LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (1)

'N BELOFTE VAN LEIDING

J.A. Loubser

"Gewoonlik is 'n mens blind vir jou eie sluheid. 'n Mens kan byvoorbaat aanvaar dat daar in jou godsdiensbeoefening sekere bewuste en onbewuste motiewe aanwesig is waaragter jou eie belange en eie ambisies verskuil word."

Elkeen van ons kom een of ander tyd in ons lewe by vurke in ons lewenspadwaar ons kritieke besluite moet neem wat ons toekoms ingrypend kan beïnvloed. Dit is veral dan dat 'n gelowige opnuut die groot vraag vra: Kan God my leiding gee in hierdie beslissing? Moontlik het jy op hierdie tydstip van jou lewe 'n besondere behoefte om meer te leer oor die leiding van die Heilige Gees. Ons gaan in die volgende veertien aflewerings in hierdie reeks uitvind hoe God my lei, ook hoe Hy volke lei, en hoe ek kan weet wat die wil van God vir my en my volk is in hierdie spesifieke situasie waarin ons ons nou bevind.

Dit kan gebeur dat 'n mens jouself as 'n Christen beskou en nog steeds onbewus is van die persoonlike leiding van die Here. Jy kan alreeds baie jare as gelowige probeer leef en nog steeds vind dat die dinge waaroor ons hier gesels vreemd is. Moontlik het jy wel enkele kere in jou lewe ervaar dat die Here baie naby jou is. As mens vir die meeste gelowiges vra, sal hulle erken dat daar die een of ander goddelike plan met hulle lewens was. As hulle terugkyk op die verloop van hulle lewenspad sal hulle toegee dat dit beplan is buite hulle eie vermoëns.

Om die boodskap oor die leiding van die Here soos ons dit in Jesaja 58 kry, te kan verstaan, moet ons eers 'n bietjie aandag gee aan die destydse omstandighede.

Israel het in die Ou Testament die uittog uit Egipte en die tog deur die woestyn na die Beloofde Land steeds gesien as dié gebeure waar God hulle by uitstek gelei het. Bedags was die teenwoordigheid van die Here sigbaar as 'n wolkkolom wat voor hulle uitgegaan het en wat snags as 'n vuurkolom by hulle vertoef het. Hierdie wolk- en vuurkolom het die leiding van die Here gesimboliseer. Dit was ná hierdie gebeurtenis dat die Israeliete verlangend teruggedink het in latere tye toe dit sleg met hulle gegaan het.

Een so 'n tydperk het hulle in die tyd van die profeet Jesaja beleef. Die wêreldmagte van die Ooste was 'n permanente bedreiging vir Israel. In die jaar 722 vC is die noordelike ryk (Tienstammeryk) en in 586 vC in die suidelike ryk (Judea) in ballingskap weggevoer na die Ooste. Die room van die volk is weggeneem, terwyl die armes agtergebly het en met die heidense inwoners ondertrou het en uiteindelik as die "Samaritane" bekend sou staan.

Die smarte van hierdie tyd word beskryf in die boeke van Ester en Daniël  en van die ander profete. Wanneer sou dit 'n einde kry? Wat het van die God geword wat hulle voorheen uit Egipte gelei het? Na namelose ontberinge in die vreemde is die Israeliete gerepatrieer na Palestina. Nou het dit beter begin gaan met hulle maar hulle was nog steeds deur vyande bedreig terwyl die tempel in puin gelê het. Die mense het toe begin redeneer: "God is nou weer met ons. Ons is sy volk. Hy kan en mag ons nooit weer in die steek laat nie. Ons sal ons deel doen, maar God moet ook sy deel doen. Ons wil graag hiervoor 'n waarborg hê". Intussen het die volk al hoe meer materialisties geword terwyl hulle op die armes (onder andere die Samaritane) begin neersien het. Dit is in hierdie situasie dat die Here 'n Woord aan die profeet Jesaja gee.

Die Here sê van die volk: "Hulle vra elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag? Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou "(Jes 58:2).
Hierdie mense soek selfs die wil van die Here; hulle vra na sy 'regverdige beslissings' en, alhoewel hulle al hierdie dinge doen, ervaar hulle nog nie dat die Here na hulle luister nie. Daarom vra hulle: "Waarom vas ons, maar U sien dit nie?" (Jes 58:3).

Dit lyk asof 'n mens 'n hele klomp godsdienstige dinge kan doen; jy kan selfs na die wil van die Here vra en die geestelike ampsdraers raadpleeg, en steeds voel dat God stilbly.

