DIE BYBEL (21)

Dr JP Botha

Lees reeks by DIE BYBEL

Klere en hare

Gewone mense het destyds nie groot klerekaste gehad soos ons nie.  Arm mense het dikwels net die stel klere gehad wat hulle gedra het.  Die klere was egter prakties en kon in wind en weer  die persoon goed beskerm.  Ryker mense het ‘n verskeidenheid klere gehad vir verskillende geleenthede wat ook van duurder en beter materiaal gemaak was.

Die volgende is klere waarvan ons in die Bybel lees:  Adam en Eva se blaarklere, klere van diervelle waarmee God Adam en Eva later geklee het, die klere van die hoëpriester van Israel, die pragtige linnekleed wat Dawid aangehad het toe hy die ark van God na Jerusalem gedra het, ‘n kleed van goudbrokaat  (Ps 45:14); tjalies van blou wol (Eseg 27:24); veelkleurige klere (Gen 27:3); Johannes die Doper se ruwe klere van kameelhaar;  feesklere (Mat 22:11); Simon Petrus se Vissermanskleed (Joh 21:7);  die pers koningskleed wat Jesus gedra het toe die Romeinse soldate Hom bespot het;  die naatlose kleed waaroor die soldate lootjies getrek het by die voet van die kruis en die wit kledingstukke van die martelare.

Elke persoon het ‘n onderkleed gehad.  Dit was ‘n soort rok.  ‘n Lang stuk materiaal is dubbel gevou en aan die kante aanmekaar gewerk sodat dit soos ‘n sak lyk.  Dan is daar ‘n plek vir die kop en arms gesny.  Jesus se onderkleed was egter in een stuk geweef soos dié van Josef (Joh 19:23).  Dit het beteken dat dit ‘n besondere en goeie onderkleed was.  Vroue het soortgelyke rokke gedra, maar hulle rokke was net langer en het moue gehad.  Die vroue het ook soms juwele aan hulle rokke gesteek, maar snaaks genoeg is die Bybel dikwels negatief daaroor. (Jes 3:16). Moontlik het dit so bietjie aan ydelheid herinner en het die rykes die armes in die skadu gestel.

Mans het dikwels onder die onderkleed ‘n lendekleed oftewel ‘n kort “rokkie” gedra wat van sy middel tot net bokant sy knieë gekom het.

Elke man het ook ‘n bokleed gehad.  Dit was gewoonlik ‘n lang stuk materiaal.  Die bokleed was baie belangrik en gedurende die dag was dit gewoonlik rondom die persoon gedrapeer.  Dit het diens gedoen as ‘n kombers in die winter, ‘n tentjie in die somer as die son bak, en beskerming teen die reën, sand en wind.  Dit was ‘n meerdoelige kledingstuk.  Om vir iemand dus jou bokleed te gee is om baie vir hom te gee (Mat 5:40). Dit is ook nie eers seker of almal ‘n bokleed kon bekostig nie.

Mans het gordels gehad.  Dit was ‘n breë band wat jy om jou middel gebind het.  Arm mense het materiaal gebruik, terwyl ryk mense  leergordels gedra het.  Dit het as ‘n soort sak gedien.  Jy het jou geld of selfs stukkies kos in die gordel gebêre.

Mense het gewoonlik sandale gedra.  Dit was ‘n stuk leer wat in die vorm van jou voet gesny is en wat die sool van die sandaal gevorm het.  Daar was riempies aan die sool vasgemaak wat jy deur jou tone en om jou enkel vasgemaak het.

As kopbedekking het die mans ‘n  vierkantige doek in ‘n driehoek gevou en met ‘n toutjie om hulle kop vasgebind (baie soos die Arabiere vandag).  Vroue het sluiers gedra. (Jes 47:2).

Die materiaal het baie verskil.  Die mense van destyds moes  alles met die hand doen. Daarom was fyn klere duur klere.  Dit was groot werk om die garing so dun te kry dat fyn klere geweef kon word.  As die klere nog fyn wit klere was, was die klere nog duurder.  Hulle het nie bleikmiddels gehad nie en kon die klere nie so maklik wit kry nie.  Die klere was gewoonlik in roomkleur.  Daarom het hulle swaar kleurstowwe soos purper of rooi gebruik om die klere te kleur.  Ryk mense het dus mooi fyn linne gedra  Dit is ook die klere wat die Here in Openbaring aan elke gelowige beloof.  Gewone mense in daardie tyd het egter rowwe, onverfynde materiaal gedra wat waarskynlik meesal bruin was, maar ook anders gekleur kon gewees het.

Die kleurproses

Die Kanaäniete het al 3 500 jaar gelede die kuns bemeester om hulle wol en linne te kleur.  Sekere plante en diere is vir kleurstof gebruik.  Kleurstof is byvoorbeeld van die hennaplant gemaak.  Die blare en takkies  het gesorg vir skakerings van helder geel, oranje en rooi.  Saffraan het ook ‘n geel kleursel afgegee, maar was baie duur.  ‘n Mens het oor die 4 000 blomme nodig om 30 gram saffraan te lewer. Blou kleurstof het van sekere visse af gekom.  Skarlakenrooi kleursel is verkry as die  eiers van luise gedroog en dan fyngemaal is!  Die gekonsentreerde kleurstof is gewoonlik in groot potte gegooi, waarin daar ‘n mengsel van water, potas en lemmetjie was.  Die materiaal of garing is dan daarin gedoop.

Die Bybel praat nie baie van kleursel of kleurstof nie.  In Eseg 27:7 word daar van die veelkleurige materiaal uit Egipte en die pers en rooi materiaal van die Elisa-eilande gepraat.  Lidia het byvoorbeeld in pers materiaal en kleurstof handel gedryf  (Hand 16:14).  Dit was ook die kleur van die doek wat oor die altaar gegooi is.  (Num 14:13).  Mordegai het ook ‘n koningsblou kleed gedra (Est 8:15).

Hare

Alle mans en vroue het hulle hare lank gedra.  Veral in die geval van vroue, was hulle hare vir hulle baie belangrik.  As ‘n mens na die tekenings op die potte kyk of na die standbeelde van vroue, sal ‘n mens nooit ‘n vrou sien met onversorgde hare nie.  Dit was hulle trots.  Hulle het dikwels mooi versierings in hulle hare gedra.  Hulle het ook mooimaakgoed geken.  Ons lees dat Ester deur ‘n ses maande lange manikuurproses gegaan het. (Est 2:12).

In die droë klimaat van Palestina was dit belangrik om jou vel te versorg.  Daarvoor het hulle olies, veral olyfolie, gebruik.  Omdat ‘n mens dikwels net die oë van die vrou deur die sluier kon sien, het hulle moeite gedoen om hulle oë mooi te maak. (Jer 4: 30;  Eseg :23:40).  Hulle het ook hulle naels gekleur en lipstiffie aangesit.