Dr JP Botha
Lees reeks by DIE BYBEL
Palestina, ‘n land van kontraste
‘n Strategiese ligging
Palestina (die huidige Israel) is – en was nog altyd – ‘n land van konflik. In die verlede het dit baie te doen gehad met die strategiese ligging van die land. Kyk ‘n mens op ‘n kaart, sien ‘n mens dat Palestina soos ‘n brug tussen die groot moondhede van die antieke tyd gelê het. Egipte was een van die groot magtige lande van daardie tyd. Die twee ander belangrike areas was Giekeland/ Italië (die Romeine) in die weste en die area na die ooste waar die hedendaagse Irak lê. Noodwendig moes hierdie groot moondhede met mekaar handel dryf, en die groot prys was natuurlik as hierdie lande mekaar kon verower, soos Alexander die Grote van Griekeland in die vierde eeu vC met Egipte en Babilonië gedoen het.
Maar hoe het die Grieke in Egipte gekom? Die kortste pad was al met die kus langs, en dit neem hulle in die middel van Palestina deur. As Palestina nie wou gehad het dat hulle daarlangs moes beweeg nie, kon hulle nie in Egipte uitkom nie. Hulle kon nie óm Palestina trek nie, want aan die een kant was ‘n woestyn en aan die ander kant die see. Dieselfde het vir die Assiriërs, Babiloniërs (die huidige Irak) gegeld. Hulle kon nie deur die woestyn trek nie en het dus om die woestyn tot bokant Palestina gereis en dan verder deur Palestina na Egipte. Die smal strook tussen die Middellandse See en die Arabiese woestyn was maar tussen 80 en 120 kilometer breed. Palestina was dus die brug tussen die beskawings van destyds. Daarom was daar gedurig oorlog, want wie hierdie stuk land beheer het, het die brug tussen hierdie beskawings beheer. Palestina was die mees strategiese stuk grond in die westerse wêreld.
Van woestyn tot woud
Palestina is ‘n land met uiteenlopende klimate; van woestyn tot heuwelland, vrugbare valleie, berge met sneeu en ‘n vrugbare rivier met groot mere.
Die bekendste kenmerk is waarskynlik die Jordaanvallei. Die Jordaan begin in die Hermonberge in die noorde (by Sesarea-Fillipi waar Jesus sy dissipels gevra het wie hulle dink Hy is) en loop in twee mere in waarvan die See (Meer) van Galilea of Tiberias die belangrikste is (dertien kilometer wyd en 21 kilometer lank.) Van die See van Galilea af loop die Jordaan vir 105 kilometer kronkelend suidwaarts deur ‘n vallei tot dit in die Dooie See uitmond. Dié vallei is ‘n natuurlike skeur in die aardkors. Die Jordaan kronkel só dat dit meer as twee maal sy lengte sou wees as dit pylreguit was.
Die Dooie See (in die Ou Testament word dit dikwels die Soutsee genoem) is natuurlik om verskeie redes interessant. Dit is die laagste punt in die wêreld: dit lê ongeveer 393 meter onder seespieël met die diepste punt ongeveer 800 meter of meer onder seespieël Omdat dit ook geen uitloop het nie en die water van die Jordaan al die soute uit die mineraalryke grond in die Dooie See inspoel , is die water baie souter as seewater, sodat mens op die water kan dryf. Vir eeue reeds word die minerale ontgin en gebruik.
Omdat Jesus uit Galilea kom, is dit ‘n tweede bekende gebied. Galilea het ook sy eie geografiese eiesoortighede. Galilea is hoofsaaklik ‘n heuwelagtige hoogland wat geleidelik oploop na die Libanonberge in die noorde. Die laerliggende dele is vrugbaar en daar is reeds in die tyd van Jesus graan en vrugte gekweek. Hoe hoër ‘n mens opgaan, hoe onvrugbaarder word die land. In die berge in die noorde is daar woudstreke. Die Libanonberge was ook bekend vir die seders wat in die noorde gegroei het. Vandag is die seders feitlik uitgewis.
Die vis uit die see van Galilea het ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie van hierdie streek gelewer. Ons weet dat Petrus-hulle ‘n visbesigheid met hul eie bote gehad het.
