JP Botha
Ons leef in ‘n tyd waar ons daagliks hoor hoe die Naam van die Here gelaster en misbruik word. Ons word so daarmee gebombardeer dat ons nie anders kan nie as om te wonder of dít die sonde teen die Heilige Gees is. Wat presies is die sonde teen die Heilige Gees waarvan Matt. melding maak?
Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. Matt. 12;31
Wat het Jesus met hierdie woorde bedoel? Die oorsaak van hierdie uitspraak van Hom was dat Hy ‘n geestelik versteurde mens weer tot sy sinne gebring het. Die dramatiese verandering in hierdie man se lewe het ‘n diep indruk op die omstanders gemaak, maar die Fariseërs wou die effek van hierdie gebeurtenis neutraliseer.
Hulle maak Jesus se optrede af as duiwelskuns, as toordery en sê dit is deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dat hy die duiwels uitdryf en ook hierdie man genees het.. Dus, hulle beweer die duiwelbesetene is deur duiwelskuns genees. Daarmee het hulle die werk van die Heilige Gees as demonies bestempel en die Here Jesus sê dat hierdie belastering van die Gees hulle nooit vergewe sou word nie. Hulle was daagliks besig om ook teen die Here Jesus te sondig, want hulle en baie ander mense en selfs van sy dissipels het nie geglo dat Hy die Seun van God is nie. Jesus sê dit kan hulle vergewe word, maar om die krag van die Heilige Gees as van die duiwel te bestempel, kan en sal hulle nooit vergewe word nie.
Hierdie lastering teen die Heilige Gees is nie iets wat onbewus, toevallig, terloops, in ‘n onbewaakte oomblik plaasvind nie. Dit is die einde van ‘n lang pad, ‘n pad van toenemende vervreemding tussen Jesus en die ongelowige, in hierdie geval die Fariseërs. In Matt. 23 word die hoogtepunt van die botsing tussen Jesus en die Fariseërs beskryf oor die vraag, is Hy die Verlosser wat sou kom? Hulle aanvaar Hom nie en stap vir stap tree die verharding , vyandskap en haat teen Hom in, wat daarop uitloop dat die werk van die Heilige Gees belaster word. Dis nie hier net ‘n toevallige losstaande daad nie,, maar ‘n geesteshoudiung teenoor die werk Van God.
Hierdie uitspraak van Jesus oor die onvergeeflike sonde, is nie om die gelowige in twyfel te bring nie., want indien iemand in werklike stryd verkeer of hy die oinvergeeflike sonde begaan het, is dit ‘n duidelike aanwysing dat hy dit nie gedoen het nie.
Daarom is daar soveel troos in die wete dat ons deel mag hê aan ‘n ryk waarop Satan geen houvas meer het nie en dat ons gedra word deur die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wanneer ons Hom sal loof en liefhê en niemand Hom sal laster nie. Kom ons dank die Here daarvoor!