinders moet onststaan nie. Hy kan dit nie bekostig dat enigiemand die Mosambiekse polisie ook hier insleep nie. En die Vader weet, daar is soveel siek mense op hierdie aarde.
Chris het nie gevra of hulle geld het nie, het nie ‘n deposito gevra nie – miskien omdat hy aanvaar die motorjag is miljoene werd – en Basjan besluit impulsief om die man te vertrou. Nie met al die feite nie, maar genoeg om vir Chris op hoogte te bring van hulle penarie.
“Ek is ‘n oud-soldaat. Ek het die afgelope jare my kos verdien op, laat ons sê, ‘alternatiewe’ metodes. Ek het toevallig op die spoor van hierdie tweetjies gekom. Hulle ouers is vermoor op hulle plaas en die kinders het in die berg rondgeswerf, totdat hulle gevang is deur mensehandelaars. Die skip is eintlik die skelms se eiendom. Ons het daarmee gevlug.”
“Wel, dis goed dat jy ‘n goeie matroos is, met baie ervaring. Ek kan sien waarom jy besluit het om met die boot te vlug. Dit kos besondere seemanskap om deur ‘n orkaan te seil.”
“Chris, dis die eerste keer in my lewe wat ek ‘n skip stuur. Ek is ‘n soldaat, nie ‘n matroos nie. Ek het gedurende my opleiding as duiker in die ou S.A.W. wel basiese kennis van klein bootjies opgedoen, gewoonlik rubber-ducks, maar van groter bote weet ek niks. Wel, tot nou toe. As dit nie was vir daardie mannetjie nie,” hy wys met sy ken in die rigting van Jona. “Het ons dit nooit gemaak nie”.
“Jy jok! Ek ken manne wat lankal bootry wat dit nie sou gemaak het nie.”
Bewondering en ‘n tikkie skeptisisme is te bespeur in sy stem.
Dan gaan hy voort: “Jy weet dat wat jy netnou ‘n ‘onrus’ genoem het, nou ‘n volskaalse burgeroorlog is? Daar is mense wat die gebeure vergelyk met die begin van ‘n Rwandese situasie, maar die minderhede het begin terugbaklei. Dit lyk asof dit kan uitdraai in ‘n lang en bloedige konflik. Dink jy nie jy moet die kinders maar hier grootmaak nie? Ek verstaan nou dat die jag nie aan jou behoort nie, en dat jy seker nie so baie geld het nie, maar ons kan altyd ‘n plan maak. Jy het gesê jy is opgelei in skuba-duik? Ons kan altyd ‘n besigheid daarvan maak.”
“Nee, Chris. Ons moet terug. As wat jy sê, waar is, dan moet ek ook mos my bydrae gaan lewer. Een mens kan seker nie veel doen nie, maar ek kan nie hier bly as daar baklei word in my land nie.”
“Ek verstaan. Maar bly dan ten minste vir ‘n paar weke hier. Die oorlog sal nog daar wees as julle dan teruggaan.”
“Ek sal met die kinders praat. Miskien ‘n dag of twee. Intussen moet ek ook vir ons ‘n voertuig kry. Iets met genoeg spasie vir ons vier – vyf saam met Oubaas - en met vierwiel-dryf.”
Die dag of twee word uiteindelik tien dae. Dae waarin hulle kon swem, in die sonskyn speel en baljaar, genoeg eet, wonde versorg kry en ook effens geestelik gesond word. Chris se vrou het tussen hulle goed vir Bella swemklere gekry, seker iets wat gaste lank gelede daar vergeet het. Sy en Oubaas hardloop op die strand rond, swem in die vlak water en ‘n mens kon haar nou kwalik vergelyk met die bleek, uitgeteerde dogtertjie van ‘n paar dae gelede.
Jona tree op soos ‘n kind van baie ouer as wat hy is. Hy laat vir Bella geen oomblik buite sy gesigveld nie. Hy swem ook saam, speel met die hond, soos ‘n kind sal doen, maar Basjan sien baie keer dat hy eenkant sit en net sorg dat sy sussie veilig is. Elke mens wat naby haar kom, weeg hy, of dit nou man, vrou of kind is. As iemand kom waarvan hy nie hou nie, of onseker is, gaan haal hy haar, ten spyte van haar protesteringe.
