DIE BYBEL (10)

 In hierdie artikel kyk ons na GESINNE EN WAARDES IN DIE BYBELSE TYD

Groepkultuur
In die Bybelse tyd was mense groepsmense.  Mense is altyd met hulle familie, met hulle herkoms of selfs die stad waar hulle vandaan kom, geassosieer.  (Simon, seun van Jona, Jesus van Nasaret). Met jou geboorte kry jy die karaktertrekke van jou pa, jy aard na hom.  Jy word noukeurig volgens die waardes en gedrag van jou groep grootgemaak.  Die mense van Nasaret wou Jesus nie aanvaar nie, want hulle het sy familie geken en gesê dat niemand met so’n familie iemand belangriks kan wees nie.  Die individu se karakter is bepaal deur die groep waaraan hy behoort het.

Omdat jou herkoms jou karakter bepaal, was geslagregisters so belangrik.  Dit vertel baie van die persoon met wie jy te doen het.  Daar was baie steriotipes oor groep en herkoms:  Die mense van Juda het gedink hulle is belangriker as die mense van Galilea, want die tempel was in Judea.  Elkeen in die groep moes sy plek ken, die plek wat die groep aan jou gee.

Rol van die pa in die groep
As leier van die groep moes hy sorg vir die goeie funksionering van die groep.  Hy was die een met die gesag in die gesin, het absolute mag gehad, kon selfs sy kinders as slawe verkoop of doodmaak.  Die Romeinse pa het selfs die reg gehad om te besluit of hy sy pasgebore kind wou hê of nie. As dit ‘n dogter is, kon hy sy vrou beveel om haar weg te gooi.  Sulke babas wat weggegooi is, was ‘n belangrike bron van slawerny, want die persoon wat so’n baba opgetel het, kon die baba as slaaf grootmaak.

In die Joodse wêreld moes die pa vir twee dinge sorg:  Hy moes die tradisie van die groep bewaar en vir die dissipline sorg. Hy moes die seuns leer wie hulle is en wat van hulle verwag word  en as hulle die familie skade aandoen, moes hy dissipline toepas.  Die pa moes ook vir die gesin se voortbestaan sorg. Hy moes sorg vir geld, kos en klere  As die gesin beledig of bedreig is, moes die pa ook leiding neem om die gesin te beskerm  Daarom vra ons ook van ons hemelse Vader ons daaglikse brood.  Ons hemelse Vader weet immers wat ons nodig het en daarvoor sal Hy sorg.

Rol van die oudste seun
Wanneer die pa gesterf het, was die eersgebore of oudste seun die een wat die familie en familienaam  moes voortdra.  Daarom was dit so’n ramp en skande as die vrou van die leier van die familie nie ‘n seun kon voortbring nie. Dit het die groep se voortbestaan bedreig.

Die rol van die ma
Dit was om kinders in die wêreld te bring en hulle dan te versorg.  Huisvrouwees was nooit maklik nie. Baie druk was op die vroue om water te gaan haal in putte en riviere, om te sorg dat daar kos is.  Hulle moes self boer en die kos gereed kry en bedien.  Die dogters het saamgewerk.  In die aftydjies moes die vroue vir klere sorg op die harde manier.  Hulle moes dit self maak, want daar was nie eintlik geld om klere te koop nie.  Die vroue was in die huis en huislike bedrywighede baas.

Verkragting was iets heeltemal anders in die ou dae.  Dit was om op die wese van die vrou en die familie in te gryp.  Die familie kon wraakneem en selfs al die mans van die ander familie gaan doodmaak.  Die vroue moes weggehou word van ander mans.  Daarom het hulle in die huise gebly en as hulle uitgegaan het, het hulle hul heeltemal met klere bedek – anders as vandag waar vroue sonder om getroud te wees saam met mans woon.

Die rol van die kinders
Kinders was die krag van ‘n gesin; hulle was ontluikende persoonlikhede, soos ‘n leë glas:  Die basiese karaktertrekke is daar, maar deur die onderrig in die familie moet die  glas volgemaak word.  Die kinders het gewoonlik tot op sesjarige ouderdom onder hulle ma se vlerk gebly, en daarna het die pa’s stelmatig die verantwoordelikheid vir die seuns se opleiding begin oorneem.  Hulle moes in die Tora (die eerste vyf boeke van die Bybel) onderrig word. Ook moes die pa die seuns ‘n ambag leer.  (Josef het vir Jesus die skrynwerkersambag geleer).

Slawerny
Destydse families was ook uitgebreide families.  Werksmense en slawe was ook deel van die familie. As hulle nie goeie werk doen nie, laat hulle die familie in die steek.

Slawerny was algemeen in die antieke wêreld.  Jy kon deur geboorte ‘n slaaf word, as jou ouers slawe was, jy kon verkoop word om jou skuld te betaal; jy kon in ‘n oorlog wat julle verloor het as slaaf deur die vyand weggevoer word, of jy kon as baba deur jou ouers weggegooi gewees het en deur iemand anders opgetel word en as slaaf grootgemaak word.

Slawe het nie persoonlike regte gehad nie en moes hulle eienaars gehoorsaam.  Hulle was soos meubels in die huis.  Die eienaar kon met hulle doen wat hy wou.