‘n Ander streek wat duidelik uitstaan, is die kusstrook of kusvlakte. Die strook strek oor 200 kilometer, van die grense van Libanon in die noorde tot by Gasa in die suide. Dit is die tradisionele woonplek van die Filistyne. Hulle was ywerige kusvaarders. Daar was altyd maar spanning tussen hierdie kusbewoners en die Israeliete en Kanaäniete, wat in die heuwelagtige binneland gewoon het.
Hierdie kusstrook het sandduine, moerasagtgheid en bosse. Dit was nie baie geskik vir landbou nie. Die interessante is dat die Jode ook nooit regtig kusvaarders geword het nie, miskien omdat daar nie regtig ‘n geskikte hawe aan die kus suid van die Karmelberg was nie. Herodus die Grote was die eerste een wat ter wille van handel ‘n kunsmatige hawe by Sesarea gebou het, waarvan die ruïnes vandag nog sigbaar is. Dit het nie lank voor Jesus se geboorte gebeur nie. Noord van die Karmelberg het die kusstrook vernou en was die kus meer geskik vir hawens. Die Fenisiërs het hulle vaardighede as seevaarders en handelaars van hieraf (Tirus) beoefen.
Die middelste gedeelte van Palestina, tussen die kusstrook en die Jordaanvallei, wat tot twaalf kilometer breed is, is heuwelagtig. Jerusalem is op verskeie heuwels gebou, Daarom hoor ons van die verskillende valleie om Jerusalem, byvoorbeeld die Kidronvallei, waar die tuin van Getsemane geleë was.
In die noorde begin die heuwelagtige strook by die berg van Karmel aan die kus. Hierdie heuwelagtige strook van die Karmelberg af sny die kusstrook in twee. Noord lê die kusstrook van Aser en suid die kusstroke van Filisea en Saron. Omdat die heuwelgebied moeilik begaanbaar is, het die paaie nie deur dié gebied geloop nie. Die kusstrook of die gebied aan die oorkant van die Jordaan was meer gewild onder die reisigers.
Dit was ook moeilik om hier landbou te beoefen. Die boere het terasse gebou, en natuurlik was daar ook goeie weiding vir vee.
In die gebied oorkant die Jordaan, Transjordanië, het ons nog hoër heuwels en berge as in die sentrale gebied van Palestina. Dit vorm ‘n hoogland en is geskik vir boerdery omdat dit genoeg reën kry. Dit vorm ‘n vrugbare buffer van sowat 30 kilometer breed tussen die droë Arabiese woestyn en Palestina. Dit was die gebied waar die Moabiete asook die stamme van Ruben en Gad gewoon het. Omdat dit ‘n vrugbare hoogland was, was dit ideaal vir reisigers. Die “koninklike hoofweg” het daarlangs geloop. Ons lees ook dikwels in die Bybel dat mense deur die Transjordaniese gebied gereis het as hulle byvoorbeeld tussen Galilea en Jerusalem wou reis.
‘n Mens sou seker die Megiddoplein as die broodmandjie van Palestina kon beskryf. Dit is ‘n heuwelagtige gebied in die noorde van die land. ‘n Pragtige vrugbare plein wat Galilea van die noordelike bergreeks afsny. Daar is ook baie oorloë hier geveg.
In die suide is die woestyngebied, ook bekend as die Negebwoestyn. In Hebreeus beteken negeb “droog”. Dit is nie heeltemal sand soos die Namib of die Sahara nie, maar is dor. Daar val minder as 50 millimeter reën per jaar. Daar is tog ook Oases, soos die bekende Jerigo. In die heel suidelike deel loop die Negeb in die Sinaïwoestyn in.
Om Egipte te bereik, moet mens deur die woestyn reis. Daarom was putte van soveel belang.
Die klimaat
Die kusstreek het matige Meditereense winters (gemiddeld 12 grade in die winter in Januarie) terwyl dit heelwat kouer in die heuwelagtige binneland is (gemiddels 7 grade C in die winter in Januarie). In die somer is die temperature min of meer oral warm.
Dit is ‘n winterreënvalgebied. Die eerste reëns begin in Oktober en duur tot Januarie en die laat reëns van in April tot Mei. Die gemiddelde reënval wissel van 40 sentimeter aan die kus tot sowat 75 sentimeter per jaar in die hoër gebiede van Galilea en die Transjordaanse hoogland. Soos ‘n mens suid geweeg, word die gebied al hoe meer woestynagtig en kan as steppe geklassifiseer word. Die reënval neem ook af en die temperatuur kan 40 grade C haal.