Daar was egter 'n groot skroef los met die Israeliete se godsdiens. Terwyl hulle heerlike, aangename godsdienstige byeenkomste hou, laat hulle die armes nog harder werk (Jes 58:3b). Ook hulle byeenkomste was nie geseënd nie, want dit loop uit op twis en rusie – hulle dam mekaar selfs met die vuiste by! Daarom, sê Jesaja, sal God nie hulle gebede verhoor nie. Jesus sou later in dieselfde trant sê dat gebede verhoor word waar twee of drie enig is oor 'n saak.

Die Israeliete het na God toe gegaan met hulle eie lys van voorwaardes en versoeke. Nou stel God egter sy eise:
Bevryding van die verdrukte gevangenes; brood aan die armes; woonplek vir die dakloses; klere vir die naaktes.
Die verkeerde verhouding met die naaste (nie vreemdelinge van ander volke nie) was 'n bewys van 'n verkeerde verhouding met God (Jes 58:5-7). Eers in betrokkenheid by die werklike probleme van die volk van die Here, begin die leiding en wil van God werklik vir mense saak maak.

Reeds in die Ou Testament leer ons die kosbare les dat God Hom nie laat manipuleer deur mense wat hulle eie wil soek en daarop uit is om hulle eie belange te bevorder nie. Voordat 'n mens die heerlike avontuur van 'n lewe onder leiding van God kan begin, moet 'n mens bereid wees om elke stukkie eiesinnigheid en eiebelang in jou eie lewe af te sweer, iets wat vandag in hierdie moeilike tye in ons land die klaarblyklike oorsaak is van die verdeeldheid onder ons volksgenote. Wie vir God net wil gebruik om sy eie doelstellings te bereik, kom weldra agter dat God nie lei of antwoord nie.

Gewoonlik is 'n mens blind vir jou eie sluheid. 'n Mens kan byvoorbaat aanvaar dat daar in jou godsdiensbeoefening sekere bewuste en onbewuste motiewe aanwesig is waaragter jou eie belange en eie ambisies verskuil word. Daar is min aktiwiteite van die mens wat makliker hiervoor misbruik kan word as juis die godsdiens.

Dikwels is dit eers wanneer jou lewe 'n laagtepunt bereik dat jy met 'n skok jouself leer ken soos wat jy regtig is – iemand vir wie sy godsdiens maar net 'n rookskerm is vir eiebelang. Dit is dán wanneer jy die bitter gevolge insien van die soort godsdiens wat jy beoefen. In die geval van Israel was dit die profeet Jesaja wat hulle met harde woorde tot hierdie insig gebring het. Sy pynlike woorde is egter opgevolg met die heerlike belofte van 'n wonderlike toekoms vir diegene wat die Woord van die Here gehoorsaam:

  • Die lig sal vir hulle deurbreek soos die rooidag en hulle sal gou herstel; God sal voor hulle uitgaan soos die wolk destyds in die woestyn (Jes 58:8).
  • Dan sal gebede verhoor word. Israel sal om hulp roep, en God sal sê: "Hier is Ek!" (Jes 58:9).
  • "Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien" (Jes 58:11).
  • Die puinhope van Jerusalem sal herbou word en die volk se roem sal uitbrei (Jes 58:12).

Uit hierdie hele episode word dit vir ons duidelik dat God wel in sy Woord leiding aan mense beloof. Omdat God 'n persoonlike God is, gee Hy ook persoonlike leiding aan mense. Dink aan Abraham se roeping uit Ur en die leiding daarna. Dink aan die wyse waarop die Jode deur die woestyn gelei is – van baken tot baken.

Wat ons hier verneem, tree soveel duidelike na vore in die prediking van Jesus, die Seun van God. Volgens Lukas 4 was Jesus se eerste preek uit Jesaja 61: "Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is op te beur, om vir gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid en vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos... " (Jes 61:1-2)

Jesus het die eis van die Woord nagekom waar die mense dit nie kon regkry nie. Deur Hom kan gelowiges nou doen waartoe hulle voorheen nie in staat was nie. Sy Gees lei hulle daartoe en verder. Hulle sal ook in die toekoms gelei word soos Jesaja dit reeds geprofeteer het.

Ook wat die algemene inrigting van jou lewe betref – as jy voor die groot beslissings van elke dag staan, selfs ook wat die klein dingetjies van elke dag betref – kan jy staat maak op die leiding van God. Wie deur God gelei word, word nie verlei deur die boosheid nie.

Oor hoe hierdie leiding werk, en hoe dit na vore kom in die lewe van enkele gelowiges, is daar nog veel te sê en sal ons die volgende aflewerings daarby kom. Een ding moet egter nou reeds vasstaan: God is 'n God wat mense lei. Mense kán leiding van Hom verwag, elke dag in elke saak, groot en klein!