Maar wanneer hy dink niemand sien nie, sal hy vies ‘n paar trane uit sy oë vee. Dis nie reg dat ‘n jong seun so gou, sulke verantwoordelikheid moet aanvaar nie. Basjan dink nog nie aan wat met hulle gaan gebeur as hulle terug in Suid-Afrika is nie. Vir nou wil hy hulle net oppas en veilig hou. Later sal hy sien hoe hy vir hulle ‘n toekoms kan skep.
Na ontbyt van die elfde oggend kom Chris na hulle tafel toe. Hy wys na ‘n lang middeljarige man met ‘n bleskop en duur, maar nie uitspattige klere nie.
“Basjan, sien jy daardie ou? Hy het ‘n vreemde reputasie. Niemand weet werklik wat sy nasionaliteit is nie, maar hy kom iewers uit Ierand of Wallis of daar rond. Hy is geïnteresseerd in jou boot.”
“Chris, ek weet nie eens wie se boot dit is nie. As ek eerlik wil wees, ek het mos die boot gehi-jack.”
Chris lag vir ‘n oomblik.
“Hy weet dit. Hy weet ook wie die regte eienaar van die Nirvana is. Dis ‘n mensesmokkelaar, soos jy mos nou die dag gesê het. Maar hy gaan nooit die jag kom soek nie. Hoekom dink jy daar is nie ‘n opsporingseenheid aan die ding nie? Hy wil nie hê iemand moet weet waar dit is nie.”
“Nou, wat nou?”
Chris wys weer na die man met die kaalkop. “Daardie ou se naam is Jonathan Swales. Hy het hier aangekom met ‘n nuwe Volkswagen Touareg. Hy sal jou ruil vir die skip. Ek weet die ding is baie meer werd as die kar, maar ek dink jy moet sy aanbod aanvaar.”
“Weet hy daar is skade aan die jag?”
“Groot skade?”
“Nee, nie rêrig nie. ‘n Los handreling by die boeg, ‘n klompie gebreekte koppies en pierings, ‘n paar kleinerige koeëlgate langs die kant en ‘n stukkende ruit in die brug.”
“‘n Stukkende ruit soos in ‘n koeëlgat?”
“Net so.”
“Hy weet dit. Hy het al gaan kyk. Dis waarom hy jou arm so kan draai om die kar te vat.”
“Dit pas my. Maar wat van papiere vir die kar as die doeane my voorkeer?”
“Hulle sal nie. Glo my.”
Die middag voor hulle die pad sou vat, kom Chris en sy vrou by die drie se chalet aan. Hulle arms is gelaai met inkopiesakke.
“Inhambane se verskeidenheid is maar beperk, maar julle kan nie so teruggaan Suid-Afrika toe nie.”
In die sakke is ‘n hoeveelheid klere vir hulle al drie. Onderklere, kouse, opryg-stewels en gekamoefleerde langbroeke en hemde en warm baadjies. Daar is ook slaapsakke en opblaasbare kussings.
“Op die huis,” is die antwoord wat Basjan kry.
Vroeg die volgende oggend vertrek Basjan, Jona, Bella en Oubaas met ‘n nuwe, bruin-kleurige Volkswagen Touareg V6 Diesel. Chris wou nie sy geld aanvaar nie.
“Glo my, Basjan, die kommissie wat ek uit die deal kry, sou vir julle verblyf vir ‘n paar jaar betaal het.”
*
Die regering het hard probeer om die verval te keer. Nie omdat hulle besorg was oor die mense in die land nie, maar om nog langer tyd te kon hê om nog meer te steel. Daar kom egter ‘n punt waar dit nie verder kan nie. Die omgewingswetenskaplikes praat van ‘n “tipping point”. Dis waar die hele spul opbou na ‘n punt toe waar die status quo nie meer gehandhaaf kan word nie. Dan gly die hele sisteem die afgrond in. Dit kan dan nie gekeer word nie en die storm moet homself uitwoed.
In Suid-Afrika is vir té lank, té veel aan die skouers van ‘n handjievol belastingbetalers gehang. En tog het hulle uitgehou. Elke keer maar die drag net na ‘n effens gemakliker plek geskuif en aangegaan. Die belastinglas het groter geword, en dienslewering swakker.
