LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (8)

HOE LEI CHRISTUS SY KERK?

(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)

J.A. Loubser

As ons oor die leiding van die Heilige Gees praat, is dit noodsaaklik om daarop te let dat die belofte van Goddelike leiding nie in die eerste plek aan enkelinge gegee is nie maar aan die gemeenskap van gelowiges as geheel. Onder die gemeenskap van gelowiges moet ons die kerk van Christus verstaan, wat van die begin van die wêreld tot aan die einde bestaan en wel uit alle ware gelowiges uit alle nasies, taalgroepe en volkere.

Jesus is deur sy Woord en Gees steeds die Heerser oor hierdie kerk. Hierdie kerk is die ruimte waar sy leierskap die eerste erken en gevolg word in die wêreld. Dit beteken vir ons veral twee dinge:
1. Dat geen gelowige oor 'n ander mag heers nie;
2. Dat geen gelowige in die proses van besluitneming uitgesluit mag word nie.
Waar hierdie reëls nagekom word groei die geloof en blydskap van die gelowiges. Wie leiding van die Here soek, sal wys wees om hiermee rekening te hou.

'n Mens kan die hele Bybel deursoek na die beginsels vir hoe die kerk regeer moet word. Van orals kan jy boeke kry oor die regering van die kerk - stapels en stapels boeke, sommige nog in Latyn, ander in Nederlands, Voetius en so meer. Tot jou verbasing sal jy ontdek dat daar net twee beginsels is waaroor almal saamstem en wat die grond vorm vir verdere redenasies. Ons kan hulle die beginsels van nie-oorheersing, en nie-uitsluiting noem. Voordat ons verstaan hoe die Gees die gemeenskap van die gelowiges lei, moet ons eers hierdie twee beginsels van naderby beskou.

Geen gelowige mag oor 'n ander heers nie:
Juis omdat die Here die kerk as 'n eenheid beskou en nie as 'n losse versameling van enkelinge nie is die verhouding binne hierdie eenheid vir Hom so belangrik. Daarom vind ons in die Skrif talle verwysings hierna:

  • Geen slaaf is bo sy heer nie – Matt 10:24.
  • 'n Mens mag nie ten opsigte van iemand anders se slaaf oordeel nie; 'n slaaf staan of val met betrekking tot sy eie heer – Rom 14:4.
  • 'n Mens kan nie twee here dien nie – Matt 6:24.
  • Daar is net een Here – Hand 17:24.
  • Hierdie Heer is Jesus Christus – Hand 10:36.
  • Hy is die Heer van die here – 1 Tim 6:15.

Hieruit moet ons aflei dat geen persoon of instansie oor enigiemand anders in die kerk mag heers nie – nie in die gemeente nie, nie in die algemene kerk nie, nie die leraar of die pous nie, nie die kerkraad of die staat nie.

Soms vind 'n mens persone wat op die drumpel staan om 'n Christen te word maar dan weer terugdeins. Hulle groot vrees is dikwels dat hulle uitgelewer sal word aan 'n blinde mag waaroor hulle gaan beheer het nie. Eintliks is hulle bang dat hulle dan deur kerkmense gemanipuleer sal word om dinge teen hulle sin te doen.

Vir oningeligtes lyk dit soms of dit is hoe dinge binne die kerk gedoen word. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. As mens 'n Christen word, gee jy jou lewe aan Jesus. Hy word jou Here. Juis dit maak jou radikaal vry van wat ander mense sê of dink. Dit gee aan elkeen 'n vryheid wat die wêreld nie ken nie. Dit gee byvoorbeeld aan jongmense, geringes en armes die vryheid om ook hul sê te sê in die kerk. Vir God het elkeen wat geroep is, 'n noodsaaklike funksie om te vervul in die koninkryk. Dit werk ook so in die wyer kerkregering. Daarom, byvoorbeeld, is wat kerkrade besluit nie minder belangrik as wat sinodes besluit nie, en andersom.

Waar die Gees lei, word Jesus steeds 'ver-Heer-lik' en leer gelowiges onderdanigheid aan Hom. Terselfdertyd leer hulle om mekaar nie te oordeel nie en om mekaar hulle 'plekkie' in die son van God se genade te gun. Hieruit vloei die tweede beginsel logies voort.

Geen gelowige mag in die proses van besluitneming uitgesluit word nie:
Die tweede beginsel wat geld, is dat gelowiges op mekaar aangewese is om die Here te dien. Die Here lei gelowiges nie los van mekaar nie. Dit is in hulle wedersydse aangewesenheid op mekaar dat hulle steeds duideliker die wil van God begryp. Slegs waar Jesus se liefde deur die Heilige Gees in mense se harte inwoon, daar kan hulle saam met al die heiliges die volle omvang van God se liefde leer ken (Ef 3:18). As enkelinge, en op hulle eie, kan hulle dit nie regkry nie.

