DIE BYBEL (38)

Lees reeks by DIE BYBEL

Dr JP Botha

Die ligging van Sodom en Gomorra

Daar is geen sekerheid oor waar die twee stede presies geleë is nie.  Aan die een kant lyk die suidelike deel van die Jordaanvallei na ‘n moontlikheid, terwyl ander navorsers beweer dat die twee stede op die bodem van die Dooie See lê, net suid van die Jordaanvallei.

Abram red Lot en ontmoet Melgisedek

Die onderdane van die koning van Elam (die gebied oos van Babilonië),  waaronder die konings van Sodom en Gomorra getel het, kom in opstand.  Kedorlaomer, koning van Elam, het nie die opstandigheid geduld nie en verslaan die koalisie van opstandiges by die vlakte in die omgewing van die Dooie See.  Lot, wat op daardie stadium in Sodom gebly het, word ook gevange geneem.  Iemand ontsnap en vertel vir Abram watter ellende sy broerskind oorgekom het.  Met 318 gewapende manne sit Abram die oorwinnaars van Elam agterna.  In ‘n nagtelike aanval oorwin Abram die vyand en herwin Lot weer sy vryheid.

Op pad terug na sy oorwinning oor Elam, ontmoet Abram vir Melgisedek, die koning van Salem (‘n afkorting vir Jerusalem), wat vir hom as oorwinnaar kos en wyn bring.

Wie was Melgisedek?

Melgisedek was ‘n enigmatiese figuur wat beide koning van Salem en priester van God was.  Daar is net twee ander plekke waar daar na Melgisedek verwys word:  Psalm 110 en Hebreërs 5-7

Melgisedek het vir Abram geseën as “‘n priester van God, die Allerhoogste,  die Skepper van hemel en aarde.”  Hiermee word te kenne gegee dat Melgisedek vir God geken het en verkry Salem  (Jerusalem) die  status van ‘n plek waar God lank reeds bekend was.  Abram reageer besonder erkentlik en gee aan Melgisedek ‘n tiende van die buit.

Die Here se verbond met Abram

Die volgende verhaal lê veral klem op die beloftes van ‘n nageslag en land:  Abram twyfel of hy die land in besit gaan neem.  Daarom beveel die Here hom om voorbereidings te tref van wat na ‘n offer van diere en voëls lyk.  Die voorbereidings word onderbreek wanneer die Here in ‘n droom aan Abram bekend maak dat sy nageslag vreemdelinge in ‘n land (Egipte) sal wees en dat hulle daar 400 jaar lank onderdruk sal word.

Dan volg die offer en die sluiting van die verbond tussen die Here en Abram sowel as sy nageslag.

Grense van die beloofde land

Dit is opvallend dat die grense van die beloofde land wat in Genesis 15:18 genoem word, ooreenstem met die omvang van die staat Israel in die tyd van Dawid en Salomo, heelwat later in die tiende eeu vC.

 

Die geboorte van Ismael

Teen die agtergrond van die nageslagsbelofte aan Abram, volg die verhaal van die geboorte van Ismael, met die langsame vervulling van die Here se beloftes aan Abram.

Saraï neem die inisiatief en verklaar dat die Here haar daarvan weerhou om kinders te hê.  Daarom stel sy ‘n vorm van surrogaatmoederskap voor wat in antieke tye aanvaarbaar was.

Surrogaatouerskap

Hiervolgens kon ‘n kinderlose vrou toesien dat haar slavin ‘n kind verwek en dan die kind as haar eie aanneem.  Dit is presies wat Sarai voorstel: dat  Hagar namens haar ‘n kind van Abram in die wêreld moet bring wat sy dan as haar eie kind kan aanneem.

Hagar se gespot met haar onvrugbare eienares lei daartoe dat Sarai vir Hagar so sleg behandel dat sy wegloop.  Die Engel van die Here verskyn aan Hagar in die woestyn en beveel haar om na Sarai terug te keer en haar aan Sarai se gesag te onderwerp. As troos verseker die Engel vir Hagar dat sy ‘n talryke nageslag sal hê.  Die Here weet van haar swaarkry.   Hagar bely ten slotte dat die Here  haar gesien het en dat sy ook die Here “gesien” of ervaar het, iets wat baie min  mense beskore was.

Kinderloosheid

In antieke tye was kinders die ouers se waarborg dat hulle op hulle oudag versorg sou wees.  Kinders was ook meer as ‘n vorm van pensioen, aangesien vrugbaarheid as ‘n seën en onvrugbaarheid as ‘n straf beskou is.  Deur middel van die kinders kon ook die familiegrond in die besit van die familie bly en die naam van die familie kon daardeur behoue bly.

In die samelewing waar eerbied ‘n hoë sosiale waarde was, het kinderloosheid aanleiding gegee tot skande en spot.  Daarom is dit nie buitengewoon dat Hagar haar onvrugbare eienaar geminag het nie en dit veroorsaak onenigheid in die familie wat so gou moontlik opgelos moes word.