Elke moontlike semi-staatsinstelling is geplunder, verswak en tot op die punt van verwoesting leeggesuig, sodat die kaders en die makkers, die connected en dié se maatjies in mooi huise kon bly, nuwe, duur karre kon ry en klere koop wat hulle nuwe vet, ronde lywe nie kon wegsteek nie. En toe bereik dit die punt waar die hele meganisme homself begin verwoes het. Wat nie in aanmerking geneem is nie, is dat die vyf persent belasingbetalers sterk, innoverende, nuutdenkende, bekwame, slim, geordende mense is. En toe die spreekwoordelike bottel bars, het hulle nie gaan lê nie, maar kragte saamgespan, geveg en die land weer begin bewerk, hulle eie veiligheid bewerkstellig en uiteindelik weer die oorwinning, alhoewel geleidelik, begin behaal. Hoe meer veldslae die handjievol gewen het, hoe meer desperaat het die regeringsmagte geword.
Menige hoërskoolkind het, met die lees van die geskiedenis oor die Franse Rewolusie, gewonder waarom die Franse adel nie die gevaarseine raakgesien het en die rykdom met die gepeupel gedeel het nie. Net so, moes die ANC ook gesien het waarheen die dinge in die land neig.
Maar in plaas daarvan om die gans wat die goue eiers lê te voed, hom ruimte gee en op te pas, het hulle die wette teen die blanke bevolking – wat verreweg die grootste belastinglas dra – al strenger gemaak. Dit was soos ‘n wit rot wat hulle al nader aan ‘n hoek gejaag het. Hoe meer die rot uitkomkans gesoek het, mooigepraat het, gepaai en sy bes gegee het, is hy nader en nader aan sy ondergang gedryf. Maar selfs ‘n rot, ook ‘n wit een, sal op sy agterpote gaan staan en terugbyt as dit nie anders kan nie.
Ook het die regering nie besef dat die buiteland ontnugter sal raak nie. Verby is die Nelson Mandela-era waar ‘n pragtige vredeliewende samelewing voorsien is (al het baie van hierdie rassistiese wette reeds in sy tyd hulle beslag gekry) en die besef het begin deurbreek dat ‘n rewolusionêre beweging soos die ANC nie in ‘n standhoudende regering kan ontwikkel nie, maar steeds ‘n wrede, strydende onbeheersde en onbevredigbare terroristegroep bly.
Staatskaping het die land tegnies bankrot gelaat, in sò ‘n mate dat die verdedigingsbegroting elke jaar besnoei moes word en dat die Gautengse SAPD op die mees basiese moes terugsny: hulle het nie eens geld gehad om ammunisie te koop nie.
Wapenwette is strenger gemaak en alles is in die stryd gewerp om die blankes te ontwapen. Hierdie bevolkingsgroep is immers die laaste bewakers van wat oor is om te steel, of so is gewaan. Terselfdertyd het honderde duisende wapens uit die kluise van die SAPD en die SANW “weggeraak”.
Selfs die voorbeelde van die Noordelike buurland, Zimbabwe, die Koninkryk van Swaziland (eSwatini) en die Suid-Amerikaanse land, Venezuela, was nie genoeg om nugterheid te bring nie. In plaas daarvan is heethoofde soos Malema en die BLF toegelaat om haatspraak en wellus teen die blankes aan te blaas. Inderdaad gryp President Ramaposa grotendeels Mugabe se toespraak van ‘n klompie jare vantevore. Waar Mugabe gesê het: “Blair, you take your England and we’ll keep our Zimbabwe”, sê Ramaphosa. “Trump, you keep your America and we’ll keep our South Africa”.
Natuurlik is die uiteindelike stryd nie net tussen wit en swart nie, maar tussen pro-regering massas versus die res. Dié wat hulle neuse by die trog het, versus dié wat om ‘n plekkie daar baklei.
Dit neem wetsgetroue burgers langer as vir kriminele om die kopskuif te maak dat jy jou tot geweld moet wend om jou en joune teen uitbuiters te beskerm, maar wanneer dit uiteindelik gebeur, gaan haal hierdie behoudendes krag uit reserwes wat niemand gedink het meer bestaan nie. En as jou rug teen die muur is, veg jy met alles tot jou beskikking.
*
“Oom Basjan, waarheen gaan ons nou?”
“Ons gaan my ander kar soek, Bella, en dan gaan ons ‘n plek probeer kry waar ons veilig kan wees tot ons weer gewone huise het om in te bly.”
“Weet Oom waar ons dit gaan kry?”
“Nog nie, maar ons sal soek tot ons daar kom.”
“Hoe sal ons weet as ons is daar, Oom?”