Dit beteken dat gelowiges nooit hulle rug op mekaar mag draai nie. Die sterkes moet diegene wat swak is in die geloof aanneem soos Jesus húlle aangeneem het (Rom 15:1,7). Alles wat fundamenteel skeiding maak tussen gelowiges moet verwyder word. Paulus het hierdie waarheid in gedagte gehad toe hy herhaaldelik geskryf het: "Dit maak nie saak of iemand, Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een (Rom 10:12, Gal 3:28, Kol 3:11). So ook het Paulus die besnydenis verklaar. So het hy ook die hoogmoed van die rykes, wat tydens die liefdesmaaltye in Korinte nie hulle kos met die armes wou deel nie, veroordeel,

Niemand mag in die proses van besluitneming uitgesluit word nie. Neem byvoorbeeld die wyse waarop die meningsverskil besleg is waarvan Handelinge 6 vertel. Hier was dit die Griekse weduwees wat gekla het omdat hulle afgeskeep gevoel het deur die Hebreeuse gelowiges. Toe die apostels dit verneem, het hulle die gemeente byeengeroep en gesê dat hulle nie meer die fisieke versorging van die weduwees kan behartig nie. Daarop het die gemeente sewe Griekssprekendes as diakens gekies om die weduwees van die gemeente te versorg.

Verder in Handelinge kan ons van die wonderlike ontplooiing van die kerk se sendingpoging lees. Binne die vroeë kerk was daar 'n groot verskeidenheid bedieninge: ouderlinge, apostels, diakens, vroue, die gemeente, ensovoorts. As 'n mens Handelinge lees en kyk watter instansies die groot besluite geneem het in die lewe van die kerk, dan sal jy verbaas wees om te sien dat die inisiatief telkens van 'n ander instansie gekom het.

In Handelinge 13:1-2 is dit byvoorbeeld die profete en leraars wat die besluite neem om twee persone vir die sending af te sonder terwyl hulle gebid en gevas het. Later is hierdie besluit deur die gemeente bekragtig. Elders is dit die ouderlinge in die gemeentes, of die apostels, wat besluite neem.

Dit lyk na 'n hele deurmekaarspul. Geen organisasies kan eintlik so werk waar iedere diensgroep vry is om 'n besluit te neem wat die geheel raak nie. Die geheim hier is dat dit nie die groepe is wat die besluit neem nie maar die Here wat dit aan hulle gee. Die saambindende faktor is die leiding van die Here self deur sy Heilige Gees.

Dit beteken dat die een deel van die kerk nie belangriker as die ander is nie. Dit beteken ook dat sake soos senioriteit en die gesagstruktuur nooit in die kerk die deurslag kan gee nie. Elke onderafdeling van die kerk kan 'n besluit van die Here ontvang wat vir die hele kerk bindend kan wees. As die Here dit op op hulle lê, kan hulle dit nie terughou sonder om ongehoorsaam te wees nie. Aan die ander kant mag niemand uitgesluit word nie. Elkeen is belangrik. Elkeen het 'n deel, elkeen is vry. Maar elkeen is ook op die ander aangewese omdat Jesus hulle Heer is.

Jesus is deur die Gees die Heerser van die kerk
Op Pinksterdag elke jaar word die stigting van die kerk herdenk. Alles wat vooraf in die heilsgeskiedenis gebeur het was 'n voorbereiding met die oog op die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus se kruis, opstanding en hemelvaart het die verlossing 'n moontlikheid gemaak. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, sou dit 'n werklikheid maak in die lewe van die kerk. Waar mense die Heilige Gees ontvang, bely hulle dat Jesus die Here is. Eers deur die Gees kan Jesus sy heerskappy uitoefen in hierdie wêreld.

Ons het nou gesien op watter wonderlike manier Jesus sy kerk regeer. Aan die een kant verseker sy leiding dat gelowiges mekaar nie sal oorheers nie. Aan die ander kant verseker sy leiding ook dat geen gelowige in die proses van besluitneming uitgesluit sal word nie. Waar Jesus se koningskap van die kerk so gesien word, groei die geloof en blydskap van die gelowiges.

Selfs in die neem van klein alledaagse besluite, sal die gelowige dikwels inspirasie put uit die feit dat Jesus Here van die kerk is, en hy sal ook nie huiwer om die kerk te raadpleeg oor sy besluite nie.