Dikwels was diegene wat in ‘n oorlog as slawe weggevoer is, gesiene en geleerde mense van die groep wat die oorlog verloor het.  Hulle is dan in verantwoordelike posisies geplaas, byvoorbeeld om kinders te onderrig of plase te bestuur.  Sulke slawe was gewoonlik vir die baas baie werd en hy het mooi na sy belegging gekyk  Slawe kon hulself vrykoop indien hulle genoeg geld bymekaar kon kry.  Eienaars het dikwels slawe wat goeie diens gelewer het, vrygemaak.  Meesal het die slaaf dan nog maar verder saam met die gewese eienaar gewerk, omdat hy nêrens anders gehad het om na te gaan nie.

Vriende was ook altyd welkom en is as deel van hierdie uitgebreide familie gesien.  Die basiese eienskap van ‘n vriend was om openlik, eerlik en vrymoedig met jou vriend te wees.

Waardes was groepwaardes
Die groep het die waardes en gedrag van die individu bepaal., wat absolute lojaliteit aan die groep verskuldig was.  Eie belange moes ondergeskik aan die belange van die groep gestel word. Jy moes bereid wees om die groep met jou eie lewe te beskerm.

Die Bybel leer ons nie om vir mekaar dankie te sê nie.  As iemand iets goeds aan jou gedoen het, doen jy  weer iets goeds aan hom.  Ons moet egter vir God dankie sê en so erken wat Hy aan ons gedoen het.  Ons moet onder mekaar dankie leef en nie sê nie.  Ons moet ons lewe aan die Here gee, omdat Hy dit aan ons gegee het.  Ons moet ons geld aan die Here toevertrou, omdat Hy dit aan ons gegee het, want ons is slegs rentmeesters.

Die basiese waarde van die groep was liefde. Jy is selfs bereid om jou lewe vir die ander persoon in die groep te gee, wanneer dit vereis word.  Jakobus 4:11 wat vra dat jy nie vir jou broer moet kwaad word nie, wil juis die groep beskerm, want as jy iemand in die groep skade aandoen, beskadig jy eintlik so die hele groep.  So moet ons ook die opsomming van die wet sien:  Jy moet God met alles liefhê, maar jou naaste soos jouself.  As jy dus ‘n kind van die Vader seermaak, maak jy die Vader seer en so benadeel jy eintlik die hele groep. Om die Vader lief te hê, beteken juis ook om sy kinders lief te hê.  Binne ‘n groep is almal aan mekaar verbonde.  Benadeel jy een, benadeel jy almal.

‘n Groep wat verdeeld is kan nie standhou nie.  Twis, onmin en onvrede moet uit die weg geruim word.  Jy moet jou fout aan die groep gaan bely en om verskoning vra.  Johannes sê ons moet ook ons sondes voor God bely  sodat ons verhouding met Hom weer sterk en gesond kan wees.

In die ou tyd is van tussengangers gebruik gemaak om kwaaivriendskappe te help oplos.  Paulus sê Jesus is die tussenganger tussen God en die mens. Hy betaal ook al die skade wat die mens aan God gedoen het en sorg so dat ons weer God se vriende kan wees.

Nog ‘n belangrike groepwaarde was eer. Groepe het hul eer hoog probeer hou deur hul goeie naam te beskerm. As ‘n persoon die eer van die groep skade aangedoen het,  moet hy tereggewys word.

Mense buite die groep het jou nie veel aangestaan nie omdat jou belange nou verweef is met die groep se belange.  Jy het eintlik mense buite jou groep met wantroue bejeën.

Nog ‘n eienskap van die groep was gasvryheid .  Dit was nie net vir vriende bedoel nie.  Sonder hotelle en net ‘n paar swak losieshuise was dit nodig. Reisigers is in die stadspoorte veilige herberg vir die nag gegee.

Armoede was ‘n kenmerk van die meeste groepe.  80% van die mense was dagloners.  Die mag was in die hande van ‘n klein groepie rykes. Soldate met goeie salarisse was ryk. Die mense in groepe  het geld saamgesit om aan die lewe te bly.

Die tolsisteen was een van die belangrikste maniere om belastings in te samel.  Die tollenaar het die regering betaal om die reg te kry om by daardie plek tolgeld in te samel.  Alles wat hy insamel, kon hy hou.  Hulle was gehaat, want die mense het geweet die tollenaars beroof hulle.

Presiese tydsberekeninge was daar nie.  Afsprake op die uur of minuut kon nie gemaak word nie.  Die beste was:  “Ek sal môre teen sononder by jou wees.”   Die antieke mens was nie veel deur die toekoms gepla nie.  Hulle het in die hede geleef.  Die hier en nou het getel.  Matteus 6:34 sê dat die gelowige hom nie oor môre moet bekommer nie.  Hy moet eerder vir vandag leef.

As daar egter iets in die hede verkeerd loop en jy soek antwoorde op vrae, het jy die antwoorde in die verlede gaan soek.  In die geskiedenis kon jy die voetspore van God sien. Jy kon sien wat Hy in sekere situasies doen en wat jy kan verwag.  Jy kyk dus terug in die verlede en leer uit die geskiedenis die lesse wat jou help om in die hede antwoorde te vind.  God verander mos nie. Hy bly altyd dieselfde en daarom sal Hy vandag optree soos Hy in die verlede ook opgetree het.  Daarom het die skrywers van die Nuwe Testament ook soveel moeite gedoen om te wys dat Jesus met die profesieë van die verlede ooreenstem. God se voetspore deur die geskiedenis het op Jesus uitgeloop.