“Bella, dis waar ons mense gaan kry wat vir ons lief is. Dan sal ons weet dis die regte plek.”
“Gaan Oom dan van ons af weggaan?”
Basjan dink vir ‘n lang oomblik.
“Nee, Bella, ek sal julle oppas totdat julle groot genoeg is om self weg te gaan.”
Die pad na die Jeep toe is vreedsaam en maklik, alhoewel dit baie tyd in beslag neem. Hulle moes van die teerpad af grondpad ry, later van die grondpad af op twee-spoor paadjies en uiteindelik pad maak waar dit deur die gras, tussen bome gevleg het. Op plekke is die roete met sekelbos toegegroei en Basjan moet dit oopkap.
Alhoewel hy die Touareg vir alle praktiese doeleindes verniet gekry het, is hy nie bereid om die ding sommer net te verniel nie. ‘n Mens breek nie iets wat jy nie self kan maak of regmaak nie. Dit alles vat tyd en hy begin gefrustreerd raak. Vroeër sou hy nie omgegee het nie, maar nou is die kinders daar om aan te dink. Uiteindelik is hulle in die droë spruit naby die Jeep en Basjan verwonder hom opnuut oor die gemak waarmee die Touareg daardeur ry.
Die Jeep is soos hy dit gelos het, behalwe vir ‘n luislang onder die enjinkap en twee wiele wat halfpad pap geword het. Basjan kry sy byl, die geld en ander kosbare goed en dan skakel hy die enjin aan. Met die luislang verwyder, knip hy onder die enjinkap ‘n lang, rooi gekronkelde, lugpyp los en met die lugreëling se kompressor – wat lankal nie meer kan werk nie, maar aangepas is - pomp hy die wiele styf.
Dan maak hy seker die seil is weer dig, die sleutel weer weggesteek en na twee en ‘n half ure vertrek hulle weer. Hulle ry al die pad Noord deur die Wildtuin en gaan weer anderkant Pafuri deur die platgetrapte grensdraad. Hulle kom omtrent nêrens mense teë nie en ‘n gevoel van verlatenheid hang swaar in die lug.
“Waar is al die mense, Oom?”
”Jona ek dink dié wat gebly het, is in groepe iewers en dié wat gevlug het is al weg. Julle moet julle oë wyd oophou. Die meeste mense wat ons gaan kry, sal nie ons vriende wees nie. Ons het ‘n nuwe kar, ons het brandstof en kos. Ons is wit. Daar is baie mense wat wil vat wat ons het.”
“Gaan dit altyd so wees, Oom?” vra Bella.
“Nee, Bella. Daar sal ‘n tyd kom wanneer ons weer veilig sal kan ry en loop en in ons huise bly.”
“Het Oom ‘n huis waar ons kan gaan bly?”
“Ek het een, maar hy is hoog in die berg en ver van alles af. Ons sal eendag ‘n huis moet koop waar ons weer naby die kerk en skole en winkels kan wees.”
“Ai, Oom. Oom het ons pa geword.”
Hierna is daar stilte in die kar. Hulle al drie het dinge om te verwerk. Jona en Bella moet weereens die feit in die oë kyk dat hulle eie pa en ma dood is, dat hulle ou lewe nie gaan terugkom nie, dat hulle nou ‘n ouer gekry het in ‘n man wat tot anderdag nog ‘n vreemdeling was. Basjan besef dat hy nou – eintlik al vir ‘n geruime tyd – finaal verantwoordelik is vir die twee kinders. Hy besef dat hy nie net sy ongebonde oujongkêrelstatus sal moet prysgee nie, maar dat hy ook ‘n ander werk sal moet doen. Wat, weet hy nie. Hy het darem die paar honderd duisend Dollar op verskillende plekke, die diamante en die goud. En wat van die kinders se opvoeding? Wat kan hy vir hulle leer? Net om in die veld te oorleef. Om te skiet en te baklei. Maar wat van Godsdiens? En as hulle uiteindelik teruggaan skool toe, wat dan? En…hemele behoed hom, as Bella groter word en sy begin vroue-dinge oorkom? Hoe oud begin ‘n meisie daarmee? En as sy hom kom vra oor die voëls, die bye en blomme? Hel, nee hy raak skoon paniekerig by die gedagte. Hy kyk in die tru-spieëltjie waar sy met Oubaas sit en speel. Gelukkig is dit nog lank nie sulke tyd nie.